Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Hanlie Retief gesels met kapt. Henk Prinsloo
‘Gaan sê vir wêreld ek is ’n vry man’

Die verhaal stort uit hom, hortend en huilend en rou.

Dis vier jaar, vier maande en vier dae nadat kapt. Henk Prinsloo in die beskuldigdebank gestaan het op aanklag van moord, maar die seer vir hierdie polisieman is ver van weggebêre.

“Uiteindelik is ek vry, uiteindelik kan ons lewe weer aangaan.” Kapt. Henk Prinsloo en sy vrou, Rhona, saam met hul dogter Marné in die straat buite hul huis in Parys. Foto’s: Deon Raath

Hy onthou elke oomblik asof dit voor hom afspeel, prentjie vir prentjie soos ’n fliek. Hy droom dit snags. Hy herleef dit bedags.

Henk is verlede week vrygespreek aan die moorde op twee plaasaanvallers, Samuel Tjixa en Simon Jubeba, in Januarie 2016. Sy vyf medebeskuldigdes in die opspraakwekkende Parys-6-hofsaak is skuldig bevind aan aanranding. Hulle was familielede van Loedie van der Westhuizen, die boer wat aangeval is.

In ’n sterk bewoorde uitspraak het regter Corné van Zyl gesê sy aanvaar geen van die getuienis teen Henk as geloofwaardig nie.

Gaan sê asseblief vir die wêreld Hendrik Jacobus Prinsloo is ’n vry man, sê hy verlede week, skor, steeds vol adrenalien ná die uitspraak.

“Jy is daar om jou werk te doen en twee, drie weke later sit jy in die tronk . . .”

Henk het langs die Vaalrivier in Parys grootgeword, seun van die stadsklerk. Hy reken mens word ’n “poliesman” gebore. Inwoners noem hom ’n “mense-mens”, so ’n teddiebeer-cop wat graag dad jokes vertel. Donderdae is daar veral in die ouetehuise op die dorp, en Parys het baie outehuise, ingeskakel vir sy gewilde veiligheidspraatjie op Koepel Stereo, die plaaslike radiostasie.

Ek het in die maanskyn daai Bybeltjie van voor tot agter gelees.

2016 het belowend begin vir die Prinsloos. Hul donkerkopkind Aliche was die Hoërskool Parys se hoofmeisie, en die kleintjie, die blondekoppie Marné, sing country soos ’n Texan gal.

6 Januarie was Henk se eerste dag terug by die werk ná ’n elmboog-operasie.

“Snaaks hoe die lewe werk. Ek wens so die dokter het my ’n dag langer afgeboek, dan’t ek al hierdie hel vrygespring.”

Toe die plaasaanval-noodroep vroegaand deurkom, het Henk die reaksieplan geaktiveer. As offisier is hy dadelik na die toneel.

“Toe ek daar kom, was albei aanvallers reeds deur die boere aangekeer. Hulle was agterop ’n boer se bakkie.’’

Henk sê hy het hulle gelawe, die een het van die water gedrink en hulle het met hom gepraat.

“Ek kon sien hulle is aangerand, hul oë was geswel en daar was droë bloed op hul lippe. Die een het ’n klein snytjie op die wang gehad, maar hul beserings het nie lewensgevaarlik gelyk nie.”

Toe die speurder opdaag, het Henk die toneel aan hom oorhandig en vertrek. In die hof is getuig dat die aanvallers met bloeiende kopwonde in die ambulans gelaai is. “Dit was definitief nie so toe ek daar weg is nie.”

“ ’n Mens word ’n poliesman gebore.”

’n Omstander, ’n oudreservis wat Henk moes afdank omdat hy nie sy verpligte vrywillige ure nagekom het volgens streng polisieregulasies nie, het Henk later by ’n uitkenningsparade uitgewys as een van dié wat by was tydens die aanrandings, met die aantyging dat hy hulle met ’n “bees-prodder” tussen die bene bygekom het. Die patoloog kon geen merke vind nie.

Dit het later in die hof uitgekom Henk het net ’n “flitsie, so dik soos my duim” gehad waarvan die skokfunksie nie gewerk het nie, want die battery was pap.

