Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Hanlie Retief gesels met Jaco Jacobs

Jaco Jacobs. “Pa van twee. Eggenoot van een. Tamatiesapdrinker. Dagdromer. Drawwer. Leser. Rympie- en storiemaker.”

Gaan kry hom agter ’n “vervelige, deurmekaar” lessenaar met 300 PEZ-houers in rye teen ’n osbloedrooimuur, met boektitels en stories wat kielie-kielie van jou tong af rol.

Komaan, Pa, skryf vir ons ’n rympie! Emma (4) en Mia (6) draai (sonder speelgoedpistole) hul pa om hul pinkie. Foto: Conrad Bornman

Spaghetti tussen jou tone . . . Moenie hierdie boek eet nie! . . . Dinge wat ek nie van skape geweet het nie.

En: Oor ’n motorfiets, ’n zombiefliek en lang getalle wat deur elf gedeel kan word . . .

Van smôrens vyfuur af in ’n voorstedelike tuinkamer in Bloemfontein spring sinne soos vlakhase op in Jaco Jacobs se kop.

“As ek hardop daarvoor begin lag, weet ek dit gaan werk,” verduidelik hy en klink so ’n bietjie verleërig.

Jaco (en sy “skuilnamige medeskrywers!”) het al 156 boeke geskryf waarvan ’n allemintige miljoen van hulle voosgelees en taaigevat is iewers in kinderkamers in Suid-Afrika.

Dit ís vandag ’n Goeie dag vir boomklim vir Jaco, want hy’t gisteraand gehoor nóg twee van sy boeke het gewen by die jaarlikse Suid-Afrikaanse Letterkundetoekennings (Sala). Dis skaars ’n dag nadat die Engelse vertaling van ’n Goeie dag vir boomklim benoem is vir Brittanje se oudste en spoggerigste kinderboekprys, die Carnegie-medalje.

Maar lank voor die toff van Carnegie, was daar die stof van Carnarvon waar stories rondlê om opgetel te word.

“Ek het daar grootgeword, in die middel van die Karoo, naby aan niks.”

Met ’n outydse oupa wat Jakkals en Wolf-stories vertel, en ’n Beaufort-Wes-ouma wat nou nog elke liewe resitasie wat sy op skool geleer het, kan opsê. Storiewêreld.

Wat ek die beste van my kinderdae onthou, is hoe intens jy dinge beleef. Baie mense vergeet dit.

Op Jaco se eerste skooldag het hy gedink hy sal die middag al kan lees en skryf. Hy was ’n bang seuntjie, en dit was eintlik al rede hoekom hy die moed bymekaargeskraap het om skool toe te gaan.

“Die middag toe ek by die huis kom, het ek ’n boek gaan vat en probeer lees en besef dit gaan nie oornag gebeur nie. Ek was so teleurgesteld, ek was op my tweede skooldag skoolsiek.”

Maar toe hy eers kon lees, het hy drie keer ’n dag boeke by tannie Willemien in Carnarvon se biblioteek uitgeneem. Vroegoggend, ná middagete en dan net voor toemaaktyd.

Sy taal-onderwysers het hom deur sy skooljare vir skryfkompetisies help inskryf. “In st. 8 rond het ek begin besef jis, dis rêrig wat ek wil doen. Ek het met ’n notaboek in my tas begin rondloop en heeltyd idees neergeskryf. Ek was glad nie ’n sportiewe kind op skool nie, ’n tipiese bleeksiel, soos jy kan verwag,” grinnik hy.

“As ek nou terugdink, kan ek nie glo ek was so doelgerig en ambisieus nie, want dis nie rêrig my persoonlikheid nie. As jou pa ’n boer is en jou oupa-hulle was boere, verwag jy mense sal hulle doodskrik as jy sê jy wil 'n skrywer word.

“Dit was seker maar vir my pa-hulle ’n vreemde idee, maar eintlik was dit vir my vreemder om dit vir hulle te sê.

