Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Hanlie Retief gesels met Herman Mashaba
DA: ‘Dit was ’n groot fout.’

Helen Zille is meer regs as Orania, spoeg Herman Mashaba dit uit.

Herman Mashaba het as burgemeester opnuut besef hoe Suid-Afrikaners in twee wêrelde leef. Om behuisingsprojekte soos dié een in Meadowlands, wat in 2006 gebou is en nooit aan inwoners toegeken is nie, te takel, was vir hom tydens sy termyn as burgemeester ’n missie. Foto: Cornél van Heerden

“Ek het baie respek vir die mense in Orania want hulle het ’n saak waarop hulle trots is. Hulle probeer nie mense mislei nie. Maar Helen is een van daai mense wat jy nooit regtig kan vertrou nie.

“Wat in die DA gebeur het – Helen se terugkeer, Mmusi se vertrek – is nie ’n ongeluk nie, dis ’n staatsgreep. Soos die Guptas die ANC gekaap het, so het Zille en die Instituut vir Rasseverhoudinge die DA gekaap.”

Dat liefde so tot haat kon skif, dig NP van Wyk Louw. Skaars sewe maande gelede het Mashaba, die aweregse burgemeester wat uit haarprodukte ’n miljardêr geword het, ’n loflied oor Zille getwiet:

“In al die jare wat ek Helen Zille ken, insluitende om breedvoerig te lees oor haar mooi lewe, enigiemand wat haar ’n rassis noem, is eintlik self ’n rassis. Helen is een van daardie Suid-Afrikaners vir wie ek die hoogste agting het as mede-Suid-Afrikaner. Punt.”

Nadat Mashaba verlede maand bedank het as Johannesburgse burgemeester en DA-lid in reaksie op Zille se terugkeer as federale leier, het sy hom aan dié twiet herinner en gevra: Wat het verander, Herman?

Zille se terugkeer en Mmusi se vertrek is ’n staatsgreep.

Jy hoor hom byna stik van verontwaardiging.

“Hoe verkeerd was ek nie oor haar nie! Ek het toe nog gedink sy is nie ’n rassis nie, sy het my onder ’n wanindruk gehad. Maar die laaste twee, drie jaar het sy vir my bewys sy is totaal anders as wat ek gedink het. Sy is die een wat openlik oor kolonialisme uitgekom het, onthou?”

Dáárdie berugte Zille-twiet was twee jaar gelede. Sý loflied was sewe maande gelede.

Haar kolonialisme-twiet was allesbehalwe ’n fout, vaar Mashaba verder uit. Nóú weet hy dit, ná al die ontwikkelinge in die DA en gesprekke met (anti-Zille-) kollegas wat hom die lig laat sien het.

“Dit was ’n goed uitgedinkte plan, sy en haar kabaal het dit in donker hoekies gesmee.

“Twee weke gelede wou sy my ontmoet, ’n vergadering met my hê. Toe sê ek vir haar: Helen, jy is die laaste mens in die wêreld met wie ek wil praat, ek het niks te sê vir iemand wat ek glad nie vertrou nie.

Beter dae tussen Helen Zille en Herman Mashaba. Sý sê hy was polities regs van haar, hý sê sy’s regser as die mense van Orania.

“Sy het gesê sy soek antwoorde, ek het vir haar gesê gaan soek die antwoorde in jou hart, ek het jou uit my lewe gevee.”

En nou is Mashaba DA-loos en werkloos en as Rapport-lesers dié lees, is hy 12 000 km ver weg besig om te snorkel in tropiese eilandwaters.

“Of ek speel dalk tennis, wie weet, maar ná vier jaar se politiek is ek weg, weg, weg van alles, ook sosiale media!”

Mashaba vertel sy lewensverhaal asof hy dit die eerste keer met iemand deel, dié seun van ’n Hammanskraal-huiswerker wat sy eerste kar gekoop en by die vertoonlokaal uitgery het sonder ’n rybewys, sonder dat hy ooit al bestuur het.

Die weermag het sy universiteitstudies vir hom kortgeknip toe hulle in 1979, in sy tweede jaar aan die Universiteit van die Noorde, tydens onluste studente ses uur tyd gegee het om die kampus te verlaat.

Hy het nie ’n sent gehad nie, kon nie terugkeer na sy studies nie, en toe word hy maar ’n verkoopsman.

