Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Hanlie Retief gesels met Julia Albu

Soos ’n wafferse plakkaatpop lê sy uitgestrek op die kap van ’n Toyota. Die glimlag wit, sjampanje in haar glas, Afrika aan haar voete.

In Soedan, met ’n piramide agter haar. Op dié deel van haar reis was daar nie familielede saam nie, dit was net sy en Tracy, haar getroue Toyota Conquest. Foto: Verskaf

’n Mens kan nie ophou glimlag vir dié foto nie.

Want Julia Albu is verby 80 en haar getroue, vaalverbleikte Toyota Conquest genaamd Tracy is verby 20.

Die voete het knobbels, die kar het myle.

Met 100 jaar se gesamentlike lewenservaring – én ’n paar nuwe vonkproppe – het dié twee laas jaar vertrek op die avontuur van ’n leeftyd.

Afrika.

Van die Kaap tot Kaïro tót in Londen waar hulle, tsk-tsk, die koningin se tee en skons in Buckingham-paleis gemis het. Maar watwou, nou “doen” hulle sommer Europa.

Sy en Tracy het alleen deur die Sahara-woestyn en oral langs die pad vriende gemaak.

Afrika was nog altyd op Julia se emmerskoplys. Maar toe wórd Afrika haar emmerskoplys, grap sy.

“Almal het alzheimers vermoed toe ek laas jaar gesê het ek wil met ’n 1997-Conquest (profetiese naam, daai) met 400 000 km op die meter dié tog aanpak.”

Julia se ekspedisie is oudpres. Zuma se skuld. Toe sy hoor Zuma koop jaarliks nuwe karre vir sy vroue, het sy haar opgeruk en dadelik vir John May­tham op CapeTalk gebel en oor radio aangekondig sy en Tracy kan dalk myle hê, en ’n plat beursie, maar hulle het nog genoeg lewe vir Afrika.

Ja, sug Julia se jongste dogter, Zambi Grimston, oor die telefoon toe ek haar later bel.

“Mum . . . Insufferable, wonderful, irritating, inspiring.”

En vergeet van haastig wees. In Afrika het jy al die tyd in die wêreld.

Toe die vier kinders en nege kleinkinders hoor Mum se nuutste neuk is om haar gemaklike afgetrede lewe in ’n see-uitsighuis op Jakkalsfontein, ’n landgoed naby Yzerfontein, te verruil vir Afrika se slaggate, het hulle ge-ja-ma in die hoop dat, as sy nie teenstand kry nie, sy later self sou afkoel.

Maar Julia Mary Albu het die pioniersgees van haar mynmagnaat-oupa, sir George Albu.

Dié was winkelassistent in Stuttafords in Kaapstad voordat diamante en goud hom ’n Randlord gemaak het. Sy General Mining & Finance Company het later Gencor geword en is vandag BHP Billiton.

By die Giraffe Manor buite Nairobi kom kyk ’n kameelperd soggens deur jou kamervenster wat jy eet.

Die reaksie op Julia se radio-inbel was só groot, voor sy haar oë kon uitvee, het sy nuwe skokbrekers, ses bande en tonne oorland-wenke gehad.

“Ek het gedink ’n mens kan skokbrekers in jou handsak gooi. Dis ’n leerkurwe wat nie ophou nie, jy leer van doeane en carnet-kaarte én jy leer hoe om voluit te leef.”

Dié ouma se ekspedisiestyl is ook nie wet wipes en gevriesdroogde kos in Zip­loc-sakkies nie. Sy reis in styl.

In die Simienberge in Ethiopië het Julia ’n dag deurgebring tussen die ape en Gelada-bobbejane. Sy het as kind ’n bobbejaan gehad, en dit was ’n spesiale dag vir haar.

Tracy se binnekant is oorgetrek in ’n ontwerpersvriendin se vrolike blom-materiaal, met bloedrooi vloermatte.

Van alles wat sy ingepak het – koekies vir kinders langs die pad, kampbed, muskietnet, flits, verekussing en duvet – is sy steeds die dankbaarste oor haar warmwatersak.

Zambi het haar ma op die eerste skof tot in Zambië vergesel.

