Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Hanlie Retief gesels met Margot Luyt

As kind op ’n Vrystaatse plaas naby Bultfontein, waar die Augustuswinde haar stroef gelaat en die Lister-enjin smiddae al begin tôk-tôk-tôk het vir lig in die dik stofstorms, het Margot Luyt haarself kon wegdroom in Elisabeth Eybers se verse.

Margot Luyt in haar aller-aller-allerbeste koffiewinkel in Plattekloof, Kaapstad. Foto: Edrea du Toit

Net 13 jaar oud, moet sy ’n gedig voordra by die inlywing van die staatspresident C.R. Swart. “Die gevalle Zoeloe-indoena”. Haar groottone is geopereer en sy kan nie skoene dra nie en haar voete is blou van die bittere koue en sy is maar net ’n bang ou meisietjie.

“Ons skoolhoof, mnr. J.G. Meiring, kom staan styf langs my en troos: ‘ ’n Ontspanne boog kan nie ver skiet nie, my kind . . .’ En ek trek myself regop en val weg met die verse, tot by: ‘Hier waar jy was, sal skape wei’.”

Woorde en verse was nog altyd Margot Luyt se kompaspunte. Haar troos. As formidabele radiovrou kon sy met net die klank van haar stem beelde optower. Vers en klank. Kortom. Háár programme.

En nou eggo N.P. van Wyk Louw hol en klaterend in haar kop: “mooi is die lewe en die dood is mooi”.

Hier sit ek nou op die bank en ek is verlate. My GPS is stukkend, ek weet nie watter kant toe nie, my leier is weg

Op 9 April is haar geliefde broer Francois skielik aan ’n hartaanval dood. Twee weke later het Graham Clarke, haar lewensmaat, met sy rolstoel in ’n kanaal by Century City geval en verdrink.

“Graham was die eerste een wat ek gebel het toe ek hoor Francois is oorlede. Toe Graham dood is, was my eerste instinktiewe reaksie om vir Francois te wil bel. Die twee ankers in my lewe is weg. April word toe die sterfmaand.”

Die swaarste vir Margot is soggens vroeg, met die wakkerwordbesef: Dis nie ’n nagmerrie nie, dis rêrig.

“Dan lê ek in die bed en dink ek moet opstaan en aangaan, maar ek weet nie hoe nie. Hoe?” Haar oë kry trane.

“Gisteroggend lê ek en huil en my kleinkind Isabella gaan sê vir haar ma: “Ouma jyl! Ouma JYL!”

Graham Clarke in sy vroeë 20’s. Ná ’n beroerte op Marion-eiland het hy ingeslote sindroom gekry, wat hom heeltemal verlam het.

Dis laatoggend. Margot staan langs die kanaal by Century City, presies waar Graham, vasgegordel in sy rolstoel, in die water geval het. Stephan, haar kleinkind, en Leslie Baatjies, Graham se oppasser, is by haar. Hulle staar na die water, ongeloof steeds op hul gesigte.

Op die plaveistene lê die blomme wat hulle vroeër daar neergesit het. ’n Paar bleshoenders maak strepe in die water. Dis vir die watervoëls wat Leslie gou Weet-Bix in die Kombi gaan haal het, daardie erge dag.

“Ek het net ’n splash gehoor,” sê hy en skud sy kop stadig.

Graham het ingeslote sindroom gehad – ’n toestand waarin jou brein en al jou sintuie, totaal helder, vasgevang is in jou verlamde liggaam. Hy kon net sy oë knip en sy kop effens beweeg. Hy het sy rolstoel beheer met ’n toestel teen sy ken, en daarvan gehou om vinnig te ry, vertel Margot en glimlag.

Hier het Margot Luyt se Graampie, haar lewensmaat, Graham Clarke, met sy rolstoel in die kanaal by Century City geval. Foto: Edrea du Toit

Kyk, hier’t hy afgekom met die helling, dalk het die ongelykheid by die mangat-deksel sy ken laat skuif. En dit loop skuins, net ’n paar tree en jy is die water in, probeer sy en Leslie vir die hoeveelste keer uitpluis wat presies daardie oggend gebeur het.

