Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Hanlie Retief gesels met Johann van Loggerenberg
'Ek wens my pa kon dit hoor . . .’

Een minuut. Dis hoe lank dit geduur het.

“The State withdraws all charges against the accused. Thank you, my lord,” sê die staatsaanklaer.

Johann van Loggerenberg: “So, tyd ís my vriend. Dis nóú tyd.” Foto: Deon Raath

“Thank you, my lord,” herhaal die drie beskuldigdes se regsverteenwoordiger. Waarnemende regter Anthony Millar se mondhoeke lig effens toe hy die drie aanspreek: “Mr (Ivan) Pillay, Mr (Andries) Janse van Rensburg and Mr (Johann) Van Loggerenberg – you are free to go.”

Die mans wys geen emosie terwyl hulle uit die bank stap nie. Dan omhels hulle mekaar. Nie een glimlag nie. Want hierdie hellevaart het al in 2014 begin, en dis nog steeds nie oor nie.

Dié drie eertydse topamptenare in die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) is daarvan beskuldig dat hulle ’n “geheime ondersoekeenheid” (rogue unit) binne die SAID bedryf het. Nou, uiteindelik, het ook die nasionale vervolgingsgesag (NVG) hul saak teen hulle teruggetrek.

Donderdag, in ’n stil vertrek in Rivonia, sukkel Johann van Loggerenberg, oftewel JvL soos almal hom ken, om die hoe-voel-dit-vraag te antwoord.

“Ek is nie baie goed om emosies te identifiseer nie.”

Laat ek dit duidelik stel: Ek is verby die punt waar ek klappe vat, nou gaan ek my dag in die hof kry.

Meer as tien ondersoekspanne kon nie ’n sweempie skuld teen die SAID se uiters doeltreffende ondersoekeenheid bewys nie. Die eenheid, onder leiding van JvL, was vol spesialiste, waarvan een ’n wêreldbekende data-analis was wat vir die FBI opleiding gegee het. Van die lede het regsgrade en MBA’s gehad.

“Dat Tom Moyane (gediskrediteerde eertydse SAID-baas), kon twiet my span was onnosel en onopgelei, spreek boekdele.

“Moyane het onlangs weer getwiet oor die sogenaamde spioenasie-toerusting van die ondersoekeenheid. Lagwekkend. Die mees gesofistikeerde toerusting wat die eenheid gehad het, was twee handradio’s wat hulle vir R2 000 by Makro gaan koop het. Uit eie sak, want ek was ’n bietjie van ’n pyn met die begroting.

“Hierdie mense se reputasies lê aan skerwe, hulle én hul familielede kry nie werk nie. Maar nog erger: Hul kundigheid is vir altyd verlore vir die SAID.

“As jy wil weet wat die impak was, gaan praat met daai tienerkind wat in ’n inrigting is. Gaan praat met die gesinne wat uitmekaargespat het in egskeidings, die huise wat verkoop moes word. Ek besit vandag in rand presies wat ek gehad het die dag toe ek begin werk het.

“Ons was in ’n stadium 25 mense in daardie eenheid, die meeste van hulle en hul lewensmaats kry steeds psigiatriese behandeling en is op medikasie.”

JvL se pa, die geliefde SAUK-musiekhoof Hennie van Loggerenberg, is in Augustus 2014 dood, reg in die middel hiervan.

“In my kop is hy nog nie dood nie. Ek kon nog nie rou nie. Ek was ’n paar maande reeds uit die verhouding met mejuffrou Walter, ek het nog gesteier onder die verraad van hierdie spioen wat my lewe stil en slim geïnfiltreer het.”

Sy pa, bekend vir sy kinderwysies soos “Haas Das”, “Wielie Walie” en “Liewe Heksie”, was geliefd onder kuns­tenaars van Cora Marie af regdeur tot Johannes Kerkorrel. By die huis het hy Count Basie se heavy jazz gespeel, onthou JvL.

“Ons laaste gesprek was moeilik. Hy wou bekommerd weet of al die beweringe oor my waar is, want hoekom word so ’n fuss daaroor gemaak as dit niks is nie. Ek kon hom nie antwoord nie, net gesê dis nonsens.

“Ek wens só hy kon Carte Blanche se verskoning aan my, die persombudsman se uitspraak oor die Sunday Times se aantygings en dié koerant se volbladverskoning, KPMG, regter Kroon, en al die ander se verskonings sien en hoor.”

