Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Hanlie Retief gesels met Jan Oberholzer
Só het Eskom rampspoed gekies

‘Ek weet julle is verskriklik kwaad vir ons. Julle behoort te wees. Ons is die remskoen wat keer dat die land vooruitgaan. Wie de ongeluk sal hier wil kom belê met fase 6-beurtkrag?”

Geen Kersvakansie of bonus dié jaar vir Jan Oberholzer, bedryfshoof van Eskom, nie. Hy het 26 jaar lank by die ou Eskom gewerk. Ná tien jaar in die private sektor het hy 16 maande gelede teruggekeer na ’n totaal veranderde Eskom. Foto: Deon Raath

As daar nou een mens is wat ná die afgelope week weet hoe keelvol Suid-Afrikaners vir Eskom is, is dit Jan Oberholzer, hierdie prins van duisternis.

In die swartste week nog vir Eskom (daar is nie eens ses fases van rou nie!, twiet iemand), was dié Eskom-bedryfshoof die gesig van die krisis.

Die man wat moes keer vir die klappe.

“Alles wat kon het Maandag by Eskom skeefgeloop. Dit was ’n perfekte storm. Maar dis nie wat die wêreld hoor nie, al wat vassteek is: beurtkrag fase 6. Mense vergeet 340 dae van die jaar was daar absoluut krag.

“Fase 6 is die lááste ding wat ’n ou wil hê. Jy faal die land. Jy faal 55 miljoen mense. Dis hoe jy voel! En jy weet die mense sê ag, julle lieg hieroor en daaroor. Julle vertrou ons nie.

Ek het trane in ouens se oë gesien toe ons sê fase 6- beurtkrag. Ek belowe jou, tráne.

“Ek verstaan dit, dinge is dalk in die verlede gesê wat nie die waarheid is nie.”

Hy raak byna emosioneel.

“My pa, ’n ou Eskom-lynwerker, het my geleer een ding kry jy nooit terug as jy dit weggooi nie, en dis jou woord. Jou integriteit. So – dit wat jy uit my mond kry, is die waarheid. En as ek enigsins voorgesê sou word – sê dit, sê dat – sal ek dit nié sê nie. Ek verseker jou dit wat ek hier met die land deel, is die absolute waarheid.”

In sy stem hoor jy fase 6-desperaatheid. Hy’s al heeltemal grys, hierdie ingenieur, maar Maandag het hy spierwit geword, spot hy.

Hy vertel van die dag se gebeure asof hy ’n ongeluk beskryf.

Die oggend, skuins ná vier, is hy met ’n hol gevoel op sy maag werk toe. “Ons het geweet die week kan lol, maar ons het gedink fase 2, miskien ’n bietjie hoër, maar fase 6 was nêrens op enige kaarte nie.

Oberholzer se pa Koos het in die sestigerjare lyne op die platteland help insit.

“Ek was deur die oggend taamlik ongemaklik ook die verlies van bykomende eenhede deur die nag. En toe gebeur Medupi. Medupi is ’n konstruksieterrein, en een kabel is reeds tydens konstruksie beskadig. Met die reën in die kabelsloot verloor ons toe die kragtoevoer. Ek was heeltyd met Medupi op die foon, ek het op ’n kol vir myself gesê bly nou ’n bietjie stil, Jan, jy jaag die ouens op hol, hulle gaan ander dinge verkeerd begin doen.”

Laat hy dit duidelik sê, sê Oberholzer: “Die hoofoorsaak van die beurtkrag was nie sabotasie of reën of wat ook al nie. Ná 12 jaar se verwaarlosing van die kragstasies is ons stelsel onvoorspelbaar en onbetroubaar. Ek praat nie van ’n pleister plak nie, ek bedoel wérklik diep instandhouding is nodig.

“En toe kry ons laasweek boonop verskriklik goeie reën van die Goeie Vader. By meer as tien eenhede het onbeplande onderbrekings gelei tot die eerste beurtkrag. Vyf van hulle was weens ketel-lekkasies, wat vier tot ses dae neem om reg te maak.

“Nou moet jy weet: Camden, Tutuka en Kendal het oorstromings gehad. Ons het 180 mm in ’n kort tydperk in Camden (Ermelo) gekry – daar was swembaddens in die kragstasie, die dreinering was te stadig.

“En dan, kritiek: By die Kriel-oopgroefmyn het dit heeltemal oorstroom in die gebied waar die vervoerbande die steenkool kragstasie toe bring. Nie eens ’n kilogram steenkool het daar uitgekom nie, en ons moes twee van die ses eenhede afskakel. En omdat daar nie steenkool was nie, moes ons die ander vier eenhede se kapasiteit afbring van 500 tot 200 megawatt per eenheid. Koebaai vir 1 400 megewatt.”

