Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Hanlie Retief gesels met Jan Jansen

‘Ek sit in my Volvo 440 met 22 m se trok agter my en 33 ton se vrag op 26 wiele. Ek sit hoog, amper twee meter van die teer af. Voor my lê die pad oop soos ’n swart blad, tussen geel streep en wit streep is myne, ek pas daarin. My 440 perde trek onder die enjinkap. Kóm Hexrivierpas, ek ry jou met gemak. Ek voel vars en lus en bo-op die wêreld in hierdie warm kajuit met countrymusiek in my ore, country roads, take me home . . .”

Jan Jansen kon betyds sy trok aan die gang kry. Hy kon die petrolbom met vier liter Fanta Orange, sy gunsteling-koeldrank, geblus kry. Foto: Edrea du Toit

Só is dit al van 1984 af vir Jan Jansen.

Só was dit verlede Saterdagaand vir dié langpadman voordat die brandende petrolbom langs hom op die sitplek beland het.

“Voor De Doorns, halfelf die aand, het ek nog gedink: Kyk mooi as jy onderdeur die Stofland-voetbrug ry, dis waar hulle daai arme trokkeman Christopher Kgomo presies drie weke terug met ’n groot klip gegooi het.

“Hy het gesterf terwyl die plunderaars hom in die kajuit vertrap. Wie doen so iets?” ril hy hier in Agrimark se koffiewinkel in die Paarl.

“En wraggies, dinge was laas Saterdagnag weer bedrywig daar by De Doorns. Dwarsdeur die nag verkoop mense druiwe langs die pad. Ek het gesien hoe Gautengvoertuie donkernag stop en rêrigwaar druiwe koop.

“Dan voel dit vir my ek kan hierdie mense skud, hulle weet nie van die gevare nie, hulle wil net die arme ou in die nag help.”

Ek voel soos ’n hond, want ek ry weg en los hom daar.

Voor Jan, daai nag, ry Bernard Groenewald, sy swaer en eienaar van Huddle­stone Logistics. Dis ’n spesiale dag, ’n spesiale rit, want Bernard het die vervoermaatskappy gekoop en vandag het hy amptelik oorgeneem as die nuwe eienaar.

Bernard is ’n bekende karakter in die vragvervoerwêreld. Op die roepradio ken almal hom as Vaatjie, die ou wat tyd maak om langs die pad te stop en saam met die trokmanne sommer onder die trok te gaan sit vir ’n bietjie skaduwee op die haaivlakte. Dan maak hulle die lunch boxes oop met die verrassings wat vroulief ingepak het: vleis en worsies en toebroodjies en sommer ’n sny melktert ook.

“Ek en Bernard was dié dag net ná sonsopkoms uit die Paarl om staal te gaan oplaai in Saldanha en wou teen Maandagmôre in Gauteng aflaai. Dit was lekker mistig, en die pad was vir my vreemd, want ek en my vrou is maar drie weke in die Paarl. Ons is Noord-Kapenaars, daar van Ulco af, Postmasburg se wêreld. Toe Bernard die besigheid oorneem, het hy laat weet: Kom help, swaer.”

By Touwsrivier se vulstasie het hulle afgetrek vir koffie, en oudergewoonte om die vragmotors geloop om te kyk of die vrag nog mooi vas is en die wiele nog styf.

Bernard Groenewald het brandwonde opgedoen, en sy voet is gebreek. Sy vrou, Cisca, së hy is steeds gekoppel aan ’n asemhalingstoestel.

“Toe ons daar wegry, sê Bernard vir my op die roepradio daar’s ’n lay-by (waar trokke oorstaan) 8 km buite Touwsrivier, hy sal vooruit ry en kyk of daar plek is. Dit was net voor halfeen die oggend. Trek in, laat weet hy, ons kan vir ’n uur of twee kiep. Ek het my trok teen syne getrek, seker net so ’n meter weg.

“Die laaste ding waaraan ek toe gedink het, is dat ons aangeval kon word. As ’n trokbestuurder aan veiligheid dink, is dit om stadig te draai sodat lusernbale nie losbreek nie, of om nie ’n kar te tref wat stukkend op die pad staan nie. Sulke dinge.

“Ek het nie ’n wapen by my nie, ek was nie reg om oorlog te maak op ’n lay-by nie, ons het noodwiele en pompe en sulke goed. Normale goed.

“Ons het al gehoor hulle steel jou battery en bande van jou voertuig af. Jy voel dalk jou trok beweeg bietjie, maar dis al. Ons het ’n sêding: Parkeer langs ’n ou met nuwe bande aan sy trok, dan steel hulle syne eerste.”

Jan onthou hoe hy in die bed agterin die kajuit die behoefte gekry het om ernstig te bid vir die vroue alleen by die huis en vir hom en Bernard daar langs die grootpad. “Mens voel mos maar blootgestel, met nog ver om te gaan.

Bernard Groenewald se uitgebrande Iveco-trok.
Bernard Groenewald se uitgebrande Iveco-trok.

“Presies 01:18 hoor ek hoe my linkerkantste ruit aan die passasierskant stukkend geslaan word. Ek spring regop, dadelik helder wakker, en lus vir ’n fight as ek net kan sien hoeveel van hulle daar is. Toe kom sulke dun straaltjies deur die stukkende venster en ek ruik dis petrol wat hulle uit spuitbotteltjies spuit. En daar’s ’n halfliterbottel met ’n lap in wat alreeds brand op my sitplek. Soos hulle die petrol spuit, vlam dit, brand sommer hier teen die voorruit, teen die dak, hier op my.