By sy pa se roudiens was JvL gedisoriënteerd en moedeloos. “Toe ek opkyk, staan Nicole, my ou meisie, in die deur. Sy het na my toe gestap en my vasgehou, ons het nie een woord gesê nie, en sy het my tussen die mense ingevat. Sy het my lewe gered.

“Daai Sondag was die Sunday Times se hoofberig: Love affair rocks SARS.

“Vir 16 jaar het my lewe net om die SAID gedraai, ek het tot ’n kampbed in my kantoor gehad. Ek en Nicole het in 2011 ons verhouding verbreek toe sy vir my gesê het ek moet kies: óf sy óf die SAID.

“Ironies, as ek toe vir Nicole gekies het, het ek al hierdie ellende vrygespring. Sy en ons eenjarige dogtertjie, Gabriella, is die engele in my lewe. Nicole is die een wat vir my aanhou sê: Baklei terug.”

Want steeds is die oorlog nie verby nie.

“Die EFF wil die NVG se besluit om die klag te onttrek op hersiening neem. Hulle moet dit asseblief doen, ek vra mooi, nes hulle my ’n groot guns bewys het om die inspekteur-generaal van intelligensie se 2014-verslag openbaar te maak. Ek sou dit nooit anders in die hande kon kry nie.

“So: Baie dankie, meneer Malema! Die verslag was manna uit die hemel, nou weet ons presies wie was die argitekte agter die rogue-eenheid-storietjies. Ek neem nou dié 2014-verslag op hersiening. Die inspekteur-generaal van intelligensie en die minister van staatsveiligheid moet nou binne dae daarop antwoord.

“Laat ek dit duidelik stel: Ek is verby die punt waar ek klappe vat, nou gaan ek my dag in die hof kry.

“Ek het nog altyd stilgebly terwyl almal wat iets te sê gehad het elke moontlike platform gebruik het. Ek het stilgesit en gewag en gekyk, want my ouma en my ma het altyd vir my gesê: Tyd is jou vriend.

“So, tyd ís my vriend. Dis nóú tyd.

“Nes meneer Moyane en al die ander wil ek óók die geleentheid hê om mense soos Moyane, Mandisa Mokwena, Thulani Dlomo, Chris Burger, Belinda Walter en Mike Peega onder kruisverhoor te neem.

“Ek wil hul getuienis sien, en dan wil ek vir hulle wys hoekom hul getuienis nie waar is nie, want ek het óók getuienis. En dan moet ’n hof besluit.

“Dit gaan nie oor my nie, dis vir my ’n absolute beginselsaak.

“Ons land het baie, baie seergekry. Die SAID-kaping het ons leeftye teruggesit.

“Die skade is onmeetbaar. Dit gaan nié in ons leeftyd herstel nie.

“Ons belasting gaan hoër en hoër word, die land word armer, die ekonomie kleiner en kleiner. Ek weet baie faktore speel ’n rol, maar ons Inkomstediens funksioneer doodeenvoudig nie meer soos hy moet nie.”

As hoof van vyf ondersoekeenhede het JvL destyds 85 projekte gelei. Projek Honey Badger was die kleinste, en op die punt om reuse- internasionale tabak-smokkelnetwerke bloot te lê.

En toe infiltreer Belinda Walter, die blonde prokureur met kliënte in die tabakbedryf én ’n dubbele en soms driedubbele spioen, sy lewe.

“Ek was alleen, dink ek. En sy het my lang werkure verstaan.”

Vyf en ’n half maande later was sy loopbaan verby. Ná hul verhouding versuur het, het Walter vir JvL van ernstige vergrype beskuldig.

Haar versinsels was die katalisator vir Zuma en Moyane se kaping van die SAID. Die fantasie van ’n koverte eenheid is daaruit gebore.

“Wat niemand geweet het nie, was dat Zuma, Moyane en Bain & Co (die Amerikaanse konsultantfirma) lankal begin planne smee het om die SAID te kaap. Dit was perfek vir hulle.”

Hy bly ’n oomblik stil.

Sê: “Jy sit met die verlies van ’n verhouding, die verraad van iemand wat stukkies inligting kry omdat sy toegang het tot jou huis, jou afluister terwyl jy op die foon is. Dan vat sy die brokkies en las ander goed by. Dis hoe fake news werk, dis hoe spioene werk, dis die formule. In die apartheidsdae het dit bekend gestaan as Stratcom. Dirty tricks.”

