Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Hanlie Retief gesels met Jan Boland Coetzee
‘Ek het nog nooit ophou droom nie’

Hier kom julle nou saam met die eerste trietsigheid van die seisoen, verwelkom Jan Boland Coetzee ons voor Vriesenhof se opstal. Sy bene is twee pilare in sandale.

Nét hier staan die Stellenbosse wyn-en-rugbylegende Jan Boland Coetzee altyd en drink ’n knertsie saam met sy vriende terwyl hulle kyk hoe die laaste strale Stellenboschberg verkleur. Foto: Edrea du Toit

Kom maar vroeg, het hy gister genooi, smôrens skuins ná vier is hy al aan die beweeg.

Dis net ná sewe. Die wolke hang laag oor Stellenboschberg.

Sy selfoon lui, die luitoon hard genoeg om Vriesenhof se vele geslagte dooies op te wek.

“Dankie, man . . . ja . . . ja . . . ek het amper gedood op daai verhoog, so warm was dit. Hulle het mos voor die tyd ’n hele dokumentasie geskryf oor hoe ek moet loop en draai en aantrek, hulle was seker bang ek kom met ’n kortbroek en plakkies daar aan, hegh-hegh. En daai rooi toga,” kom die Weskus-bgggy, “was dít nou vir jou ’n ongemaklikheid.”

Vandat die nuus oor Jan Boland se eredoktorsgraad “oral op die internet of wat ook al” is, bel die mense hierdie ou Bolandlegende aanmekaar, gister skoon 300 oproepe.

Oor die jare het die spel soveel verander, dis eintlik net die bal wat dieselfde lyk.

Vir doktor Johannes Hermanus Hugo Coetzee, DSc Agric, honoris causa.

Sy maatskaplike bydrae, vernuwing in die wynbedryf, die Springbok wat rugby op elke moontlike manier gedien het – dit staan in die aanbeveling vir sy eredoktorsgraad.

En: Dit alles vertel iets “oor die persoon Jan (Boland) Coetzee, maar steeds nog nie alles nie”.

In sy tuin gaan wys hy ons die oudste boom in Stellenbosch. “Die universiteit se ouens reken hy is ouer as Stellenbosch, ek het hom nou al vasgebout, die wind traai hom nog altyd draai.” Hy red die boom die laaste tien jaar so bietjie-bietjie. Wys vir ons die nuwe groei, klop teen die stam.

Die selfoon lui weer en dis nog ’n o, maar baie dankie en “nee, dis my buurman se langbroek gewees, Chris Perd s?, ek moes hom net so bietjie oprol”, grap hy.

Nou dáár, beduie hy na ’n helling, is waar ou Dok Craven altyd gaan sit en wag het vir die Matie-rugbyspan om dassiemis te kom haal.

“Ek het die voorreg gehad dat Dok my Springbok-kep en baadjie vir my gegee het,” sê die oud-Bok wat in ses toetse uitgedraf het.

“Ons moes van Coetzenburg af op teen die berg, om die koppie, baie van die manne het so gehang aan die takke en dan sê hulle hel, hoe het die ou man dáár gekom. Dok het vir elkeen sy eie getal dassiedrolletjies gegee sodat ons nie kon uitruil nie, en dan moet jy dit terugvat vir oom Johnnie Meiring by die klubhuis.”

Voor die gradeplegtigheid was hy nogal emosioneel, vertel Jan Boland. “Maar toe het ek ’n lekker tjaarts konjak gevat, toe is ek orraait. En my pelle is toe by, so ek was nie alleen nie.”

Die landboufakulteit reël vir hom op 25 April ’n geselligheid. Sy vriende belowe nou al as hulle nie daardie gastelys haal nie, gatecrash hulle die paartie.

Sonder vriende kan hy nie lewe nie, knik Jan Boland. “Hulle is die belangrikste. Soos Gibran skryf, your friend is your shoulder and your fireside.”

Seker die beste van dié gradeplegtigheid, vir hom, was dat dit op Coetzenburg was. “Die eerste Coetzee in die land het op Coetzenburg gaan boer, en ek het die laaste 56 jaar omtrent elke dag daar gekom. Dit was Dok se plek. En nou dié.”

By die geselligheid vir die 46 landboustudente wat doktorsgrade kry, was die helfte uit ander Afrikalande. “Dit het my vreeslik geïnspireer, want 45% van die potensiële landbougrond in die wêreld lê in Afrika, al wat kort is vaardighede – wat hierdie fakulteit nou bring.”

