Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Hanlie Retief gesels met Hermione Cronje

Dit is die Nasionale Party-propaganda van die tagtigs wat adv. Hermione Cronje die aktivis en korrupsievegter gemaak het wat sy vandag is.

Dit is dié 48-jarige hoof van die nuwe ondersoekdirektoraat in die nasionale vervolgingsgesag (NVG) se gunsteling-storie, maar die eerste keer dat sy dit in die openbaar vertel.

Op laerskool in Atlantis het die NP op ’n naweekkamp vir Hermione en haar klasmaats diep onder die indruk gebring van die dreigende Swart Gevaar en die kloue van kommunisme. “Ons is getreat, aan tafel laat sit en geleer hoe ’n mens ordentlik met ’n mes en vurk eet. Ná die kamp was ek vasberade om die ‘onheil van kommunisme’ te beveg.”

Toe haar katolieke hoërskool in Elsiesrivier deelneem aan ’n wegbly-aksie, het Hermione, NP-patriot wat sy was, geweier om deel te neem. Maar toe neem ’n Ierse non haar onder hande. “Suster Áine Hardiman het mooi verduidelik hóé erg ek die kat aan die stert beet het. Dat ek nou altyd my eie besluite neem en ’n sosiale bewussyn het, is aan suster Áine te danke. Sy het my geleer om skepties te wees.”

As politieke aktivis het Cronje selfs in die tronk beland. Sy was die eerste swart vroulike studenteraadsvoorsitter van die Universiteit van Kaapstad.

Nooit weer sou Hermione Theresa Cronje perdedrolle vir vye aansien nie.

My grootste vrees ná skool was dat ek nie handig genoeg was om met fabriekmasjiene te werk nie.

Nie by die NVG waar sy in 1998 begin werk het nie, nie as stigterslid en hoof van die Wes-Kaapse batebeslagleggingseenheid nie, of later by die teenkorrupsie-eenheid nie. Ook nie by Harvard, waar sy haar meestersgraad verwerf het nie.

As konsultant vir die Stolen Asset Recovery Initiative, ’n gesamentlike inisiatief van die Wêreldbank en die Verenigde Nasies, het Cronje vir ander lande dié soort ondersoekeenhede ontwikkel.

“Die nuwe ondersoekdirektoraat het nou my long walk geword, my Thuma Mina.”

Die verwagting van 50 miljoen mense rus nou op haar en die NVG-hoof, Shamila Batohi, om staatskapers en korruptes uiteindelik in oranje oorpakke te kry.

“Wil jy my ’n hartaanval gee,” lag sy. “Ek is verstom oor die reaksie op my aanstelling. Ek weet dit gaan nie oor my nie, maar oor die desperaatheid van mense dat iets moet gebeur.”

Staan sy en Batohi nie met hul (te min) vingers in die (te veel) gate van ’n lekkende dyk nie?

“Nee, ons maak staat op die ingenieurswese van daai dyk. Dis in elk geval nie ’n een-persoon-probleem nie, nie eens ’n instelling se probleem nie.” Die strafregstelsel, die Reserwebank, die Inkomstediens – die breër Suid-Afrikaanse samelewing – moet nou saamstaan om staatskaping te pak, benadruk sy.

Suster Áine Hardiman, die Ierse non wat vir adv. Hermione Cronje geleer het om altyd skepties te wees. Foto: The Irish Times

Vroeër, in die raadsaal by die Kopaneng-sentrum in Benoni waar ons op Cronje gewag het, het die kommunikasiehoof, wat die Shaun Abrahams-era beleef het, opgewonde verwys na Cronje as fakkeldraer vir die “New Dawn” in die NVG. Cronje is die tipiese klein pakkie dinamiet, informeel, nonchalant, indrukwekkend, sê sy.

Dis dag twee van die NVG se beplanningsessie. ’n Gees van erns hang in die gange.