En toe word hy maar skatryk.

Ons kan nie niks doen nie, ons moet opstaan en saamstaan.

In 1984, as topverkoopsman van SuperKurl-haarprodukte, bedink hy die plan vir sy multimiljoen-onderneming, Black Like Me.

“Ek het net eendag ? kans gevat en vir Johan Kriel, SuperKurl se produksiebestuurder, gesê kom ons gaan maak self die produkte.

“Ek het finansiering gereël by ’n sakeman, Walter Dube, en in daardie donker dae van apartheid het ons ons eerste faktuur vir Black Like Me op Valentynsdag in 1985 uitgemaak en binne ? jaar was ons omset R1 miljoen.

“Teen 1989 het ons ons eie hipermoderne fabriek gebou, ons eerste R10 miljoen gemaak en niemand ’n sent geskuld nie.”

Hy en Connie is op 3 Maart 1982 getroud, en as hy oor haar praat, klink hy skoon verlief. Maar eintlik hoor jy heeltyd, terwyl hy praat, verliefdheid – op die lewe. Jongman-energie.

“Ek het my Connie die eerste keer in 1978 gesien toe ons klompie koshuisseuns ná die matriekeksamen ? skoonheidskompetisie by ons skool gaan kyk het. Om te sê sy was mooi, is . . . man, ’n onderbeklemtoning!”

Die klankbaan van sy lewe is R&B. Musiek was, saam met sokker, die dinge wat hulle hoop gegee het in die grimmige apartheidsdae.

“Dis op my emmerskoplys om saam met Berry Gordy, die stigter van Motown, te gaan eet. Hy word nou 90 en ek is besig om te reël om hom in Januarie in Los Angeles vir middagete te ontmoet, maar eintlik wil ek vir hom gaan dankie sê, want sy musiek het my gemaak wie ek vandag is.”

Dit het eers bekend geword dat Ma­shaba kan klavier speel vyf jaar nadat hy stilletjies klavierlesse begin neem het.

Hy is ’n libertyn, hy is ’n kapitalistiese kruisvaarder, tsaar van die Vryemarkstigting, Meneer Entrepreneur, maar kyk, die dag toe hy Johannesburg se burgemeestersketting om sy nek gehang het, was dit ’n strop om sy nek, gee Herman Mashaba ’n reusagtige, moedelose sug.

Wat ’n gruwelike drie jaar van sy lewe, so erg hy’t begin slaappille sluk om sy brein darem vier, vyf uur snags afgeskakel te kry.

Wat hom politiek toe gedryf het, was die vrees dat Suid-Afrika ? Zimbabwe gaan word. “Ek het die politiek betree om die ANC te ontsetel, want as die ANC in beheer bly, gaan Zimbabwe soos ’n Sondagskoolpiekniek teen ons lyk.

“Kan jy jou indink as die ANC nou weer beheer in Johannesburg oorneem? Die plundering gaan van voor af begin! Hulle is uitgehonger, want ons het hulle drie jaar lank op hok gehou. Ek is bang, man, ek is bang, want dis iets waaroor ek geen beheer meer het nie!”

Die afgelope 40 maande was soos ’n skop in die maag. Nog nooit is hy so direk gekonfronteer met die twee wêrelde waarin Suid-Afrikaners leef nie.

“Ons ís die ongelykste samelewing in die wêreld en dit breek my hart as ek sien hoe arm ons mense is. As burgemeester het ek dit dag ná dag beleef.

“Die ANC-regering het Johannesburg bemark as ’n wêreldklas-Afrikastad. Hoe kon hulle? Die lewensomstandighede van ons mense in plekke soos Alexandra en plakkerskampe is haglik.”

Ná Mashaba se bedanking het Zille gesê ’n mens kan Mashaba amper ’n vryemark-fundamentalis noem, wat selfs gekant is teen maatskaplike toelaes.

No ways het ek gesê ek is teen maatskaplike toelaes. Ek het dit nog altyd ondersteun, maar mense moenie lewenslank afhanklik bly van die staat nie, dis ’n korttermyn-manier om hulle uit armoede op te hef.”

