Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Hanlie Retief gesels met James Selfe
’n Sin van die Selfe

Vir 19 jaar, 7 maande en 20 dae was James Selfe die DA se nowhere man.

James Selfe in sy parlementskantoor. Foto: EDREA CLOETE

Die DA se hooftoiletskoonmaker, beskryf hy met tipiese Selfe-humor sy rol as die party se Nommer Twee. Onsigbaar. Onder die radar. Dis hy wat die deur agter hom en die EFF toetrek om ’n smerige koalisie uit te sweet, wat die bloed van die vloer opmop ná interne partygevegte, wat lawfare met die howe voer om die Grondwet, waaraan hy help skryf het, te beskerm.

En dis James Selfe wat nou ná sy party se swak verkiesingsuitslae op sy swaard val.

“Daar is besluit dat iemand verantwoordelikheid daarvoor moet aanvaar. Dis die korrekte ding om te doen.”

En as hy die DA-leier was en ’n hersieningspaneel bevind dat hy moet loop, wat sou hy gedoen het?

“As jy ’n hersieningsproses aanvra, is jy veronderstel om by die bevindinge te hou.”

Selfe is ten gunste van ’n vervroegde DA-kongres.

“Dit sal ’n nodige katarsis bring. Die gees is koorsagtig in die party, almal val rond. ’n Kongres sal weer leierstrukture en beleid vaslê. Dié wat nie van die eindproduk hou nie, kan ’n ander politieke tuiste vind.”

Ondergang? Die DA se roeping is groter as ooit.

Nog altyd het James Selfe sy persoonlike lewe ondergeskik gestel aan die DA, sê Thomas Walters, wat jare lank Selfe se adjunk was.

Selfe het onlangs ’n groot operasie ondergaan en die herstelproses duur veel langer as wat hy verwag het. Tydens die onderhoud was hy in groot ongemak. Verlede Woensdag wou die dokters hom in die hospitaal laat opneem ná ’n infeksie, maar hy het geweier. Niks kon hom weghou van hierdie kritieke federale kongres nie.

“Sy rol in die opbou van die DA, van ’n klein opposisieparty tot ’n party in regering, word nie genoeg waardeer nie,” eggo Walters vir Paul Boughey, wat in sy bedankingsbrief as uitvoerende hoof Selfe as die onbesonge held van die Suid-Afrikaanse demokrasie beskryf het.

James Selfe is die tipe ou wat jou verantwoordelikhede gee, met die ruimte om dit uit te voer, sê Walters. “Maar altyd met die opdrag: Don’t f*ck it up!”

Vlymskerp, soms selfs bitsig, beskryf Jan-Jan Joubert hom in sy boek Wie gaan in 2019 regeer? Maar altyd beleefd, Selfe is “bes moontlik die Suid-Afrikaanse politikus met die beste maniere”.

Juis oor dié “properness” van Selfe het die oud-DA-leier Tony Leon hom destyds in sy kombuiskabinet die bynaam Jimmy gegee.

“Op ’n manier kon dié bynaam deur sy ordentlike terughoudenheid breek. Ons het oor baie dinge saamgestem. Hy was totaal lojaal, gewis teenoor my toe ek aan die stuur was, maar belangriker: aan die roeping.”

Leon onthou veral twee oomblikke saam met Selfe, “en al hou hy dalk nie daarvan dat ek hom daaraan herinner nie, wys dit sy menslikheid. Op die vooraand van die 1994-verkiesing het ek slegte vibrasies gekry oor ons kanse. Jimmy verseker my toe ewe ons gaan ’n miljoen stemme kry. En daar tuimel ons tot 300 000 stemme en net sewe LP’s. Ek herinner hom altyd aan sy voorspelling!

Die DA-leierskorps nadat Helen Zille leier geword het. Van links is Marius Swart, Zille, Donald Lee, Joe Seremane, James Selfe, Anchen Dreyer en Sandra Botha.

“Maar ál Jimmy se prestasies is in ’n omgekeerde verhouding met sy verskriklike kleresmaak. Ek het altyd my dasse vir hom gegee, want syne was so aaklig.

“As ek net een ding van James Selfe kan sê: Hy is ’n man van karakter.”

En as jy Tony Leon opponeer, herinner hy jou daaraan vir die volgende 15 jaar, grinnik Selfe.