Iewers agter toe deure pluis die klomp vervolgers hul geloofwaardigheidskrisis uit. “Ons het vanoggend vir mekaar gesê dis veral omdat die NVG staatskapingsake nié sonder vrees, bevoordeling of vooroordeel hanteer het nie,” sê Cronje.

En voeg by: Gaan lees die Mokgoro-verslag, dan verstaan jy die geweldige impak wat die leierskapsprobleme op die NVG het.

“Met die ontbinding van die Sker­pioene het soveel kapasiteit verlore gegaan. Dit het die hele proses ontwrig oor hoe ons komplekse sake aanpak. Metodologie wat geleidelik ontwikkel is, is skielik oorboord gegooi.”

Destyds is die groot, komplekse sake bestuur soos jy ’n dwelmsaak sal hanteer, sê sy. Nou, met groot hoeveelhede inligting wat hanteer moet word en invloedryke rolspelers wat toegang het tot hulpbronne, is die NVG se uitdaging veel meer kompleks.

“Daar is boonop nou soveel onthullings by die ondersoekkommissies, dat ’n traagheid byna intree, want jy is bang om foute te maak.”

En as die misdadiger ’n president is?

Dis relatief, kom ’n skouerophaal.

“Net ’n ander soort enormiteit. As ’n staatsaanklaer ’n bendelid in die buurt langsaan vervolg, is dit vir hom of haar ewe enorm. Jy kan nie vir ewig dink dit en dat kan gebeur nie.”

Mense sê sy is ongeërg oor haar persoonlike veiligheid.

“As dit net oor my gegaan het, sou die risiko hoër gewees het. Maar ons is ’n hele span, almal is vervangbaar, die werk sal voortgaan.”

Verwysende na oudpres. Zuma wat laasweek weer as ’n ontkenner van staatskaping in die nuus was, sê Cronje die definisie van staatskaping is interessant.

“Dit gebeur dikwels in oorgangsgemeenskappe waar mense nuwe beleid vir eie gewin op ’n bepaalde wyse vertolk. Niemand kan sê dis onwettig nie, soos ’n projek waaruit arm boere voordeel trek. Agterna gesien, wonder jy watter misdaad is gepleeg, watter wet is verbreek. So jy moet die bedoeling van die beleidmakers probeer vasstel.”

Die NVG hoef nie te bewys of daar staatskaping was nie, net: is die wet verbreek? Iemand word nie vervolg vir staatskaping nie, maar of hulle openbare geld gekanaliseer het na hul private belange, verduidelik sy.

“Dis korrupsie. Of dit ook staats­kaping is – daaroor sal seker nog boeke geskryf word. Ons hanteer misdaad.”

Ná ’n afwesigheid van sewe jaar het Cronje teruggekeer na ’n NVG waar vrees en agterdog ’n kultuur geword het.

“In elke organisasie skinder mense in die gange, maar dis hier veel erger. Noem iemand se naam, en jy hoor: wees versigtig. In ’n gesprek met senior kollegas gisteraand, het ek gevra: hoe vertrou ek mense?”

As daar nie ’n klagte of ondersoek teen ’n personeellid is nie, sal sy met hom of haar saamwerk, sê Cronje. “Maar die werk is die fokus. Lewer jy nie, het ons ’n probleem. Dan is dit vir my irrelevant of die probleem vaardigheid, kapasiteit of korrupsie is.”

Dis ’n versoeking vir vervolgingsagentskappe oor die hele wêreld om vinnige resultate te jaag. “Maar die NVG moet die mense aankeer wat wérklik verantwoordelik was vir korrupsie.” Nie net die pionne nie, maar die konings.

“As ons nou iemand in hegtenis neem, moet Suid-Afrikaners gerus wees dis nie politiek gedrewe nie, daar’s nie ’n agenda nie, dis ernstige misdaad en dít is die mense wat dit gedoen het. Ons is nog myle weg daarvan. Ek en die nasionale direkteur se aanstellings is wyd verwelkom, maar daar is waarskynlik ewe veel skeptisisme.”

