Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Hanlie Retief gesels met Marlon Appollis

Daar sit hy.

Hardegat en bedonnerd. Dis hoe dié speursersant homself beskryf terwyl hy ’n Rothmans uit die rooi pakkie skud.

Speursersant Marlon Appollis kon laasjaar die moord-dossiere van drie opspraakwekkende moorde wegpak: dié van Hannah Cornelius, Susan Rohde en die Van Breda-gesin. Hy is nou by die nuwe bende-eenheid in die Boland, met “kliënte” in woonbuurte soos Kayamandi. Foto: Edrea du Toit

Jason Rohde, Henri van Breda en Hannah Cornelius se drie tikkop-moordenaars tune hom seker anders, want hy het hulle almal laasjaar tronk toe gepos.

“Sonder ’n return ticket.”

Ontmoet Marlon Appollis, “twee pees, twee elle”. Kort. Gespierd. Sy oë mis niks, sy hande hou van beduie en sy bleskop blink so onder die hofligte, dit lyk vir my kollega soos ’n Chocolate Éclair-suigstokkie.

Op die vaalbruin SAPD-dossiere van dié drie opspraakwekkende moordsake kon hierdie sersant onder die hofie “Beskikking oor dossier” met groot lekkerte skryf: Bêre.

’n Plesierige woordjie daai. Bêre. Saak afgehandel.

“Sê jy! Een vark minder om oor te worrie. Die familie het antwoorde gekry. Maar in Henri van Breda se geval soek ons nog één antwoord: Hoekom, Henri?”

Dis vandag presies vier jaar nadat Henri van Breda sy ouers, Martin en Teresa, broer, Rudi, en suster, Marli, in hul huis in De Zalze, Stellenbosch, met ’n byl aangeval het. Net Marli het oorleef.

Dit was die grusaamste moordtoneel in Marlon Appollis se speurloopbaan.

Die familie het antwoorde gekry. Maar in Henri van Breda se geval soek ons nog één antwoord: Hoekom, Henri?

Op die koffietafel in sy huis in ’n Bolandse dorp lê ’n stapel dossiere langs 'n swart Bybeltjie en die magasyn van sy 9mil-standaardpolisie-Beretta (“vroulief al vir 13 jaar”).

Hy klik die Van Breda-lêer oop op sy skootrekenaar en skielik is ons op die moordtoneel.

Die polisiekamera swaai 360° oor Gos­kestraat 12 se grondverdieping. “Naais nè, ons is gevorderd met dié tegno-goed in die polisie, moenie ons vlak kyk nie!”

Op die tafel sien jy Teresa se handsak. Beursie, selfone, niks gevat nie. “Dadelik het jy vraagtekens oor ’n inbraak-motief.”

Die huis is hipernetjies. “Maar onpersoonlik. Kyk die sigaretstompies op die kombuisvloer. Hulle het nooit in die huis gerook nie. So, hier het Henri gewys: Ek is nou in charge, ek druk sigarette op die vloer dood.

“Kyk die lang lys noodnommers op die yskasdeur – hoekom moes Henri die noodnommers daai oggend kamstig google?” gly die sersant terug in speur-rat.

Op met die trappe beweeg die kamera tot by Teresa se liggaam.

“Marli was langs haar. Sy is actually ’n walking miracle. Hy’t haar slagaar met ’n haarbreedte gemis, haar oor heeltemal afgekap, hulle moes hom weer aanwerk, die dokters in Somerset-Wes was uitstekend.”

In die seuns se slaapkamer lê hul pa. “Sien jy,” wys hy na Martin se oopgespreide arm, “hy het Rudi probeer cover. Rudi is taamlik ge-panelbeat. Kyk die bylhoue, dis woede, dis kwaad. En die houe, alles van agter.”

Foto ná foto, klik-klik, doodsoomblikke vasgevries in ’n SAPD-lêer.

Hy sny maar die emosies af, kom die antwoord nog voor die vraag.

