Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Hanlie Retief gesels met John Steenhuisen
‘ANC-lite is verby, hou my dop...’

Die een het hom getrou, die ander een was sy strooijonker.

Terry en John Steenhuisen se troudag in Desember 2014. Mmusi Maimane het vir dié dag sy hoed as lekeprediker opgesit en die paartjie getrou Foto: Facebook

Desember 2014, in ’n tuin met mistige heuwels op die agtergrond, het Mmusi Maimane as lekeprediker vir John en Terry Steenhuisen in die huwelik bevestig. Athol Trollip het as strooijonker toegekyk onder gevatte Maimanighede soos “nou het die hoofsweep ’n nuwe hoof”.

Maar nes hulle sê ’n week is ’n eeu in politiek, só is die een se dood die ander se brood.

Enter John Henry Steenhuisen. Tussentydse leier, maar met sy 75%-meerderheid verlede naweek in die leiersverkiesing verander hy reeds die “bloody awful” bruin leerbank in sy parlementêre kantoor.

Hy’t gekom om te bly.

Steenhuisen en Maimane was “besonder ná aan mekaar”, maar sedert Maimane se bedanking het hulle nie ’n woord met mekaar gepraat nie.

Ek het die leiers aanhou sê mense koop nie meer die roomys nie, maar hul antwoord was mens kan nie staatmaak op wat kiesers om braaivleisvure sê nie, net op peilings.

“Nie ’n woord nie, nee. Dit was moeilik, veral onder die omstandighede. Hoe loop jy weg van ’n party wat jy vier jaar lank gelei het en sê dis nie ’n voertuig vir verandering nie? Dis absoluut onwaar. Wat sê dit van jou eie leierskap en bydrae?”

En Trollip?

“Athol was baie ontsteld oor ek hom nie ondersteun het om federale leier te word nie.”

Steenhuisen sê hy het heel akademies die 18 vereistes vir die federale pos teen die vier kandidate opgeweeg. Toe stem hy vir Helen Zille.

“Onthou, ek is ook baie na aan Mike Waters, hy was vyf jaar lank my adjunkhoofsweep. Én aan Athol en Thomas Walters. Ek was reguit met almal, en het vir Athol gesê hy is te veel van ’n frontlinie-generaal daarvoor.”

Dis om dié rede dat hy self onttrek het vir die federale leiersverkiesing, sê Steenhuisen.

“Helen is ’n tegnokraat, dis hoekom sy die Wes-Kaapse regering so goed kon bestuur. Sy is obsessief oor prosedures.”

Doodeenvoudig dus. Sonder agendas soos: só-plavei-Steeny-sy-pad-leierskap-toe, knik hy.

John Steenhuisen, tussentydse DA-leier, sê hy wil dissipline in sy party herstel. Foto’s: Elizabeth Sejake

Maar het hy nie self vroeër aangedui hy het groter ambisies as die pos van federale leier nie?

“Natuurlik het ’n mens dié ambisies, dis hoekom jy in die politiek is, jy wil eendag jou party lei. Maar daar was geen aanduiding dat Mmusi gaan loop nie, die plan was dat Mmusi by die volgende kongres sal wen. Ek het nog vir hom gesê, hy moet net vasbyt.

“Ek het op Twitter gehoor dat Maimane heeltemal weg is. Dit het my geskok, want toe’s ek dadelik sonder ’n werk, want Maimane het my aangestel. Ek het opgestaan, oor die vloer gestap en my adjunk het oorgeneem. Nét so.”

Hy onthou die teleurstelling en skok. “Dit was soos ’n meteorietstorm. Ek het toe nog nie eens gedink aan die leiersposisie nie. Eers daarna, toe dinge rustiger raak, het ek vir myself gesê dêmmit, ek gaan nie 21 jaar se harde werk net hier op die vloer laat lê en doodgaan nie.”

Dis Woensdag, sy eerste uur as DA-leier in dié geskiedkundige kantoor in die Marksgebou oorkant die parlement. Mediaonderhoude wag in ’n ry tot 21:00 vanaand, in Johannesburg. Alles is bietjie oorweldigend, erken Steenhuisen.