As hy vertel van sy kortstondige verhouding met Walter klink dit soos ’n John le Carré-oudioboek.

Reeds met hul eerste afspraak het sy ’n afluisterapparaat gedra as spioen vir die staatsveiligheidsagentskap (SVA).

Bietjie vir bietjie het sy aan hom ontbloot dat sy nie net tabakfirmas as kliënte het waarop sy spioeneer nie, maar dat sy ook ’n agent is vir British American Tobacco (BAT) in ’n samewerkingsooreenkoms met die SVA.

JvL het die SAID deurentyd van alles op die hoogte gehou, selfs haar teksboodskappe aangeheg. “Onder eed. Op rekord.”

Hy het ’n ultimatum aan haar gestel: As sy aanbly as prokureur vir die tabakmaatskappye en as spioen, kan die verhouding nie voortgaan nie.

“Dit was haar keuse, en sy het my verseker sy’t aan alles onttrek.”

Daar was drie rooi vlae: By Ais-Ais, toe hy van die swembad die kamer inkom, het hy haar betrap met sy selfoon (met ? dubbele wagwoord en vol e-posse en dokumente van die SAID); toe weer in ? tent in Mosambiek; en in Pretoria ná ? fietsrit, toe sy kwansuis ’n baadjie in sy kar gaan haal het.

“Ek weet nou nog nie hoekom was ek so stupid nie. Dis my aard om selfs in die slegste mense goeie goed sien.”

Die derde keer, onder die indruk dat hul verhouding verby was, het sy “die volgende dag oorgeloop na die bad guys en alles oor die SVA en BAT aan die tabakfirma uitgelap, álmal geblaas. Net om direk daarna alles te ontken.

“Ons het mekaar van toe af selde gesien, my vertroue in haar was geskaad.

“Op 13 Mei – ek sal die oomblik nooit vergeet nie – kom sit ’n kollega ’n dokument voor my neer. Dit het haar totaal geïmpliseer. As ek dit op Dag Een geweet het, het ek haar die volgende dag in hegtenis laat neem.

“Ek stuur vir haar ’n boodskap: It’s over. I’m done. No more.”

Sy het hom probeer terugwen, probeer afpers en uitgebeeld as ’n alkoholis en psigopatiese leuenaar, hom vergelyk met ’n pedofiel.

“Almal dink die verhouding was hierdie intieme hanging off the ceiling en Superman en nurse outfit-ding. Dit was glad nie so nie, ek was net drie keer by haar huis. Ek hou ook nie daarvan dat mense terme gebruik soos honey trap nie. Ek respekteer mejuffrou Walter steeds as vrou, nie uit respek teenoor haar nie, maar omdat my ma my so grootgemaak het. Dis bloot goeie maniere. Maar dit verskoon haar nie van misdadigheid nie, en ek dink sy moet antwoord daarop.”

Dis presies wat Johann van Loggerenberg nou gaan doen.

Hulle probeer reeds ’n jaar lank om getuienis oor die SAID-kaping aan die Zondo-kommissie te verskaf.

“Die SAID het erge vertroulikheidsklousules. Dis moontlik om in camera te getuig, maar daarvoor het ons die Inkomstediens se hulp nodig. Die Zondo-mense sê vir my hulle loop hulle teen ’n muur vas. Die Inkomstediens wou by my verteenwoordiger weet: Wat gaan JvL doen as ons julle nie help nie? Nou, as dít die geval is, is dit niks anders as staatskaping nie.

“Zondo moet weet. Die publiek moet weet.

“Vir Mark Kingon, destydse waarnemende kommissaris, het ek ’n hoë agting gehad. In sy 2018-getuienis voor regter Nugent het hy tranerig om verskoning gevra vir die onreg teenoor SAID-amptenare. Kingon het verwys na ’n versoek van een amptenaar dat Kingon asseblief vir sy ouers formeel moet gaan sê daar was nie ’n bordeel nie.

“Kingon het drie keer dié onderneming aan die amptenaar gegee. Dis nou 2020, die ouers wag steeds. Hoeveel moeite is dít?”

Hy stoot sy asem stadig uit.

“Wanneer gaan die Inkomstediens vir Suid-Afrika die wáárheid vertel?

“Die bottom line: elke liewe keer as die rogue-fabel iemand se agenda pas, gaan die ding weer sy kop uitsteek. Dit hou nie op nie.

“Die brandmerk is diep. Ons is vir altyd geskend.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.