Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Hanlie Retief gesels met Koekie Botha
‘In almal se oë bly ek die moordenaar’

So ’n gedienstige vrou, het die mense van Britstown vir ­Koekie Botha beskryf. ’n Gedweë, verrinneweerde tannie wat blikkevol koekies gebak het en wragtig nooit teëgepraat het nie.

34 jaar lank het Koekie die ander wang gedraai en die klappe gevat wanneer haar man weer in een van sy verskriklike woedebuie was.

Koekie Botha in haar meenthuis in Kimberley. Skuldig bevind aan moord op haar man, genade gekry by die appèlhofregters. Ná 41 jaar se swaarkry, eers deur haar man, toe ’n uitmergelende hofsaak, lê die toekoms nou voor. foto: Lizéll Muller-Hamman

Want Nico Botha, megaboer van die plaas Kareehoek in die Noord-Kaap, se humeur was so groot en wyd soos sy 60 000 ha-grondryk.

Tot die nag van 10 Julie 2010.

In die voormôre het die boer dood in sy bed gelê. Hy het homself geskiet, was sy vrou se verweer.

In die geskokte Noord-Kaapse gemeenskap het die vrae opgespring soos gifbosse in ’n skaapveld: Hoe skiet ’n man homself twee keer in die kop?

Nico met hándskoene in die bed? Koekie wat slaappille in sy koeldrank gooi?

Prooi het daardie nag jagter geword op Kareehoek, het ’n hooggeregshof en die appèlhof later bevind: Koekie hét haar man vermoor.

Die afgelope week is haar vonnis van 12 jaar tronkstraf deur die hof verlig tot drie jaar korrektiewe toesig, met een jaar in huisarres. Haar jarelange sielkundige en fisieke mishandeling is in ag geneem.

In haar meenthuis in Kimberley praat Koekie die heel eerste keer openhartig oor wat presies op Kareehoek gebeur het. Dit het oorreding gekos om haar sover te kry.

Jou lewe word net een ding: Stel hom tevrede, hou hom kalm. Staan op, maak kos, bid dat hy nie vandag weer uithaak nie.

“Ek het nog nooit hieroor gepraat nie. Vir die eerste, laaste keer wil ek nou my kant vertel. Want dit breek my.”

Huiwerig begin sy, in horte en stote. En dan gee die damwal mee.

Van hoeveel kere sy die veld ingehardloop het om van hom weg te kom, en hy op haar begin skiet . . .

Wegkruip. Toesluit in die buitekamer. Heeltyd. En hy loop rond, rewolwer in die hand.

Hy wat vir haar skree: “Ek het jou hond vrekgeskiet . . .”

“Ek was verskriklik lief vir ons boerboel. Toe hol ek terug en toe het hy nié. Só het hy my gemanipuleer.”

Jy hoor nie emosie nie. Nie oor Nico nie, nie eens oor die feit dat sy tronkstraf vrygespring het nie. Net ’n leë gelatenheid.

Plek-plek verloor sy haar draad, en dan onthou sy weer iets anders en begin van vooraf huil.

Koekie in die hof. “Vir die eerste, laaste keer wil ek nou my kant vertel.” Foto: Emile Hendricks

Hulle het kluisenaars geword. Sy’s verbied om kerk toe te gaan, hy het altyd die veld ingery as die dominee kom. Hoe angsbevange sy na ’n kleinkind se doop teruggery het plaas toe, want hy wag, en die houe wag.

En hy slaan nét waar haar klere dit kan wegsteek.

Sy moes heeltyd Nico se vuilwerk vir hom doen. Die dorpenaars het geweet tannie Koekie gaan kom om haar suinige man se rekeninge met ’n verbouereerde glimlaggie af te stry.

Een aand stuur hy haar weer om haar seun Pieter (uit haar eerste huwelik) van die plaas te verjaag. Toe sy terugkom met die “ou plaasbakkietjie”, wag hy haar in en druk-druk haar met sy Toyota van die pad af.

“Jou lewe word net een ding: Stel hom tevrede, hou hom kalm. Staan op, maak kos, bid dat hy nie vandag weer uithaak nie.

“Een keer nadat hy my weer geslaan het, skryf hy in groot letters teen die muur hy sal nooit dit weer doen nie.

