Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Hanlie Retief gesels met Herman Lensing
Herman bak ’n Krismis-tert

As Herman Lensing ’n tert was, was hy ’n cremora-tert. “Eenhonderd persent!” lag hy ekstra uitgelate, want die jaar gooi sy laaste wals en ons maak Krismis-cremora-tert in sy ontwerperskombuis met die knalrooi Smeg-yskas en 23 Le Creuset-potte in gelid soos neutkrakersoldate op die kombuisrak.

Mens kan enige tert optert, selfs ’n cremora-tert. Maar daar is nie ’n resep vir die lewe nie, het Herman Lensing vanjaar moes leer toe sy ma, Susan, skielik aan ’n hartaanval dood is. Sy was sy grootste ondersteuner. Foto’s: Edrea du Toit

“My ma het cremora-tert gemaak, dit was haar ding. Ons het ’n tipiese 1970’s-kombuis in Upington gehad, met sulke baie lelike grys teëls met ’n cheap marmer-effek. Sy het ’n tuisbedryf gehad, so die kombuis was ingerig met vier van daai groot Defy-dekoonde, en die mengers het orals rondgestaan en Tupperbakke met deksels so rooi soos my ma se lippe, perfek opgelyn op die rak.

“Sy het sommer 80 miljoenêrskoeke ’n dag gebak en ek het dit gehaat, want as jy by die huis instap, ruik dit soos koek en as jy gaan slaap, ruik dit soos koek.

“Maar álles wat ek vandag is, is as gevolg van daardie miljoenêrskoeke. Miljoenêrskoeke het vir my studie betaal.”

In tien jaar het Herman Lensing homself tot ’n celebrity-sjef gemeng en geroer en gekook, gebak en gesjarmeer.

Hartenbos, jy was goed vir my ma – en daarvoor bedank ek jou.

Hy is op 22 aangestel as Sarie se nat-agter-die-ore-kosredakteur en toe’s dit af met die yellow brick road met vier kosboeke, duisende kos-shows en sy eie TV-reeks.

Saam met Caramel Treat en Beacon se Hazel Heaven-sjokkie-blokke (“mens moet tog nie ’n kossnob wees nie”) is Kersfees hoog op Herman se lys van lekkerstes.

Hy kan nie wag vir Boney M. in die supermarkte nie.

Die Lensings het jaar ná jaar Desembervakansies op Hartenbos gaan kamp. Die Kalahari-woonwapark, staanplek 269, skuins voor die ablusieblokke, naby genoeg dat jy nie ver hoef te stap nie, maar ook ver genoeg dat mense nie heeltyd daar verbystap nie, skryf hy in sy nuutste kookboek, Dit proe soos huis.

Herman Lensing, Sarie se kosredakteur, se kombuis in sy huis in Welgemoed, Bellville, is die middelpunt van sy huis. Soos dit hoort. Hy vertel van Kersfeeste op Hartenbos.

Sy ma het weke voor die groot optog see toe gekook en gebak om die vrieskas vol kos te kry. “Dan het ons in die oggendure weggetrek uit Upington met die roomkleurige Jurgens Penta gehaak aan die roomkleurige Mercedes-passion wagon. Halfpad geslaap op Beaufort-Wes en dan die volgende dag verder.

Met aankoms moes die woonwa perfek geparkeer word en moet jy die grondnet neerlê en span. “En my ma was kwaai, hy moet perfek wees. Dan die tent. Ai, die tent! Eers ryg op die spoor: my pa voor, terwyl hy roep: “Trek, los, trek, los . . .”

Herman haat kampeer met alles in sy lewe. Die klokke van die hel klink soos tentpale wat uit ’n sak val, sê hy en buig sy lang lyf vorentoe om te wys hoe hy koponderstebo als in sy buitetentjie moes pleeg.

Sy ma het geweet ál manier om Hermantjie uit daai tentjie en deur die vakansie te kry, was met ’n woonwa-vrieskas vol malvapoeding, lamsboud, wildsboud en pampoenkoekies.

“Ek het die dae om gebid. As die wind waai, bid jy dat jou tent nie wegwaai nie; as die son skyn, bid jy dat jy nie doodbrand in daai tent nie.”

“As ek ’n tert was, was ek beslis ’n cremoratert...” Foto: Verskaf

Wakkerword soggens is wanneer Ant Suster oor ’n baie slegte klankstelsel bulder: “Goeiemôre kampeerders! Die vleiskamer sal nou oopmaak.”

