Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Hanlie Retief gesels met Karla Pretorius
Die dief van balle

Sy was die superster van 2019 se Wêreldbeker-netbaltoernooi, sy is Suid-Afrika se nuwe sportheldin, maar toe Karla Pretorius in 2016 in Australië aangeland het om vir die Sunshine Coast Lightning-span te speel, het die Aussies haar Tandestokkie genoem.

Karla Pretorius (regs) en Paige Hadley van Australië baklei om die bal in die halfeindstryd van die Netbal-Wêreldbeker. Foto: Lee Smith

Sy moes heeltyd hoor sy’s te maer. “Dit het my nie gepla nie, ek is ’n vreeslike positiewe mens, ek het maar net gedink ek sal hulle wys.”

Nie lank nie, toe verwys die Aussie-media na hierdie 1,81 m lange Vrystater as die feisty ball thief. “Ek het eintlik niks om dáárby te voeg nie!”

Eintlik verkondig haar Aussie-afrigter, Noeline Taurua, al lankal dit waarvoor die wêreld haar laas Sondag staande toegejuig het: Karla is die wêreld se allerbeste doelverdediger.

So, die cliché van jy lewe jou droom – dis ek daai.

Enkele minute voor Karla laas Sondag aangewys is as Speler van die WB-toernooi, het hulle haar vorentoe geroep. Dit het haar ’n paar oomblikke gegee om bietjie stil te wees en alles in te drink.

“Dit was oorweldigend én wonderlik, want netbal was nog altyd vir my net lekker. Dit bring soveel goeie herinneringe van klein dorpies waar ons naweke gaan speel het, van ’n kwetterende klomp netbalmeisies in ’n kombi, van my ouers wat onder gazebo’s uitspan saam met die ander ma’s en pa’s langs die baan terwyl ’n worsie op die gasstofie braai . . . dis sulke goeie tye. En kyk waar het dit my nou gebring!”

Op die verhoog in Liverpool wou sy bars van trots, want sy verteenwoordig nie net haarself nie, maar ook haar familie én Suid-Afrika. Haar storie, glo sy, kan ook die begin van iemand anders se storie word. “Iewers is daar ’n jong netbalspelertjie wat nou dink: dálk kan dit ek wees! Dis wat Erin Burger vir my was.”

“Ek dink ek is hier o.8. Kyk my kieriebeentjies!”

Toe Erin dieselfde prys in 2011 by die Wêreldbeker in Singapoer gekry het, was Karla een van die drie ekstras in die groep. “Ons het vyfde gekom, nie eens een van die toplande nie, maar toe sy dit wen, het dit vir my gewys ons kan ook kompeteer met daai lande. Erin se prys was die saadjie vir mý prys.”

Maar eintlik was daai saadjie al lánkal in die grond, lag sy. “Toe ek nog op die Hoërskool Zwartkop was, het Erin as gasspreker opgetree en ek het haar só bewonder. Nooit sou ek kon dink dat ons sulke besties én kamermaats op toer sou word nie.

“As jy terugdink aan jou speeldae, onthou jy nie noodwendig die wenne en pryse nie, jy onthou eerder dié met wie jy saamgespeel het, die plekke waar jy was, die vriende wat jy oor die wêreld gemaak het. Dis waaroor dit gaan.”

“Ek en Werner Pretorius is in 2017 in Bloemfontein getroud.”

Op die baan, met haar lang hare vasgewoel in ’n bolla kiertsregop bo-op haar kop, het Karla die vermoë om balle te steel, nie net in die sirkel nie, maar ook in die middelveld, sodat jy dink: hoe de swernoot het sy dáár uitgekom.

Die Proteas se afrigter, Norma Plummer, ’n Australiër en ’n legende in wêreldnetbal, het nie net vir Karla internasionale deure oopgemaak nie, maar ook vir baie van haar spanmaats.

Die Proteas se voorbereiding vir die Wêreldbeker was die beste ooit, vertel Karla.

“Ons het die afgelope vier jaar seker gemaak ons kry die ervaring om teen toplande te speel, om gemaklik te wees in druksituasies. Baie van ons het van verlede jaar af in oorsese professionele topligas soos Australië gespeel.

