Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Hanlie Retief gesels met Marion Fernandes
Kajuit in wolke se elegante waardin

Jy sien haar daar staan, 64 jaar gelede op die ou Jan Smuts-lug­hawe, neus teen die groot glasvenster, in vervoering oor die lugwaardinne wat van die Oranje Sterte afklim en op spykerhake aangeklik-klak kom in hul hemelblou uniforms, byekorfhare, wit handskoene en wapperende serpe.

“Ek het dié SAL-uniform 20 jaar gelede gedra,” sê Marion Fernandes, wat 50 jaar lank ’n lugwaardin was. Sy is nou afgetree, en bedryf ’n kleuterskool in Benoni. Foto: Elizabeth Sejake

Skaars vyf jaar oud, het Marion Fernandes van Benoni geweet sy soek die killer heels, die halwe vlerkie teen haar bors, en die glans. Veral die glans.

Toe Marion verlede Julie afgetree het ná ’n ononderbroke loopbaan van 50 jaar as lugwaardin, was dit as die koningin van die passasierskajuit.

Slegs enkele lugwaardinne wêreldwyd kon haar dit nadoen, en met die huidige intree-ouderdom van 21 en aftrede op 60, sal daardie rekord seker vir altyd staan.

Op 68 is Marion, met haar warm persoonlikheid, steeds pure elegansie en grasie, nie ’n haartjie uit plek nie.

Toe steek die volstruise hul lang nekke deur die net en eet die peuselhappies op.

Sy was nie verniet Pik Botha se gunsteling-lugwaardin nie. PW Botha het haar vermy oor sy Engels is, en toe Nelson Mandela ingehuldig is, was sy die uitverkore kajuitbeampte op die vlug wat die konings en presidente hierheen gebring het – Juan Carlos van Spanje, Konstantyn van Griekeland, Mary Robinson van Ierland, Benazir Bhutto van Pakistan. “Dit was lieflik,” gee sy ’n uitgelate suggie.

“Ek het nooit ’n plan B vir ’n loopbaan gehad nie. My pa het vir Dunlop gewerk en baie rondgereis. Hy het my vertel hoe mooi die lugwaardinne vir die oumense en kinders sorg. Ek was in vervoering, en op laerskool moes my ma en pa Saterdagmiddagetes agter mekaar sit, en dan bedien ek hulle.”

Toe sy op 16 moes begin bril dra, was die Fernandes-gesin in sak en as. Vir lugwaardinne was brille verbode. Die arme Marion het haar doodgesukkel met kontaklense. Om een of ander rede – sjarme – kon sy deurglip as een van 12 gekeurdes uit 200 aansoeke.

Haar eerste vlug in 1969 was op ’n Hawker Siddeley na Gaborone. Sy onthou vandag nog haar angs toe hulle gestuur is om ’n Botswana-minister in die BBP-sitkamer geselskap te hou. Van pure senuwees bied sy hom toe die een koppie tee ná die ander aan. “Siestog, hy was so vriendelik, hy’t elkeen van die 20 koppies gedrink.”

Kort nadat Marion Fernandes in 1969 ’n lugwaardin geword het. Naels is voor elke vlug nagegaan, en die kousnate moes perfek reguit wees, vertel sy. Sy is sesde van links.

Die ou vliegtuie was erg lawaaierig en stamperig, met brandstofreuke in die kajuit, vertel sy. “Ons het die Hawker Siddeley ’n vomit comet genoem, die passasiers het heeltyd opgegooi. Jy styg baie stadig op en dan hang jy skaars bo die bome om ’n bietjie hoogte te kry.

“ ’n Groot net het die passasiers en die vrag agter in die vliegtuig geskei. My kollegas het volstruise op een vlug gehad, en toe steek die volstruise hul lang nekke deur die net en eet die mense se peuselhappies van die opdienborde af. Een keer het ’n klomp hoenders losgekom en die vliegtuig vol gehardloop!”

Marion noem haarself ’n Boeing-meisie wat nooit verkul het met ’n vlug op ’n Airbus nie.

Dit was die glansjare van lugvaart.

“Deesdae, vir veiligheid, moet jy jou voete ferm op die vloer neersit tydens opstyging en landing. Dáái dae het jy jou knieë skuinsgedraai om jou bene langer en meer glamorous te laat lyk.

