Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
‘Dis tyd om die moeilike goed te doen’
Hanlie Retief gesels met Mark Barnes

‘As jy om ’n tafel gaan sit en een ou is vasberade om Noordpool toe te gaan en die ander ou wil Suidpool toe, is dit ’n totale mors van tyd om te argumenteer oor op watter bus jy moet klim, oukei?”

Mark Barnes het bedank as uitvoerende hoof van die Poskantoor ná verskille met die regering oor ’n toekoms vir die staatsonderneming. “Maar ek sing nie in die koor van die sinici, die kritici nie, want dit help niks. Ons moet almal hande vuilmaak in Projek Suid-Afrika.” Foto: Angus Barnes

Hier’s die ding, Suid-Afrika: Ons kort ’n gemeenskaplike doelwit soos laas met die 2010-Wêreldbeker. Ons was verenig om ons doelwit, ons was wêreldklas, sê Mark Barnes, die buite-die-boks-bankier wat die Poskantoor gaan red het voordat die regering dit vir hom “Mission Impossible” gemaak het.

Hoekom sukkel Suid-Afrika so om op die regte bus te klim? Jy hoor frustrasie in dié blue chip maverick se antwoord: “Omdat ons heeltyd konsensus probeer soek sonder om ’n gemeenskaplike doelwit te hê. Nou dáái’s twee woorde vir jou: gemeenskaplike doelwit.

“Daarsonder staan jy doodstil, jy vorder nie ’n tree nie. En dié wat die meeste benadeel word, is die einste populiste van wie jy die mandaat wou hê.”

Ons moenie die heeltyd terugval tot die laagste gemene deler van populisme nie, sê Barnes, die heeltyd die binnewerkinge van die stelsel, die goeie beleid wat ons met soveel moeite tot stand gebring het, verander nie.

“Dis soos om wes te neuk terwyl jy op pad Noordpool toe is. Maar om dit te kan teenstaan, het jy sterk leierskap nodig.

“Die alternatief? Om ons te onderwerp aan die IMF? ’n Mislukte staat te word? Too ghastly to contemplate.”

Dis soos om wes te neuk terwyl jy op pad Noordpool toe is.

Drie en ’n half jaar gelede het Mark Barnes gesê ngilapha ukusiza, Sapo – ek is hier om te help, Poskantoor.

“Ek het drie doelwitte gehad. Ek wou bewys dat ’n staatsonderneming nie ’n mislukking hoef te wees nie, ek wou die Poskantoor rat om maatskaplike toelaes aan 17,5 miljoen mense te kan betaal en miljoene rande vir die regering te spaar, en ek wou die ou Posspaarbank omskep in ’n volwaardige staatsbeheerde bank onder Poskantoor-beheer wat die Poskantoor se taknetwerk gebruik om bankdienste aan armes te bied.

“My visie was nie ’n ou-generasie-Poskantoor nie, maar ’n kommersiële, geïntegreerde staatsbeheerde infrastruktuur. Posdienste het net ’n toekoms binne ’n ten volle geïntegreerde model.”

Barnes het wonderlike sukses behaal met sy eerste twee doelwitte, maar toe val hy vas met die derde. Die regering was in hul noppies met Barnes se visie vir ’n Posbank, maar besluit toe om dit los te maak van die Poskantoor. Wes te draai.

Die raad en die bestuur het Mark se visie eenparig ondersteun, die teenstand het van die regering gekom.

“Die Posbank kan net werk binne ’n geïntegreerde model. Om dit los te maak van die Poskantoor, glo ek in my hart, gaan albei van hulle vernietig.”

Binne weke ná Eskom se Phakamani Hadebe en die SAL se Vuyani Jarana die hasepad gekies het omdat hulle nie kon saamleef met die rigting waarin die ondernemings gedwing word nie, het Barnes sy bedankingsbrief ingedien.

Thuma mina, het ’n koeranthoofopskrif dit gestel: Stuur my. Maar nie aan ’n leiband nie.

“Ek wil nie weer daai boks oopmaak nie,” sê hy vinnig, “behalwe net: My strategie was van die begin af duidelik. As iemand besluit hy wil iets anders doen, kan ek nie meer die verantwoordelikheid aanvaar om die kar te bestuur nie. Dis al.”

En nou gaan die kar ’n muur tref?

“Nee, dalk sien hulle dit net anders, dalk sien hulle die Poskantoor as ’n noodsaaklike diens wat hulle vir ewig gaan subsidieer. Ek sien nie dié logika in nie, maar as dit is wat hulle wil doen, is dit reg met my.”

Die Mark Barnes-gevallestudie vir Suid-Afrika Bpk. het dalk misluk, maar hy weier om in die koor van kritici te sing.

“Ek dink dis belangriker nou dat ons saamstaan eerder as kritiseer, op hierdie mespunt waar Suid-Afrika hom tans bevind. Van my kollegas sê vir my hoekom gaan surf jy nie maar eerder in Kommetjie se see nie? Jy het genoeg gedoen. Maar dis juis nou tyd vir aksie. Ons is nie ver van die punt waar daar geen finansiële opsies vir Suid-Afrika oor is nie. Inteendeel, dis maande weg.

“Ek glo steeds, dalk naïef, dat ons land ongelooflik welvarend kan raak as ons die ongelykhede op ’n gestruktureerde, staatsondersteunde manier kan pak. Almal moet ook na die partytjie kom, vir ’n breër belastingbasis. Weet jy, as ek gaan sit met ’n pen en ’n stuk papier, kry ek die oplossings.”