“Ek sê toe vir myself: As jy dit wil doen, moet jy jouself bewys. In st. 9 en matriek het ek verwoed begin skryf, die een tydskrifverhaal ná die ander. Ek het sulke pakke afkeurbriewe, maar ek het net aangehou en aangehou.”

Carnarvon-kind voor sy budgiehok.

By ’n skryfskool (’n ATKV-prys) was François Bloemhof daar as verhale-redakteur van Sarie. Die jong Jaco was die ene ore toe François vertel watter doepa Sarie in kortverhale soek. Skaars terug by die huis, toe pes hy vir François met ’n kortverhaal élke week. “Ek het sulke Fastmail-koeverte by die dosyne gekoop en hom mal gemaak.”

François het seker later uit moedeloosheid ’n Jaco-storie geplaas – oor vampiere in Sarie se Kersuitgawe. “Agterna het François vir my gesê hy het amper sy werk daaroor verloor, ek moet makker goed skryf.”

Dit was François wat Jaco tot kinderboeke bekeer het. “Hy het gesê my skryfstyl pas daarby.”

In die lang skoolvakansie ná matriek skryf Jaco toe sy eerste kinderboek. En net daar het hy sy hart onherroeplik verloor.

“Ek dink daar’s net een manier om dit te verduidelik: Jy sing maar soos jy gebek is. Daar het so ’n gemaklikheid oor my gekom toe ek besef ek skryf nou mý tipe stories. Boonop kan ek ongelooflik baie pret hiermee hê. En dis vandag nog nie sleur nie, net pret.”

Jaco Jacobs en sy pa.

Hy hou daarvan dat die genre van kinderboeke so veelvlakkig is. Hy het self al alles gedoen – tienerboeke, kleuterboeke, kinderrympies, noem maar op.

“Die nege-tot-twaalfmark is vir my die lekkerste. Hulle het pas leer lees, maar dis nog eenvoudig. Oorsee noem hulle dit die chapter books, kinders se eerste boeke met hoofstukke.

“Miemie (du Plessis), my uitgewer by Lapa, sê altyd sy vermoed ek is in my kop so ’n elfjarige seuntjie. As ek skryf, skryf ek om myself te vermaak toe ek op daai ouderdom was, wat ek toe sou wou lees.”

In st. 1 (gr. 3), het Jaco sy eerste Stephen King, Christine, voor tannie Willemien neergesit om uit te neem. Sy het summier néé gesê. Toe het sy ma vir hom die boek gaan uitneem, en hy het dit gesit en deurlees met ? woordeboek langs hom.

Tot vandag toe is hy ’n groot King-aanhanger.

Hy het geduik in Roald Dahl, die Hardy Boys-, Nancy Drew-, Uile- en Trompie-reeks. “Saartjie altyd so onder my Trompies weggesteek, want dis meisieboeke. Maar toe ek hoor dis deur dieselfde skrywer onder ’n vrouenaam geskryf, toe verdwyn die skaam.”

Hy skryf sy eie “meisieboeke” onder die skuilname Lize Roux en Tania Brink.

Twee boeke wat sy wêreld laat kantel het, is Marlene van Niekerk se Triomf en J.M. Coetzee se Disgrace. “Ek kan nie eens begin om te sê hoekom Triomf my boek is nie. Ek het dit op skool gelees, uitdagende leesstof vir ’n kind, maar ek was gereed daarvoor.

“En Disgrace . . . dit klink aanstellerig en ek haat dit as mense boeke gebruik om belangrik te klink, maar luister net hier: I rest my case on the rights of desire . . . On the god who makes even the small birds quiver.” Sy stem raak sag. “Die prosa daarin is net vir my so ongelooflik mooi. Ek het ’n uitdruk hiervan geraam.”

Al is hy bekend as skrywer, is Jaco steeds erg sku vir publisiteit. ’n Das en baadjie en ’n verhoog gee vir Jaco die ritteltits.

“Ek is eintlik ’n vreeslike introvert. Ek doen baie skooltoere waar ek met die kinders gaan praat, en perform op die verhoog, maar dis nié my natuurlike toestand nie.”