“Toe ek netnou hier instap, het ek vir myself gesê: Moenie dit opmors nie, John. Dis ’n groot verantwoordelikheid: leier van die opposisie. Dié kantoor was in die ou dae dié van die eerste minister. Louis Botha het hier gesit, Jan Smuts . . . jy dink aan die gewig van die geskiedenis op jou skouers.”

Die groot skildery van Maimane is vervang met twee groot foto’s van John F. Kennedy, Steenhuisen se politieke held.

“Die DA het in die verlede gefouteer deur te obsedeer oor persoonlikheid eerder as beginsels. Ek is nie Die Leier nie. Ek is net John. Jy sal nie my gesig op tafeldoeke sien nie.”

Met die Zille-Steenhuisen-kombo, word voorspel, is die deksel op swart groei in die DA nou so styf soos die deksel op ’n koekieblik in ’n kar se kattebak op pad seevakansie toe.

Steenhuisen is nie net ’n melanien-mislukking nie (soos Zille wit velle noem), die arme Durbaniet het boonop intellektuele uitdagings, want hy het net matriek, is daar weer sedert Sondag op sosiale media verkondig.

Reeds ’n jaar terug het die DA-koukus in KwaZulu-Natal hom probeer kelder deur aan te dring dat die hoofsweep ’n universiteitsgraad moet hê.

“Ek het al die sweep geklap teen mense met meesters- en doktorsgrade in debatte, en ek beplan nie om op te hou nie. Ek daag jou uit om ’n meer belese politikus te vind, ek lees tegelykertyd vier, vyf politieke boeke.”

Hy gaan pluk ’n paar sertifikate uit ’n laai. “Onderskeiding,” druk sy vinger op ’n paar Unisa-dokumente, London School of Economics, en, en . . .

“En niks hiervan vervang die skool van harde houe in daardie arena nie,” wys hy parlement toe.

Verontwaardig: “Die pensioentrekkers wie se spaargeld by VBS gesteel is, slaap nie snags beter oor dit gesteel is deur mense met meestersgrade en PhD’s nie. Jy het nie ’n meestersgraad nodig om ’n eerlike politikus te wees wat die gemeenskap dien nie.”

Steenhuisen sê hy’t lank voor die Mei-verkiesing geweet die peilings waaraan die DA-leierskorps so vasgeklou het, was verkeerd.

“Ek het die leiers aanhou sê mense koop nie meer die roomys nie, maar hul antwoord was mens kan nie staatmaak op wat kiesers om braaivleisvure sê nie, net op peilings. Maar ná 21 jaar in die politiek sién jy hoe mense vir jou kyk wanneer jy praat.”

Hy verwys heeltyd na hoofstuk 6 en 7 van die beleidshersieningskomitee se verslag wat die onderliggende waardes en kultuur van die DA beklemtoon.

“Dié beginsels moet reeds in die takstrukture vasgelê word. Mense hou van beginselvastheid. Swart kiesers het vir ons gestem toe ons gehou het by wat ons glo. As ’n party alles probeer wees vir almal, is jy naderhand niks vir niemand nie. Ons het ons kernwaardes verloor. Dis waarheen ons nou terugkeer.”

Verwag ook nie verder sappige interne DA-skermutselinge op sosiale media soos dié tussen Ghaleb Cachalia en Phumzile van Damme nie. Die nuwe leier duld nie swak partydissipline nie.

“Maandag, skaars ure in dié pos, het ek ’n baie moeilike gesprek met iemand hieroor gehad. Die persoon het sonder ’n mandaat met die media gepraat. Van nou af praat ons nie meer met mekaar deur die koerante, Twitter of eNCA nie.”

En die swart en wit faksies in die DA? “Wel, die feit dat ek 75% van die stemme gekry het, ’n massiewe meerderheid, wys die party se samehorigheid. Ons terugkeer na ons liberale wortels word deur almal in die party ondersteun.”

