Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Hanlie Retief gesels met Margit Meyer-Rödenbeck
Dowwe Dolla sê koebaai

‘One hour to show,” druk die verhoogbestuurder haar neus by die deur in.

Einde vanjaar hang Margit Meyer-Rödenbeck haar Dowwe Dolla-stiletto’s op. Maar vanjaar is Dolla eers nog verward oor Carl Niehaus en Marelize se paal. Foto: Edrea du Toit

Ons staan in die Hoërskool Stellenbosch se verhoogkleedkamer en kyk hoe Margit vir die derde keer in die Woordfeesweek Dowwe Dolla word.

Rooi verf sy haar lippe. Unending Red, Revlon se Overtime-reeks. Dis al wat suigstokkiebestand is, “dit was ’n wenk van Anet Pienaar-Vosloo”, jy moet omtrent Handy Andy gebruik om dit af te kry.

Volgende die wenkbroue. Brownish Black-inkleurbogies bo haar groenbruin oë.

Dis nou nie juis ’n kleedkamer vir aktrieeezes dié nie. Skoolvaal. Maar die onverstoorde Margit sal haar selfs in ’n kar-truspieëltjie verhooggereed kan kry. Tydens beurtkrag plak sy sommer ’n battery-verhooglig onder die spieël neer om haar grimering te doen.

Gholfdae is net manne-aande vir ryk mense wat dink hulle besit jou.

“Dolla is op pad hoor, sy klim in,” lag Margit. “Nou-nou, as ek die stiletto’s en hare aan het, met die stokkielekker, begin sy trippel, sy het heeltemal ’n ander ritme as ek.”

Die blonde pruik het sy al 21 jaar. “Dis regte hare en het R3 500 gekos, maar wat ’n belegging. En nou’s hy ook ópgebruik. So. It’s. Time.”

Einde vanjaar hang Margit Dolla se stilletto’s én pruik finaal op. “Die kort antwoord hoekom ek ophou met Dowwe Dolla? My voete druk. Dís hoekom.

“Ek gaan haar vanjaar nog voluit geniet, maar dan gaan Dolla se lollie Gumtree toe vir altyd.”

Spray & Stay, smoke & mirrors. Foto: Edrea du Toit

Dowwe Dolla het in 1994 as ’n kamee in Margit se eerste eenvrouvertoning begin. ’n “Skitterende” insetsel het Gabriël Bothma dit in sy resensie beskryf. Bothma se laaste woorde: “skiet soontoe vir ’n skoot intelligente vermaak”, was profeties. ’n Kwarteeu later maak Dolla steeds teaterstoele vol.

In die begin het net gays en Engelse haar shows kom kyk. Dis steeds nie almal se poeding nie, vertel sy. “Driekwart lag, maar daar is altyd ’n klomp wat sê: ‘Kommin, kommin, vat weg daai vrou.’ ”

Dolla se snaaksste lyn is nog altyd vir haar: “Dit verwar my.” Want alles verwar vir Dolla. “Maar hoe ouer ek raak, hoe meer verwar die lewe mý, so Dolla was dalk nog altyd helemal reg.”

Coenraad Rall, haar pianis in Dowwe Dolla: Nou of nooit, kom sê hallo en verruil sy T-hemp met die slagspreuk “moenie weird op my raak nie” vir ’n frillerige verhooghemp.

Ná 20 jaar saam met haar, weet hy: Margit sit nooit stil nie. Altyd doenig, altyd iewerig, soos die oumense sou sê. ’n Hoogspanningsdraad sonder beurtkrag.

Die eerste vollengte Dolla-vertoning was Dowwe Dolla: Staatslet, geskryf deur Hennie van Greunen.

Dis skaars middel Maart en sy het al vir ’n VIA-reeks tydens ’n hittegolf op ’n Mosambiekse visplaas gewerk, ’n maand lank haar 50ste verjaardag gevier, op die Finesse-skip saam met “gals” gevaar, ’n nuwe Vlooi-teks gefinaliseer en nog twee tekste se woorde vir die Woordfees geleer.

“As sy ’n hoofpyn kry, dan sê ek: Margittie, sit net vir tien minute. Maar ás sy die dag gaan sit, dink ek sy gaan shutdown.”

