Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Hanlie Retief gesels met kapt. Ben Booysen oor gruwelvrou

Hof 2 D. Die hooggeregshof in Johannesburg. 08:00.

Kapt. Ben Booysen, topspeurder by die Valke, is eerste hier. Die hof is nog leeg. Hy pak wapens op die tafel uit. Bewysstukke.

Jy kan hom deur ’n ring trek. Goue mansjetknope, goue dasspeld en clip-ons aan sy hempskrae. Klein FBI-wapentjie. Nege-mil paraat in die holster.

Die meestermanipuleerder Cecilia Steyn. Regs sit Marcel Steyn, haar vriendin se dogter.Foto: Deon Raath

“My vrou sê ek titivate meer as sy,” spot hy, soos heeltyd, met homself.

Twee jaar lank het hierdie saak Ben Booysen se lewe oorgeneem. Hy’t nagte deurgewerk voor sy deurbraak om die verband te trek tussen die wraak- en afspraakmoorde.

Niks hou hom nou uit hierdie hof nie, nie eens ernstige gesondheidsprobleme nie.

Cecilia Steyn dink waarskynlik sy’s die slimste in daardie hof, en maak heeltyd notas, vertel ’n staatsgetuie wat haar goed ken. Foto: Deon Raath

Hy swaai sy arm beskuldigdebank toe, waar Cecilia Steyn, die vermeende baasbrein agter die 11 moorde, netnou gaan sit.

“Sy’s g’n Bruid van Satan nie. Sy’s net jou gewone huisvrou-psigopaat wat te veel gruwelflieks gekyk en toe satanisme kwaai opgeswot het. Nou noem sy haarself ’n 42ste graadse heks en afstammeling van die farao Ramses II en mense vreet dit vir soetkoek op. Dis als net truuks.”

Tydens die “hoë nagte” van die sataniese kalender – die Krugersdorp-weergawe – lê Cecilia op die grond en rondkrul met bloed wat uit haar mond stroom. Marinda Steyn (Cecilia se groupie wat klaar in die tronk is) blaas wild op ’n ramshoring terwyl almal histeries bid en vir die duiwel skree: Los vir C!

Cecilia Steyn se agterkop. Foto: Hanlie Retief

Vir die bloed-truuk, is getuig, het Cecilia stilletjies met ’n spuitnaald haar eie bloed getrek, dit in die vingers van skottelgoed-handskoene toegeknoop, en dit stukkend gebyt.

Meestermanipuleerder, eggo kapt. Booysen die getuies. Onder die Christenmense wat so gemesmeraais is deur haar Know your enemy-kursus, was prokureurs en sakemanne.

Cecilia word in die tronk se hospitaalseksie aangehou. Smart girl, sê iemand wat weet, “sy’t vir haar ’n rustige tydjie ge-organise. Sy beraad nou fluks medegevangenes en het ’n girlfriend, ’n mooi swart girl. Hierdie vrou manipuleer tot in die tronk.”

Zak Valentine Foto: Deon Raath

09:55.

Suid-Afrika se eerste vriende-en-familie-reeksmoordgroep loop die 13 hoftrappe op.

Voor is Zak Valentine, geelbleek, kaalkop, voete in kettings. Dié oud-finansiële raadgewer by Discovery het glo berserk gegaan toe die arme Meyer-egpaar niks geld in hul spoghuis gehad het nie. Toe moor hy nie net nie, hy vermink hulle. Overkill frenzy, noem kapt. Booysen dit. “Dis so erg, ek weier om daai foto’s te wys.”

Sy’s g’n Bruid van Satan nie. Sy’s net jou gewone huisvrou-psigopaat.

Volgende is Cecilia Steyn. Haar hare sien jy eerste, krimpvarkpennetjies op pad poenskop toe.

Laaste volg die 21-jarige Marcel Steyn, wat in matriek nie net ses onderskeidings gekry het nie, maar ook betrokke was by drie moorde. Haar bloeskraag is gekreukel. Hare in ’n bolla gedruk. Kruisie om haar nek.

“Sy moes skuldig gepleit het,” sê ’n advokaat. “Sy was maar 14 met die eerste moord, sy sou nie ’n dag gesit het nie. Tragies.”

Dié nota het by Ria Grunewald se voordeur vir haar gewag toe sy op pad was na pastoor Reg Bendixen se begrafnis.

Vandag is ’n hoë dag in Hof D.

’n Roering kom tussen Zak, Cecilia en Marcel toe Ria Grunewald, die staat se sleutelgetuie, instap. Sy het jare lank anoniem weggekruip. Dis die eerste keer dat sy Cecilia-hulle weer sien. Sy lyk bleek, gespanne. Geen foto’s van haar mag gepubliseer word nie.

Ria was die leier van die Christen-bediening Overcomers Through Christ (OTC), wat Cecilia as “bekeerde satanis” probeer help het.