“Op haar 80ste verjaardag, 13 Junie 2017, stop sy 06:00 die oggend in gietende reën voor my huis in Claremont om my op te laai. Die reën was so erg, die ruitveërs het amper nie gewerk nie. Toe slaat ons die skoolverkeer. Hoe gaan ons by Londen uitkom, ons kom nie eens uit Nuweland nie, het ek nog gebrom . . .

“Deur die Karoo het Mum langs my gesit en tjank, skielik oorweldig deur wat voorlê.”

Uitgeput deur die hitte by die soutmyne in die Danakil-woestyn op die grens tussen Ethiopië en Soedan.

Toe verdwaal die twee boonop in Kimberley.

Eers nadat ’n Harley-Davidson-klub hulle die volgende oggend brullend uit Johannesburg ge-bon voyage het, het Afrika begin wink.

Nou, ’n jaar en ’n leeftyd later, is Julia en Tracy op hul terugreis.

Sy gesels met ons uit Montpellier, Frankryk. Haar kleinseun, Adam, reis ’n ent saam. Dis nou Driving Granny, nié Miss Daisy nie, lag sy. En soms gryp sy die vlugsout as Adam hom verbeel dis Driving Le Mans.

’n Bietjie afsaal in Kenia, met ’n Masai-wag wat toekyk.

Hulle moes vanoggend vir arme Tracy aan die brand stoot. Ook haar battery was pap . . .

“Adam wou nie hê ek moet help stoot nie, maar vervlaks, ek is nog nie dood nie.”

Voor hulle lê Switserland, Italië en dan moet Julia blitsig vir ’n paar dae huis toe vlieg om haar mediese fonds te hernu. “Nét oor ek moet, want die oomblik as jy 80 word, reken die fonds-mense jy behoort dood te wees.”

Tracy word uit Italië verskeep Alexandrië toe, waar Julia weer by haar sal aansluit vir die terugtog.

Die kattebak is vol speelgoed vir ’n weeshuis in Lalibela, Ethiopië. Sy wil ook sonbrille gaan aflaai vir die soutmynwerkers in die Danakil-woestyn in Noord-Ethiopië, “want hulle raak blind van die weerkaatsing van die son op die sout”.

Julia se familie reis sover meestal saam, maar op die uitdagendste ekskursie deur Ethiopië en Soedan tot by Khartoem was sy vingeralleen.

Julia het op 6 Junie in Londen – 12 000 km verder – aangekom

“Ek sal dit altyd onthou: Ek en Tracy in die middel van daardie wye woestyn. Die kleure, die sand . . . dit het my asem weggeslaan.”

Tuis het haar kinders naels gekou, want Mum se roetebeplanning is om die karruit af te draai en te vra: Hoe loop die pad Khartoem toe?

Julia het twee “heerlike” nagte saam met sewe Egiptenare in ’n kafeteria op die grens deurgebring terwyl sy moes wag vir ’n carnet – ’n kar-paspoort.

“22:00 die aand word ek wakker geskud. Ek dog o koekemakranka . . . wat nóú? Toe is dit net ’n liewe man wat vir my koffie bring.

“In daardie twee kafeteria-dae het ek en sewe Egiptenare sonder woorde presies geweet wat die ander bedoel.”

Dis Afrika se groot les: Wat werklik tel, is hoe jy met mense omgaan. Lyk jy bang of kwaad of opstêrs, werk dinge nie vir jou uit nie.

“En vergeet van haastig wees. In Afrika het jy al die tyd in die wêreld.”

Leeftye.

Die drie dae verniet in ’n hotel in Dar-es-Salaam wat drie weke geword het.

Op die Simienberge in Noord-Ethiopië. Foto: Verskaf

Die vier Ethiopiese professore in ’n nederige kerkhotel wat haar beskerm-engele geword het. “Ek het hulle Mattheus, Markus, Lukas en Johannes gedoop.”

Die twee Suid-Afrikaanse bom-ontlonters iewers in die Soedan-woestyn wat vir haar ’n bord kos én $200 gegee het vir Tracy se verskeping.

Zambi sê die saamry met haar ma was vir elke familielid soos kosbare kuiers op ’n tweesitplek-rusbank.