Maar sal die DA die wit emigrasie na ander partye kan omswaai, ook van dié wat nie te opgewonde is oor Zille se terugkeer nie? Wat nie vir ’n party wil stem wat geen kans sal hê om die ANC te onttroon nie?

“Ons kan maar net vir kiesers eerlik sê: Jammer, ons het verbrou, ons sal jul vertroue probeer terugwen. Maar ons gaan nié die party skuif na ’n soort regsgesinde groepering nie. Die waardes en beginsels van ’n rasionele sentristiese party is die beste beskerming teen die onbeheerste nasionalisme van die ANC en EFF.”

Vertroue neem tyd, is sy antwoord op die DA se swak tussenverkiesingsuitslae sedert die Mei-verkiesing. Hy wys na Stephen Covey se The Speed of Trust in die boekrak.

Vir sy ou kamerade Herman Mashaba en Mmusi Maimane se geluide oor ’n nuwe party het Steenhuisen net een woord: “Voorspoed. Hulle gaan nie swart steun wegkalwe van die DA nie. Kyk wat het met Agang gebeur. Selfs Patricia de Lille se Good-party het ondanks haar groot openbare profiel net twee setels in die parlement.”

Steenhuisen is steeds giftig oor die Instituut vir Rasseverhoudinge (IRV) wat wou hê die Wes-Kaapse premier, Alan Winde, moet DA-leier word.

“Hulle moet besluit of hulle ’n politieke party of ’n instituut is, van hulle is gefrustreerde politici.”

En dis nie wat Gwen Ngwenya, die DA se gewese beleidshoof wat Maimane destyds by die IRV gaan werf het, is nie?

“Natuurlik wil ons haar terughê om met beleid te help, sy is ’n talentvolle jong swart Suid-Afrikaner wat as ware liberaal die DA-projek verstaan. Maar sy gaan nie terugkom as politikus nie.

“Mmusi het destyds ’n fout begaan om haar parlement toe te bring. Die DA-amptenare het haar nie vertrou nie, die koukus ook nie. As jy beleid ontwikkel, ontwikkel jy beleid. Die feit dat Geordin Hill-Lewis LP én Mmusi se personeelhoof was, was ook ’n probleem.”

En nou, vyf jaar later, is die DA se era van ANC-lite-wees uiteindelik verby, sê Steenhuisen terwyl ons uitstap.

The unbearable lightness of being DA.

“Ons het probeer om meer ANC te wees as die ANC. Vir die eerste keer in vyf jaar is daar nou ’n ander narratief as die ANC s’n. Reeds die afgelope week was daar weer debat oor die ANC se rasgebaseerde ideologie en die DA se nierassigheid.”

Hulle is nie white denialists wat oë toeknyp vir ras nie, antwoord hy nog voor ek vra. Mense gaan tog nie vir nóg 25 jaar die ANC-rasnarratief sluk nie.

“Swart ekonomiese bemagtiging en regstellende aksie het niks gedoen vir die 30 miljoen mense wat steeds vasgevang is in armoede nie. Die NSFAS en Sassa teiken die werklike behoeftiges, anders as SEB en regstellende aksie wat middelklas- swart Suid-Afrikaners oor en oor herbemagtig,” sê hy vol drif.

Ons groet onder Helen Suzman se skildery by sy kantoor-ingang. Sy betrag ons statig.

“Helen Suzman, Alan Paton, Jannie Hofmeyr en soveel ander het gewys jy hoef nie ’n sekere manier te lyk en te praat om op te kom vir die gemarginaliseerdes in ons samelewing nie.

“Suzman was nooit ’n politieke gevangene op Robbeneiland nie, maar dié klein Joodse vroutjie van Houghton het net so hard baklei vir ons nuwe demokrasie.

“Die skarniere van die geskiedenis is dikwels gedraai deur die mees onwaarskynlike karakters.”

Hy sê dit nie. Maar die sin hang in die lug: Hou my dop.

Meer oor:  John Steenhuisen  |  Da
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.