Sy’t juis gister met ’n moewiese migraine op die verhoog gestap, vertel Margit.

“Jy dink: Jy gaan nie ’n uur en ’n half se woorde onthou nie, en as jy later afstap, is die migraine weg van al daai adrenalien.”

Margit speel boonop byna elke dag van die fees saam met Marion Holm in die tweevrouvertoning Die voordele van eierwit.

“Gewoonlik, as ek by die kleedkamer instorm voor die show, is Marion lankal gereed. Op pad verhoog toe pluk ek nog skoene aan. Maar as ek ’n halfuur op ’n bank moet gaan sit en wag, sal ek óf aan die slaap raak óf begin panic dat ek my woorde gaan vergeet.”

Sy kyk op, oogpotlood in die hand, “maar dis mos muscle memory, my woorde is mos klaar in my, ek moet net lekker daarin spring”.

Sy haak nooit vas nie, sê Coenraad. “Té veel van ’n control freak daarvoor, seker daai Duitse herkoms.”

Wat sy wel al wou doen, is van die verhoog af weghardloop.

“Jare gelede moes ek by ’n Bloemhof-viering optree. Ek het vir hulle gesê ek dink nie ek is die regte persoon daarvoor nie, maar hulle het aangedring. En daar stap van die mense toe uit terwyl ek besig was met die show.”

Sy doen ook lankal nie meer manne-aande nie, “want nege uit tien kere is dit aaklig. En dan hoor ek boonop allerhande storietjies agterna.

“Gholfdae – ook nie meer nie, dis maar net manne-aande vir ryk mense wat dink hulle besit jou.”

Deesdae deel Dolla die verhoog met ouma Dowe Dolla van Garies wie se raspertong inspring waar selfs engele dit nie waag nie. “Polities onkorrek takel sy alles wat die wit waks uit ons almal irriteer.”

Dolla sal liefies wonder of BBBEE ’n nuwe siekte is waarvoor sy nog nie ingeënt is nie, Dolla sal ná karateklasse droom sy’s die vroulike weergawe van Chuck Norris: Phumzille van Damme.

Ouma Dowe Dolla hoor van al hierdie nuwe plekname in Suid-Afrika, en wonder dan luidkeels of dit nuwe dorpe of nuwe Afrikalande is.

Ouma Dowe Dolla voel al so sleg oor sy ’n wit etter is, voordat sy iewers heen gaan, google sy “net om te kyk wie se huis ons daar platgestoot het of wie se grond ons gevat het, en of die bliksems wat dit gedoen het dalk verlangs familie is. Want dan kan ek minstens antwoord as hulle my skel.”

En as jy so google, vertel Ouma Dowe Dolla, en jy vind ’n wandaad of twee, is dit gewoonlik ’n flippen Engelsman of Duitser wat nou in Australië bly, “of in een van daai perfekte lande wat maak of hulle in al die eeue nog nooit eens k*k aangejaag het nie”.

“Sound check,” kom die kop by die deur in. Oukei, oukei, draf Margit laggend uit, met 'n knipoog vir my. “Ons is 'n kruiwa vol paddas, hier!”

Coenraad vertel dat hy homself elke keer op die verhoog verkneukel as die gehoor aanvanklik net die dowwe deel van Dolla sien, die dom-blondine, en dan gaandeweg deur haar fyn satire gevang word.

Vakansietye, as kind, het sy ma Vrydagoggende tien voor tien die radio na RSG gedraai om vir Dowwe Dolla te luister. Nege jaar lank. Dit het haar volksbesit gemaak.

Sy is ontvang en gebore in die opkoms en hoogbloeijare van die Afrikaanse kunstefeeste. Intussen het sy haar eie vlerke gekry en een van die land se suksesvolste impresario’s geword.

Vlooi (Margit en Marinda Engelbrecht se reeks kinderteaterproduksies) is vanjaar 20, Die Boer (die teaterrestaurant van haar en haar man, Jurg Human) is 15. Margit het so stil-stil op haar plat-op-die-aarde manier ’n klomp brands geskep en daarvan suksesse gemaak.