Mashaba sê nou hy glo in rasgegronde regstelling, maar nie op die ANC-manier nie. “Regstelling is nodig, ons het 300 jaar se kolonialisme agter ons, maar nie só dat dit ander uitsluit nie. Hoe kan die ekonomie groei as jy wit Suid-Afrikaners uitsluit? Ons moet hulle juis die kans gee om hul potensiaal te ontsluit, maar regstelling moet óók gebeur. Gelukkig stem die meeste wit Suid-Afrikaners hiermee saam. Ek weet, want ek het die afgelope vier jaar baie tyd saam met hulle deurgebring, ek weet wat leef in hul harte.”

Nee, hy dink nie hy klink meer DA as die DA nie, raak Mashaba opnuut vurig. “Die DA het my pro-armes-beleid van dag een af teengestaan.”

Die wit belastingbetalers van Johannesburg het hom deurentyd ondersteun om eerder vir Alexandra toilette te gee as om straatligte in ryk buurte te vervang, sê hy. “En wat doen sekere DA-raadslede? Hulle sê jy kan nie geld bestee aan mense wat nie belasting betaal nie. Daar was ’n magtige klein DA-groepie in Johannesburg wat nie van my pro-armes-beleid gehou het nie.”

Hy wil nie sê wie hulle is nie. “Gaan soek die antwoord by Zille en die Instituut vir Rasseverhoudinge wat die DA-kaping beplan het.”

Ironies het die EFF en die VF Plus hom meer ondersteun as sy eie party, sê Mashaba. Tony Leon, Ryan Coetzee en Michiel le Roux – die DA se hersieningskomitee – sit die pot mis as hulle sê dit was ’n fout om met die EFF saam te werk.

“Inteendeel. Dit was vir my ’n fout om by die DA aan te sluit.”

En dié wat sê hy het die EFF se guns gekoop? “Dis ’n belediging. Die kern van ’n koalisieregering is om almal met respek te behandel.”

Mashaba sê die EFF was aanvanklik sy grootste nagmerrie. “Ek het nie geweet hoe ek dit gaan regkry dat hulle my begroting sal aanvaar nie, maar my vrese was onnodig. Die EFF was moeilik, maar ondersteunend, nooit kwaadwillig nie.”

Die feit dat EFF-leiers na bewering miljoene gesteel het van arm mense by die VBS-bank was ook nie vir hom ’n probleem nie. “As die EFF my stadskern-hernuwings ondersteun deur saam met die private sektor behuising vir die armes te bewillig, dan is dit dít waaroor ek omgee, nie die VBS-bank nie.”

Ja, hy weet die EFF is rassiste, antwoord hy. “Maar wat van die rassiste in die DA? En die VF Plus, wat eintlik baie ondersteunend was? Helen is regser as die VF Plus! In die VF Plus-raadslid Franco de Lange se komitee vir ekonomiese ontwikkeling was die grootste teenstanders teen regstellende beleid die DA, nie die ANC en EFF nie.”

Die afgelope week het prof. Thuli Madonsela hom bedank vir sy bydrae om ongelykhede in Johannesburg te verminder.

“Die lewe sal nooit weer dieselfde wees vir ingekontrakteerde werkers, die begunstigdes van die middestad se laekoste-behuisingsprojek nie.”

Hierdie Accidental Mayor (die titel van sy nuwe boek wat vroeg 2020 verskyn) sal onthou word vir sy xenofobiese uitsprake en wilde twiets, maar ook vir sy infrastruktuur- en behuisingsprojekte, die vergroting van die metropolisie en sy pogings om korrupsie te takel.

Hy loop draaie om die gerugte dat hy en Mmusi Maimane ’n nuwe politieke party beplan. Hy hou nou eers vakansie, maar ? tweede Kodesa kom, laat weet hy: The People’s Dialogue saam met Maimane.

“Ons Suid-Afrikaners moet weer met mekaar begin praat, ons moet mekaar weer begin hóór,” sê hy dringend.

“Ons kan nie net stilsit en niks doen nie, ons moet opstaan, ons moet saamstaan. Dis ons plig.

“Ons moet ons land weer veilig kry, met genoeg geleenthede sodat ons kinders weer huis toe kan kom.”

Ure later twiet hy hoe sy dogter wat in Amerika werk, bekommerd is oor haar toekoms in haar geliefde Suid-Afrika onder die ANC.

Pappa hoor jou. Hard en duidelik. Hou maar vir Pappa dop.

Meer oor:  Herman Mashaba  |  Helen Zille  |  Johannesburg  |  Burgemeester  |  Da
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.