“My skoolhoof by die Laerskool Hennopspark, mnr. Dawie Van Heerden, het altyd gesê ek gaan groot netbal speel.”

“Só oefen jy alle aspekte van jou spel. Ons selfvertroue vir die kompetisie was baie goed, ons doelwit was regdeur om in die topvier te kom. Ná die wedstryd teen Jamaika het ons begin druk vir ’n medalje, en ons was ámper in die semifinaal .

“Ek het so bietjie gemengde emosies, want ons het só naby daaraan gekom om Australië te klop. Ons het sleg begin, maar bly veg – ons was op ’n stadium gelyk, maar toe maak ons foute. So, ons kón deurgedruk en daardie wedstryd gewen het.”

Altyd positief, hoor jy dié Karla-mantra in haar stem as sy sê: “Mens moenie vaskyk teen ons groot verloor teen Engeland nie, ons het nie so goed afgesluit nie, maar darem ons doelwit bereik: topvier.”

“Voor elke wedstryd neem ons Proteas ’n foto in die kleedkamer.”

Australië het dié verskil in haar eie spel gemaak, sê Karla. “Jy doen waarvoor jy lief is en jy word betaal daarvoor, jy het ’n fisio, dokter, dieetkundige, krag- en kondisioneringsafrigter, mense wat die wedstryde analiseer, dis professionele netbal.”

By die Sunshine Coast Lightning oefen hulle drie keer per week met gewigte, twee-uur-sessies op die baan, vaardigheidsoefeninge vir nóg twee uur, die captain’s run Vrydae, met wedstryde Saterdae “teen die allerbestes, jy kry nêrens in die wêreld weekliks sulke kompeterende uithaler-netbal nie. Ek is bevoorreg.”

As daar ’n paar af-ure is, spring sy en haar man, Werner, in die kar om Queensland se platteland te gaan verken, altyd op soek na goeie koffie. Ja, koffiepotte, altwee van hulle, lag sy. En keer blitsig toe ek vra: “Nee, nie ’n soetigheid by nie, natuurlik nie, net koffie en goeie geselskap.”

Sy’s ’n vurige dieetkundige, met ’n droom om eendag in die Vrystaatse platteland gemeenskapsvoeding te takel.

“Ons is baie lief vir klein dorpies en ons lys vir die einde van die jaar sluit klaar Richmond en Victoria-Wes in op ons toer af Kaap toe. Philippolis lê na aan ons hart, ons het daar verloof geraak. Werner is vol passie oor geskiedenis en Afrikaans, ek hang behoorlik aan sy lippe as hy begin praat oor wat alles jare gelede op al die plekke gebeur het.”

Sy bly ’n oomblik stil, gee dan ’n laggie. “Noudat ek daaraan dink – dis hoekom ek so lief is vir hom!”

As jy vra hoe hulle ontmoet het, lag sy nóg harder en sê hy’t met ’n meisie in haar Kovsie-koshuis, Emily Hobhouse, uitgegaan. “Ek het altyd gedink wat ’n ou vol selfvertroue, want elke keer as jy hom sien, stap hy met ’n ander meisie op die kampus. Dan wonder jy: Wéét hierdie meisies van mekaar? En so wrintie, toe val ek vir hom!”

Hulle het dit nog nooit oorweeg om permanent in Australië te bly nie, sê sy. “Maar dit voel bietjie soos Bloem, hier’s baie oud-Suid-Afrikaners, mense braai en praat Afrikaans.”

Een keer, toe sy laatnag gestrand was op ’n vreemde lughawe in Australië, het oud-Suid-Afrikaners haar hoor praat en ’n geleentheid Sonskynkus toe aangebied. “Die Jouberts is nou ons ‘familie’ hierso, ons ken tot dieselfde mense in Suid-Afrika. Dis nogal great hoe als net uitwerk.”