“Ek en my prokureur het later vir die Valke gaan sê as daar ’n lasbrief kom, bel net, ek sal by hul kantoor kom aanmeld.”

’n Paar dae later bel sy ma, wat smiddae na die kinders kyk, vir Henk by die werk en sê die Valke het reeds drie keer by hul huis verbygery en hulle staan op elke straathoek.

“Toe ek net voor vyf by die huis aankom, stop daar ses, sewe polieskarre met blou ligte en lang ‘gunne’ en hulle arresteer my voor my ma en my twee meisiekinners.

“Hulle ruk my uit my uniform, vat my lapelle en vuurwapens. Toe kom my vrou daar aan . . .” sy stem breek, “Marné hardloop die huis vol soos ’n hond wat geskrik het, Aliche, wat nooit lelik praat nie, skree op die kolonel hulle moet die regte ouens gaan vang en haar pa los.

“En die Hawks loop daar rond met hulle ‘gunne’ en deursoek ons huis, binne ons privaatheid in, en almal skree en ek probeer hulle rustig kry en vra die offisier of ek ’n gebed vir my gesin kan doen. En ons gaan sit in ’n kringetjie op die bed en ek bid, ‘Here, help my familie dat hulle rustig is’. Skuus man, nou tjank ek wragtig weer,” probeer hy briek, die woorde stortvloed.

“En iets sê vir my: bid tog vir die Hawks ook, en ek vra die Here laat hierdie ding wat nou met my gebeur net nooit oor hul pad kom nie. Een van die ouens het toe net uitgegaan en gaan huil daar in die gang.

Johan Cilliers sr., Johan Cilliers jr., Anton Loggerenberg en Boeta van der Westhuizen asook Kapt. Henk Prinsloo is aangekla van die moord op Samuel Tjixa en Simon Jubeba, wat verdink is van ’n aanval op die plaas van Loedie van der Westhuizen buite Parys. Foto: Deon Raath

“Hulle het my toe daar weg, geboei, en in Vredefort se polisieselle aangehou. Die sel was haglik. Hulle het vir my 20 liter water gegee en smalend gesê ek kan dit drink of die gemors in die verstopte toilet wegspoel.

“Gelukkig het ek my Biker’s Bybeltjie in die harwar ingepak. Daar was nie lig nie, maar ek het in die maanskyn daai Bybeltjie van voor tot agter en agter tot voor gelees.

“En dan dink ’n ou aan jou kinders. Jy gaan om jou werk te doen en nou sit jy in die selle.” Sê hy weer. “Dit was heeltemal absurd.

“Ek sê nie ek moes spesiale behandeling gekry het nie, nee, maar die maniér. Dit was asof hulle daarop uit was om my te verneder. Op daai stadium het die Valke ’n redelike skrikbewind op die dorp gevoer.”

Oor die stories dat die Valke hom in hegtenis geneem het omdat hulle in ’n doodloopstraat was, praat hy nie. Stories dat hulle op dié manier druk op die boere wou plaas om die ware skuldiges na vore te bring.

Henk het later in die hof getuig die reservis wat hom geïnkrimineer het, se diefstalklag is moontlik teruggetrek in ruil vir sy getuienis teen Henk.

“Die Valke het heeltyd daarop gehamer ek moet al die boere uitwys. Hulle het my beskuldig dat ek die boere probeer beskerm. Maar vier boere is uit mý verklaring gearresteer!

“Die saak was van dag een af ’n deurmekaarspul. Dis families teen mekaar. Baie ouens het stories opgemaak om hul bas te red.

“Ek wil nie eens daarop ingaan nie, dit maak my net ongelukkig om te dink ’n ou lieg so om jou eie bas te red.”

Die mense van Parys het hom deur die bank bly ondersteun.

“Heeltyd deur, ek kry nou nog oproepe, wyer ook uit Duitsland, Nieu-Seeland en Australië, kan jy glo.

“Eendag in die hof . . . dit was so stil, jy hoor net die duifies . . . toe brul daar ’n Kawa buite, en binne ’n paar tellings nog ’n klomp bikes wat ’n geraas maak. Hulle het van oral gekom vir ’n massa-optog verby die hof. Ek het nie gedink ’n motorfiets se geraas kan só gerusstellend wees nie.”

