Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Hanlie Retief gesels met Martie Pansegrouw
Rooi rose vir ’n tydskrif-begrafnis

Vrees het in ’n e-pos haar huis in Boskruin binnegesluip: Maandag 10:00 wil ons die redakteurs by hoofkantoor sien.

Martie Pansegrouw, redakteur van Rooi Rose, in haar huis in Boskruin. Sy moes die afgelope week vir haar redaksie vertel die tydskrif sluit ná 78 jaar. Foto: Deon Raath

Wat kan dit wees? Herskikking? Reëlings vir die terugkeer kantoor toe?

Dit was rondrol, tob, nag deur vir Martie Pansegrouw verlede naweek.

By Rooi Rose het sy en haar span reeds als tot die been gesny, digitale bokspringe begin maak, want wêreldwyd is die skrif vir tydskrifte lankal aan die muur in klikke op Pinterest.

Maar nie vir Rooi Rose nie. Instellings verdwyn mos nie sommerso nie, het Martie-hulle geglo. Vir 78 jaar al is Afrikaanse vroue se drome daarin vasgevang.

“Ons is die oudste en grootste vrouetydskrif in die land. Ek loop in die spore van groot name. Ek loop in die geloofsdaad van Hendrikus Potgieter met sy A5-tydskriffie in 1942 om Afrikaanse vroue uit armoede op te hef.”

Hulle kyk net na die syfers, hulle kyk nie na die waarde nie.

So, dinge was in bedwang, het Martie-hulle gedink. Rooi Rose se digitale voetspoor hét gegroei, die podsendings wás ’n gewilde nuwigheid.

“Ons was trots op wat ons digitaal kon regkry, dis nie of dit wáárdeloos was nie.”

Haar stem klink hol, verwese. En toe kom Maandagoggend 10:00.

Op regop stoeltjies in Caxton se raadsaal, een-en-’n-half meter van mekaar, sit sy en Eldaleen Hugo, Vrouekeur se redakteur, Garden and Home, Country Life, almal daar, grootoog vir wat kom.

En die vuurpeloton met sy Excelblaaie lê aan: Caxton se tydskrifafdeling maak toe.

“Ons het dit glad, glad nie verwag nie. Daar was ’n begrafnisstilte.”

Sy begin huil.

Die tydskrif soos ons dit vandag ken.

“Ek kan nie eens probeer om die ontreddering van daardie oomblik aan jou te beskryf nie. Ek is oukei, by aftrede al, maar my span . . . ai. Ons is soos ’n familie en ek is die ma, dit voel of ek die kos uit hul mond gaan vat.”

Twee dae later hoor jy steeds die verslae ongeloof in haar stem.

“Ek het nog nie by kwaad uitgekom nie, ek is letterlik net verslae. Ek weet ek gaan in ’n stadium woedend wees en ek sien uit daarna, want dan kan ek dit uit my gestel kry. Dit prut klaar, dit prút.

“Wat gaan deur jou kop as jy hoor iets wat jy vir jare lank jou léwe gegee het, is daarmee heen? My hart wil dit nie weet nie.”

Sy vertel hoe sy half outomaties huis toe gery het, wetende die dag moet deurgedruk word sonder om haar redaksie te vertel, dit moes eers amptelik deur die bestuur aangekondig word.

“En toe gaan sit ek maar net. En doen wat joernaliste doen. Begin werk. Ek het Margaret Gardiner se blog uit Los Angeles vertaal, goed wetende dit gaan nooit die lig sien nie.

“Margaret het geskryf hoe sy, haar man en seun tydens inperking op Kalifornië se platteland gaan rondry het. Die papawers het haar laat verlang na die Karoo se veldblomme; anders, maar tog dieselfde.

“En hoe haar hart steeds hier is. En ek sit en vertaal dit tussen die trane deur.”

April 1942: Rooi Rose se eerste uitgawe.

En die ergste: Heeldag bel haar redaksielede, opgewonde oor planne vir volgende uitgawes, en sy gee sulke hol antwoorde, en dit sit soos ’n klip in haar keel, dit laat haar vreemd skuldig voel.

“Ek wou eintlik net skreeu: ‘Dis verby, julle, stop die lorrie’.”

Sy het dié nag weer niks geslaap nie. Sy onthou die hadedas, soos altyd, hoe die son opkom in ’n dun dagbreek, haar man, Faan, wat koffie aandra.

09:00: Die redaksie se gesigte in Zoom-blokkies op haar rekenaarskerm. Van hulle was nog effens uitasem nadat hulle voor die fase 4-spertyd met hul kinders gaan stap het.

“En toe sê ek vir hulle. En ek sien die verwarring op hul gesigte; dis nie maar net ’n gewone beplanningsvergadering vir die Julie-uitgawe se sop en winterklere nie . . .

“Dis of ek almal se ergste vrese bewaarheid het. Hulle wou al pleitende weet: ‘Doen ons nie genoeg nie? Gee ons nie genoeg nie?’

“Agterna het ons skoonheidsredakteur, Suzanne Kotzé, gesê wat van ’n artikel oor hoe ’n mens elegant op Zoom kan huil?

“Jy is so deel van jou mense se drome. Hannelie Diedericks sou nou by my oorneem. Dis twee dae later en steeds kan sy nie praat nie, so stukkend is sy, want die 14 jaar wat sy alles hier gegee het, voel vir haar net wég.

“Van my redaksielede is heeltemal alleen, of enkelma’s en mense met moeilike omstandighede by die huis.

“Die tydskrif is hul lewe, hul brood . . . skuus, hier tjank ek weer.”

Toe Martie twee weke terug gehoor het die Jane Raphaely-empire gaan tot niet, het sy nog gedink, “There but for the grace of God, go I”.