Altyd op pad. In die middel 1970’s.

“Voor elke vlug is ons naels nagegaan en gekyk of ons kousnate mooi reguit is. Gewig was natuurlik ’n yslike kwessie. Daar was nog nie terme soos anoreksie en bulimie nie, maar baie lugwaardinne het gestres oor hul gewig.”

Marion was van die gelukkiges, sy het 20 jaar lank met haar jas én handsak op die skaal geklim om haar ideale gewig, 53 kg, te haal.

Sy het sewe jaar lank bevordering verbeur omdat net mans hoofkajuitbeamptes kon word. “Ons sou kwansuis ons naels breek as ons die deure toemaak. Net vlugkelners kon die dranktrollies stoot, tee en koffie was ons domein. Toe bly ek maar senior lugwaardin, want ek wou nie ‘opgradeer’ na kantoorwerk nie, ek wou vlieg.”

Sy kan ’n hygroman skryf oor als wat diepnag 11 km bo die aarde gebeur. “Van twee-twee by die toilet inglip vir lidmaatskap van die Mile High-klub, tot . . .”

Sy is een keer opgekommandeer om twee kafoefelende vroue te gaan aanspreek. Marion, maar beskimmeld, het hulle ’n kloppie op die skouer gegee. “Met ’n pieperige ‘nee, nee, julle mag nie!’ Toe trek hulle darem maar weer klere aan. My kollegas terg my nou nog daaroor.”

“Hierdie vlugkelner, Kevin Dadswell, is deesdae ’n Katolieke priester! Hy was in elk geval altyd ons kajuit-priester, met raad vir almal se kwale. Hier vat ons ’n ruskansie in ’n Boeing 747 SP.” Foto: Verskaf

Trou ’n lugwaardin, destyds, het sy haar werk verloor. Marion was ’n paar keer byna voor die kansel, maar haar eerste liefde het altyd gewen. Vlieg.

Sy was “vreeslik opgewonde” toe sy gekies is, met sekerheidsklaring, om saam met oudmin. Pik Botha te vlieg.

“Ons het vertrouelinge geword, wat lieflik was. Ek het net saam met PW Botha gevlieg as Pik ook daar was. So, ek was Pik se waardin en PW het sy Afrikaanse waardin gehad.”

Daar is die legendariese storie van Pik wat ’n vlug op Ilha do Sal vertraag het toe hy aan die partytjie geraak het. Ma­rion lag steeds as sy daaraan dink. “Hy het vir sy vrou gesê hy gaan Chester Crocker in die lughawegebou sien. Pik haak toe vas in die klein disko op die eiland en dans saam met die kajuitbemanning op “Mama Tembu’s Wedding” – die enigste plaat op die eiland.

“Hulle het hom uiteindelik daar gaan uithaal. Hy kom toe by die vliegtuig aan in sy safaripak, goed vrolik, sandale in die hand. Sy vrou was woedend, sy het die res van die vlug nie ’n woord met hom gepraat nie.”

Marion was op Pik se begrafnis, sy sou dit vir niks ter wêreld mis nie. ’n Pik-gedig is voorgelees: “Wie is ek? Ek is ’n passasier . . .” Hy het dit op ’n sigaretboksie op ’n vliegtuig geskryf. ’n IVP-lid langs die aangedane Marion het haar hand ’n drukkie gegee.

Mense het haar kom bedank omdat sy die begrafnis bygewoon het, en dit het haar half verbaas, want “dis mos wat mens doen vir ’n wonderlike man”.

Nie net PW Botha nie, maar ook sy vrou, Elize, het ’n fronsie gereed gehad vir Marion. Die (oud)presidentsvrou was op die SAL se eerste vlug Taiwan toe. Die Taiwannese het vir haar ’n handgeverfde vaas geskenk as “First Lady of the Country”.

“En toe gee hulle vir my ook een, as die ‘First Lady of the Airline’. Ek is op die hande gedra en mev. Botha was heeltyd dikbek daaroor.”

Van al die internasionale celebs op haar vlugte, van Whitney Houston tot Bobby Brown tot Joanna Lumley, het John Travolta haar hart gesteel. Hy het een keer opgespring om haar te help koffie en tee bedien.

“Die passasiers was in die wolke. Travolta is nie so lank nie, maar as hy beweeg lyk dit bietjie ongemaklik, jy sien net bene!”