“Ek en my vrou praat baie daaroor, ons skel ook maar die meeste van die tyd, want dit bly werk-werk-werk, wanneer het jy tyd vir ons?”

Marlon sal nie vir publikasie sê hy het die eerste dag al geweet Henri is skuldig nie, “maar ek het geweet hy het ’n vinger in die paai. Dit was so fishy, almal is opgekap met ’n byl, hier staan dié parra met ’n paar skrapies.”

Fishy, ja, ook toe die donner sy hele pakkie Rothmans tydens ondervraging opgerook het, brom Marlon. “Ek het hom R5 ’n siggie gecharge, maar nie die geld gevat nie!” Sy skouers skud van die lag.

Dit was moeilik om daai knaap te peil. “Hy was so cool, calm en collected. Met iets kouds in die oë.”

Psigopatieserig? “Iets soos dit, ja. Maar as ons nog so drie uur gehad het, dink ek ons sou hom gekraak het.”

Oor Henri het Marlon egter nie naastenby soveel woede gevoel as vir die moordenaars van die Matie-student Hannah Cornelius nie.

Oor hy self ’n meisiekind het.

“Ek kry kouevleis as ek dink wat deur haar kop moes gegaan het. Hier ry sy saam met vier onbekende mans in die donkerte ’n bos in. Ek dink aan my kind, al die meisiekinders wat in hierdie wrede lewe moet grootword.”

Hy kyk op, sy mond ’n streep. “Jy’t gesien hoe’t daai moordenaars aangegaan in die hof. No remorse.

“Almal blameer die samelewing. Maar dis tog jou keuse. Jy kan nie tik blameer nie. Ek wil hulle vra: Is dit nou wat dwelms doen? Rêrig? En watse satisfaksie het jy gekry? Niks. Haar ma is dood. Haar pa is stukkend. Toe die pa in die hof getuig, het hy my in trane gehad. Ek moes uitstap.”

Hy kon self ook so uitgedraai het, knik Marlon. “Altwee my broertjies was op dwelms. Tik is ’n euwel. Kyk, ek was altyd die swartskaap in die huis, en nou’s ek die witbrood! Funny, nè.

“Ek het my broertjie self gaan toesluit in Grabouw se selle toe hy my geld gesteel het.”

Hy het die “curse” van ’n gebroke huwelik ook gebreek, sê hy. “My oudste word 12, die baba is vyf, ek sal nie aan hulle doen wat aan my gedoen is nie.”

Marlon was ’n oupa-en-ouma-kind. Daai tyd was dit nog rottang, nat vadoek, plakkie en ouma se slipper.

“Dit het gewerk, hoor. Want kyk, dit was óf reg óf weg. Sy maak die vadoekie nat, dan vat sy jou aan die een hand en jy dans rondomtalie tussendeur die vadoek-klappe.”

Ná sy grootouers se dood is Marlon na sy pa in Grabouw “tussen die appeltrappers” om matriek klaar te maak.

Dis waar sy vriende hom uitgedaag het om by die polisie aan te sluit.

“Ek sê nee, man, ek het nie tyd vir sulke k*k nie, ek vang dan self k*k aan, hoe de hel. Toe sê hulle dit vat een k*k-maker om ’n ander een te vang. Vorms ingestuur, en daar bel hulle my wragtig vir ’n onderhoud, en hier sit ek nou nog.”

Hy geniet speurwerk. Nee. Meer. Dis sy alles.

Vra hom oor bevordering en hy vra terug met ’n smaail: Ís daar so iets in die polisie?

Een nag ry hy huis toe in die klein polisie-Polo, en net ná Kylemore se afdraai “skrik ek wakker en hier kom ’n barrier deur die cubbyhole tot op die agtersitplek. Dis amper asof die Here my regop gehou het. Bietjie diekant toe, en ek was dood.”

Hy sê hy slaap rustig, maar in die volgende asem vertel hy hoe hy snags wakker skrik met die sake wat resies jaag in sy kop. Dan gaan hy sitkamer toe, luister Bach – ja Bách – en begin werk.

