Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Hanlie Retief gesels met Kader Jacobs
Pagad staan weer op . . .

Niemand ken die uitsigloosheid van die Kaapse Vlakte beter as Kader Jacobs nie.

Kader is ’n kind van die Vlakte. Sy pa was ’n groentesmous en kleinjare het Kader saam die waentjie vol aartappels en uie verby die smokkelhuise help stoot. Hy het tussen die Mongrels en Jesters grootgeword, maar sy streng Moslem-opvoeding het hom bewaar, sê hy.

Kader Jacobs, voorsitter van die Gemeenskapspolisiëringsforum in Manenberg, ’n paar ure voor die weermag met hul Casspirs en Mambas die strate ingery het. Foto: Edrea du Toit

Op 15 was Kader sekretaris van Bridgetown se gemeenskapsorganisasie, want hy was al een wat kon lees en skryf. As jong patologie-tegnikus het hy by lykskouings forensiese bewyse vir hofsake voorberei. Hy het van dié dooie bendelede geken.

Later, as hoofchemikus by Caltex, het hy die Amerikaanse standaarde vir padbitumen aangepas vir plaaslike omstandighede. Van sy eksperimente is steeds in Amerikaanse handboeke opgeneem. “As jy vandag op ’n teerpad ry, ry jy op mý teer,” sê hy trots.

Al het hy ’n veeleisende, suksesvolle loopbaan gehad, het hy nooit sy gemeenskap versaak nie, hy was steeds Saterdae langs die sokkerveld as ’n St John-noodhulpsersant, steeds betrokke by die kinderhuis.

Smiddae het hy die Straight Talk-program by die gemeenskapsradiostasie aangebied en die ma’s se noodkrete gehoor as hul kinders vasval in die greep van dwelms en bendes.

“Ek het ’n brief uit Hanover Park voorgelees waar ’n man gesê het: kom ons hou op om die bendes se nonsens te vat. En toe gaan die sluise oop, die mense het mal gebel. Ek sê toe kom ons stig ’n komitee, en dis hoe Pagad (People Against Gangsterism and Drugs) gebore is.

Die bendes rook nou maar chill pill vir die maand of drie voor die Casspirs uitrol.

“Dit was letterlik ’n hele gemeenskap wat opstaan. Ons sou voor dwelmverkopers se huise parkeer en só hul besigheid choke want dan kom koop niemand daar nie. Ons het aan hul huise gaan klop en hulle gewaarsku.

“Maar toe word Pagad geïnfiltreer deur kwaadwilliges met hul eie gewelddadige agendas. Hulle het stil-stil ’n klomp bendeleiers uitgewis, maar toe slaan die gangsters terug en vermoor ook Pagad-ouens, onder wie ’n klomp van my vriende.

“Ek was daar toe Rashaad Staggie van die Hard Livings aan die brand gesteek is. Hulle het by sy huis gaan klop, en toe kom hy later windgat daar aan met sy Ssangyong Musso, hy’t mos gedink hy’s rêrig die main ouk. Hy was foolish om alleen te kom. Ek was bý sy deur toe hy uitgeklim het. Hy’t probeer sterk wees, maar is oorrompel en een ou het na die garage oorkant die pad gehol vir petrol en toe steek hulle hom aan die brand. Toe begin die gangsters skiet en ek moes die vrouens en kinders daar wegkry terwyl die koeëls rondvlieg.

Kader Jacobs het gedurende sy diensjare by Caltex ’n goud- en silwer-prestasieprys ontvang.

“Toe dinge onwettig begin raak in Pagad, het ek onttrek. Dis jammer, want dit was die gemeenskap se enigste opsie, ons eie opstand.

“Ons is nou weer by daardie punt dat die mense sê die probleme is só oorweldigend, ons is so siek vir die staat se onvermoë om in te gryp, kom ons veg maar weer geweld met geweld.

“Sê nou die weermag help nie? Wat gaan gebeur as mense sê nee wat, al pad is geweld? Die woede is groot onder ons mense. Dit raak gevaarlik.”

Pagad is weer aan die opstaan, sê hy. Abdus Salaam Ebrahim, hul leier wat jare in die tronk was, mobiliseer weer. Maar dié keer, sê Kader, wil Pagad vreedsaam mobiliseer.

“Dis die ou Pagad voor geweld ingekruip het. As voorsitter van die gemeenskapspolisieforum is ek besig om Pagad en die polisie se bende-eenheid met mekaar te laat praat.”