Leslie het ingespring en tevergeefs probeer om Graham se kop bo die water uit te lig, want Graham het 100 kg geweeg en die rolstoel byna net soveel. “Om hom daar te los en hulp te gaan kry was vir my die ergste. Twee minute later het ek en die veiligheidswag hom uitgekry, maar toe is dit te laat.”

Het hy in daai stadium na jou gekyk? vra Margot sag.

“Daar was nie reaksie nie. Graham het mos net een long gehad, hy kon nie asem ophou nie.”

Graham in sy rolstoel.

Margot stap stadig na ’n sitbankie. Haar lyf is seer, staan raak ál moeisamer. Sy moet nog woorde gaan leer vir môre se opname van die nuwe reeks van Sara se geheim, en die woorde hop rond soos hase in ’n veld, al meer, al meer vandat Parkinson se siekte in 2017 by haar gediagnoseer is.

Hoe benoud moes hy nie gewees het toe hy hier ingeval het nie, sê sy en daar’s wanhoop in haar stem.

Die laaste kontak met hom, die oggend, was sy SMS: “sweetheart I’m going to the shop, what do you need?”

Mooi is die lewe . . .hoeveel kere het sy dié vers nie al voorgedra nie. En vir jong omroepers geleer: die klem in die reël kom op die én die dood is mooi.

“En nou het die klem vir mý daar gekom. Hier sit ek nou op die bank en ek is verlate. My GPS is stukkend, ek weet nie watter kant toe nie, my leier is weg.”

Hul liefdesverhaal het in 1984 begin toe Graham, op 26 leier van die weerspan op Marion-eiland, ’n massiewe beroerte gekry het. Sy storie was groot nuus en Margot, toe ’n jong omroeper/regisseur by die SAUK, het gefassineerd daaroor berig.

“Ek kan onthou toe hulle hom tien dae later van die skip afgelaai het. Die kamera het hom van die kant af gewys, hy’t nogal ’n groot neus, en nou die dag in die lykshuis het ek weer daardie einste profiel gesien. Ek onthou hoe ek destyds gedink het hy is so mooi. En myself afgevra het: Sou dit vir my beter gewees het as hy nie ’n aantreklike man was nie?”

Hanlie Retief

Jare later was Margot se dogter maats met ’n meisie wie se ma vrywilligerwerk gedoen het by die tehuis waar Graham gebly het. “Dis asof ons bymekaar moes uitkom. Hy het my gekontak, ons het oor die telefoon begin gesels, en die gesprekke het ál langer geword . . .

“Maar ek wou hom nie ontmoet nie, ek het toe al goed geweet ek is verlief op hierdie man met die blik-ke-ri-ge-rekenaarstem.

“Eendag sê hy hy moet by Checkers gaan sit en bedel vir die tehuis, en hy haat dit, wil ek hom nie kom geselskap hou vir vyf minute nie?”

Margot sluip toe stilletjies om die mense tot reg agter sy rolstoel. En die volgende oomblik sê Graham: “You are late, miss Luyt!”

“Dit was, soos hulle sê, die begin van die einde.” Haar stem is romerig van die lekkerte van weervertel.

Die oudleraar Ben du Toit, Margot en Graham se vriend wat die roudiens gelei het, sê dit het hom altyd verstom hoe blind Margot was vir Graham se gestremdheid. Sy het haar selfs opgeruk toe hy eenkeer vir haar gesê het hy bewonder haar.

Margot: “Ek was lief vir daai liggaam. Eenkeer, ná ’n dag op ’n rolprentstel, vra hy hoe dit gaan. Sleg, sê ek, ek het so vet gevoel, so onaantreklik. Toe antwoord hy ‘don’t worry darling, we with our imperfect bodies . . .’ ”

Sy is so bang sy vergeet sy liggaam, sy pragtige skraal hande, sê sy en haar stem bewe.