“My lekkerste jare was saam met Leon. Hulle het Tony se binnekring – ek, Ryan Coetzee en Douglas Gibson – die boys club genoem, en ons wás waarskynlik ’n kliek.”

Leon het hulle gedryf, vertel Selfe, wat in daai jare in 17 parlementêre komitees gedien het.

“Oukersaand 1997 ontplof ’n bom in die Paarl. Tony bel: ‘Sorg dat jy dadelik in die Paarl kom!’ Maar dis Oukersaand, ons gaste is op pad. ‘Ek gee nie om oor jou gaste nie, klim in jou kar en kom op die TV!’ Toe sit ek maar die stoof af.

“My loopbaan het op soveel maniere ’n tol geëis. Ek het voorsitter geword toe my jongste dogter, Emma, agt was. Sy is nou 28 en ek het haar skaars gesien grootword. Om die party eerste te stel, was nie vreeslik goed vir my gesin nie, en ek is eweneens nie seker of dit vreeslik goed was vir my as mens nie.”

Selfe se pa was ’n diplomaat, en sy vroegste herinnering is van sy pa met “brolly & bowler hat” in Londen. Hy was ’n “diplomatieke weeskind”, op sewe reeds in Bishops se koshuis, “waar koue storte en lyfstraf beskou is as karakterbou. Dis natuurlik ’n ideale agtergrond vir politiek, want dit leer jou van vroegs af die lewe is nie regverdig nie.”

Op tien het hy verklaar hy wil eendag eerste minister word. “Ek kon as jong kind reeds die politici in Dave Marais se spotprente uitken.”

Sy eerste werk ná universiteit was by Helen Suzman. “ ’n Formidabele vrou met wie jy, nes met die ander Helen (Zille), nie moeilikheid gesoek het nie.”

Selfe se kantoor in die Marksgebou is vol aandenkings en foto’s. Dis hier waar hy soveel jare lank “vir opeenvolgende partye die liberale vlam brandend gehou het”, skryf Joubert.

Die PFP, die DP, Kodesa. En oor die tyd toe die DP saamgesmelt het met die NP, kan hy net glimlag. “Kortbroek (Marthinus van Schalkwyk) is baie ordentlik, maar so onderduims as kan kom. En as jy met Renier Schoeman of Daryl Swanepoel handskud, moes jy maar agterna jou vingers tel.”

Selfe was destyds Van Zyl Slabbert se persoonlike assistent. “Ek was só in voeling met hom, ek sou hom op die lughawe oplaai, op pad lees hy die toespraak wat ek vir hom geskryf het, dan laai ek hom by die parlement af om dit te gaan lewer.

“Ek het enorme respek vir hom gehad, maar ’n mens het stamina nodig in die politiek, en Slabbert was té haastig. As hy vasgebyt het, sou hy ’n veel groter invloed kon uitoefen.”

En Colin Eglin? “Nou hý was ’n boelie. Hy het een keer my navorsingstuk in die asblik gegooi met die woorde: Nou weet jy wat ek daarvan dink!”

Is Helen Zille ’n boelie? “Sy skop vas om iets op ’n sekere manier gedoen te kry, maar ons het goed saamgewerk, want in dié pos moet jy jou leier ondersteun.”

Hy “hoop van harte” Zille sal dieselfde kan doen indien sy vandag as sy opvolger verkies word. Dit sit nie in haar of Athol Trollip se klere om ’n nowhere man (of woman) te wees nie.

“Omstredenheid is in daardie twee se DNS. Thomas Walters egter, sal in die agtergrond kan bly.”

By Zille het hy die les geleer dat jy die insig moet hê om te weet wanneer jy jou hakke moet inslaan en wanneer nié. Dis veral belangrik in koalisieregerings.

Dit was dalk presies net dáár waar taktiese foute gemaak is tydens die Patricia de Lille-sage, sê hy.

Selfe mentor met toewyding vele jong DA-raadslede.

“Dis nodig, want die omgewing is rof. Die politiek is ’n vetgesmeerde paal, soos jy probeer opklim, gly jy af, het Disraeli gesê.”

Die oud-DA-ster Lindiwe Mazibuko was een van dié wat in ’n hopie onderaan die paal beland het.

“Dáár was nou ’n jong vrou vol inspirasie, pret en humor, maar die politiek het haar opgeëet. In dié toksiese omgewing kom gawe mense tweede.”

James Selfe is nie gaaf nie?