Is sy oortuig die president steun haar en Batohi ten volle? “Ek dink nie veel daaroor nie. Hy het my CV gesien.” Hy weet sý weet wat perdedrolle is, dus, glimlag sy.

“Die politici het nie vir ons onafhanklikheid op ’n skinkbord aangebied nie, die Grondwet gee dit vir ons. Dis ons s’n om uit te oefen.”

Met Cronje se aanstelling het die DA se Glynnis Breytenbach gewaarsku dié nuwe direktoraat beteken min sonder ’n voldoende begroting en hulpbronne. Die NVG het in 2018 R761 miljoen gekort om 1 064 poste te vul, waarvan 244 vakatures kritiek was.

Batohi werk hard daaraan om die NVG se basiese dienste op taamlik aanvaarbare vlak te kry, sê Cronje.

“Maar daar is steierende tekorte. Die NVG het homself deels te blameer omdat daar nie resultate was nie. As ’n land vertroue het in sy vervolgingsgesag, sál die hulpbronne kom.”

Dis presies wat sy nou beleef. “Ons word oorval met aanbiedinge van hulp en ondersteuning. My inboks is vol mense wat sê: ek sal dit pro bono doen, ek wil net help. Ons moet dit nou net inspan.”

Sy word deesdae op straat herken. “Dis effe skrikwekkend. Ek is die ‘openbare’ gesig in my gesin, hulle is heel bekommerd oor al hierdie aandag. Die moeilikste besluit vir my was: kan ek dit aan my twee jong kinders doen? Ek het gelukkig ’n baie toegewyde man, hy is ’n akademikus.”

Haar kinders se grootwordjare is die teenpool van hare.

“Myne het begin op Bokmakierie, langs die N2. Daar is ’n sloot en dan die township. My ma is een van 13 kinders. Twee is jonk dood, so ek was kind nommer 12 in die huishouding, met my broer nommer 13.

“My ma is baie dramaties. Ek is verstom dat sy nog nie op al wat ’n TV-kanaal is, was oor my nie.” Sy lag. “So laat ek dit duidelik stel: ek is nie verantwoordelik vir my ma nie. Sy’t my nog nie eens gebel (oor haar aanstelling) nie, sy’s te besig om glamorous te wees!”

Sy het haar Ouma Hermie se naam gekry. “En seblief moenie weer aangaan oor hoe my naam uitgespreek word nie,” grinnik sy. “Maar ek hét van die Hermione in Harry Potter gehou!”

Haar ouers is uitmekaar toe sy drie jaar oud was. “Ek is na aan my pa. Hy is 'n afgetrede drywer in Mitchells Plain en hy praat altyd so half aweregs met my. Soos: Jy staan nou daar op TV en sê jy gaan die werk doen, so jy béter, nè.”

Sy het tussen haar ouers se families grootgeword. “Ek was tussenin op soveel maniere, met baie angst daaroor. Ek het as kind baie tyd bestee om te probeer uitvind wie ek regtig is.”

As sy in die vliegtuig sit en die Kaapse Vlakte lê onder haar . . . “Dan dink ek: ek kom van daar. Ek weet wat in die harte van daardie mense aangaan.

“Ek vra myself af: hoe kon ek daarvan ontsnap? Selfs in my nabye familie het min van hulle dit buite die Vlakte gemaak. Ek bly dink: daar was niks spesiaals aan my nie. Hoekom kon ék?

“Mamphela Ramphele het altyd gesê: trek jouself aan jou skoenveters op, gryp die kanse en al daai. Maar ek glo dit nie. Ek het baie nefies en niggies wat niks anders is as ek nie, en waar is hulle nou? Hulle werk in winkels en fabrieke. My grootste vrees ná skool was dat ek nie handig genoeg was om met fabrieksmasjiene te werk nie.”

Wat het die verskil gemaak? “Ek weet steeds nie. Dalk mense wat oor my pad gekom het.”

Die suster Áine’s. Die vuur in haar maag. En die Hermione-magic.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.