“Maar . . .” breek ’n glimlag deur, “ons het ook sports gehad met daai hande. Ons lê in die bed, en ek is moeg en sê vir hom I am GV (gatvol) of sleeping like this. Hy lê op sy rug, hande op sy bors, die arms trek mos so styf op. En ek strek sy arm met ’n gesukkel reguit, en wikkel myself tot in sy armholte. En toe ek daai arm los, klap hy toe en wurg my!”

Ná haar ma se dood het Graham vir Margot gesê die swaarste vir hom was dat hy haar nie kon vashou nie.

En hoe graag hy met haar hare, destyds nog lank en welig, wou speel.

“Ek en hy het verskriklike goed aangevang om hom in die bed te kry, want hy is groot en swaar. Dan skuif ek ’n broodbord onder sy boude in en stoot tot ons naderhand bo-oor mekaar op die bed neertuimel met die broodbord wat doer trek!”

Die dokters het destyds gereken Graham sou nie langer as ses jaar lewe nie. Toe kierang hy die dood tot 60 en sterf aan ’n onnatuurlike oorsaak. Met sy lewenslus en intellek het hy ’n buitengewone, betekenisvolle lewe gehad, vertel Ben.

Een aand, weer in die bed, raak Margot vies, want Graham hou nie op giggel nie. Naderhand wil hy weet wat is die datum. 15 Maart. “En hy sê ‘the Ides of March, beware the Ides of March . . .’

“Ek sê Graampie, ek wil nou nie snaaks wees nie, maar dié is allesbehalwe normaal: hier is ’n man wat nie kan praat nie, en in die donker verduidelik hy vir ’n vrou wat nie verstaan wat hy probeer sê nie van die Ides of March . . .

“Jare later lê hy weer een aand en giggel: ‘Onthou jy die Ides of March? Dis vandag’.

“Ons was baie lief vir mekaar.”

Hoe maklik draai ’n mens se lewe nie onderstebo soos ’n skilpad op sy dop nie, sê sy in daardie mooi radiostem, so bekend en vertroud soos die smaak van Milo op ’n wintersaand.

Ná die parkinsons-diagnose het die depressie haar geslaan. Sy wou haar eie lewe neem. Want hoe kan ’n vrou wat vir woorde leef, haar woorde vergeet?

“Graham het vir my Mahler gespeel met Yo-Yo Ma, Dvorák, Mozart, dan gaan sit ons by Blouberg en kyk vir die see en hy pleit by my om moed te skep.”

Maar toe ry sy een oggend Pringlebaai toe om in die see te spring. Sy sukkel by die rots af, dieselfde rots waar sy as kind altyd jillend die see ingespring het. En die gety kom in, en die water is so koud.

“En ek is te swak. Ek bly sit tot skemer en ek dink aan my pa wat selfmoord gepleeg het, wat sterk genoeg was om dit wél te doen. En ek dink aan Graham en die kinders en ek doen dit nie.

“Op pad huis toe gooi ek heeltyd op van die handvol pille wat ek gedrink het, en eintlik wil ek nie opgooi nie, want ek wil eerder doodgaan. En ek verdwaal heeltemal en soek my huis en dis naderhand donkernag.”

Sy kyk oor die kanaal, haar oë verward.

Margot was nog altyd Moeder Cou­rage met haar oneindige liefde, was Johann Symington, haar boesemvriend al vir 50 jaar, se boodskap uit Japan.

So het die vierjarige dogtertjie oor wie sy haar jare gelede ontferm het, haar dogter geword, die ma geword van haar drie kleinkinders. Haar bakermat van liefde.

Sy onthou die woorde op die aanneemdokument: “Van hierdie datum af is Jacqueline Nero asof uit jou gebore”. Dis steeds vir haar die heel mooiste woorde in die wêreld.

Nou is Graampie weg.

En haar boet.

En parkinsons torring aan haar some.

Die middag is vaalverlate.

“En my grootste vraag is . . . waarnatoe nou . . .”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.