“Wel, ek het tweede gekom, het ek nie? Ek was nog nooit die leier van enigiets nie, altyd net in ’n ondersteunende hoedanigheid. Ek het ses benoemings verloor voor ek ’n LP geword het.”

Sy grootste teleurstelling in die huidige geslag politici is dat dit bloot “werk” geword het, nie meer ’n roeping nie. “Baie van ons raadslede kon netsowel in die VF Plus of die ANC gewees het. En dan verlaat hulle die DA en beswadder dit, want daar is geen lojaliteit nie.”

Hy sê dis allermins die einde van ’n sentristiese party in Suid-Afrika. “Daar is ’n sentristiese groep in Suid-Afrika – van hulle is in die ANC, baie in die DA – wat in die toekoms saam ’n meerderheid kan vorm. Ons werk is om daardie sentrum te bepaal en meedoënloos te dryf vir ’n herbelyning in ons politiek. Demokratiese sentralisme, liberalisme, of wat jy dit ook al noem, ’n groepering wat almal vorentoe neem, waar almal gelyke kanse het.”

Dié wat vir Cyril Ramaphosa nasionaal en die DA provinsiaal gestem het, het dus ’n punt beetgehad?

“Ja, op ’n sekere manier. Ek stem nie saam met alles wat Cyril sê nie, en hy moet man up en ophou probeer om alles vir almal te wees.”

Presies soos die DA?

“Wel, miskien. Maar sodra ons duidelik ons beleid begin uitspel en najaag, sal mense uit ander politieke partye by ons aansluit.

“Of ons by hulle . . . Die DA is gebore uit samesmeltings en veranderinge. Dis sonder twyfel ook die DA se toekoms.”

In Mei, toe die verkiesingsuitslae begin inkom, het Selfe in ’n TV-onderhoud bleek en wankelrig gelyk. Die joernalis moes hom selfs in ’n stadium ondersteun. Dit het gerugte laat ontstaan dat hy geskok was omdat die partyleierskap hom die sondebok wou maak vir hul swak prestasie.

“Ek ly aan vertigo (’n binneoortoestand wat jou balans versteur). Ek het op die kant van die verhoog gestaan en begin voel ek gaan val. So, as ek nege-uur soggens effens dronk voorkom, is dit nié oor ek te veel gedrink het nie, dis vertigo,” grinnik hy.

Maar dié veteraan is nog oorgenoeg op en wakker om die party se nuwe bestuurseenheid te lei.

“My werk gaan wees om die suksesse wat in DA-regerings bereik is, met die kiesers te deel sodat mense kan sien watter verskil ’n DA-regering maak. Het jy gesien hoeveel beter Johannesburg se middestad lyk? En Bonteheuwel, teenoor tien jaar gelede? Nou dít maak my opgewonde.

“In die Zuma-jare het die staatsdiens geweldig skade gely weens kaderontplooiing en swak aanstellings. Baie vaardige mense het die staatsdiens verlaat. By die bestuurseenheid wil ons hierdie kundigheid weer landwyd benut. Só kan ons ’n nuwe kern begin van bevoegde, professionele administrasies oral in die land.”

Ná die DP se ineenstorting in 1994 het ’n klomp kommentators gesê die DP moet maar deure toemaak, onthou Tony Leon.

“Selfe het gesê as die party toemaak, moet ons ná ses maande byeenkom in Colin Eglin se woonstel en die party herontwerp, want die roeping is nou groter as ooit.”

Nou word DA se ondergang weer voorspel. “En die roeping is groter as ooit . . .”

Moenie eens vra of hy dink Mmusi Maimane moet bly of gly nie. Of wie hom moet opvolg nie.

“Ek het my diplomasie by my pa geleer,” rits sy lippe toe.

Wat sál John Henry Selfe met sy brolly en bolhoed vandag van sy seun sê?

“Ek dink hy sou tolerably proud gewees het op my.’’

Gisteroggend 06:00 bel hy my met onderskrifte vir ’n paar van sy ou foto’s. 06:00, want hy gaan van 07:00 af “bietjie vas” wees, maak hy verskoning. Hy praat so in die loop, effens uitasem hoor jy, op pad om ’n “baie moeilike” vergadering te gaan lei.

Selfe-loos. Vir 19 jaar, 7 maande en 20 dae, elke uitasem tree.

Meer oor:  James Selfe  |  Da
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.