“Dit was soos ’n Leon Schuster-moewie. Ek en my ma het vir jare grappies daaroor gemaak en vir mekaar voice notes gestuur: Môre boet, die vleiskamer sal nou oopmaak.”

Herman moes Kersoggende brekfis maak, roereier, niks fênsie nie. Dan’s die opslaan-kampeertafel gedek voor hul woonwa en die Lensings het aangesit en die grond om hulle was gehark, die grondseil perfek glad, onthou hy.

Net daarna het ma Susan weggespring met die groot Kersete. “En hét sy gekook! Lamsboud altyd, aartappelslaai en tuisgemaakte brood, my ma het die beste brode op die kampvuur gebak. Vir poeding, die grootste trifle op aarde, reeds ’n dag voor die tyd aanmekaargeslaan. Die geheim is dat hy moet rus.”

Tot vandag toe is Krismis nie Krismis as die papierkroontjie binne-in die klappers nie op jou kop beland nie. “Die Hartenbos-son sou my pa vang en dan begin hy sweet en die papierkroontjie se kleure rol in kleurdruppels teen sy wang af. En ek verkyk my aan die groen trane, mooi trane.”

Susan het haar Kersfees-trifle begin met die Hartenbos-bakkery se jêm-rolkoek in presiese skywe op die bodem van die plat wit plastiekbak.

Dan die karamelkondensmelk, en vla wat sy meestal self gemaak het (ag, winkelvla is ook oukei). Volgende was die eerste jellielaag – Moir’s Raspberry – met die groen nommer, Moir’s Green-gage, volgende. “Ghriengheidsj het ons dit genoem. In Upington het ons net drie Engelse woorde geken, yes, no en Fanta.

“My ma het geweet my pa se sagte plekkie was pekanneute, en in die trifle was ook vars vrugte soos gesnipperde perskes of appelkose.”

Daar was nooit ’n druppel drank in die Lensings se huis nie, behalwe met Kersfees, as Susan die trifle opvrolik met sjerrie of port.

“Sy het gewone room geklits, dit kom bo-op vol perfekte golfpatroontjies wat sy met ’n vurk gemaak het, maar platterig om in die yskas te pas.”

’n Flake word bo-oor alles gebreek. Die grande finale.

“Ek is mos vol dinge, so my ma het geweet Herman moet eerste skep, ek skep nie ná iemand anders nie, want dan is dit deurmekaar.”

Sy ouers het onlangs ’n strandhuis op Hartenbos gekoop.

“Dit was die kroon wat my ma die laaste paar jaar kon dra, want sy het gelewe vir haar en my pa se aftrede op hul geliefde stranddorp. Trouens, die laaste gesprek wat ek en sy gehad het die dag voor sy oorlede is, was oor Hartenbos,” skryf hy in sy boek.

“Hartenbos, jy was goed vir my ma – en daarvoor bedank ek jou. Maar nou moet jy mooi kyk na my pa . . .”

2019 is ’n waterskeidingsjaar vir Herman.

Vroegoggend op 22 Januarie het hy die oproep ontvang wat hy sy hele lewe lank gevrees het: Sy ma is oorlede. Op 58 het Susan Lensing skielik met ’n hartaanval die aarde gegroet.

Met sy hart in duisend stukke het Herman later die Mexikaanse sêding onthou dat ’n mens drie keer sterf. Die eerste keer as ’n kind wanneer jy besef die lewe is verganklik, die tweede wanneer jy jou tydelike adres verruil vir die ewigheid. “En dan, jou laaste dood, die oomblik as iemand vir die heel laaste keer jou naam sê.”

Met Dit proe soos huis wat binne weke in sy derde druk is, en ’n gelyknamige gewilde TV-reeks, sal Susan deur haar anyspatats, cremora-tert, haar miljoenêrskoek, deur elke dis, onthou word.

Met ’n hart wat trek van seer vir sy eerste Kersfees sonder sy ma, is Herman en sy Wilmer op pad Mauritius toe. Hulle huur vir drie weke ’n huis saam met vriende en hul kinders.

Wegkom, regkom.

“Ek kan nie wag nie. Ek het vir hulle gesê: Kyk my in die oë, as een van julle my vra wat eet ons die vakansie, slaat ek julle vol in die gesig. Ek. Gaan. Nie. Kos. Maak. Nie!”