Dink hy die pensioenfondse moet gedwing word om in staatsprojekte te belê?

“Jy kan nie geld leen om skuld te betaal nie. Om in die pensioenfondse te duik is om te leen uit ons toekoms.

“As jy by die punt uitkom waar jy begin sê: oukei, al uitweg is voorgeskrewe bates, wel, dis weer soos om te sê kom ons draai wes.”

As dit al manier is om die IMF te vermy? “In ’n desperate omgewing raak desperate oplossings al uitweg. Dan moet jy bepaal: om Pasiënt Suid-Afrika nou stabiel te kry het ons geen ander keuse nie, maar dit is bloot ’n korttermynoplossing.”

Hy stem nie saam dat afgraderings en buite-ingryping al manier is om die regering te dwing tot ekonomiese hervormings nie.

“Die oplossing lê nie in buitemense wat ons kom dissiplineer nie, swak gedrag moenie bloot gereguleer word nie, dit moet met goeie interne bestuur omgeskakel word tot goeie gedrag. Kragdadige buitelandse dissipline druk swak gedrag net ondergronds.

“Die raakpunte tussen beleid, ons land se maatskaplike mandaat en kommersiële lewensvatbaarheid moet nou gevind word,” sê hy.

Die uitdaging is nie om die sagste teikens te vind nie, maar om die moeilikste teiken te oortuig van die waarde wat ontsluit kan word, sê hy.

“Dis om te sê: Vergeet van die verlede, vergeet wie ons was, wat is hierdie staatsonderneming se werklike vermoë?

“Die een ding wat ons by die Poskantoor reggekry het, was om die kultuur van verwagtinge te verander. Om ons mense se gedagtes oor sukses te verander, om weg te beweeg van die plek waar mislukking die toevlug was.”

Die Poskantoorwerkers het begin verantwoordelikheid aanvaar, eie oordeel gebruik, gedesentraliseerde besluitneming het ’n kultuur geword.

Barnes kon daarin slaag om tot selfs die vakbonde agter hom te verenig in sy visie. “ ’n Vertroue het ontwikkel tussen ons en hulle, want ons het altyd die waarheid gepraat, en ná vele debatte het almal die harde werklikhede van die Poskantoor begryp. Niemand kan teen feite argumenteer nie. Ons het mekaar met respek behandel, en méér nog, ons het ons doelwitte met totale respek behandel.”

Maar alle regrukplanne tref iewers die stormwaters, voeg hy by, en dan begin jy twyfel of die kool die sous werd is.

“Dis waar leierskap inkom, waar jy sê: Ouens, hou by die plan, die veranderlikes wat ons verwag het, is nou hier, dinge neem effe langer. Ons plant, ons plant, moenie nou al wil oes nie, die uiteindelike oes gaan groter wees.”

In ’n land waar die meerderheid so lank nooit by oeste uitgekom het nie, is die kultuur van dissipline, van wag, van spaar, soveel meer gekompliseerd, sê hy.

Hoe groot ís sy kapasiteit vir masochisme? As Jabu Mabuza, Eskom se raadsvoorsitter. hom bel en sê, bru, thuma mina, Eskom het jou nodig – sal hy gaan help?

Hy huiwer nie ’n oomblik nie. “Ek sal die kans aangryp. Já. Ek sal.”

Wat antwoord hy op dié oorloop van wantroue in ’n regering wat knaend teleur stel? “Ek belowe jou, ons is nog nie ’n mislukte staat nie. Ek sê: Skrik wakker man, en omhels mekaar.

“Ons het soveel verskille, ek huiwer om die woord verenig te gebruik, daar’s soveel grense om oor te steek, soveel gietvorms om te breek . . . Maar is dit dit werd? Hel, ja!

“Kan ons hierdie rugbywedstryd wen? Het ons ’n slot? Ja. ’n Vleuel? Ja. ’n Heelagter? Ja. Maar kan hulle saam speel? Nie? Dan’s ons moer toe.

“Die slot wil drieë druk? Dan’t ons nie ’n kans nie. Óók as die vleuel in die skrum wil gaan druk, want die ander span se vleuels en slotte weet wat om te doen. Die slot kry nie glorie nie, hy is vuil en groot en lelik maar hy gee die bal vir die blitsige vleuel wat die drie druk en almal juig. Maar as hulle rolle omruil . . . Dan’s ons, wel . . . f*cked!”

Waar is ons wedstrydplan, Suid-Afrika, waarin almal hul onderskeie rolle erken? Dis wat die All Blacks doen, hul wedstrydplan begin reeds op skoolvlak. “Ek wil hulle nie eens as voorbeeld noem nie, ek haat die bliksems, maar wat hulle doen, wérk.”

Ons hoef aanvanklik nie eens sukses te behaal nie, ons moet net wys ons is op die pad na herstel, dan sal die wêreld agter ons staan, die beleggings instroom.

“By die Poskantoor het ek vir hulle gesê: As julle by my staan, gee ek julle die moontlikheid van ekonomiese waardigheid, maar dan moet ons die moeilike goed doen. Dis hoe ons suksesvol geword het.

“Ek het in my drie jaar daar meer geleer as wat ek hulle geleer het.”

Is hy meer sinies?

“Ek raak soms kwaad, en teleurgesteld partykeer, maar ek is nie sinies nie. Daar is nie plek daarvoor nie, ons het groter dinge om oor te worrie.

“Ek sê weer: Ons land dans op ’n mespunt. Dis nou tyd om op te staan. Om uit te styg. Ek weet ons gaan.”

Meer oor:  Mark Barnes  |  Poskantoor  |  Bedank
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.