Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Drank, dwelms – toe 7 Ghoemas
Hanlie Retief gesels met Jo Black

‘Ek het kortpouse in gr. 2 laas ’n prys gekry vir 100%-skoolbywoning of iets, en hier op 36 roep hulle my sewe keer verhoog toe en elke keer slaat ek blank en al wat ek uitkry, is ’n bedremmelde dankie.”

Jo Black het sewe Ghoemas gewen vir sy liedjie/album Skepe.Foto: Elizabeth Sejake

Jo Black was só omgeboul met die ­sewe goue Ghoemas vir sy trefferlied/album Skepe, toe hy by die afterpaartie opdaag en almal vir hom kyk, het hy een draai gegee, sy vrou, Debbie, aan die arm gevat en pad gevat huis toe.

In hul meenthuis in Pretoria-Noord het hul meisiekinders, Dinieke (9) en Miané (6), van pure opgewondenheid aan die gordyne gaan swaai. Dié lê nog steeds op die vloer.

“Ons is nog nie gewoond aan dié dinge nie, dit het ons lewe kom omdraai in hierdie huis,” grinnik hy met ’n kopskud en ’n baard wat saam slo-mo in Paul Kruger-vibes.

“My pelle het die Ghoemas gekyk soos ’n rugby-game.”

Wie’t ooit gedink ’n verweerde pubsanger wat twee jaar gelede nog op die broodlyn geleef het, kan ontdek word deur Johan Vorster, “Suid-Afrika se stermaker”, en oornag ’n kitssensasie word?

“In hierdie bedryf piek die ouens op 35, dan koop hulle lodges en tree af op 40. Jy launch nie op 35 nie!

“Hulle het ’n wilde gamble gevat op ’n lelike ou met ’n baard, en toe werk dit!”

Ek het uitgeblink op skool, maar my matriek-eksamen onder die invloed gaan skryf.

Twee jaar terug, as Jo in die Kolonnade-sentrum rondstap, kon hy sien hoe gril mense vir sy baard. Party het selfs kom vra: Is jy nie bang daar’s kieme nie?

“Oornag wil diesélfde mense nou selfies neem saam met my. Almal wil voel hoe my baard voel. Hulle pluk tot baardhare uit om te hou!”

Debbie: “Vir I don’t know what!”

Dis ’n gesellige, besige, g’n-nonsens-meenthuis met kinderfoto’s teen die yskas, versies teen die muur, langhaarkatte wat op stoele rondlê, Debbie wat gou in die geborgde Merc kafee toe ry vir ’n monster-energiedrankie, want Jo het vanoggend halfvyf hier ingery nadat hy gisteraand nog by die Bloem-skou opgetree het.

So lank soos sy baard, so gaaf en plat op die aarde is Jo. Hy’s hot, nè, giggel Debbie en gee sy boud ’n knyp.

Die Baard het so half per ongeluk gebeur. Hy en Debbie wou kyk hoe lank hy kan word.

“En hoe langer hy raak, hoe minder wou Debbie hê ek moes hom afsny. Nou’s dit wragtig my handelsmerk.”

Haar man was en blaas en kam hom elke dag mooi uit met Hello Kitty se Detangling Spray. Dis ’n haarstyl op jou ken, lag Debbie.

Jo Black het al by meer as 500 skole praatjies gelewer in sy veldtog Be That Guy/Girl, om jongmense te motiveer. Nadat hy die eerste keer ’n selfie geneem het, het dit soos ’n veldbrand op die internet versprei.

Teen hul kombuismuur is ’n klomp foto’s van Jo en sy oupa Joe.

“Kanker is by Oupa gediagnoseer, en toe hy nou so hartseer is, maak ek ’n pakt met hom – ons groei saam baard, neem elke maand ’n foto, en hy mag net ophou baklei teen die kanker as sy baard langer as myne is.”

Ná sy oupa se dood het Jo in Movember 2016 sy eie wolle laat waai en R60 000 ingesamel vir kankernavorsing.

En dadelik weer opgehou skeer.

