Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Hanlie Retief gesels met Jeremy Vearey

Hy teug graag aan N.P. van Wyk Louw, aan Lojale verset, Die dieper reg. En aan Uys Krige, wat oorlog en opstand so in Afrikaans kon uitsê. Amper 67 minute lank vertel Jeremy Vearey ook van Madiba wat die grys kon uitwys in ons bittere swart-wit land.

Genl.maj. Jeremy Vearey, Wes-Kaapse speurhoof: “Dit was my ma en Madiba wat my dié hipermacho maniere ontleer het.” Foto: Edrea du Toit

Die gemene deler? ’n Onnutsige glimlag gly oor sy gesig. Dis ’n vriendin se woord wat in sy kop bly vassteek, vir hom die beste woord nóg in Afrikaans:

Bedoosd.

Om mense in dose te sit. Te klassifiseer. Te ontmenslik. “Ek haat ’n bedoosde wêreld. Ek kom nie van ’n bedoosde wêreld nie.”

En net daar donner dié woord vir Jeremy Vearey weer terug tot binne-in sy komvandaan.

Tot innie Elsies, die kweekgrond van sy laaitiedae. Elsiesrivier in die Kaap, waar sy ma met ’n vingertik op sy vel vir hom verduidelik het: Omdat jy dié is, en omdat dié jy is, gaan dinge met jou gebeur, en dis jou plig om dit vir die res van jou lewe te beveg.

Elsies, waar sy antie Rosie vanuit die skemerte van haar koppeltreinhuis groet met ’n “My jirre, Jeremy, kom in!” Asof hy ’n leeftyd weg was.

En eintlik was hy.

Ek haat ’n bedoosde wêreld. Ek kom nie van ’n bedoosde wêreld nie.

Want dié klong se lewe het meer kronkeldraaie geloop as die Veareys se smouskarretjie deur Tiervlei, klein Jeremy agterop met die wekroep in sy helder kinderstem: Lekker tamatie virrie paartie!

Jeremy Vearey was al amper alles.

Skoolkind onder apartheid. Jong Turk in die struggle op die kampus van die Universiteit van Wes-Kaapland. MK-lid en ondergrondse intelligensiekader. Gemartel. Gevangene op Robbeneiland. Presidensiële lyfwag. Wes-Kaapse speurhoof. Nemesis van die bendes op die Kaapse Vlakte. Fluitjieblaser teen polisiekorrupsie. Man vir Bernice, pa vir sy twee seunskinders.

En nou, met Jeremy vannie Elsies, skrywer van die boek wat Nathan Trantraal ’n riller van ’n outobiografie noem.

Hy stap die restaurant binne soos iemand wat gewoond is aan ’n leeftyd onder die radar.

Vroeg vir ons ontbytafspraak. Jaspante swaaiend om sy bobene. Oë koffieboonbruin. Takserend. Waaksaam. By hom is voorbereide notas, rooi onderstreep.

Buite is dit nog skemer. Die dag strek hom lui uit.

Oor ’n sluk koffie hoor jy van die grootste swaai in die spoor van sy lewe.

Tussen ’n pa “gekerf uit graniet deur die ongenaakbare lewe” en die forse oupa Dêrra se leuse: “Wie eerste kaalvuis bloed trek, wen” . . . dáár het Vearey kliphard grootgeraak.

“ ’n Trop van 14 newe op ’n jaart en almal speel rugby en ons sort goed met ons vuiste uit. Dit was my ma en Madiba wat my dié hipermacho maniere ontleer het.”

Jeremy Vearey toe hy Madiba se presidensiële lyfwag was. Hy is hiervoor opgelei deur die Britse Special Air Services, opleiding wat goed te pas gekom het, skerts hy, want Madiba wou oral loop en met almal praat. Hier staan hy reg agter Madiba.

Tata Madiba se eerste les was vir hom, soos hy dit noem, ’n epifanie.

Hy was Madiba se lyfwag, en net voor die 1994-verkiesing, op besoek aan Beaufort-Wes, was daar ’n “Mexican standoff” met die AWB.

Onder aanvoering van ene kolonel Monroe het die AWB van wyd opgeruk om Madiba se hotel te beset. Die spanning was snaarstyf en ’n skietgeveg blyk onafwendbaar.