Daar was die dag toe Marion vir Charlize Theron se ma die leviete op ’n vlug Parys toe voorgelees het. Charlize was so 14, en sy het pas ’n tienerkompetisie gewen. “Haar ma sê toe sy gaan vir Charlize tuis onderrig. Ek sê nee, nee, dit sal nie goed vir Charlize se toekoms wees nie. Ek wonder of hulle nog hierdie voorwaartse waardin onthou!”

Met die Helderberg-ramp in 1988, is Marion die oggend 05:00 wakker gebel. As vakbond-ondervoorsitter was dit haar rol om die naasbestaandes te ondersteun.

“Ek het die volgende dag gevlieg. Op die koerantvoorblad was foto’s van al die bemanningslede. My vriende. Ons het die koerante in ’n kas gestop, ek sou nie die vlug kon hanteer met daardie voorblad in mense se hande nie.”

Die rede vir die Helderberg-val? “Ek dink dit het iets te doen gehad met die weermag.” En dis al wat sy bereid is om te sê. “En nou gaan daardie raaisel saam met die redery sterf.”

Haar eerste noodsituasie was op ’n 707-vlug na Rio. “Daar was kwaai wind van voor. Toe roep die kaptein my en sê weens die wind het ons nie genoeg brandstof nie, ons land dalk ter see.

“Ons het opblaasbootjies gereed gekry en die passasiers voorberei. Almal was opgewonde, asof dit ’n avontuur was, die kaptein het mos gesê ons is veilig.” Sy lag. Want die heel eerste ding wat jong waardinne destyds geleer is, was: hoe spel ’n mens kaptein? Jy spel dit g-o-d.

Die wind het gelukkig gedraai, en hulle kon die lughawe haal. “Aan die einde van die aanloopbaan het die brandstof opgeraak, die enjins het gehoes-hoes en gevrek. En toe kry ’n ou man op die vliegtuig ’n hartaanval.”

Met die sanksies teen Suid-Afrika, was Marion op die laaste vlug uit New York. Die busbestuurder wat hulle lughawe toe sou neem, het geweier om “die klomp rassiste” te vervoer. Hulle moes toe vinnig al die SAL-embleme op hul klere en bagasie wegsteek om anoniem ’n taxi te kry.

In 1998 het die SAL haar en 52 ander kajuitpersoneel se poste oorbodig verklaar.

“Daar’s gesê die SAL het te veel bestuurders, toe verander hulle ons titels van vlug-diensoffisiere na aanboordbestuurders en dank ons af. Coleman Andrews was die uitvoerende hoof. Ons het gelukkig dadelik werk by SA Express gekry. Twee weke later was Andrews op ’n SA Express-vlug en my afgedankte kollegas bedien hom. Hy was só beïndruk, hy’t gesê hulle moet SAL toe kom. Maar jý het ons twee weke terug afgedank, mnr. Andrews . . .”

Die SAL se huidige vryval is vir haar hartverskeurend.

“Ek weet die plek is tot in die afgrond bestuur, maar dis ons nasionale trots. Geen ander redery sal oor ’n sportstadion vlieg, diplomate vervoer, met bemanning in hazmat-pakke gestrande Suid-Afrikaners gaan haal nie. Breek die redery af tot op die been, herbou hom, maar behou hom.”

Kort ná haar afdanking by die SAL is Marion se suster dood. Skielik het sy ’n kitsma vir haar sus se drie kinders geword, waarvan die oudste 16 en die jongste vyf was. “Ek wou van toe af nie meer internasionaal vlieg nie. En in my bachelorette-kombuis met sy muf boks pap in die kas is skielik herderspasteie opgetower.”

Haar dogter is ’n Emirates-lugwaardin en al drie keer getoets vir Covid-19, sug Marion bekommerd.

Ná 21 vliegjare saam met Comair, het Marion laasjaar afgetree, ver verby aftreeouderdom want Com­air wou haar nie los nie.

“En ek voel nog steeds of ek ’n 20-jarige onder die tafel sal kan inwerk. Die 50 jaar het verbygevlieg.

“As ’n mens lief is vir iets, is dit mos nie werk nie. My lewe het afgespeel in daardie kajuit in die wolke, en ek was die waardin daarvan.”

Meer oor:  Sal
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.