SWART-VRYDAG-AANBOD! Betaal slegs R9,99 vir die eerste twee maande as jy nou ’n intekenaar word. Spring gou!
Menings
Hanlie Retief gesels met Kevin Anderson

Novak Djokovic bons die bal.

Jy staan oorkant hom. Voete wyd geplant. Lyf oorgehaal. En jy dink: Moenie choke nie, Kevin. Bons #2.

Moenie eens dínk aan choke nie. Bons #3.

Vergeet dis een van die Vername Vier wat daar dien. Bons #4.

Sê nou ek verloor? Sê nou ek wen, wat is die telling . . . Bons #5.

Móénie dink nie. Bons #17. Fokus! Op! Die! Bal! Hoe gaan jy hom terugslaan . . .

Novak Djokovic van Serwië ontmoet Suid-Afrika se Kevin Anderson by die net nadat hy hom verlede Sondag in die Wimbledon-eindstryd geklop het. Foto: Reuters

Ná die eindstryd kon Suid-Afrika gesamentlik asem uitblaas, want ons het elke Novak-bons, elke kishou, elke verbroude kans saam met Kevin Anderson beleef, bal vir bal, die hele toernooi.

’n Hele land met emosies nerfaf soos die gras op Wimbledon se afslaanareas.

Ek sê altyd baie duidelik ek speel as Suid-Afrikaner tennis, ek is ongelooflik trots om onder ons vlag te speel.

Kevin gesels met ons uit Carnoustie in Skotland waar hy tydelik à la Robbie Wessels têêênnisballe verruil het vir gholfballe by die Britse Ope.

Dis drie dae nadat hy die R19 miljoen-silwerskinkbord by die antieke hertog van Kent ontvang het.

“Ja, ek het geweet Suid-Afrika staan agter my en dis die lekkerste gevoel, baie dankie vir die saam asem ophou.

“Terwyl jy op daai baan is, jaag ’n miljoen dinge deur jou kop. Jy baklei heeltyd om twyfel uit jou kopspasie te hou.

“Dié keer kon ek dit regkry. Heeltyd by Wimbledon het ek aanhou glo in my spel. Ek wóú daar wees, ek wou wen. Dit het my gedryf.”

Ontmoet assistent-fisio lady Kady Anderson. Hoogs gespesialiseerd vir sy stres-verligting, skerts Kevin.

Voor verlede jaar se Amerikaanse Ope, waar hy in die eindstryd teen Rafael Nadal verloor het – sy eerste Grand Slam-finaal – was Kevin Anderson maar net nog ’n Meneer Probeer. Tennis se strak skraalgesig-hemelbesem wat op die ranglys tussen tien en 80 rondspring. Stuart Duguid, Kevin se agent, vertel uit Los Angeles die tenniswêreld het hulle nie veel aan Kevin gesteur nie, juis oor hy altyd so op die agtergrond was.

Wat alles vir altyd verander het, was Ando se TV-onderhoud ná die marathon-halfeindronde teen John Isner.

“Ek het meer reaksie ná daardie onderhoud gekry as ná enige van die puik wedstryde wat Kevin al gespeel het. As jy só hard vir só lank gespeel het, is die fasades weg. Die publiek kon vir die eerste keer sien wie Kevin Anderson werklik is – die nederige, opregte Kevin, die ou wat my vriend is.”

Emosie op die baan is iets wat hy nooit gewys het nie, maar onder sy nuwe afrigter, Brad Stine, sien jy ewe skielik vuispompe ná ’n goeie bal.

Kevin veg teen trane ná die halfeindronde teen John Isner. Sy agent sê dit wys watter “nederige, opregte ou” hy is.

Dit help vir selfvertroue, sê Kevin. “Dit het my nogal ’n tydjie geneem om daaraan gewoond te raak. Maar ek sal nooit oorboord gaan nie, want ek het respek vir die spel, en respek vir my opponent. Dis hoe ek grootgemaak is.”

Wat ’n Wimbledon! Stresvolle ure tussen die kwarteind-, halfeind- en eindstryd, met ysbaddens en masserings en blou toonnaels wat gedokter moes word, vertel Kevin.