Op Coetzenburg met sy eredoktorsgraad. Foto: Jaco Marais

Ons stap verby die groentetuin, die lappie mielies, die jakobregops, sy gunstelingblom, onder die vrugtebome. “My ouma het altyd die mooiste jakobregops gehad vir Krismis.”

Dié ouma was erg oor hom. “Op sewe maande het ek nog nie ’n kilogram geweeg nie, en ek is in ’n skoenboks plaas toe. Toe Ouma my uithaal, het my nek omtrent afgeval. Toe dog sy nee, hy gaan dit nie maak nie. Van toe af moes ek by haar in die kamer slaap, en dan het sy elke aand vir my ’n lekker uit die wakis gehaal. Die wakis staan nou voor my bed.”

Hy gaan wys ons waar die hoep-hoepe broei. “Hulle het nou al ses kleintjies grootgemaak.”

Bo ons toring Stellenboschberg. Partykeer staan hy in die nag op en gaan staan buite en kyk vir die berg. “As die pelle kom en ons vat ’n knerts, dan staan ons altyd hier, want die son sak mos nou net daar,” wys hy, “en dan verander die kleur van die berg elke sekonde”.

Teen die mure in sy kantoor hang ’n leeftyd in vergeelde koerantknipsels. ’n Ou tydskrifadvertensie besing die interaksie tussen grond en wingerd met Jan Boland Coetzee se wynmaakvaardighede onder ’n foto van hom in . . . kortbroek en vellies.

En natuurlik, dáái 1986-lamppaal-plakkaat van Die Burger: “Boland Coetzee het druif gesmokkel”.

“My tannie het my ma gebel, want as jy van die Weskus af kom en jy sien ‘smokkel’, dan aanvaar jy dis diamante. So, my tannie het gedink ek is in die tronk. Toe sê my ma vir haar nee man, dis net stokkies!”

In sy seun se doeke, in baadjievoerings en tjoklitbokse het Jan Boland in 1981 chardonnay-stokkies Suid-Afrika toe gesmokkel uit Frankryk, waar hy toe op ’n wynplaas in Boergondië gewerk het.

“Ons was op Buffelsbaai besig om met ’n sak alikreukels uit die see te kom, toe draai ’n poliesbakkie by die kampplek in en ek steek daai sak vinnig weg, min wetende hulle kom soek hoeka vir my met die dagvaarding vir die stokkies.”

Die saak het uiteindelik goed afgeloop. Ná ’n kommissie van ondersoek is die embargo op die invoer van plantmateriaal opgehef.

In Vriesenhof se 18de-eeuse opstal met sy dik mure en houtbalke voel dit asof jy in ’n skildery sit. Die groot vuurherd in die kombuis, ’n olieverf van gebraaide visse en suurlemoene bo die stoof, wyne op die rak. Op die ou kombuisblad ’n ry klippe, sorgvuldig gepak, Boesman-werktuie wat op die plaas opgetel is.

Op Vriesenhof se webblad lees jy: Ons omhels onkonvensionele wysheid.

Jan Boland het op Lambertsbaai grootgeword, die Weskus in sy bloed. Op Gonnemanskraal gaan duik hy nog gereeld met sy kleinseuns, “maar met hierdie knie-bleddie-besigheid” (’n knievervanging) moet hulle hom nou uit die skuitjie in die water gooi en later weer inhelp. “Nee, hulle’s lekker manne, maar kyk, drie van hulle gaan definitief nie 16 haal buite die tronk nie.”

Jan Boland en sy beste pel, Frikkie Tolken, was sewe, toe vang hulle al vis en kreef. “Op 15 het ou Frikkie gesê hy is klaar met skool en gaan vis vang. Hy het ons almal deur die universiteit gehelp. Vakansietye het ek gaan saamvang. Dis nou 65 jaar vandat ons die eerste keer kreef onder daai een klip uitgehaal het. Laasjaar het ons ’n naweek daar gaan kamp en weer kreef onder dié klip uitgehaal.”

Frikkie het spesiaal gekom om te sien hoe Jan Boland doktor word. “Maar daai man het nog nooit in sy lewe so lank gesit nie, toe ek hom soek, toe is hy weg.”

Sy rugby het Jan Boland op Lambertsbaai se soutpan geleer.