“Hier is ek in 1968 in Kaapstad, afgeneem deur ’n straatfotograaf.”

Hier waar ons sit in die Manenberg-polisiestasie se raadskamer, praat hy so vurig, sy grys baard bewe.

Die enigste ouens vir wie die bendelede nog ooit bang was, was Pagad se G-Force, die ouens met die guns, vertel Kader.

“Die gangsters is smarter as die polisie, hulle outwit die polisie wholesale. Ná die stigting van die bende-eenheid in November, was daar vir ’n paar maande omtrent geen misdaad nie. Maar wat doen die bendes toe? Presies wat ek al ’n jaar terug voorspel het: Hulle begin die polisie aanvat, dis hoekom soveel polisielede vermoor is. Die polisie ry die hot spots in met hul tinfoelie-vans en word vol gáte geskiet. Hulle het van die lede omgekoop, die gangs kry sommer al die inligting uit die hart van die bende-eenheid, finish en klaar. Binne twee maande is drie lede van die eenheid van korrupsie aangekla.

“Sedert die bende-eenheid in November gestig is, is 2 020 mense dood in bendegeweld, en die afgelope naweek is 43 net in Manenberg dood. Dis oorlog hier. En die bendes hardloop sirkels om die polisie.”

Toe Kader in 2010 afgetree het as hoof van Air BP se verskaffing- en logistiek-afdeling vir Afrika, het hy voltyds gemeenskapswerk begin doen.

“Hoe oud dink julle is ek?” vra hy met ’n glimlag. “Ek is 71, en baie gesond, want ek het arm grootgeword sonder swiets en gaskoeldrank. Wat my aan die gang hou, is passie vir die gemeenskap.”

Sy oë het al so baie gesien, sê Kader terwyl hy ons met sy kar Manenberg invat om te gaan wys waar die bendes vir hulle dik hou, oorkant die Junction waar ’n dwaalkoeël die 22-jarige Tasneem Simons laasnaweek kom haal het terwyl sy wasgoed opgehang het. Deur Die Laan, “die main street vir activity,” met sy sirkel met die verwaaide palmboom, verby Irvinestraat en Great Fish-laan, verby die berugte Renosterstraat, ’n smal straat waar jy kan in maar nie weer kan uit nie, want diékant is die Hard Livings en dááikant die Americans en hulle skuur maar altyd aan mekaar.

“Die ergste vir my was toe drie gangsters in drie strate langs mekaar een ná die ander doodgeskiet is. Die bende het die eerste gangster-opponent geskiet, oorgehardloop na die tweede straat, die tweede een daar geskiet, en toe die derde een in die volgende straat gaan afmaai. Binne drie minute. Toe ek by die eerste ou kom, het hy nog bietjie asemgehaal. Sy suster het bo-oor hom gehuil en gesê: Ons het geweet jy gaan doodgaan, maar hulle moes jou nie só doodgemaak het nie . . .”

Hy sug, trek sy skouers ’n bietjie op, daar agter die stuurwiel. “Elke gangster weet hy het ’n koeël wat vir hom wag.”

Dit verstom hom altyd hoe die kinders uithardloop as die skietery begin, nuuskierig, terwyl die ma’s skree: kom in, kóm ín. En dan vang die dwaal­koeëls hulle, soos die arme drie skoolseuns vroeër in die week. Die een is intussen in die hospitaal dood.

Dis vir Kader wat die gemeenskap bel as die polisie nie help nie, soos laasnag toe daar ses insidente net in Manenberg was, en die polisiestasie nie hul telefoon geantwoord het nie.

“Ek het genl. Jula (lt.genl. Khombinkosi Jula, Wes-Kaapse kommissaris) gebel en gesê: bel self, traai jý nou deurkom. Hy kon nie en toe kom hy en ’n ander generaal self hier aangery. Toe is die gort behoorlik gaar.”

Hulle noem die polisielede wat uit die Oos-Kaap kom die ATM’s, “want hulle wag net vir pay day. Net by dié stasie is daar tans 14 dissiplinêre sake, met drie lede afgedank. Die korrupsievlakke draai by die 60% rond. Die nuwe rekrute uit die Oos-Kaap word maklik omgekoop deur die bendes, want hulle is arm en die R5 000-stilblygeld is ’n meevaller, want hulle kom nie deur met hul polisiesalarisse nie. Ergste, hierdie ouens weier om na sekere gangsters se huise te gaan, want hulle is op hul payroll.”