Hulle het in ’n huurwoonstel naby Wimbledon gebly, en Kevin se ma, Barbara, sy vrou, Kelsey, en veral lady Kady Anderson het hul kant gebring om Kevin te laat ontspan. A, ons hondjie, lag Kevin. Lady Kady het vir hom ’n swart sokkie aangedra ná die eindstryd. “Ek is haar kampioen, dit maak nie vir haar saak of ek bekers of skinkborde huis toe bring nie.”

Dié brakkie kom uit ’n hondeskuiling in Delray Beach, Florida, waar Kevin-hulle bly. Sy reis die wêreld vol saam met hulle, 35 weke van die jaar op pad, en die Andersons samel met haar grappige Instagram-profiel fluks geld in vir weggooihonde.

Die gesin Anderson: Kevin, Kelsey en lady Kady. Kinders moet eers bietjie wag, sê Kevin. Tennis kom nou eerste.

Kevin reis steeds met sy Suid-Afrikaanse paspoort. “Natuurlik, hoe anders. Ons is al so gekonfyt om visums te kry, dit pla ons nie eens meer nie. Ek is besig om ’n Amerikaanse paspoort te kry, maar dis ook maar net vir die logistiek.

“Ek sê altyd baie duidelik ek speel as Suid-Afrikaner tennis, ek is ongelooflik trots om onder ons vlag te speel. Én ek skree vir die Bokke en Proteas.”

Kevin het jare laas Suid-Afrika in die Davis-beker verteenwoordig, wat vrae laat ontstaan het oor sy lojaliteit.

“Ek het my nog nie verbind tot die Davis-beker nie, daar is ’n nuwe kompetisie aan die kom. Dis ’n ander formaat as die Davis-beker en ’n opwindende stap vorentoe. Ek sien uit om ons land te verteenwoordig. Dit kan dalk reeds in 2020 begin.”

Richard Glover, uitvoerende hoof van Tennis Suid-Afrika, het erken dié federasie het nie genoeg ondersteuning vir Kevin as jong speler gegee nie.

Daar wás probleme, antwoord Kevin. “Ek was nog jonk, ek het nie al die detail geken nie, maar ek het geen ondersteuning gekry van die federasie nie, alles het van my ouers af gekom. Geldelik was dit baie, baie moeilik, maar dis nou agter ons.”

Dis waar dat dit sy ouers sowat R4 miljoen gekos het om sy loopbaan aan die gang te kry.

Dié twee het met mekaar afgereken in laasjaar se Amerikaanse Ope. Kevin Anderson en Rafael Nadal., Foto: Reddit

“Ja, natuurlik. Dis baie geld. My ouers het my ook nie net finansieel gehelp nie, maar eintlik met alles. My pa het my afgerig en my ma het my heeltyd ondersteun.”

Mens kan maar sê Kevin se loopbaan het afgeskop met ’n blou paal en geel tennisbal aan ’n tou. Swingball. Daardie kontrepsie destyds in ongeveer elke voorstedelike tuin. “Ja, kan jy glo! Toe bou my pa vir my en my (jonger) broer Greg ’n hoë muur. Ek oefen vandag nog gereeld teen ’n muur.

“Lateraan het ek en Greg duisende ure gewedywer op die tennisbaan. Ek mis partykeer nog die lekker tye wat ons gehad het by St. Stithians, ons skool.”

Sy pa, Michael, was nie met die eindstryd op Wimbledon nie, maar het Kevin minute voor die tyd gebel. “My pa het gesê wat hy altyd vir my sê: Beskou dit as net nog ’n wedstryd. Moenie worry van wie die bal kom nie, maak asof dit die muur is en slaat hom terug.”

Selfs toe hy twee stelle agter was teen Roger Federer, met ’n wedstrydpunt teen hom, kon Kevin koelkop bly. “Ek het net beter en beter begin speel.”

Teen John Isner, in daardie uitmer­gelende vyfde stel toe iemand uit die skare kliphard laat waai het met “someone . . . please just do some­thing!” was dit Kevin wat geluister het.

“My honger om te wen het ingeskop. Ek kon kalm bly, ek kon daardeur kom. Punt vir punt.”

Stuart se lekkerste oomblik in die hele toernooi was juis in die Isner-wedstryd toe Kevin geval, opgespring en die bal met sy linkerhand teruggespeel het. “Ek het trane in my oë gekry en gedink: ja, dit staan in die sterre geskryf.”