Saam met haar het hulle die vryheid van die langpad leer ken.

Dis daai opwinding van nie weet wat om die volgende draai wag nie, vertel Julia.

“Deur jou karruit sien jy Kenia, groen en geil. Ethiopië is soos om die Bybel binne te stap, Soedan is beeldskone woestyn, Egipte kliphard en taai. Ek het my hart verloor in Malawi. Verskriklike armoede, maar niemand sit en niksdoen nie. ’n Seun het ’n stok met gebraaide rotte aan my probeer verkoop.” (Afrika het van Julia ’n vegetariër gemaak.)

Sy kan nie aan een benoude oomblik op haar reis dink nie. Onthou net vaagweg die “really dreadful” situasie in Noord-Soedan nadat sy ’n sjarmante ryloper opgelaai het.

By ’n beheerpunt het die polisie hom uit Tracy geboender. Ná ’n oor-en-weer-geskreëry is Julia bekaf alleen verder. “Ek besef nou dit was verkeerd om hom op te laai, hy kon ’n terroris gewees het. Hy was eintlik net sjarmant.

“As jy reis moet jy nierassisties, nieseksisties en niereligieus wees. Hou ’n oop gemoed.

“Ek het net twee keer in my tent geslaap, want vreemdelinge het my heeltyd hul huise ingenooi. Genadiglik, want om op mý ouderdom by ’n tent in en uit te kruip, is ’n nagmerrie.”

Toe sy in trane uitbars op die grens tussen Kenia en Ethiopië omdat sy tien uur moes terugry Nairobi toe vir ’n visum, het die grensbeampte daarop aangedring om eers vir haar ’n “helluva” ontbyt te maak.

Nou nog kry sy oproepe van raakloop-kennisse wat sy op haar tog gemaak het. En almal vra: Wanneer sien ons jou weer, ouma?

“Wónderlik. Ek kan dalk nou platsak wees, maar ek is skatryk aan vriende. Een chap WhatsApp uit Egipte. Ek vra: Is jy die ou wat vir my ’n Koptiese kruis 02:00 die oggend op die lughawe in Kaïro gegee het? ‘Nee,’ kom die
WhatsApp terug, ‘ek is die ou wat jou instapkaartjie vir die vliegtuig gegee het!’ ”

Vier keer in ons onderhoud kondig Julia aan: Ek is van Afrika.

“Natuurlik is daar dinge wat my die horries gee, maar rêrig, ek is trots Suid-Afrikaans. Ek sê vir my kleinkinders: Vergeet Australië, vergeet Kanada, ek was nou deur Europa en daar is geen plek soos Afrika nie.”

Sy was nog nie ’n oomblik bang vir siek word nie. Drink net pille “soos Smarties” vir al haar krankemente.

“Meer pille as wat jy al warm ontbyte gehad het . . . Ek is te oud om bang te wees vir enigiets. Al wat nou met my kan gebeur, is doodgaan. Dis die wonderlikste, vreedsaamste gevoel.”

Mét ’n voorbehoud, hoor jy vinnig: Sy’s nog ver van gereed vir emmer skop. “Nou eers besef ek hoeveel ek nog wil doen, en hoe skrikwekkend min tyd oor is. Daar is ’n hele wye wêreld wat wag.”

Haar ma het al haar kwota swaarkry gehad, vertel Zambi. Op 40 was haar gemaklike lewe skielik verby toe haar man, ’n ryk sakeman, van haar skei.

“Vir die eerste keer in haar lewe moes sy werk. Drie van ons was nog op skool, sy moes haar sente omdraai. Maar sy het vir ons ’n nuwe, warm huis geskep.”

Julia het tot in haar 60’s bemarking gedoen, en toe saam met haar lewensmaat van 33 jaar op Jakkalsfontein kom aftree. Hy is onlangs oorlede.

Dis vreemd, sê Julia, hoe mens later besit word deur jou besittings. “Jy het niks nodig nie. Nie ’n díng nie. Al wat ek wil hê, is om vriende te maak. Dis al, werklik.”

Sy het Afrika verras, en Afrika het haar verras.

  • www.myafricanconquest.com. Julia ondersteun die liefdadigheidsprojek Shine Literacy op haar reis.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.