Ria Grunewald troos die driejarige Anja, een van Cecilia Steyn se 100 persoonlikhede.

Cecilia se satanis-ma het haar kwansuis per brief aan Ria afgeteken. Ria kry toe nie net Cecilia nie, maar word mammie vir ’n leerskare persoonlikhede wat glo binne Cecilia skuil.

Die wrede Akeesha, handige Daphne, Anjatjie wat nog tietbottie drink en op mamma Ria se skoot doedoe . . . En 97 ander.

Die staat getuig die moorde op Natacha Burger en pastoor Reg Bendixen was as weerwraak nadat die ontnugterde, uitgeputte Ria haar vriendskap met Cecilia beëindig het.

Natacha was Ria se vertroueling. Reg Bendixen, Ria se mentor, was onbewus van die Cecilia-deel in Ria se lewe.

Marcel Steyn probeer geld trek by ’n kitsbank met een van die slagoffers se bankkaarte.

Ria begin haar getuienis in trane oor Bendixen. Raak ’n tweede keer aangedaan toe sy reguit vir Marcel kyk en vertel watter “amazing kinders” sy en haar broer was. Hulle was toe agt en tien.

Vir ’n oomblik lyk Marcel ontsteld voor haar gesig weer ingly in neutraal.

Zak sit arms gevou en suig ’n Halls-lekker.

Die veroordeelde Le Roux Steyn probeer geld trek by ’n kitsbank met een van die slagoffers se bankkaarte. Hy het later staatsgetuie geword.

By Cecilia het Ria van satanisme geleer deur gruwelflieks soos Saw en Friday the 13th.

Die kersie op die koek: Cecilia en Satan se huwelik. Ria moet die trouformulier in die hof voorlees. Los maar die Arabiese dele, stel adv. Roberts haar gerus.

Terwyl Ria lees hoe Satan ’n dolk deur Cecilia druk, skud Cecilia se notaboek soos haar hande bewe.

A chalice filled with blood, lees Ria en Zak kners so hard op sy tande sy wange klop hier langs sy ore.

Candice Rijavec, staatsgetuie. Cecilia het haar finansieel leeggetap, het sy getuig. Foto: Deon Raath

Ria sukkel sonder haar leesbril. Sy misgis die woord

lust vir trust.

Dit eindig in ’n klimaks: Do you, Lord Satan take Lady Cecilia to be thy lover and companion . . . do you Lady Cecilia . . . en met die Duiwel en sy Bruid ewe skielik Britse adel, raak dinge vir ’n oomblik Game of Thrones.

“Op hierdie hoë noot verdaag ons,” sê adv. Gerrit Roberts en regter Ellem Jacob Francis antwoord geamuseerd: “Amper dog ek jy sê op hierdie hoë nag . . .”

Voordat hy die trappe afstap selle toe, gaan staan Zak Valentine voor my stil. Hy kyk my in die oë, lig sy wenkbroue uitdagend en gee ’n mislike glimlag. Rillings rol by my rug af. “Dít was ’n eyeball, daai,” sê ’n joernalis.

Buite in die gang staan die oorblufte familielede van die slagoffers. Dag ná dag sit hulle in die hofbanke en probeer sin maak van die sinnelose moorde op hul geliefdes.

Maar net op die verkeerde tyd op die verkeerde plek: die innemende eiendomsagent Hanlé Lategan wat vir

“kliënte” huise wou gaan wys, die versekeringsmakelaars Anthony Scholefield en Kevin McAlpine wat polisse wou verkoop . . .

“Hulle gaan so aan oor satanisme, maar wat van die slagoffers?” sê Kevin se ma, Lynette. Kevin was net 32, sy vrou was swanger. “Dis scary om te dink my kind is deur die duiwel vermoor.”

Chris, Kevin se pa, het nog vrae. “Ek het darem nou gehoor hoekom daar soveel bloed in sy BMW se kattebak was. Hulle het my seun dubbel gevou om in ’n asblik te gooi. Hy is vermoor vir sy selfoon en R3 000.”

Ja, sê kapt. Booysen, “hulle is vir fricking peanuts doodgemaak. Belaglike, stupid moorde.”

Die staatsgetuie Candice Rijavec, ’n suksesvolle grafiese ontwerper, en Cecilia was van 2006 af vier jaar lank mekaar se besties. Hulle het mekaar Poekie genoem. Candice moes altyd presies soos Cecilia lyk. “As ek in ’n wit T-hemp daar aankom en sy dra swart, moes ek gaan omruil.”

Poekie 2 was Poekie 1 se melkkoei. Candice het tot R100 000 ’n maand opgedok vir Cecilia se “mediese onkostes”. “Sy’t byna daagliks gesterf aan niks. Utter nonsense.”