As Kevin aan daai oomblik dink, glimlag hy. Al die linkerhandhoue wat sy pa hom so laat oefen het ná ’n operasie aan sy regterarm – Vrydag het dit dividende uitbetaal!

“Nee, my pa was nie ’n slawedrywer nie, maar hy het beslis geweet hoe belangrik dit is om hard te werk.

“Ons was ’n goeie span, ek en my pa, want ek het myself ewe hard gedruk. Ná daai operasie wou ek net terugkom op die baan.”

Ná matriek is Kevin met ’n universiteitsbeurs Illinois toe. Hy het nie die reguit paadjie van junior na pro-tennis geloop nie. Vir alles wat hy bereik het, vertel Stuart, het Kevin gewerk. Niks is op ’n skinkbord aangedra nie.

“Hy’s eintlik uniek as tennisspeler, want hy het net ’n gewone ou gebly. Ons sal ná wedstryde gesels oor rugby en krieket en gholf – dis nie net tennis vir hom soos vir die ander nie. Hy speel tot kitaar!”

En hy en Kelsey kyk graag “goeters” op Netflix, vertel Kevin later.

“Wat ons kyk? Um . . . ” Stilte. “Kels, what are we watching?

“O, ons kyk Billions!”

As hy die kitaarsnare slaat, is dit maar altyd die blues. Eric Clapton, B.B. King, Red Hot Chili Peppers. Dit laat hom wegkom van bane en balle.

Kelsey het haar werk as ouditeur by Ernst & Young prysgegee om Kevin se loopbaan voltyds te bestuur. “Die feit dat sy altyd saam met my is, maak die wêreld se verskil. Ons het as studente in Illinois ontmoet, sy was in die gholfspan. Die sportspanne het saam gestudeer, toe loer ek vir haar oor die boeke.

“Sy verstaan my beter as enigiemand. Kinders, eendag, is ’n wonderlike vooruitsig. Maar ek speel nou die beste tennis van my lewe, ek het baie lank en baie hard gewerk om tot hier te kom. Vir eers is dit net tennis.”

Almal vra: Hoekom skiet Kevin nou eers uit, op 32?

Hy weet presies hoekom.

“Die afgelope 15 maande het ek ’n paar beserings gehad. Moeilike tye. Dit dwing jou om objektief na jou spel te kyk. Ek het regtig net aanhou vertrou dat ek nog op my pad is, dat ek beter en beter gaan raak.

“Jy weet, hoe meer lesse jy leer, hoe beter speel jy. In die eerste twee stelle teen Novak kon ek nie my ritme vind nie. Volgende keer sal ek. Ek is nou meer gemotiveerd as ooit in my lewe.”

Nadat hy Isner geklop het, het Kevin vir Stuart gevra om sy ma, vrou en broer na die kleedkamer te bring. Vir ’n paar minute het hulle in privaatheid dié mylpaal – Wimbledon, hoofbaan, eindstryd – saam gevier.

“Dit was spesiaal.”

Die aand ná die eindstryd het 30 van sy vriende en familie – Span Kevin – bymekaargekom. Kevin het gesorg vir soesji uit sy gunsteling-restaurant naby Wimbledon.

Stuart: “Terwyl ons so kuier, praat ek en ’n vriend oor Kevin se fantastiese derde stel teen Novak, en die vasbyt teen Isner, en Federer. Toe eers onthou ons van Gaël Monfils, wat hy ook nog nooit vantevore geklop het nie. Dit was op sigself ’n mylpaal.”

Uit Suid-Afrika het sy pa laat weet: “Hou jou kop hoog. Great toernooi. Die res van die jaar lê voor.”

En as Kevin Anderson nou kon teruggaan middel 90’s toe, na ’n voorstedelike tuin waar ’n vaalkuifseun ’n Swingball slaat dat die spoeg spat . . .

“Sal ek vir die jong Kevin sê: Glo in jouself. Regtig net dit. Op die ou end is dít waaroor dit gaan.

“Ek het nog altyd hard gewerk. Daarsonder kom jy nêrens. Maar dit het my lank gevat om raak te sien watter goeie tennisspeler ek is.”

Meer oor:  Kevin Anderson  |  Wimbledon  |  Tennis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.