Jo se van is eintlik Engelbrecht. Hy het Black-vir-Blackberry geword toe hy ’n nagklubbestuurder in Bahrein se Sheraton-hotel was en niemand sy van kon uitspreek nie.

Jy lees sy lewe in sy tatoes. Die enkel behoort in sierletters aan Debbie. Onder sy arm in Arabies live for ever or die trying. Op sy boarm ’n mikrofoon wat worship for ever. ’n Doringkroon. Jesus Saves met ’n engel en rooi hartjie, vier rose vir Debbie, sy ma en dogters, die eerste versie van “Amazing Grace”, Dinieke en Miané se name saam met ’n hibiskusblom en ’n suikerbekkie, ’n anker toe Skepe platinum gegaan het.

Groot oor sy bors: Even in death He finds me.

Hy trek sy hemp uit om Oupa se gesig te wys. “Oupa was al konstante in my lewe.”

Vir die eerste keer deel Jo sy lewensverhaal, van sy rowwe grootwordjare in Pretoria-Noord waar jou ouers jou nie grootmaak nie, jou pelle doen dit sommer.

“Ons was ’n klomp stoutgatte. Reëls was daar om gebreek te word. Nooit lelik stout nie, net stout. Soos om die skoolbus iewers te gaan wegsteek . . .”

Sy ouers is geskei toe hy vyf was (“eintlik maar duisende kinders se storie”). Op 17 het hy, rebelse tiener wat nie met sy stiefpa klaarkom nie, alleen gaan bly.

Toe Jo Black (regs) nog gerock het as Engelbrecht in Pretoria-Noord.

Hy is op 13 die eerste keer dronk op straat gevang toe hy skelm ’n taxi gehaal het om na ’n band in Sunnyside te gaan luister. Hy’s terug huis toe agter in ? polisievangwa.

13 was ook die jaar toe hy sy stiefbroer per ongeluk aspris met ’n mes in die rug gegooi het.

“My jonger broer, wat by my pa in Pietersburg gebly het, het by ons ge­kuier en hy en my stiefbroer het baklei. Ek dreig hom toe met ’n mes, woedend, en toe hy my tart en weghol, gooi ek hom met die mes. Hy moes steke kry.”

Sy vriend Vaughn se dood het Jo in sy matriekjaar oor die afgrond gestoot. Vaughn was alles wat Jo nie was nie – almal se held, nooit gevloek of gedrink nie, Sondae in die kerk. Drie jaar ouer as Jo.

Hul vriendskap het begin toe Vaughn hom in st. 6 (nou gr. 8) van die skoolboelies wat hom aan ’n pyp in die badkamer laat hang het, gered het.

“Hy’t nie nodig gehad om hom oor my te ontferm nie, hy’t oorgenoeg ordentlike vriende gehad. Toe word hy my held en my vriend.”

Vaughn is dood nadat ’n poets skeefgeloop het. Hy en sy vriende het een laatnag vir Jo en sy pelle kom bangmaak deur te maak of hulle inbrekers is.

Die poets werk toe só goed, hulle het net daar besluit om dit te herhaal op ’n vriend. Toe dié vervaard uit die huis storm, het hy Vaughn met ’n kitaar op sy elmboog geslaan.

Wat presies gebeur het, weet Jo tot vandag nie, maar Vaughn het net neergesak. Hy is in die hospitaal dood verklaar.

’n Moorddossier is geopen.

“En toe begin die gerugte loop dat ek die oorsaak was van my beste vriend se dood. Sy ma het my na die begrafnis genooi toe niemand anders my daar wou hê nie. Vaughn was my Jonatan. Ek sal nooit weer só ’n vriend hê nie.”

Ná sy dood het Jo harder gekuier, gedrink, dwelms gebruik. “Ek het uitgeblink op skool, maar my matriekeindeksamen onder die invloed gaan skryf, en wraggies ’n matriekvrystelling gekry.

“Ses jaar later is die moorddossier gesluit as ’n onnatuurlike dood.”

In dié ses jaar met die swaard oor sy kop, het Jo in die Midde-Ooste gaan rondwerk. Terug in Pretoria, stap hy by Volkswagen in Voortrekkerweg in op soek na werk as karverkoopsman. En daar sien hy Debbie in admin, vars uit die skool.