Dié geld het Cecilia glo geblaas op ’n vierwielmotorfiets, TV, drank en wilde kuiers by Limelight. Toe 25 van die “wêreld se giftigste slange” Cecilia pik, moes Candice opdok vir antiserum.

Nee, regter, ek het geen bytmerke gesien nie.

Nee, regter, ek het ook nie gesien hoe haar vampiertande groei nie.

Ja, regter, ek is vreeslik gullible . . .

“Dis alles truuks. Sy’t net ’n manier om jou in te suig. Sy isoleer jou, gebruik jou swakplekke en druk die knoppies op jou onsekerhede en traumas.”

Kyk hoe sit sy daar, sis Candice later langs my in die hofbank. Jy sien die tattoe op Cecilia se bleek nek: Ancient of Days.

“Straatverkopers het altyd gedink sy’s ’n man, dan raak sy woedend. Sy is biseksueel; sy en Marinda het tussendeur ’n ding aangehad.”

En: “Het jy gesien hoeveel bleker lyk Zak nadat ek getuig het hoe Cecilia my finansieel leeggesuig het? Zak het seker besef hy was die nuwe melkkoei.”

Ons lag oor adv. Roberts se droë vraag vroeër: Is Cecilia se astra-reise beperk tot Krugersdorp? En toe ’n fluister uit ’n hofbank: Hoekom astra sy nie haarself met haar besem uit die tronk nie?

Ria getuig hoe alle hel losgebars het toe sy haar van Cecilia onttrek het. Eers gesnyde bande, ’n pastoor wat met ’n wapen teen sy nek gedreig is, tuisgemaakte karbomme wat by haar Woensdag-gebedsgroep ontplof het.

Die dag voor Natacha Burger se moord het Ria vir Cecilia gaan sê: Ek kan nie meer jou ma wees nie, ek loop nou. Toe antwoord Cecilia: As jy dink die bomme was erg, nou gaan mense doodgaan. En: Ek weet waar jou seun Joshua nou bly . . .

Ure later het Zak Valentine en sy vrou, Mikeila, na bewering vir Natacha en haar buurvrou Joy Boonzaier keelaf-gesny.

Mikeila was glo so ontsteld, sy het uit die woonstel gehardloop. Toe sy uit die moordbende wou wegbreek, is sy wreedaardig, met meer as 60 steekwonde, vermoor.

Ria is daarna geteister met SMS’e: “O, Ria, kan jy die volgende een sien kom?” En: “Natacha het soos ’n vark geskree.”

13 Augustus 2012, 18:00 : “Hoop jy het koebaai gesê vir Reg.”

Histeries het sy die boodskap na Hennie de Jager van die okkulte-eenheid gestuur. Moenie worry nie, sy dreig jou net, het hy glo geantwoord.

’n Uur daarna is Bendixen vermoor.

Hoe het jy dit gevat? vra adv. Roberts. Sy begin huil, hande voor haar gesig. Die hof verdaag sodat sy kan kalmeer.

Terwyl die minute omtik, sit die drie roerloos in die beskuldigdebank, Cecilia koponderstebo. Hulle praat nie ’n woord met mekaar nie.

Terug in die getuiebank is Ria kalm, maar dan kom die trane weer. “Ek het God gevra hoekom het Hy my nie eerder gevat nie.”

’n Paar dae later, toe sy haar voordeur oopmaak op pad na Bendixen se begrafnis, lê daar ’n bebloede nota met die boodskap: This is all the doggies left you. Kry jou eie stukkie van Reg. Met ’n bebloede stuk orgaan op die nota.

“Dit het vir my soos breins gelyk.”

Die stuk vleis is getoets, sê een van die advokate later oor middagete. Blykbaar vark.

Ria bly nou in ’n ander stad onder ’n ander naam. Haar kinders het haar verwerp. Sy getuig: “Ria Grunewald is dood. Sy het alles verloor.”

Candice Rijavec het maande lank selfmoordneigings gehad.

Mev. Y, nog ’n getuie, se huwelik het verbrokkel, sy moes vlug vir haar lewe en was twee jaar lank in ’n getuiebeskermingsprogram.

Ek loop langs die beskuldigdebank die hof uit. Die drie sit daar. Uitdrukkingloos. Hoofkarakters in hul eie Little Shop of Horrors.

Dit was die perfekte storm, het iemand dit beskryf. Drie psigopate – Zak, Marinda, Cecilia – het ontmoet en toe bars alle hel los.

Wat hom die meeste ontstel, sê kapt. Booysen, is hoe twee onskuldige, talentvolle kinders, Marcel en Le Roux Steyn, se lewens verwoes is deur hul eie ma en vriendin. “Nie eens diere doen dit nie. Hy moes vier mense doodverwurg op sy ma se instruksie. In my 34 jaar as speurder is dit die ergste, wreedste, mees bisarre saak wat ek nog ondersoek het.

“Laat hulle sít.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.