“Hoeveel honderde mense het nou nie meer werk nie? En boonop in hiérdie ekonomie, in hiérdie virus-tyd. Vir elke redaksielid wat ’n werk verloor, is daar seker nog drie vryskutte ook sonder inkomste.”

Martie is ’n onwaarskynlike redakteur. As deugdelike predikantskind met joernalisdrome het sy maar knie gebuig en met ’n onderwysbeurs op Potch gestudeer. Sy het gaan skoolhou en met die SAUK-joernalis Jan van Niekerk getrou. “Hy was hul verteenwoordiger in Londen, so ek het nooit ’n loopbaan gehad nie, ek het twee kinders grootgemaak; skoolgehou, maar nooit ’n permanente pos gehad nie.”

Ná hul egskeiding het sy, half onverwags, ’n kans gekry vir haar droomwerk.

“Met die skoolhou het ons ons eie materiaal begin ontwikkel en ek beland toe as uitgewer by Perskor. Toe Willem Struik oorskuif tydskrifte toe, reël hy vir my ’n werkonderhoud by Joan Kruger, Rooi Rose se formidabele redakteur.

“Ek het haar nog altyd van ver bewonder. Ek wou die soort redakteur wees wat sy is: Bekwaam, maar voete op die aarde – én ’n taalmens.”

Toe Martie daar begin het, was Rooi Rose nog tweeweekliks. “Dit was Joan se groot plan om ’n maandelikse glanstydskrif uit te gee. Ek en Liezl de Swardt, wat Joan opgevolg het, het stilweg daaraan beplan en adverteerders gekry, stil-stil, dit moes ’n verrassing wees. In November 2000 was dit op die rakke. ’n Hoogtepunt wat net aanhou groei het.”

Twee dekades lank, dik tydskrifte, tot 300 bladsye vol advertensies en hoogtepunte soos prinses Charlene van Monaco. “En Charlize Theron in opvolgvoorblaaie ná haar 1991-debuut op 15, met haar wangetjies nog so tiener-rond.

“Gloriejare. Vir ons het dit gevoel ons maak saak. Ons het so ’n nou verbintenis met ons lesers. Ons doen elke jaar drie Kansa-tees vir kanker. Kan jy glo, dís ook nou natuurlik daarmee heen,” begin sy weer huil. “Daar het ons ’n broodnodige klomp geld ingesamel vir ’n baie goeie saak.

“En oral waar jy met die lesers skouers skuur, vertel hulle wat jou tydskrif vir hulle beteken, hoe hul ouma en ma ingeteken het, deel van ’n gesin en ’n huishouding. Hoe hulle ry na plattelandse poskantore toe, die opwinding om die blink plastieksakkie oop te skeur en daar is sy: ons Rooi Rose.

“En dis nou net . . .wég?

“Valiant Swart, wat reeds vir jare ’n rubriek skryf, het onlangs dankie gesê dat ons hom nog dié kans gee, want alles verder is gekanselleer.”

Toe die nuus oor Rooi Rose breek, was daar ’n vloed van ontsteltenis op sosiale media.

Martie Retief-Meiring, doyenne van Afrikaanse joernaliste, skryf dit voel soos die dood van ’n naaste: “Rage, rage against the dying of the light . . .”

Joan Kruger: “Daarmee verdwyn ’n stuk van Afrikaanse vroue se geskiedenis. Mens laat sak net jou kop in jou hande.”

Hanlie Retief

Een vir een het Martie hierdie kommentare in nog ’n slapelose nag deurgelees. “Pleisters. Dit troos my.”

Die TV-vervaardiger Carien Loubser, wat haar medialoopbaan in 1997 by Rooi Rose begin het, skryf: “Dit was van die beste tye van my lewe en ook die tyd waarin ek die heel meeste geleer het . . . Ek hoop van harte dat slim maatskappye hierdie ongelooflike workforce iewers langs die pad sal optel, want hulle is goud.”

Martie gee ’n laggie. “Ons hoop ook, Carien. Daar word nou hard gesoek vir ’n ridder op ’n wit perd. Jy kry die tydskrifmeisie nie onder nie, sy is altyd besig om planne te beraam.”

Wat Rooi Rose haar – en almal – geleer het, is om die mooi raak te sien en te waardeer, fluister sy.

Dis nie sommer nie, dis spesiaal.

“Die redaksie kom altyd met iets nuuts, die kreatiwiteit het my verstom. Dit was soos om in ’n blommeveld te verdwaal.”

Die dalende verkope het ’n al hoe groter probleem begin word, sê sy. “Jy kan verstaan as mense in hierdie ekonomie nie meer tydskrifte koop nie, maar dis juis die verkeerde besluit, want dis veral dán wanneer jy ’n tydskrif nodig het om jou kleiner wordende wêreld te verruim.”

Wat hul rug finaal geknak het, was ’n verlies aan advertensie-inkomste. Sedert die inperking het adverteerders heeltemal onttrek.

“Ironies is dit juis in tydskrifte waar advertensies tot hul reg kom, want mense lees die advertensies twee, drie keer; mens lees lank aan ’n tydskrif. Wie lees advertensies digitaal? Jy klik bloot daaroor.

“Dis vir my die hartseer daarvan: Hulle kyk net na die syfers, hulle kyk nie na die waarde nie.”

Steeds kry Martie se kop dit nie reg om óm hierdie ding te kom nie. Dis net te groot om te omvat: Rooi Rose is dood.

“Dis ’n massiewe begrafnis van mense se drome.”

Meer oor:  Martie Pasegrouw  |  Hanlie Retief  |  Rooi Rose  |  Tydskrifte  |  Caxton
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.