Nes sy altyd almal dophou om nie te veel sout oor hul kos te strooi nie (vra maar haar spanmaats!) só glo sy dat jy nie in wêreldsport hond haaraf gaan maak as jy dit nie holisties benader nie. “ ’n Gelukkige mens is ’n goeie speler. Dit gaan nie net oor netbal nie . . . as jy van boek lees hou, doen dit, sorg dat jy jou besig hou met dinge wat jou gelukkig maak. Kuier saam met jou vriende, maak tyd vir jouself. Dalk is ek suksesvol juis omdat ek fisiek, emosioneel en sosiaal gelukkig is. So, die cliché van jy lewe jou droom – dis ek daai. Ek timmer ook aan ’n volgende loopbaan met my meestersgraad wat ek pas voltooi het, en dit alles dra by tot my spel.”

Werner, ’n prokureur, is tans besig met sy MBA in Australië. “Ek netbal heeltyd, en tussendeur akademie ek en hy . . .”

Sy kom uit ’n sportfamilie. Haar pa, afgetree nadat hy vir die Reserwebank gewerk het, het in sy jong dae rugby gespeel, haar ma het vir Grens netbal gespeel, en kleinsus Tanya speel vir Kovsies. Van al die sportsoorte waaraan sy op laerskool in Centurion deelgeneem het – “en dit was álles” – het sy netbal verkies, want sy kan dit met haar maats doen. Spán is lekker.

Op skool was daar die geloof dat jy nooit ’n provinsiale span gaan haal as jy nie in die “groot skole” soos Waterkloof of Afrikaanse Hoër Meisieskool is nie. “Ek het nooit dié spanne gehaal nie, maar ek onthou toe ek o.7 was, het ons afrigter, tannie Elize Kotze, vir my op ’n oefenkamp gesê ek gaan eendag vir die Springbokke speel. Later het ’n ander afrigter gesê ek gaan eendag groot netbal speel, en ek is baie dankbaar teenoor hulle, want ek het dit begin glo omdat hulle in my geglo het. “Ek het nog altyd gedroom om oorsee te speel, en ek onthou hoe ek tydens oefening my verbeel het ek speel voor 'n skare.”

Dis by Kovsies waar dinge vir haar begin gebeur het. Sy was in die Proteas se o.21-span, en het in 2011 haar debuut vir Suid-Afrika gemaak. Die internasionale verhoog by die Wêreldbeker het gesorg vir ’n uitnodiging om in Bath te speel, en van daar af is sy Australië toe.

Wat maak van mens ’n wenner? Sy dink lank. “Ek weet nie rêrig om daai te antwoord nie. ’n Wenner word nie gemeet aan medaljes nie. As jy soggens opstaan en jy weet jy gaan vandag doen waarvan jy hou en dit maak jou gelukkig, is jy ’n wenner. Medaljes en pryse is bonusse.”

Die Protea-netbalspan het vir haar ’n blik gegee op hoe ’n verenigde Suid-Afrika kan lyk.

“Ons span het ’n hegte, hegte band. Die slegte tye en die goeie tye . . . ons het ietsie van als saam ervaar. Ons het letterlik vir mekaar gespeel en ons is vriende van die baan af ook.

“Ons het almal verskillende stories en agtergronde, ons het verskillende kleure en kulture, maar ons het gekies om saam te werk na 'n gemeenskaplike doelwit.

“Dis iets waaroor ek baie dink, hoekom werk ons so goed saam, maar baie mense in Suid-Afrika kan nie? Partykeer moet mens toegewings maak, probeer verstaan hoekom ander mense dinge op hul manier doen. Ek besef ek kan nie alleen in ’n span speel nie, ons sewe of twaalf moet maniere kry om saam te werk. Dis een van die redes hoekom ek so trots is op ons span, ons inspireer mekaar, ons bring mense bymekaar.”

As jong Suid-Afrikaners kies sy en Werner om in Suid-Afrika deel van die oplossing te wees.

“Ons glo ons het ’n verantwoordelikheid, ’n rol om te speel by die huis.”

As sy nou vir ’n graadeenmeisietjie met sulke Karla-kieriebeentjies raad kan gee?

“Ek sal sê doen soveel as moontlike sportsoorte, hokkie, netbal, atletiek. Ervaar soveel as wat jy kan, sit dit in jou lewensrugsak, want iewers langs die pad gaan jy dit gebruik. En moenie worrie oor wat die toekoms inhou nie, geniet net elke oomblik.

“Ek doen.”

Meer oor:  Karla Pretorius  |  Netbal  |  Proteas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.