“En daai manne skree in Zoeloe: ‘Phuma lapho!’ Kom uit hier! Ses, sewe stemme, en ek dink nee, Jan, hier klim jy nie uit nie, hierdie fight gaan jy verloor. En elke keer as hulle skree, skree ek kliphard terug: Here help my!”

Hy ril weer. “Ek kry eintlik hoendervel terwyl ek dit nou vir jou vertel.”

Jan het sonder ’n hemp geslaap, en sy bolyf was nat van die petrol met die vlamme wat om hom rondvlieg in die kajuit.

“Petrol spring mos. My instink was: Kom weg hier.”

Hy spring agter die stuurwiel in en kry die trok aan die gang. Eers vyf meter agtertoe om uit te kom, want hy staan te na aan Bernard se trok. Hy raak in die paniek deurmekaar met die handrem en rathefboom en die trok begin vorentoe en agtertoe ruk soos hy probeer wegkom met donker figure wat om die trokke rondhardloop en die vlamme uit die petrolbom wat al hoër langs hom brand. Chaos.

“Ek kry myself in orde: Dink! Kry die ratte reg! Terwyl ek terugstoot, hardloop drie van hulle tussen ons trokke deur, snelweg se kant toe. Toe eers sien ek Bernard se kajuit brand, met vlamme drie meter hoog en hy staan voor die trok, sonder sy bril en net in sy broek, sopnat van die petrol. Ek het toe nog nie geweet hy het brandwonde gehad nie. Ek kan nie my passasiersdeur oopmaak nie, die sitplek en deur is aan die brand. Ek voel soos ’n hond, want ek ry weg en los hom daar . . .”

’n Minuut later op die N1 kon Jan ’n aankomende voertuig voorkeer en vra om Bernard te gaan help.

Hy beskryf sy angs terwyl hy die gloed van Bernard se brandende trok nog in sy truspieël sien en hy net aanhou ry, want hy is bang daar is steeds van hulle op die trok, en hulle gaan hom gryp sodra hy stilhou. Die petrolbom kry hy geblus met vier liter Fanta Orange.

Die volgende oomblik jaag ’n kar hom in. “Die ou vra: Is jy Jan? Bernard sê jy moet omdraai. Hy lewe, maar hy het brandwonde.

“Ek was so verskriklik verlig. Die kar wat ek vroeër gestop het, was ’n ER24-voertuig, en hulle kon Bernard dadelik help. Ek glo nie in iets soos toeval nie, al wat toeval, is ’n toilet se deksel. Dit was ’n bestiering.”

Hy onthou hoe Bernard se tande geklap het van die skok en koue, die verbande om sy bene, sy stukkende oor waar die klip deur die venster hom getref het. “In sy gespook om sy brandende hemp uit te trek, het hy uit die trok geval en sy voet gebreek. Hulle het hom na die hospitaal in Worcester geneem. Toe ek hoor hy is in die intensiewe-sorg-eenheid, het dit my geruk.”

Dit vreet hom nog steeds op, sê Jan, dat hy Bernard daar gelos en weggery het. “Mens los nie jou tjommie, en nog minder jou familie, agter nie.”

Hy vryf oor sy oë en sê diensplig het hulle geleer om Plan B en C vinnig uit te dink, maar in so ’n situasie? Weerloos in die donker langs die N1? “In só ’n krisis gebeur dinge deurmekaar.”

Die volgende oggend, toe hy weer by die toneel kom, het ’n petrolbom en opgefrommelde lappe vol brandstof nog daar rondgelê. En alles lyk so gewoon. Karre. N1. Normaal, soos elke dag.

“Hulle het in Zoeloe met my gepraat, so hulle het seker gedink dis ’n Zoeloe- of Xhosa-bestuurder. Daar is geen toerusting gevat nie, niks gebuit nie, dit was in elk geval net ’n klomp staal. Hoekom wou hulle ons brand? Wat was die motief? Dieselfde nag, regoor die land, is ’n klomp trokke gebrand. Wat gaan aan?

“Ek is net verskriklik dankbaar dit het so afgeloop. Dis vir my awesome dat ek vandag hier kan sit, en dat Bernard orraait is. Ons is beskerm deur genade, niks anders nie.”

Dis die Bernards en Janne en die Christophers met hul vragte op die paaie wat die ekonomie aan die gang hou, sê hy dan.

“Ons gaan mekaar naderhand met die appels en perskes gooi, want dit gaan nie in die noorde van die land uitkom nie. Die paaie is die slagare, die spoorweë is tot niet, daar is nie ’n alternatief nie. En ons land het net ’n handjievol trokbestuurders.”

Sy vriende sê nou vir hom: Vat ’n vuurwapen saam. En as hy een gehad het? “Het ek nie nou hier by jou gesit nie, want dan was ek agter tralies, want ek het ’n moord gepleeg.”

Gisteraand kon Jan nie slaap nie. Eergisteraand het hy heeltyd rondgerol en gemompel, vertel sy vrou, Elianna. Hy sien heeltyd vlamme. As die hond blaf op die werf, ruk hy van die skrik.

Binne hom maal die gebod: Jy moet jou naaste liefhê. “Dis moeilik, nè. Wie is jou naaste? Ons aanvallers . . . is ook my naaste. En as ek ’n vuurwapen gehad het, het ek hulle geskiet. En dan was hulle nie meer my naaste nie? En hoekom was ek nie húlle naaste nie? Ek meen, hulle wou my verbrand.

“Ek bid vir hulle. Dis al wat ek kan doen. Dalk, as een van hulle eendag in die nood is, onthou hy wat ek daardie nag geskree het: Help my Here, ukhuluma nami.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.