Debbie: “Hier stap hierdie lang man in . . .”

Jo: “En ek slaat haar knieë dadelik lam, sy was so versot sy het my daai eerste dag gevra om te trou,” terg hy.

Debbie: “Ons eerste date was in ’n pub waar sy band gespeel het. Hy wou my seker verlei met sy sangtalent.”

Jo: “Dit het gewerk. Hier sit jy nog . . .”

Debbie: “Ek het nie geweet hy’s hoog (op dwelms) tot ons ’n jaar uitgegaan het nie. Toe los ek hom.”

Jo: “Dit klink erg, dwelms en drank, maar dit was deel van heeltyd hard kuier. Een keer ’n maand word naderhand een keer ’n week, en toe elke dag.”

In Mei 2007 besluit sy pelle hulle gaan kamp. “Ek pak my cooler-boks en weg is ons. Toe’s dit wragtig ’n kerkkamp . . .

“Daar was so ’n pastoortjie, iemand met wie ek nooit sou uithang nie. Hy vertel die storie van die verlore seun en dit ruk my tot in my tone. Dit was mý storie.

“Net daar gooi ek my drank en dwelms in die vuur en sê ek is klaar.”

Hy was.

“Dis nou tien jaar, nè, Lief,” kyk hy op sy iWatch, “presies oormôre, vandat ek die Here ontmoet het.”

Debbie het haar hot kêrel teruggevat, ses maande later is hulle verloof, ses maande later getroud en drie maande later was sy swanger.

Jo: “Van toe af was dit net die battle van te min geld. Ek begin besighede, dan vou hulle, ek kry kontrakte, dan word ek nie betaal nie. Gatvol, los ek toe als.”

Hulle het van aalmoese begin leef. Die kerk waar Jo Sondae die aanbidding gelei het, het die huishuur betaal, die laerskool waar Debbie ’n vrywillige berader was, het kruideniersware afgelewer.

In dié tyd het Jo ’n motiveringspraatjie by ’n skool gaan doen.

“Dit was maar net my storie: Hoe Vaughn my, ’n niemand, help kop oplig het. Ek het ’n selfie van my en die kinders geneem. Dié selfie is rondgestuur en binne ’n week het 30 skole my genooi. BTG, Be That Guy/Girl, is gebore want ek wou ’n Vaughn vir ander wees.”

Hy het al 500 skole oor die land heen besoek.

Op hul armste was hulle amper op hul gelukkigste, vertel Debbie. “Ons huwelik en gesin was op so ’n goeie plek. Jy worry oor niks, want jy het niks.”

Jo: “Die lekkerste om nou te kan koop, is krag. Weet jy hoe voel dit as daar een unit oor is?”

Wie’t ooit gedink die kitaar wat sy ma vir R126 gekoop het toe hy hom op 15 verbeel hy’s ’n rocker, gaan eendag dié deure oopmaak, skud hy kop.

Skepe, wat hy saam met Johan en Christoph Kotze geskryf het, het binne drie dae 700 000 trefslae op YouTube gehad en binne ’n maand ’n miljoen. Ses weke, en die album was goud. Twee maande . . . platinum met 30 000 verkope. Dit raak-raak nou aan dubbelplatinum.

“Skepe is veilig in ’n hawe, sing ek, maar dis nie waarvoor skepe gemaak is nie. Dis my eie lewe. Swaarkry het my karakter geleer, my voorberei vir hierdie uitvaart.

“Gistraand staan ek en sing voor 6 000 mense. Hulle gil my naam uit. Hulle dink ek is ’n Iemand. En eintlik is ek maar net hierdie doodgewone
dude.”

Net een unit.

“Ek het Be That Guy/Girl begin op my heel armste. Nou doen ek dit op my heel rykste. Twee uiterstes van my lewe. En my boodskap bly: Wees die een. Wees Vaughn. Maak ’n verskil in ander se lewens.”

Meer oor:  Jo Black  |  Ghoemas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.