“Ag, maar hy hét. En dis altyd my skuld. Die ergste was die keer met ’n pyp. Ek was maande lank blou.”

Snags in die bed het sy altyd vir ’n ster deur die venster gekyk.

“Ek het my wysgemaak dis die Here en dan bid ek: Laat hom net slaap, laat hom kalm wees.”

Sy huil geluidloos, staan naderhand op om haar gesig in die badkamer te gaan was. Ek en die fotograaf Lizéll kyk vir mekaar. Joe, sê Lizéll grootoog, nou moet sy eers ’n rokie gaan vang, dit is verskriklik hartseer.

Nico Botha.“Ek lê daar op die grond, kyk hom só en sê: ‘Nooit weer gaan jy aan my slaan nie.’ ”

Die mense van Britstown het in 2008 vir die eerste keer regtig besef watter soort mens agter Kareehoek se suksesvolle boer skuil.

Philip, Nico en Koekie se seun, het ’n interdik teen sy pa gekry nadat sy vrou, Zané, in die hospitaal beland het.

“Dit was van stres oor Nico se dinge. Toe skiet hy boonop haar hond dood terwyl sy in die hospitaal is, en gooi Philip se bakkie met klippe.”

’n Transkripsie van ’n foonoproep tussen Nico en Philip het in die hof gedien:

Nico: “Jy’s ’n vermetele klein bliksem.”

Toe Philip sy pa probeer paai en sê mense moet vir mekaar liefde wys, antwoord Nico: “K*k, se gat. Liefde se gat man. Jy is f***** onnosel, man . . .”

Later sê Philip: “Pa vloek en skel vir Ma oor als . . . Dink Pa Ma kan dit hou?”

Het Koekie maar destyds vir die grootmense geluister toe hulle gesê het iets is nie lekker met Nico nie.

Sy sug. “Ons ouers was huisvriende en ek en Nico het van kleintyd af ’n ogie op mekaar gehad.

“In st. 6 het Nico ’n bruin seun doodgeskiet ná ’n rusie oor duiwe of iets. Hy is onskuldig bevind, maar sy stiefma het my net voor haar dood vertel dit was nie ’n ongeluk nie.”

Nadat Koekie se eerste man jonk-jonk dood is aan leukemie, het sy en die twee seuntjies by haar ma in Brits­town gaan bly. Sy het in Volkskas gaan werk.

Die vonk tussen haar en Nico het weer vlamgevat. Kort ná die troue het die moeilikheid begin.

Die rewolwer. “Ek’s die kamer uit. En toe is daar ’n tweede skoot.” Foto: Emile Hendricks

“Maar toe het ek nog nie woorde geken soos narcis, bipolêr en skisofrenie nie . . . dit was eers in die forensiese psigiater se getuienis . . .

“Pieter en Nannie (Johan) was nog kleuters, met ’n doodse vrees vir hom. Hy het hulle agteraf mishandel sonder dat ek geweet het. Ek verwyt my vreeslik oor ek nie vir die kinders opgestaan het nie.”

Jare terug, toe daar nog baklei in haar was, het sy hom ’n paar keer probeer los. “Dan kom haal hy my, die sjarmekraan oop. Ek het geweet, sit jou voet weer weg, kom skiet hy jou. Hy het dit genoeg vir my gesê.”

Terwyl haar man se hektare by die duisendes vermeerder het, het hy sy seuns ’n hongerloon betaal, sy halfbroers met sy humeur regeer.

“Nico het naderhand almal van die plaas verdryf. Philip is weg met letterlik niks, al was hy die erfgenaam, die vyfde geslag Botha. Nannie is onterf. Ons dogter Loami is ná haar studie reguit Amerika toe.”

Loudine, Nico se oogappel wat teen haar ma getuig het, bly nou op Kareehoek.

Soos die stilte voor ’n storm was die dag voor Nico se dood. Die kleinseuns het kom kuier. “Nico was erg oor klein Pieter, Oupa se boertjie.”

Toe Nico later die kinders terugvat, het hy haar vreemd aangekyk en gesê hy gaan hulle nooit weer sien nie.

Sy’t dit toe nie besef nie, maar dit was die eerste stasie op pad einde toe.

Sy selfmoorddreigemente was vir haar al ou nuus. Die kinders het hom ’n keer in die leunstoel gekry, huilend met die geweer oorgehaal op sy skoot.