Met die eerste plaasmoord in die Wes-Kaap het Marlon die Sondagnag ook só gesit en toe skop “daai sesde sintuig in”. Hulle is net daar Kayamandi toe en trap toe Alberto Costa se een moordenaar vas.

Ure later, en hulle sou hom gemis het.

“As iets vir jou sê doen dit, doen dit. Moenie twyfel nie.”

Sy selfoon lui. Dis Stephen Adams, kollega en boesemvriend. Hulle praat halwe sinne. “Wanneer kan ons opkoppel? Nee, moenie die bron hientoe bring nie, is jy mál? Safe, kwaai.”

Voor Marlon laasjaar na die bende-eenheid verplaas is, was dié twee ons local Miami Vice-gatskoppers. Die Vinkel en Koljander van die Stellenbosch-speurtak word hulle genoem ná vele suksesse in 11 jaar.

In 2012, ná ’n sessie van 48 uur om ’n moordsaak op te los, sak hulle moeg die polisiestasie in, reg vir ’n lekker bier, saak afgehandel.

“Nee, sê die kolonel, hier’s die volgende ene.”

Jacobus Eksteen, die Matie-student wat sy vriend se sussie, Erin Janse van Rensburg, vermoor het, het gesit en prut in die aanklagkantoor.

“Ons is vinnig huis toe, hallo mammie, baai mammie, hier gaat ons alweer. Jis, my vrou was die donner in.

“Al wat ons uit Eksteen kon kry, was dat hy die krapmerke aan sy been iewers aan die Weskus gekry het by ’n dubbelduin sonder draad langs die pad.

“Elfuur daai nag gaan soek vyf van ons die dubbelduin. Duskant Elandsbaai stop ons, want een wou gaan fluit. Terwyl ons vir hom wag, sien ek daar’s g'n draad nie, net ’n paaltjie met ’n bierbottel op en ’n klip onder die paal. Vreemd. Duin op sien ons sleepmerke. Heelbo is gras wat onderstebo teruggeplant is.

“Ons laat die honde uitkom, hulle het ’n halwe dag gegrawe, toe kry hulle haar twee meter diep. Dis ’n eenkeer-in-’n-loopbaan-ding dáái.”

Die oomblik wanneer boeie om polse klik, sien Marlon hoe die moordenaar binne oomblikke tien jaar ouer lyk. “Hulle weet nie wat kom nie en hulle weet nie wat óns het nie, en daai’s die ergste.”

Dit was presies so met Jason Rohde, wat sy vrou in kamer 122 van die Spier-hotel verwurg het.

Marlon klik op die Susan Rohde-lêer. Op die badkamervloer lê sy. ’n Ou kneusmerk aan haar bobeen. Kamerjas verkeerdom aan. Wurgmerke. Weerloos.

“Rohde is ’n lafaard.”

Die ergste sake in sy loopbaan . . . hy weet nie watter nie. Baie was. Baie.

“Hannah het my heeltemal gerattle. Totdat ek met Jodene, my vrou, gaan sit en praat het. Sy is ook in die polisie, sy verstaan.”

Die forensiese ouens maak die kinderlyke op outopsie-tafels toe as hy instap, hulle weet hoe ontstel dit hom.

“ ’n Kind se seer vat vir my tot binne my element.”

Partykeer, diepnag, draai sy binnekant net duskant stukkendbreek om.

“Dan gaat sit ek op die stoep en rook. En . . .” hy wys na die swart Bybeltjie.

“Jy kom daar. By stukkendbreek. En dan moet jy maar net weer terugdraai.”

Dis al.

“Ek weet nie hoe om dit te beskryf nie, maar as ek vir ’n familie closure kon gee . . . Jissou. Daai drukkie van die ma . . . dit moedig my elke keer aan om te sê: Raait, bring die next een.”

Meer oor:  Jason Rohde  |  Henri Van Breda  |  Marion Appollis  |  Speurwerk  |  Moord
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.