SWART-VRYDAG-AANBOD! Betaal slegs R9,99 vir die eerste twee maande as jy nou ’n intekenaar word. Spring gou!
Menings
Hanlie Retief gesels met John Steenhuisen
’n Straatvegter vir demokrasie

State of the Nation Address 8 February 2018, verkondig ’n banier voor die parlement. Gaan haal hom af, grinnik John Steenhuisen, daai een gaan ’n versamelstuk word.

Die staatsrede wat nooit gebeur het nie. Deur ’n president wat nooit daar moes gewees het nie.

Dié gaan ’n versamelstuk word. Die staatsrede wat nooit gebeur het nie. Foto: Edrea Cloete

“Lenin het gesê daar is dekades waarin niks gebeur nie, en weke waarin dekades gebeur. Dis een van dáái weke.”

Politieke hoogdrama. En Steenhuisen lyk so tuis soos ’n haai in ’n skool geelsterte.

Dié 41-jarige hoofsweep van die DA is al lompweg beskryf as “die politikus-

ste politikus”. ’n Klassieke hoofsweep. Duld g? nonsens van niemand nie, ken die parlementreëls op sy vingerpunte, sy tong ’n Minora-lem.

ANC Slayer noem hulle hom. Niemand in die opposisie klim so vlymskerp onder die ANC in as dié vurige boykie van Durban nie. Toe Bathabile Dlamini skree “you’re full of Black Monday”, het hy teruggeskree “you’re full of Black Label”. . .

Oor Cyril Ramaphosa: “Cyril ­watched and remained silent. He never misses an opportunity to miss an opportunity.

Sê Steenhuisen: Frank Underwood (die karakter in House of Cards) sou gespring het vir die kanse wat Ramaphosa gehad het ná die afdankings van ­Nene en Pravin en die grondwetlike hof-uitspraak oor Nkandla.

Die steunverlies is hopelik korttermyn. As ek R1 kan kry vir elke keer wat die DP/DA afgeskryf was, was ek al stewig afgetree.

“Soos ek vir Tony Leon sê: Dis soos ’n stuk dryfhout waaraan jy vasklou as jou skip gesink het – te klein om jou te dra, maar dis al wat jy het. Só klou Suid-Afrika, gebroke en desperaat, nou aan Cyril vas.”

Dis Woensdag. Suid-Afrika is in die Ramaphosa/Zuma-houpatroon van eindgesprekke met toe deure.

“Ons het dié fliek al gesien, nè. Zuma is mos nie iemand wat stil-stil gaan wegstap nie. Hy gebruik die Stalingrad-model – grawe in, baklei sy pad uit.”

Hy twiet: Hierdie Zexit vat langer as Brexit . . .

Vir Steenhuisen was die afgelope week se hoogtepunt die liggaamstaal toe die speaker Baleka Mbete daar instap met die nuus: die staatsrede is uitgestel. “Sy het 20 jaar jonger gelyk, in ’n kleurvolle rok en haar gesig het gestraal.”

En daar sit hy toe met gemengde gevoelens. Spyt, maar sy hart loop oor.

“Vir die opposisie sou dit beter gewees het as Zuma die staatsrede lewer, want hy is ons heel beste stemwerwer. Maar sjoe, dis ’n verligting dat ons uiteindelik die einde sien van Zuma.

“Ons land het so gely onder een mens wat alles oorheers het. Dit het al ons aandag geverg. Die debatte wat ons moes hê om ons ekonomie te herstel en ons voor te berei op ’n veranderende wêreld het nóóit plaasgevind nie.”

Die Zuma-golf het Steenhuisen beleef van skuimbrander tot tsoenami, van die euforie met Thabo Mbeki se afdanking en opgewondenheid oor die “afsydige tegnokraat” vort is en “die man van die mense” die land gaan regkry, tot massiewe teleurstelling in ’n korrupte man wat verbete aan mag klou.

John Steenhuisen, ambisieuse, jong DP-werker in Durban-Noord, net ná matriek. Hier is hy saam met sy kollega Mark Louw.

Die kraak in die damwal was Augustus verlede jaar se sewende mosie van wantroue, toe ANC-LP’s weggebreek en saam met die opposisie gestem het.

Daar’s dié wat kla dat die DA se alewige mosies van wantroue dinge bloot vir die pro-Cyril-ANC’s bemoeilik om self met die ou man af te reken.