Die dag voor sy dood het sy neef ­
Riaan Botha hom “kwansuis” omgepraat om nie sy eie lewe te neem nie.

“So asof jy vir Nico ooit kon ompraat,” lag sy wrang. “As hy vir jou gesê het daai TV is wit, dan is hy wít.”

Die middag kom Pieter met die nuus: 50 skape het van gifplante gevrek.

Die tweede stasie.

Nico was buite homself.

“Hy het die hekke op die plaas sommer platgejaag op pad na Pieter toe. Toe ons Pieter oplaai, verloor Nico dit heeltemal en probeer die bakkie rol.

“By ’n kraal het Pieter uitgespring en toe jaag Nico op hom af. Pieter spring oor die kraaldraad en Nico ry dit plat, en toe is Pieter agter ’n boom, en toe klap Nico my deur die gesig.

“Naderhand gaan staan ons en hy sê vir Pieter: ‘Ek en jou ma is moeg, ons wil gaan rus.’ Toe besef ek: hier kom moeilikheid.

“Terug by die huis het hy my in die binnehof neergegooi en begin skop en ek het myself natgemaak en . . . ag . . .”

Sy druk haar gesig in haar hande en dan kom die trane weer. Sy huil en huil. Lizéll gaan maak naderhand tee.

Ná ’n slukkie haal Koekie diep asem.

“Ek lê daar op die grond, kyk hom só en sê: ‘Nooit weer gaan jy aan my slaan nie.’ ”

Gee ’n laggie. “En ek is die een wat nooit terugpraat nie.

“Hy het doodstil geraak. Sy blou oë het so wit geword. Toe besef ek: dié man is heeltemal kranksinnig.”

Derde stasie.

Nico het die aand sesuur al gaan lê. “Die hele goddelike nag praat hy eenstryk. Hoe sleg die kinders is, hoe dit my skuld is dat Philip weg is. Ek sien dit word weer ’n nag van vrees, en ek druk sy voorskrifpilletjies fyn in sy koeldrank, soos altyd as hy so heeltemal buite homself raak.”

Sy staar stip voor haar uit.

“En nou sê hulle ek het hom bedwelm en doodgeskiet om sy empire te erf. Watse empire? Dis net bitter grond.”

Iewers in die voormôre het sy uitgestrompel om vir hom hoofpynpille te gaan haal. Op pad terug, het sy die skoot gehoor.

“Toe ek by hom kom, was hy by sy volle positiewe. Ek het die rewolwer probeer afvat, maar toe rig hy dit op my. Ek’s die kamer uit. En toe is daar ’n tweede skoot.”

Het sý die sneller getrek?

Sy huiwer ’n oomblik. Kyk af.

“Nee. Maar jy voel naderhand jy hét hom doodgemaak, want jy staan in daai hofbank en almal sê dit. Jou eie dogter sê dit.

“Nee. Ek het self nie meer gelewe nie. Ek het net bestaan. Ek was so dood soos hy. En dis die waarheid.”

En nou is Koekie amper 70 en sy moet die stukke van haar lewe optel.

34 jaar lank is sy in haar huwelik verrinneweer. Sewe jaar lank was die moordklag ’n hand om haar keel.

“En vir altyd, in almal se oë, bly ek die moordenaar.”

As ’n ander vrou kom waar sy was, met geen uitkoms nie, watter raad sou Koekie haar gee?

Lank sê sy niks. “Ek weet nie. Daar ís nie uitkoms nie.”

Klein bietjies genade het haar kom red. Die vroue in die Bybelstudiegroep sonder oordeel in hul oë. Die kunsklasse waar sy salig voel met ’n kwas in haar hand. Dit help as sy vir ander mense klein gunste doen. Uitreik.

Met haar nou in huisarres het haar vriendinne laat weet die kuiers sal nou dáár wees, “ons bring die kospotte saam”.

Soos ’n sonneblom het Koekie leer son toe draai.

Soms druk die mure van die meenthuis haar. Sy mis die ver uitkyke op Kareehoek. Haar ou boerboel, die papegaaie. Maar as sy saans die hek agter haar toesluit, het sy vrede. En dis genoeg.

Die ster is steeds in haar venster.

Meer oor:  Nico Botha  |  Koekie Botha  |  Moord  |  Geweld Teen Vroue
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.