Boonop, soos almal ná dese weet, is reën en ons Gupta-graad-steenkool ’n slobberige resep vir beurtkrag.

“Die mense sê nou heeltyd, aha, Oberholzer, jy het gesê julle maak reg vir reën. Nou kom ek sê vir jou: As ons dit nié gedoen het nie, was dit ’n totale ramp.”

Ná die vorige nat-steenkool-fiasko’s het Eskom steenkoolhope by strategiese kragstasies begin kompakteer. Tydens reënweer word die buitelaag afgekrap, dan kom jy by droë steenkool. “Dié keer het die droë steenkool dadelik natgereën. So, dit was baie uitdagend.”

By Medupi, boonop, het twee elektriese kabels wat die vervoerbande van krag voorsien, onklaar geraak.

“So, daar verloor ons Medupi toe ook gedeeltelik, want soos by Kriel moet jy die eenhede afskakel as daar nie steenkooltoevoer is nie. Twee eenhede was af, en die ander is afgeskaal.”

Teen middagete was dit duidelik dat hul diesel- en water-noodvoorraad gaan opraak. “Ons het toe al baie diesel gebruik om die kragvoorraad aan te vul. En dis hoe ons fase 6 getref het. ’n Perfekte storm.”

Oberholzer wens nogal die publiek was Maandag saam met hulle in die Eskom-bedryfskamer.

“Mense dink ons vat dinge soos dié sommer so easy peasy. Jy sal nie glo die emosionele impak wat dit op ons leierskorps het as ons nie ons mandaat kan uitvoer nie.

“Ek het trane in ouens se oë gesien toe ons sê: fase 6-beurtkrag. Ek belowe jou, tráne. Ek raak nou sommer emosioneel terwyl ek praat daaroor.

“Om vir min. Pravin Gordhan en die voorsitter (Jabu Mabuza) te gaan sê Suid-Afrika gaan nou fase 6 binne, was ’n baie, baie lae oomblik in my lewe.”

Die Oberholzers is Eskom-mense in murg en been. “Terdeë Eskommers,” kruip trots in sy stem.

“Ek het in ’n Eskom-huis in Witbank grootgeword, my ma is nog steeds daar, en nee, sy het nie 'n kragopwekker nie,” sê hy laggend.

“Ek het met ’n Eskom-beurs my ingenieursgraad gekry, ’n kwarteeu by die ou Eskom gewerk. Toe is ek tien jaar lank weg oor redes waarop ek nie wil uitbrei nie. En nou is ek terug in hierdie verskriklike dilemma.

“Dit help nie jy blameer ander nou vir wat in die verlede gebeur het nie. Ek vra myself af: Hoekom is daar in die laaste tien jaar wegbeweeg van metodes en resepte wat dekades suksesvol was? Dit is nie moeilik om by die antwoord te kom nie. Eskom is gekaap. Dis al. Ek sukkel om woorde daarvoor te kry. Vandat ek terug is, besef ek: greed is an untreatable disease. Ek werk nou saam met die spesiale ondersoek-eenheid. Die kaping is regdeur die organisasie, nie net die leierskorps nie. Dit help ook nie as jy met onetiese kontrakteurs en verskaffers werk nie. Dis ’n kanker, al manier is om dit uit te sny.”

En die agterdog oor Hitachi Power Africa wat ’n ANC-beheerde swart bemagtigingsaandeelhouer gehad het?

“Ek wil nie kommentaar lewer nie. Ons werk hard aan ons verhouding met Mitsubishi, wat Hitachi oorgeneem het. En ek moet sê, die Japanners bring hul kant om die situasie by Medupi en Kusile te beredder.”

Dringend nodig is ekstra krag van iewers af sodat Eskom sy middeljarige gekrokte kragstasies wérklik kan herstel.

“Sê maar die land het 30 000 MW nodig. As Eskom net 25 000 MW 24/7/ 365 hoef te lewer, moet die tekort van 5 000 MW aangevul word. Daar ís onafhanklike verskaffers wat kan help.”

Eskom se voorlegging hieroor is hopelik op Vrydag se kabinetsvergadering bespreek. “Ek glo ons gaan binnekort aksie sien.”

Op 3 Januarie begin die ontwerpaanpassings by Medupi se eenheid 3. Ná 75 dae, as alles geïmplementeer is, sal hulle die ander eenhede, en uiteindelik die “stil” Kusile, uiteindelik aanpak.

