Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Hanlie Retief gesels met Janine van Wyk

Hier gebeur dit nou, roep Banyana Banyana se kaptein uit en haar groen Wêreldbeker-kuif wip pure kokketiel. Dis minute voor die vliegtuig opstyg Frankryk toe vir die Sokkerwêreldbeker. O.R. Tambo tril van die energie terwyl Banyana sing “EFrance yila siyakhona”, Frankryk, dis waar ons is . . .

Hierdie sokkerstewels vertel van vasbyt en ver skop doelpale toe, sê Janine van Wyk, Banyana Banyana se kaptein. Sy en haar span het pas vertrek na Frankryk vir die Wêreldbekertoernooi in vrouesokker wat op 7 Junie begin. Foto: Deon Raath

Hierdie oomblik. Hierdie flertskuif, gister spesiaal gekleur (“Life is a bleach and then you dye”).

Hierdie sokkerstewels, nr. 6-Nike’s met JVW-voorletters op die hak. Met hulle gaan sy haar lang signature skoppe op die Franse sokkervelde uithaal.

Dis nie net sokkerstewels dié nie, dis selfvertroue, passie, houding, toewyding, karakter.

Dit voel asof sy haar lewe lank gewag het vir dié Wêreldbeker, vertel Janine twee dae vroeër.

“Vandat ons gekwalifiseer het, het ek skoenlappers in my maag. Hier gebeur dit nou. Hierna sal ek eendag met ’n glimlag kan uittree.”

Sokker was haar deur uit voorstedelike wit Suid-Afrika na ander kulture.

Sy laat val so terloops hoe sy as 14-jarige voor elke wedstryd sardientjie-olie aan haar bene moes smeer omdat haar span geglo het dis moeti teen beserings.

En van die wedstryd op Soweto se grondveld, doerie tyd. Net gruis en klippers en die twee doelhokke. Hoe sy daarna ’n week se skool gemis het, want die slide tackle se uiteinde was ’n meneer van ’n abses op haar been.

Dít was Janine van Wyk se harde pad tot by die Wêreldbeker. 14 seisoene en meer as 150 internasionale wedstryde lê agter dié nr. 5. En ’n leeftyd se verdediging teen vooroordeel.

Oor sy wit is. Oor sy ’n meisie is. Oor sy gay is. Jinne, oor haar bynaam Thandeka is, die liefdevolle een, kwansuis té suutjiespoep vir kapteinskap – nóg ’n vooroordeel van spanmaats en afrigters in die verlede.

“Donker hare, shin guards en valskerms vir sokkerdrag . . . ek en my ou spanmaat Aletta Ngidi, tans Banyana Banyana se toerustingbestuurder.”

Op ses was sy die eerste en enigste meisie in die Scaw Metals-jeugspan aan die Oos-Rand. Die outjies het aanvanklik volstrek geweier om saam met hierdie girltjie te speel. Tot hulle agtergekom het hoe taf sy is en hoe ver sy kan skop.

En hoe hard sy hulle kan skop.

Op 14 was sy nie net die eerste en enigste wit speler in die Springs Home Sweepers, ’n meisiespan in Kwa-Thema nie, maar in die hele liga.

Danie en Gwen van Wyk het hul vasberade kind twee keer per week met hul Yaris en ’n koelsak vol drinkgoed (“hulle was te skrikkerig om by die spaza shops langs die pad stil te hou”) Kwa-Thema toe gekarwei vir oefeninge.

Sy het naam gemaak op daardie veld met die gaterige nette en die skewe kalkstrepe. Zoeloe geleer om haar spanmaats te kan verstaan. 14 jaar al speel sy vir Banyana, veteraan op 32, en steeds die enigste wit speler.

Janine was op ses die enigste meisie in ’n seunspan, en hulle wou niks van haar weet nie, tot hulle gesien het hoe ver sy kan skop. Hier is sy tydens ’n prysuitdeling.

Alles het begin in ’n voorstedelike agterplaas in Alberton, waar sy haar verbeel het sy’s David Beckham. Saam met haar nefies “epic en hectic” sokkertjolle op die kikoejoe, lekker opgewerk nadat hulle saam met die grootmense Manchester United in haar oom se sitkamer met biltong en tjips gesit en kyk het.

Manchester United-mal, hulle almal.

En sy? Beckham-bedonnerd. “Hy is vandag steeds my celebrity crush. Hulle moes my eerder gekry het vir die hoofrol in Bend It Like Beckham!”

Eintlik kan Janine nie onthou van ’n tyd in haar lewe sonder sokker nie.

“My oupa en oom-hulle het vir ’n klub in Mayfair gespeel. My oom was die afrigter en ek onthou daar was altyd gevegte, bloed en vuiste, want my oom-hulle was nogal aggressief,” glimlag sy en voeg droogweg by sy aard beslis na hulle.

“Maar darem net partykeer, as ek nie my sin kry nie. Alles hulle skuld!”

In haar familie was sy nog maar altyd een van die boyz. Sy soek ’n foto op haar foon. A, kry sy dit en wys waar ses fris neefs haar laasnaweek by haar pa se 60ste verjaardag omhoog lig.

Toe sy heeltyds begin sokker speel het, het Janine geweet sy gaan klippe kou om ’n lewe daaruit te maak. “Ek het net nooit kon dink dit sou só moeilik wees nie.”