“Wel, dit vat hulle al agt jaar! Ons het die De Lille-saak in drie maande hanteer.”

Lawfare noem die DA hul meedoënlose aksies om Zuma in toom te hou.

“Toe ons besef die ANC gebruik die tirannie van hul parlementêre meerderheid as ’n rubberstempel, het ons die howe begin gebruik om Zuma se ergste vergrype te keer.”

Menzi Simelane. Zuma se geboelie van die nasionale vervolgingsgesag. Hlaudi Motsoeneng én sy raadslede. Druk om nié Thuli Madonsela se verslag oor staatskaping onder die mat te vee nie . . .

“Ons kon die ANC dwing om eienaarskap van Zuma te neem. Dis eers nóú dat hulle hom onteien. En skielik is Cyril (Ramaphosa) die ridder, maar hy was déél van die hele ANC-spul.”

Sy kantoor is ’n ode aan (blou) liberalisme. Proud to be a Liberal, verkondig die bordjie op sy lessenaar. John Kennedy glimlag vir jou van twee mure af, daar’s Obama-plakkers en plakkate en onthougoed en vlaggies en kentekens.

Ook ’n groot foto van sy mentor, ­Tony Leon, die man wat hom geleer het om ingewikkelde konsepte in klankgrepe te verpak.

Post-Zuma beteken een ding, sê hy: aanpassing. “Daar’t ’n luiheid in ons debat gekom, dis maklik om Zuma vir als te blameer. Vanoggend sê ek vir my koukus: Zuma is nou verby, get with the programme.”

Hy weet kritici beskou die DA in baie opsigte as die ANC Lite, wat beleid betref te na aan die ANC. Maar daar is fundamentele verskille, verdedig hy, veral oor die ekonomie.

As hoofsweep teken hy elke DA-toespraak af. Sy reël: As die DA-LP’s kritiseer, móét daar ook ’n alternatief wees.

Maar misluk die True Blues in die DA nie dikwels hierin nie – met hul snydende sarkasme, daardie effe meerderwaardige houding?

“Dis maklik om die DA te tipeer as teenkanting ter wille van teenkanting. Maar mense sien nie wat agter die skerms gebeur nie. In seker 85% van wat ons doen in die parlement, werk partye saam.”

En die hardnekkige kritiek dat middeljarige wit mans soms moet terugstaan en sensitiewer omgaan met kwessies? “Absoluut nie! Óns het ook gebloei en gesweet vir ons nierassige grondwet. Ek kan nie my velkleur verander nie, dis wie ek is, en ek moet getrou bly aan myself en dié wie ek verteenwoordig.”

Só was hy nog altyd. “As kind was ek waarskynlik ondraaglik en arrogant,” lag hy. “Dis seker ook hoekom ek so mal is oor die politiek – hoë oktaan. Energie. Met ’n agt-tot-vyf-werk was ek lankal dood.”

Sy opgang in die DA was skouspelagtig. Stadsraadslid op 22, leier van die DA in die Durban-metro op 30, provinsiale DA-leier op 31.

Op hoërskool reeds was hy die outjie op die fiets wat DP-pamflette in Durban-Noord se posbusse gegooi het. Sy apolitiese bankbestuurder-ma en skoolsielkundige-pa het nie geweet waar dié kind uitval nie.

Hy’t nooit sy universiteitsgraad voltooi nie, te woelig in studente- en partypolitiek. Sy opleiding was in die skool van Harde Politiek. Hy is in die parlement bekend as een van die bes voorbereide, mees belese lede.

“Ja,” glimlag hy effe wrang, “ek was destyds die opkomende ster in die DA-wetgewer, partyleier, Meneer Perfek, of soos hulle my toe genoem het: Squeeky Clean”.

“Gmf, klink soos ’n huishoudelike produk. En toe neem ek ’n besluit in my persoonlike lewe, met ernstige gevolge.”

Sy affair met ’n DA-kollega het Steenhuisen op die ou einde laat bedank as DA-leier. “Die ergste was dat ek verraai is deur DA-kollegas wat ’n agenda gedryf het.”

Die slegste tyd van sy lewe, beskryf hy dit. “Ek was in ’n bitter ongelukkige huwelik, ek het halsoorkop verlief geraak, geskei, getrou en ons het nou ’n pragtige dogtertjie.”