En toe speel Tata sy hand. Hy nooi Monroe om te kom praat, luister hom uit met ’n paar vaderlike vermanings en skud sy hand.

Net daar was die situasie ontlont. Minute later het die AWB in ’n bedeesde konvooi uit die dorp vertrek.

“Tata het my geleer: Luister na die ander persoon, met begrip, en eers dán kan jy sê: Ons gaan mekaar nie vandag vind nie, maar kom ons gaan van hier af vorentoe.

“Met konflik wil ons somtyds dinge binêr vervlak tot teenpole: swart en wit, reg en verkeerd. Madiba leer jou daar is grys. En dis in die grys gebied waar ek die mens in jou vind.

“Dit was ook Tata se benadering tot politieke onderhandelings. Hy was dalk hóé kwaad vir De Klerk, maar môre moes hulle weer praat.”

Dis die kettingloop om mekaar te vind, beduie sy hande. Skakel vir skakel.

Dan neem Vearey sy verhaal van die sublieme tot die totaal onmerkwaardige – sy vrylating uit Robbeneiland.

Die enigstes wat met fanfare daar uitgestap het, was Madiba en die top-ouens, sê hy met ’n glimlag.

“Die res van ons was eintlik maar ’n maande lange ruilhandel tussen die ANC en die ou regering.

“Niemand is vooraf ingelig wanneer ons gaan uitkom nie. In die nag kom sê hulle: Jy, jy en jy, pak jul bokse. Dan word jy kantoor toe gevat, jou geld uitbetaal, en tjoep-tjoep is jy in die buik van die Susan Kruger op pad Tafelbaai toe.

“Dis wat met ons gebeur het, met my en Tokyo Sexwale en Jeff Radebe en ? klompie ander. Hulle het ons daar op die kaai gelos, alleen, douvoordag, op ’n Sondagoggend.”

Hier is Jeremy Vearey, skuins onder Madiba. Foto: Verskaf

Toe stap die moppie maar bedremmeld aan. Van die ouens soos Tokyo was al van die 1970’s “binnekant”, en het hulle vergaap aan die nuwe geboue en karre.

“Op die Parade soek ons ’n foonhokkie, maar daar is net ’n paar tiekiebokse, so ons moes kleingeld maak by die stalletjies om iemand te bel om ons te kom haal. Ja . . .”

Hy bêre g? bumpers nie, skryf hy in sy boek. Geen wraakgevoelens nie. Rowe val af, maar littekens bly.

Hy kan hulle afbaken in adresse. Die folterkamer in die Veiligheidspolisie se doolhof in Loopstraat. Die Dak by Polls­moor Maximum. Sel D1 op Robbeneiland.

Ná 1994 het van sy martelaars kollegas geword. Later, steeds ’n wegkruip-lewe in die intelligensiediens. “Ek was terug in die eng baan van daardie beroep. My tyd was nie my eie nie, ek het totaal daai lewe geleef en daarin geglo.”

Hy was as mens geïsoleerd. In hom, steeds, ’n donker stroom.

Dit was uiteindelik “almal se vryheidsavatar” – Madiba – wat vir Vearey balans gebring het.

In 1993 het Madiba ’n paar weke lank gaan rus op Tony O’Reilly se landgoed in die Bahamas. Vearey is saam as lyfwag.

Elke oggend sesuur het hy en Tata op die lang private strand gaan stap en kopstukke gesels.

In dié dae is sy ouma dood, maar hy’t nie ’n woord vir Mandela hieroor gerep nie, want hy het geweet die hele span sou net daar oppak en terugvlieg, want dis soos Tata was.

“Nee kyk, hy doen daai,” glimlag hy. “As hy by ’n geselligheid sien ons lyfwagte kry minderwaardiger kos, het hy nét daar gesê: Óf ons eet dieselfde óf ek loop. Toe ’n kollega se vrou kraam, het hy net daar ’n amptelike geleentheid gekanselleer en is saam hospitaal toe.”

Die oggend langs die strand lyk Madiba bedruk. Hy konfronteer Vearey: Hoekom het jy my nie vertel van jou ouma nie?

“Ek kon nie, verduidelik ek, my persoonlike sake is ondergeskik aan my revolusionêre plig.