In 2004, haar gr. 11-jaar, is sy gekies vir die Suid-Afrikaanse Sokkervereniging (Safa) se sokkerakademie by Tuks. Daar het dinge vir haar vinnig skeefgeloop.

“Ek het gesukkel met die skoolwerk, want ek moes skielik alles in Engels doen. Die aanpassing in die koshuis was nog erger, want ek kon boonop net een keer ’n maand huis toe gaan. Ná ses maande kon ek dit nie meer daar uithou nie.

“Dit was vir my verskriklik, want toe ek daar dros, het hulle vir my gesê ek kan maar daarvan vergeet om ooit vir die nasionale span te speel. Dit het gevoel asof my hele droom in duie stort. Wel, ek het hulle verkeerd bewys. En dis nogal lekker om te weet.

“Ek is ook sedert 2013 Banyana Ban­yana se kaptein,” kom dit met ’n skewe glimlag.

In dié tyd het Janine boonop uit die kas geklim. Tienerstres-kwadraat.

“Ek het dit eerste vir my nefie gesê, en toe vir my suster en hulle het my albei ondersteun. Ek weet nie hoe my ma-hulle dit nie kon sien nie, want behalwe vir my skoolrok, was die laaste rokkie wat ek ooit gedra het, so ’n pienke toe ek ’n kleuter was.

“Dit was vir my ouers moeilik om te aanvaar. ’n Maand lank was hulle nie dieselfde met my nie, daar’s nie veel met my gepraat nie. Maar toe’s dit weer doodreg tussen ons.

“My suster het altyd haar boyfriends huis toe gebring, maar dit was vir my half ongemaklik om my meisievriende daarheen te bring. En partykeer wás hulle net vriende en dan weet my ma-hulle nie mooi wat aangaan nie,” glimlag sy.

“Die eerste en enigste girlfriend wat hulle aanvaar en van wie hulle gehou het, is my verloofde, Lauren.”

Lauren Duncan is direkteur van die JVW-sokkerklub wat sy en Janine saam in 2012 begin het. Die klub het intussen van 23 spelers tot 95 gegroei.

“Lauren het soveel sukses by JVW behaal dat Safa haar aangestel het as Banyana Banyana se spanbestuurder.”

Janine bly by Lauren en haar familie in Edenvale.

“Hulle is net so ’n sokkerfamilie as ons. Lauren is die een wat my altyd moed inpraat as ek dreig om my sokkerstewels op te hang. Dis hulle en my familie wat my nog altyd finansieel ondersteun het, want in ’n stadium het ek niks gehad nie.”

Sonder matriek was daar vir Janine geen keuse nie, sy moes ’n sukses van sokker maak.

“Ons het daardie jare ’n paar rand gekry as ons op oefenkampe gegaan het, en dit was ook maar ongereeld. Die afgelope twee, drie jaar gaan dinge beter, want die meisies begin uiteindelik erkenning kry.”

By 2016 se Olimpiese Spele het die afrigter van Houston Dash in Texas Janine raakgesien. “Op die gevorderde ouderdom van 29 het ek toe twee jaar lank vir hulle gaan speel.”

Vir die eerste keer het sy toe gevoel hoe dit is om wedstryde op die bank te begin. “Dat ek kaptein was van ’n nasionale span, het hulle min geskeel. Dit het my so drie maande geneem om myself te bewys.”

Sy het straatwys geword in interna­sionale sokker, ervaring wat sy nou terugploeg in jong Banyana-spanmaats. Maar wat Janine die heel meeste van Texas mis, is die aanlyn inkopies, grap sy. “Alles word by jou afgelewer!”

Die komende Wêreldbekerbyeenkoms is nou Banyana Banyana-spelers se eerste kans om deur internasionale talentsoekers raakgesien te word.

Dit voel amper of hulle die Lotto gewen het, want met hul vertrek het Danny Jordaan, Safa-president, aangekondig dat hulle voortaan dieselfde prestasiebonusse as Bafana Bafana gaan kry. Hulle kan tot R1 miljoen elk by die Wêreldbeker verdien.

Sokker was haar deur uit voorstedelike wit Suid-Afrika na ander kulture, ander maniere van doen, sê Janine.

Sy vertel hoe verras haar swart spanlede was om haar daar te sien, tussen hulle, deel van hul wêreld.

“Hulle het my regtig aanvaar en gerespekteer. Die reënboog-gevoel wat mense gehad het met 1995 se Wêreldbekerrugby, 2010 se Sokkerwêreldbeker – ek voel dit báie.

“Maar jy moet bereid wees om die pad te stap. As ek nee gesê het vir die bak sardientjie-olie wat omgestuur is in die kleedkamer, sou ek my span gedrop het. En ek staan by my span. Altyd. So, dan skrop jy maar jou stewels se sole met remvloeistof om jou te beskerm teen die ander span se moeti en jy gooi growwe sout by die doelpale sodat hulle nie doele teen jou kry nie.”

Sy sal Edenvale se strate kaal afhol as hulle die Wêreldbeker huis toe kan bring. Janine belowe dit. Rêrig.

“Maar daar’s nie ’n kans nie. As ons net ons groepfase kan wen, sal ek tevrede wees. Ons is Banyana Banyana. Ons is gereed om die wêreld aan te vat.”

#DareToShine.

Meer oor:  Janine Van Wyk  |  Banyana ­Banyana  |  Sokker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.