Dis die klein bietjies steun wat jou deurtrek, sê hy. Hoe sy bevelvoerders, brig. Morake en kol. Moloi, al die pad daar was vir hom. “Kol. Moloi het na ons huis gekom, en my vrou styf kom vashou,” kom die emosie weer.

“Ek kry die ander vyf beskuldigdes verskriklik jammer, ongeag wie en wat hulle is. Ek gun dit vir niemand, nie vir hulle nie en nie vir die twee oorledenes se ouers nie. Ek het met die een se ma in die hof gaan praat, vir haar gesê ek bid vir hulle. Wat kan ’n ou doen? Bíd.”

Veral die eerste jaar was baie swaar. Wanneer dinge stram geraak het in die huis, het Henk partykeer sommer in die motorhuis gaan sit om die spanning bietjie te verlig.

“Dinge het beter geraak toe ons gebedsgroep die vers behandel het wat sê mens moenie stres oor dinge wat jy nie kan verander nie. Sit dit in God se hande en gaan aan. Van toe af het ons gesin rustiger geraak.”

Maar tog.

“My oudste meisiekind het gordelroos gekry. Van die seuns wat in hegtenis geneem is, was saam met haar in matriek. Hoe verwerk kinders so ’n ding? Dis fight of lê.

“Aliche het met sielkunde en wiskunde op Potch begin, sy is begaafd in wiskunde. Sy het toe onderwys gaan studeer, die hofsaak het haar toekoms in ’n ander rigting gedruk.”

In Marné se gr. 11-jaar het sy vier medaljes, waarvan twee goud was, in Talent America gewen. “Maar op pad terug van Amerika, toe die doeane-ouens met hul donkerbrille haar bagasie deursoek, het haar verbeelding op hol gegaan en sy het net ingegee. Sy was vas oortuig dis die FBI wat haar wil ondervra oor haar pa toegesluit is vir moord. Hier by ons doeane het dieselfde gebeur. Toe ons haar op die lughawe inwag, het sy ons nie eens herken nie, spierwit, verbouereerd soos ’n gans wat weerlig gesien het.”

Marné kry steeds sielkundige behandeling, sy leer nou om ’n haarkapper te word.

“Rhona, my vrou, is die stil een, maar in haar stilgeit het sy ons almal bymekaar gehou.”

Henk moes sy dogter se studiepolis vir sy regskoste gebruik en ’n tweede verband op sy huis uitneem. “Sjoe, ek betaal nou ’n verband agt keer groter af as my aankoopprys.”

Hy is reeds 25 jaar ’n kaptein. Met die moordklagte teen hom kon hy nie die kortlys vir enige bevordering, met sewe aansoeke, haal nie.

“Vader dank ek kon darem my werk behou. Ek sal seker vandeesweek my aanstellingsertifikaat en vuurwapen terugkry en dan is ek weer ’n regte polisieman in uniform.”

Sy polisie-tugsaak wag nog, maar die “enter”-knoppie op sy lewe is weer gedruk.

Hy kan weer provinsiaal rolbal speel. “Ek het destyds uit Rolbal Suid-Afrika se ontwikkelingskomitee bedank, ek wou hulle nie in hierdie gemors betrek nie.”

Sy twee dogters speel ook provinsiaal rolbal, vertel hy trots.

En dan kom ’n droë, verligte laggie.

“Laasweek toe die regter vir my sê, ‘kapt. Prinsloo, jy is onskuldig op alle aanklagte’, het ek verward in die beskuldigdebank bly staan. Sy moes herhaal: ‘Jy kan maar daar agter by jou vrou gaan sit, verlaat die bank asseblief . . .’ ”

Net so. Verby.

“Ek is so dankbaar mense het bly glo in my onskuld.”

Dis so ’n eenvoudige ding, onskuld, jimmel maar dis alles.

Meer oor:  Henk Prinsloo  |  Parys-6  |  Moord  |  Polisieman  |  Aanranding  |  Vrygespreek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.