“Jy verstaan nie, antwoord Tata, die revolusie ís persoonlik, want dit gaan oor ménse se ideale. Dis nie iets abstraks in ’n beleidsmanifes nie. As jy die twee nie in balans kan bring nie, is jy op die verkeerde pad.

“Dis die Ou Man!”

Sy balans kom toe in 1997. Fraai verpak as me. Bernice Roeland van Pacaltsdorp.

“Vir haar het ek deur my tjommie Peter Jacobs gekry. Peter wou my knaend aan iemand voorstel wat my glo aarde toe sou bring,” grinnik hy.

“Peter én ouma Jakoba Galant kon altyd so kerm:

“ ‘Jy is altyd so aan die verby, Jeremy. Staan ’n slag stil en luister.’ ”

So, toe gaan Vearey maar sleepvoet saam op ’n wegkomnaweek om me. Roeland te ontmoet. “Net oor Peter my vriend is.”

Hy dra ’n afskrikgewaad van paisley- kruisbande, kakiekleurige kortbroek en sandals en huur die gewelddadigste movies, soos Natural Born Killers. Die revolusionêr skrik almal af.

“En toe kom sy daar aan en . . .”

En. Wel. Bernice Roeland knikker mnr. MK – mét ’n string gebreekte harte agter hom – se voete onder hom uit. ’n Jaar later trou hulle op Diaz-strand in Mosselbaai.

“Ek is Jeremy vannie Elsies, selfgedefinieer en selfgeïdentifiseer,” skryf hy.

Onlangs vra ’n comrade se dogter hom: “Maar uncle, is jy ’n coloured?”

“Ek het nagte wakker gelê oor dié vraag. Sien, ek dink nie in daai terme nie. Ek aanvaar daar is statutêre identiteite. Maar party mense lééf hulself daarin.”

Al twee sy seuns weier om die blokkies op vorms te kruis wat vra vir sulke identiteite.

Hy vervies hom vir groepe soos die Gatvol Capetonians wat glo daar is ’n ekonomiese oorlog teen bruin mense.

“N.P. van Wyk Louw het so ’n mooi woord daarvoor: kleinburgerlikheid. Die vrome dweepsug van kleinburgerlikes, mense wat behep is met ’n eenselwige identiteitspolitiek. Dié wat sê: Ek is net ’n Afrikaner of ek is net ’n dié of net ’n dáái. Jou identiteit is tog veelvuldig, jy is nooit net één ding nie.

“As ons rondom elke liewe belang onsself met identiteitspolitiek isoleer en identiteitsmerkers teen ander opstel, gaan ons dié land balkaniseer.

“Hierdie mense met hul kleinburgerlike agendas . . . Moenie jul verskille gebruik om verdeeldheid te saai nie!” skud hy vurig kop.

As hý as MK-soldaat kon saamwerk met kollegas wat hom destyds gefolter het, kan almal!

As sy aktivis-ma haar in 1990 kon vasketting voor die parlement . . . dis geslagte se bloedsweet vir die Grondwet, ons Dieper Reg, en nou wil hulle dit kom rondgooi soos ’n lap!

Hy het sy boek doelbewus in vier vorme van Afrikaans geskryf. Vier identiteite: kleintyd se Elsies-Afrikaaps, formeler hoërskool-Afrikaans, toe die Afrikaans van die intellek in Jakes Gerwel se Afrikaans-Nederlands-UWK-wêreld en “stryds-Afrikaans” as aktivis.

Toe hy die revolutionary jargon vir sy makkers in die noordelike voorstede in Afrikaans moes vertaal, het Jeremy vir Van Wyk Louw nadergetrek.

Uit sy notas lees hy vir ons lang aanhalings met ontsag in sy stem vir dié mentor met sy fyn, fyn net van woorde.

Democratic consultation word in Louw se Afrikaans: die oop gesprek. The Freedom Charter as a rights based order and document: die dieper reg wat ons ideale aanmekaarsweis. Die helderheid van die kragtige daad. Het struggle al ooit beter geklink?

En dis wat Jeremy Vearey wil sê, as hy kon, vir 67 minute lank, in stryds-Afrikaans, sodat dit mooi insink met Madiba se eeufees.

Kyk eers na die mens in die ander persoon voordat jy die verskille sien.

Dis mos nou eenvoudig.

Hou op bedoosd wees.

Meer oor:  Nelson Mandela  |  Jeremy Vearey
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.