En ja, daar wás sabotasie, al glo niemand meer vir Eskom ná Alec Erwin se bout-in-die-Koebergreaktor nie.

“In die week voor Maandag het ons meer as tien eenhede verloor weens onbeplande onderbrekings, waarvan twee eenhede die gesaboteerde Tutuka-eenhede was.

“Dié sabotasie het ons nie 6 toe gevat nie, maar dit was deel van die aanloop.

“Daar was al verskeie sulke voorvalle. Ek kan niks verder sê nie, ’n saak is aangemeld by die SAPD.”

So, as dit so baie gebeur, Eskom, hoekom het julle nie lánkal kameras by die kragstasies nie?

Hy verwag die vraag, bra vuisvoos. “Ons hét. En ons doen nou ander goed ook, ook by transmissielyne. Maar dis moeilik om so iets volledig te monitor.”

Oberholzer stem nie met Tito Mboweni saam wat sê Eskom moet gedeeltelik geprivatiseer word nie. Hy is ’n Pravin Gordhan-man.

“Eskom moet weer drie sterk gedrewe lyn-organisasies word: distribusie, transmissie en opwekking. Dis waar die meeste besluitneming moet gebeur, nie in die hoofkantoor nie.

“Dit het my so geskok ná my terugkeer 16 maande terug: As iets verkeerd gaan en ek vra hoekom, dan sê hulle: Vra hoofkantoor. En hoofkantoor sê maar ons het nie geweet nie.

“Waar’s die aanspreeklikheid? In my eerste twee weke moes ek as uitvoerende hoof waarneem – met beurtkrag én stakings tegelykertyd.

“Dit was ’n totaal nuwe Eskom, met ’n nuwe kultuur. Wat ’n reality check.”

Suid-Afrika moet aanpas by die energiebedryf wat wêreldwyd radikaal verander, sê hy. “Maar ek glo ons moet eers dit wat stukkend is by Eskom, volhoubaar herstel.”

Jan en sy vrou, Lindy, se middelseun, Francois, het omgewingsgeografie gestudeer en is “absoluut in hernubare energie”. Interessante tafelgesprekke, dus. Die jongste, Armand, studeer elektriese ingenieurswese, en Jacques is outisties, “maar hy werk, ry sy eie kar, het al twee keer uit vliegtuie gespring, hy gaan aan”.

In die 1960’s het Jan se pa, Koos, kraglyne op die platteland help bou om krag by die boere te kry. In die middel ’90’s het Jan die projek gelei om die ánder mense op die platteland van krag te voorsien. As Jan die skakelaar vroegaand tydens die aanskakel-seremonie druk en daar skielik lig is, het die uitdrukking op die mense se gesigte hom elke keer laat besef: “Dis dié goed wat my laat tick.”

Toe hy ná 26 jaar by Eskom moes bedank, het hy gewonder hoekom is die “Goeie Vader” kwaad vir hom, wat het hy verkeerd gedoen.

“Ná ’n ruk as kontrakteur het ek vir my nuwe baas gaan sê ek is nie ’n kontrakteur nie, en hy’t gesê hy weet, maar dankie. Ek het my eie besigheid begin, en geleer wat is die werklikheid daar buite, want in Eskom is ’n mens beskermd.

“Daar was tye dat ek en Lindy gesê het ons het nou nie ’n 26ste – betaaldag – gehad nie. Daar was tye dat ons gesê het wanneer kom die 26ste ooit weer.

“Ek het twee jaar gaan werk in Zambië, waar ek geleer het hoe werk Afrika. Maar dis moeilik om sonder jou gesin daar te wees. Ná my terugkeer het ek ander maatskappye gehelp wat vir Eskom werk. En hier is ek nou.”

Nou verstaan hy hoekom hy tien jaar weg van sy “huis” – Eskom – moes wees. Om te verstaan hoe werk kontrakteurs, hoe belangrik prestasie en geldbestuur is, en hoe Afrika werk.

“As bedryfshoof het ek al daai goed nodig.”

Fase 6 het iets wonderliks in hul bestuurspan laat gebeur.

“Ons het baie nader aan mekaar gekom, en ek dink die fokus en dringendheid kring nou ook wyer uit.

“Ons kan nie toelaat dat dit ooit weer gebeur nie. Hierdie is ’n waterskeiding vir ons almal.”

Meer oor:  Tito Mboweni  |  Jan Oberholzer  |  Elektrisiteit  |  Eskom  |  Beurtkrag
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.