Ná sy ma se dood het Herman en sy pa se verhouding verdiep. “Hy is ’n ongelooflike introvert, en ons oproepe was gewoonlik: Hoe gaan dit? Goed, en daar? Oukei, baai. Dit was net maar só. Nou, vir die eerste keer in 32 jaar, verstaan ek my pa. Ek kan vir hom sê ek is lief vir hom, iets wat ek voorheen nooit gedoen het nie. So, die dood bring ook genesing.

“Die mooiste van als is dat my pa ook vir Wilmer sê ek is lief vir jou.

“Ek was in ’n diep gat van depressie terwyl ek in Kaapstad gestudeer het. Ek het nie geweet hoekom nie, want ek was nie op soek na liefde nie. En toe kom Wilmer oor my pad op ’n vreemde, ongelooflike mooi manier. Ek was ’n intern by die Taste-tydskrif, en hy het by Wheels24 gewerk. Ons het toevallig die vorige aand op een of ander dating site vlugtig met mekaar gepraat. En wraggies, toe sit hy die volgende oggend reg langs my. In ons heel eerste gesprek het hy gesê ek kan die volgende Peter Veldsman word. Ag, wat’s die kans dat ek ooit ’n werk by Sarie sal kry, het ek vir hom gesê. En sy antwoord? Moet nooit sê nooit nie . . .

“Vir die eerste keer in my lewe was daar iemand by wie ek 100% myself kon wees, met alles in my lief kon hê. Ek was selfs bereid om die beste verhouding in my lewe, dié met my ouers, op te offer vir Wilmer.”

Sy ouers het die nuus dat hy gay is, op die tipiese “erratic Herman-manier” gehoor.

“Ek kan waansinnig mal raak en dan doen ek dinge erratic,” bars hy uit van die lag. “Ek en my ma het ’n telefoon-argument gehad oor ’n telefoonrekening. Sy wou heeltyd weet hoekom ek hierdie een nommer so baie bel. Ek het al lank getob oor hoe om dit vir hulle te sê, toe vang dit my op die heel onkantste manier, wat seker die beste manier was, want toe skree ek vir haar: Want dis my boyfriend!”

Susan het die foon neergesit en hulle het twee, drie maande nie met mekaar gepraat nie.

“Ek kom uit ’n konserwatiewe huis, ek het geweet dit gaan gebeur. Wilmer het gesê ek moet dit nie sien as dat hulle my afskryf nie, almal het partykeer tyd nodig om gewoond te raak aan iets. Dit was presies só.”

Sy ma moes die prentjie van haar seun met sy matriekafskeidmeisie in ’n maroen rok uit haar kop kry, “want dis haar prentjie, nie myne nie”, en toe is hul verhouding sterker as ooit.

“My broer kon nie. Ons twee praat al nege jaar nie met mekaar nie. Dis vir my baie erg, en seer. Ek het ’n ongelooflike vrees gehad om hom weer op die begrafnis te sien. En dit was leeg. Léég. Ek het hierdie ding in my gehad: Wat kan ek doen om die goedkeuring van my broer te kry? Nou is ek bevry daarvan, want ek het nie sy goedkeuring nodig nie.

“Ek is nie kwaad vir my broer nie – hierdie intelligente, suksesvolle broer van my, maar ek is hartseer as ek die goeie verhoudinge sien van my vriende en hul broers.”

’n Groot inspirasie in sy lewe, van skooldae af, is Nataniël. “Ek het in daai ou TV-program Geraas Nataniël hoor vertel dat ’n mens nooit moet compromise nie. Van daai dag af was hy ’n groot mentor in my lewe. Hy is die uiterste vorm van perfeksionisme.”

Hy het geleer, moenie opgee nie. Droom groot. Mense gee te maklik op, nie net met verhoudings nie, met alles. “As my ma opgegee het, het ek vandag in Upington se Spur gewerk.”

Skielik bars hy uit van die lag. “Dit sou die béste, móóiste Spur-burgers gewees het!”

Hy strooi die bloubessies amper ongeërg oor die roomwit cremora-tert. Sy vinger vee ’n paar krummeltjies van die toonbank af. Die blomborsspeld op sy wynrooi Zara-blazer sê tjorts vir ’n beter 2020.

“Ek eindig 2019 as ’n ander Herman. Don’t sweat the small stuff. Ek is bevry daarvan. Ek raak nie meer kwaad vir stupid goed nie.

“En . . . as níks meer help nie, plak ek 'n stuk kaas op 'n sny winkelbrood, kaas só kommingeel dit vlek jou tande, sit dit in die mikrogolfoond, wag vir die pieng, trek die tamatiesous nader . . . dit help vir alles.”

Meer oor:  Sarie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.