Almal het hom afgeskryf. “(Die politieke analis) Susan Booysen het gesê ’n politikus herstel nooit van só iets nie.”

Hy het sy loopbaan stukkie vir stukkie herbou. “Comeback kid! Dit ís moontlik in die politiek. Ek is spyt oor hoe dit gebeur het, maar ek is nou só gelukkig.”

En die man wat homself ’n straatvegter vir demokrasie op Twitter noem, moes onlangs die veteraan van politieke straatveg ondersoek: Patricia de ­Lille.

“Vir dae moes ons luister na die lelike waarheid wat éintlik in die stadsraad aangaan. Kollegas wat jou party in die steek laat. Wanbestuur. Korrupsie wat toegesmeer is.”

Persoonlik was dit ook moeilik: Hy kry heeltyd dreigoproepe van een van die betrokkenes.

“Om te sê dis ’n sameswering om De Lille uit te kry, is belaglik. Die meeste van ons was op ’n vriendskaplike voet met De Lille, ons het haar bewonder.

“Dis nonsens dat sy nou sê sy het nooit die geleentheid gehad om haar kant van die saak te stel nie. Sy het gekiés om dit nie te doen nie.

“Dit wys jou net: ’n tweederdemeerderheid is nooit gesond vir enige party nie – nie vir die DA óf die ANC nie.”

Die De Lille vs. DA-straatgeveg raak daagliks morsiger, en die DA bloei al hoe meer.

Die party, gebonde aan omvattende, stadige interne prosesse, struikel as’t ware oor sy eie demokratiese voete.

“Terwyl ons gebonde is aan die DA-grondwet en prosesse, hardloop die ander media toe met emosionele uitlatings.”

Dis ’n Bermuda-driehoek: De Lille, die swak bestuur van die Kaapse waterkrisis en steun wat die DA verloor met kiesers wat vervreem raak van die nuwe “generiese” DA.

“Ons verdien kritiek oor die waterkrisis, en ons vat nou die wanbestuur in Kaapstad vas. Die steunverlies is hopelik korttermyn. As ek R1 kan kry vir elke keer wat die DP/DA afgeskryf was, was ek al stewig afgetree.”

Moet Afrikaanse kiesers aanvaar die DA gaan nooit weer in die bresse tree vir Afrikaans en die Afrikaanse kultuur nie?

“Die DA moenie die fout maak om alles te probeer wees vir almal nie. Partye wat dít probeer doen, soos die ou Verenigde Party, maak dit nie. Die DA moet kulturele regte konsekwent verdedig en beskerm. Daar’s hierdie persepsie dat as jy dit vir Afrikaans doen, jy ’n verkrampte wit boer van Vereeniging verdedig, terwyl die meerderheid Afrikaanssprekendes nie wit is nie.”

Die munisipale verkiesing in Metsimaholo, waar die Vryheidsfront DA-steun afgerokkel het, het presies dit gewys, sê Steenhuisen.

Hy huiwer. Glimlag. “Dis baie moeilik om jou eie party te kritiseer, nè. Want ook: as ons bloot minderhede aanhou beskerm, gaan ons nooit deur die 20%-steunbasis breek nie.”

Die ewige DA-dilemma: baklei vir minderhede of vry na die meerderheid.

“In my party het sommiges die benadering van: óf óf. Dis verkeerd. Dis eerder én. As die DA sy waardes en grondwet konsekwent handhaaf, kán die party hom deur sulke situasies navigeer.”

Die grootste fout wat die land en die DA kan maak, sê hy, is om terug te gly in ou rasse-enklawes waar elke groep net namens homself praat.

“Selfs die argitekte van apartheid sou trots wees oor hoe ons deesdae teruggedruk word in rasse-laers.”

Kultuur- en taalregte, benadruk hy, is veiliger in ’n groter, diverse groep waar almal baklei vir almal se regte.

Vurige, vinnige sinne.

Hier, nou, in hierdie parlement is presies waar John Henry Steenhuisen wil wees. Dis sy Huis.

“Presies hier waar ons steeds vergader, is die ergste wette van apartheid gemaak. Dit het ons verdeel. Maar hier is ons nuwe grondwet ook geskep, wat ons saamsnoer as ’n nasie.”

Hier weet hy elke dag: Dinge kán verander. Jinne, selfs Zexit kan gebeur.

Meer oor:  John Steenhuisen  |  Da
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.