Korrupte polisiemanne het tydens ’n operasie een van hul eerlike kollegas vir die gangsters agtergelos, weggehol en toe raak hy geskiet, vertel Kader. Die koeël is verby sy hart tot in sy long, waar dit steeds is. Hy het die polisie verlaat. Opod ondersoek die saak.

“Ja, mens kan moewies van hierdie plek maak, rillers,” sê Kader terwyl ons stilhou vir nog ’n foto. Die outjies wat in die straat sokker speel, kom staan nader om vir uncle Kader hallo te sê. Hy belowe plegtig hy sal Saterdag die game kom kyk. “Julle moet kwaai speel, hoor.”

En vir ons, uitasem van frustrasie: “Hoe kan hier in Manenberg net een sokkerveld en net een swembad wees vir 125 000 mense? Polisiëring is maar net ’n deel van die Vlakte se probleme. Die akademici wat hier toesak met hul navorsing wys die eintlike ding: haglike maatskaplike omstandighede.”

Hy hou stil by ’n woonstelblok. Oorkant verkoop hulle snoekkoppe uit ’n woonwa. Dis die Clever Kids se gebied. Ons behoort hier veilig te wees, sê hy nét toe een ou ons in die binnehof vanonder sy hoodie beloer, ’n wapen oop en bloot in sy hand.

“Jy sien dié blok? Hier’s 50 woonstelle, met vier, vyf gesinne in elkeen, so hier is omtrent ’n duisend kinders net in hierdie blok, kinders vol asma van al die gerokery, maar Manenberg se hospitaal is toe. Die flats se waterpype bars, vullisverwyderaars cope nie, 80% van die mense is werkloos, die kinders rob die tannies van hul Sassa-geld, Sassa-tyd is hel vir die ou mense,” ryg Kader een lang string hopeloosheid uit in een sin.

“Hierdie hele plek is getraumatiseerd, selfs die polieste is getraumatiseerd, Manenberg se bevelvoerder is op vroeë pensioen en toe kry hy ’n hartaanval in sy eerste aftredeweek.”

By ’n laerskool het hy vir die gr. 7’s gevra om kop op die hande op die banke te lê, toe-oog. Wie van julle is Americans? ’n Paar het hande opgesteek. Wie is Hard Livings? ’n Paar hande. Clever Kids, ’n klompie. “En wie is nie betrokke by enige bende nie? Net drie kinders. Drié in ’n láérskool . . . By die hoërskool was nie een kind nié betrokke by ’n bende nie.

“Die vlak van trauma wat by Manenberg-polisiestasie inkom, dis . . . ons het goeie beraders, maar die bloedskande, broer verkrag suster, oupa verkrag kleinkind, dit gebeur heeltyd, en mense het natuurlik keuses, maar hulle bly vreeslik opmekaar. Maar steeds, het ons ons menslikheid só verloor dat iemand bereid is om sy kleindogter te gryp? Is dit só sleg?”

Die weermag gaan nou seker iets regkry vir ’n rukkie. Die mense loop klaar bietjie regopper, die kinders speel buite, die anties praat by die wasgoedlyne. Die bendes rook nou maar chill pill vir die maand of drie voor die Casspirs en Mambas weer hier uitrol.

“Tydelike oplossings. Hulle was gister maar net twee ure hier, en toe los hulle ons weer in ons verlatenheid.”

Kader Jacobs ken die silver bullet vir die bendes. Hy’s nie verniet ’n kenner van logistiek nie. “Draai die dwelmkraan toe, neutraliseer die merchants, keer dat hierdie hope R1’s en R5’s uit polisie- en weermagmagasyne gesteel word.

“Kom ons maak saam ’n plan om hierdie uitgerafelde gemeenskap op te hef. Fênsie gestel: volg ’n geïntegreerde benadering, verbeter maatskaplike dienste . . . Almal wat iets weet van gemeenskapskohesie, tree aan asseblief.”

Kader Jacobs ken die verlatenheid van die Kaapse Vlakte, van niemand gee om nie, ná baie jare, optogte en geskree het niks nog gebeur nie. Behalwe vir die enkeles wat alles gee. Soos hy.

“Daai verlatenheid. Ja. Maar ons het darem nog altyd een ding gehad, hierso. Ons het hoop, ons hoop.”

Meer oor:  Kader Jacobs  |  Kaapse Vlakte  |  Bendegeweld  |  Pagad
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.