Ten spyte daarvan stap hy op soos ’n bokser vir ’n geveg, hy gee elke keer die vertoning van sy lewe, hy gee van homself.

By die Eunice-meisieskool in Bloemfontein wou hy sy gunsteling-rympie uit Moenie hierdie boek eet nie, voorlees: “Juffrou Bekker, die rapper”.

Toe Jaco sy asem intrek om dit te begin lees, besef hy met ’n skok dié rympie moet ’n mens rap.

Toe trek hy maar los en hy rap vir “Juffrou Bekker”.

Dié rap-rympie is nou ’n instelling by sy praatjies. “En elke keer dink ek: Die skaam tienjarige wat ek was, skaam hom morsdood vir wat ek nou doen . . .”

Hy en sy vrou, Elize, het so skaam-skaam ontmoet by ’n meenthuiskompleks-braai waarvoor nie één van hulle twee rêrig kans gesien het nie.

“Die buurman sê vir my ek lyk vir hom soos ’n bier-man, hy gaan my leer wyn drink. Eintlik het my pa al, wou ek nog sê, maar toe bly ek liewer stil. En daar haal hy ’n 20-jarige bottel witwyn uit, wat lyk soos die sous as jy ingelegde perskes afgegooi het.

“Toe gaan gooi ek en ’n ander vrou die goed skelm uit, raak aan die gesels en nou is ons getroud, met twee dogtertjies, en bly steeds hier in Bloemfontein.”

Kinders is deesdae soveel meer straatwys, sê Jaco.

“Maar op die ou end bly kinders maar net kinders. Om die eerste keer verlief of geboelie te raak, gebeur dalk vandag anders, met meer tech hype, maar die basiese dinge blý, die onsekerhede, die opwinding daarvan.”

Kinders moet so lank as moontlik kind kan bly. Hy voel asof hy heeltyd wil sê, nee, los hulle, laat hulle speel soos ons smiddae omgespeel het.

“Hulle is heeltyd so besig, besig. ’n Ruk terug vertel ’n gr. 1-onderwyseres van ’n kind in haar klas by wie uitbranding gediagnoseer is. Daai kind kry soggens voor skool perdrylesse, doen heelmiddag buitemuurse dinge en kom saans stokflou by die huis en dan wag die huiswerk.”

Dis nie heeltemal waar dat kinders nie meer lees nie, sê hy. Die eintlike probleem is tyd. Ons hou hulle te besig met ander dinge.

“Wat ek die beste van my kinderdae onthou, is hoe intens jy dinge beleef. Baie mense vergeet dit. As jy kwaad is, was jy nog nooit so kwaad soos op daai oomblik nie. As jy huil, was jy nog nooit so hartseer nie. As jy dit kan onthou en behou, kan jy vir kinders skryf. Ek kom by ’n skool en besef die kinders wat hier voor my sit, is op hierdie oomblik wakkerder en hulle lewe baie meer intens, hulle voel baie meer as die meeste grootmense.”

Een winter in Carnarvon het dit verskriklik koud geword en ’n klomp van Jaco se budgies het verkluim.

“Hulle het soos vye uit ’n vyeboom geval.”

Jaco het histeries begin huil en Nora, die huiswerker, het nader gehardloop, die budgies bymekaargemaak en in die louoond gesit. Toe skree Jaco nog harder, want hy dink sy gaan hulle braai. Maar een vir een het die meeste budgies lewendig geword in die hitte van die oond.

Ja . . . Nora . . . Hy onthou hoe hy die storie so agterlangs by die grootmense gehoor het. Nora, wat haar man met ’n mes doodgesteek het nadat hy haar vir die soveelste keer geslaan het. Nora wat tronk toe is en daarna weer by sy ma-hulle kom werk het.

“Ek onthou hoe sy met daardie groot eelterige hande die budgies uit die oond gehaal het. Dieselfde hande wat haar man vermoor het, het hierdie voëltjies weer lewendig gemaak.

“Dis wat ek jou sê van stories.”

Meer oor:  Jaco Jacobs  |  Jeugboeke  |  Kinderboeke  |  Skrywer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.