Jurg skryf haar tekste. “En dan baklei ek en hy, dáái is nie snaaks nie, dan sit ek ’n joke in en hy sê: Flou! Ons skaaf baie daaraan, eintlik heeltyd, want voor ’n gehoor besef jy hier kort iets, daardie lyn loop lekker, of die politiek verander.”

Sy beweeg algaande weg van politiek, want “mense is mak gemoer, hulle is depressief en gatvol, en dis in elk geval moeilik om ses jaar in ’n ry grappies oor Eskom te maak. En Zuma het same old same old geword.”

Dis een van die redes hoekom Margit vir Dolla groet, want oor baie onderwerpe kan ’n mens nie meer satiries spot nie, want dis allesbehalwe snaaks.

“Oor onderwerpe soos kinders wat vermoor word, wil jy nie satiries werk nie, jy is eerder lus om iemand met ’n sambok te gaan bliksem.”

Ironies genoeg was satire nog nooit so belangrik as juis nou nie. “Dit moet uitdaag. Jy hoef nie met alles saam te stem nie. As jy dink ek gaan net gloss op jou lippies smeer, dink jy verkeerd.”

Sy vertel hoe ’n manlike komediant reg langs haar op ’n fees veel erger gevloek het as ouma Dowe Dolla, maar net sy is die volgende dag in die media uitgekryt as kru.

“Ná al die jare word vroue in komedie steeds anders as mans gemeet. Mans kan meer sê as ons. Dis scary.”

Boonop is dit asof gehore meer konserwatief geword het. “Mense is deesdae oor-polities korrek, jy mag niks sê nie.

“Die land, nee die héle wêreld, is so in watte, met Trump en almal. En dan dink ons ons het ’n oorvloed inligting. Ons hét, maar ons sif so sleg, ons glo heeltyd net die twak.”

En: Sosiale media het mense ongeskik gemaak. “Op sosiale media sê hulle vir jou goed wat hulle nooit in jou gesig sal sê nie.”

Op dié Woordfees het sy en Marion egter direk deurgeloop.

Laas Vrydag gryp ’n vrou haar by die Adam Small-teater en sê kliphard: “Daar staan my man, hy kan jou nie verdra nie.” Hy staan toe ewe verleë daar.

“Wat het sy daardeur bereik? Ek probeer toe ’n beleefde antwoord gee, soos, dis oukei, smaak verskil. Maar al wat ek eintlik wil sê: Jy is vieslik ongeskik.”

Hanlie Retief

In Die voordele van eierwit vra Marion se karakter: Doen jy iets aan selluliet? “En wragtig skree ’n man kliphard uit die gehoor: ‘Sê jy!’

“Wat is in so iemand se hart? As jy nie van my hou nie, kry iets waarvan jy hou. Hoekom is mense so beledigend en snydend?”

As haar duracell nou rêrig die dag pap is, gaan lê sy op die bank en binge op Binnelanders. Of sy, Jurg en Luca gaan vir die naweek Pringlebaai toe. Sy loop kaalvoet sonder ’n snars grimering en wonder teen middagete of sy al tande geborsel het.

“En jy gaan nie na ’n pub of iets waar mense kan sê: ‘Jissie Margit het weer dít aangevang’ nie. Dit pla my nie, want wat jy sien by my, is wat jy kry.”

Sy glimlag en Margit se glimlag lyk altyd asof sy ’n graadeentjie is met ’n goue sterretjie teen haar voorkop.

“Ten minutes!” kom die aankondiging.

“Sal jy help met die vals wimpers?” Coenraad gom, hy plak. “O jinne, dit sit aan die onderste lid vas,” sê hy benoud en sy’s vinnig: “A, ’n nuwe voorkoms vandag, dankie Coenraad!”

Lig, vrolik, as sy stres is dit díép weg. “Ek sien nie eintlik die mense nie. Ek hoor hulle. Nie die lag nie, die intrek van hul asems voordat hulle lag.”

En dan is dit “Stand by!” en ek word uitgeboender.

In die gehoor, minute later, hoor ek die intrekke van die asems as sy optrippel, sing: al lyk jou wals soos Zille en jou twostep soos Carl Niehaus . . .

En die gehoor raak ’n lollie in haar hand.

Meer oor:  Aftrede
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.