“Daai jare het ons nie volgens ouderdom gespeel nie, maar gewig. Ons het anderdag weer gepraat ons moet teruggaan na dié bedeling, sodat o.13’s wat nog nie 60 kg haal nie, nie teen 110 kg-manne speel nie.

“Oor die jare het die spel soveel verander, dis eintlik net die bal wat dieselfde lyk. As ek nou sou speel, sou ek seker redelik baie aan die kant gesit het, jy moenie onnodig aan my trek of stamp nie,” grinnik die ou baljagter.

Soos Malcolm Marx, wie se spel Jan Boland opgewonde maak, die vuur kan stook, só het Jan Boland dit destyds ewe verwoestend gedoen, skryf die sportjoernalis Pieter Kruger laasweek en sê Jan Boland is ’n bittere onreg aangedoen deur hom in net ses Boktoetse te laat uitdraf.

Twee van Jan Boland se kleinseuns is nou in die o.13-Cravenweekgroepe. Die tradisie leef voort.

’n Klomp “Ingelse” in die Dagbreek-koshuis op Maties wat nie sy Weskus-Afrikaans kon verstaan nie, het hom die bynaam Boland gegee. “Toe ek eendag my Boland-skolebaadjie aantrek – al baadjie wat ek gehad het – is ek summier Boland gedoop. En dis hoe dit gebeur het.”

Hy leun met sy elmboog oor die stoelleuning en lê vir ons geskiedenisse uit van Napoleon af tot by ou wingerde aan die Weskus, die blok chenin by Elandsbaai, die grenache by Citrusdal, oerwingerde waaroor die jong wynboere nou op hol is.

Hy is al 20 jaar sonder vrou, ja, loop die gesels, en nee, sy twee meisiekinders (Hanle en Cornelia) is goed genoeg en hy het ’n vriendin.

Heeltyd gaan haal hy boeke om uit aan te haal, soos Shadows in the Vine­yard oor die befaamde Aubert de Vil­laine, wynmaker van die voortreflikste wyne ter wêreld, wat in 2010 afgedreig is dat sy wingerd vergiftig sou word.

“Drie jaar terug het Aubert hier ’n proe kom gee, ek het al die jong wynmakers hier gehad. Agterna skryf Aubert vir my op die spyskaart ’n aanhaling van die skrywer Bernanos: ‘What weighs in a man, it is his dreams’.”

Jan Boland het opheffingswerk onder plaaswerkers begin doen dekades voor dit mode geraak het.

As student het hy Sondagmiddae “ingejoin” met gemeenskapsdiens, maar vinnig raakgesien “dat net Bybellees nie vir dié manne, nog sterk gekoring, gaan uitwerk nie”. Toe reël hy sportbyeenkomste, naderhand begin hulle ’n rugbyspan, die vroue raak betrokke en só is die Landelike Stigting gebore.

“Meer as 4 000 boere was betrokke. In 1996 het die ANC die hulpfonds onttrek en dit was die einde daarvan. Dis jammer, ek dink as ons aangegaan het, was daar nie nou al hierdie hiccups nie.”

Hy vertel van hul eerste gemengde Stellenbosse rugbyspan in die 70’s. “Toe’t Dok my opgesteek om Piet Wil­liams van Idasvallei kaptein te maak. Ek sien nou nog sy adamsappel op en af spring toe ek hom nét voor die game sê, jy’s vandag kaptein, kry jou spanpraatjie reg.

“En Piet sê boys, vandag is ons soos ’n piano. Hier is wit klawers en swart klawers, maar as ons by daai gangetjie uitkom, moet ons harmonise. Dis die beste team talk wat ek al gehoor het.”

Rugby, grond, berg, wingerd, Weskus, vrinne. Die oesjare van Jan Boland Coetzee.

Wat maak die lewe op 74 steeds die moeite werd?

Sy drome, antwoord hy sonder ’n oomblik se weifel. Dgggome.

“Ek het nog nooit ophou droom nie. As ek twyfel, dan lees ek Aubert se storie. Daai vlei waar julle vanoggend gestaan het? Ek wil ’n park daar maak met ’n paar wit boerbokke vir my vyf kleinkinders.

“Ek meen, jy kan mos nou nie hier sit en in die lug in opkyk en aan niks dink nie.”

Meer oor:  Jan Boland Coetzee  |  Rugby  |  Eredoktorsgraad
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.