Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Hanlie Retief gesels met Mbuyiseni Ndlozi
Che Guevara in rooi oorpak
Amptelik die land se sexyste parlementslid. Doktor Mbuyiseni Ndlozi, oftewel die People’s Bae. Foto: Conrad Bornman

‘Honourable Dr Ndlozi, please take your seat. Honourable Dr Ndlozi, don’t pontificate!’

So gaan dit. Heeltyd. En dan, as hy uiteindelik gaan sit, klap die agbare doktor die parlement se mikrofoonarmpie met ’n swaai en ’n glimlag na onder.

’n Bright bliksem, noem die politieke ontleder dr. Piet Croucamp dié EFF-woordvoerder en -LP.

Skaars 30, met ’n doktorsgraad in filosofie, ’n liefde vir Nina Simone en Afrika-kerkkore en ’n gebrek aan ontsag vir enige heilige koei.

Van dié sexy revolusionêr, Che ­Guevara in ’n rooi oorpak, kan selfs dié wat polities van hom verskil, nie genoeg kry nie.

“Beauty AND brains!” was die uitroepe aan albei kante van die parlement toe die People’s Bae onlangs gelukgewens is met sy doktorsgraad.

Julius Malema, Ndlozi se CIC (commander in chief) is die EFF se T 14-tenk teen Duduzane-se-pa. Ndlozi bring die sjarme-offensief.

Dié wat ons toekoms beheer, is besig om dit op te vreet. Dís hoekom ek hier is, my pad is nou politiek.

Toe die voorsitter van die ad hoc-komitee oor die SAUK-raad vir Phumzile van Damme (van die DA!) nie ’n spreekbeurt wou gee nie, het Ndlozi só sjarmant, só ordentlik die voorsitter gekap oor sy seksisme.

Fano, soos hulle hom tuis noem, se ma het hom geleer om vroue en oumense te respekteer en sy geliefde 85-jarige gogo kapittel hom vinnig as hy te hans raak.

Net voor die chaos met die parlementsopening het hy vir Mangosuthu Buthelezi mooi ordentlik gaan waarsku om na ’n veiliger bank te skuif.

“My goeie vriend,” noem dié ou IVP-strydros vir Ndlozi.

Dié jong man het ’n baie interessante sin vir politiek, sê Croucamp. Deel van ’n nuwe geslag middelklas- swart politici – die “clever blacks”-klip in Zuma se skoen – meng hy populisme met sofistikasie. Kasi flava in die voorstede. 54% van die EFF se steun kom uit dié groep.

Een van YouTube se swetterjoel Ndlozi-videogrepe wys sy skreeusnaakse kommer oor minister Maite Nkoana-Mashabane “vir wie ons so baie betaal, en kyk hoe slaap sy in die parlement” en “in dáái posisie gaan sy beslis val. Sy slaap aan diens!”

Mbuyiseni Ndlozi en oudpres. Kgalema Motlanthe verlede week op Robbeneiland. Foto: Instagram

Selfs adj.pres. Cyril Ramaphosa het laasweek ontdooi teenoor dié knaap.

Toe Ndlozi aangaan oor die Made in South Africa-nywerheidsrevolusie ­(ons moet als self maak, “the waslaps, the teaspoons, the waskoms”) het Rama­phosa hom geloof vir sy “insiggewende bydrae tot werkskepping”. Terwyl Ndlozi se wenkbroue al hoe hoër lig.

Later die aand sit ons in sy kantoor in die Marksgebou. Hipster-sjiek sit hy daar, die rooi oorpak en gumboots vinnig vervang. Die parlementsgrappies is weg. Hy is ernstig. Beleefd. Sy stem lae volume. Die mmmmm oor Ramaphosa neutraal.

Hoekom noem mense Cyril se naam asof dit hoop inhou, vra hy verbaas.

“Daar is niks nuuts aan Cyril nie. Julle hoop die ANC gaan iets radikaal anders doen? Die ANC is nie in staat daartoe nie.”

Hy gee nie ’n duit om wie Zuma opvolg nie.

“Nie Ramaphosa of Dlamini-Zuma is in staat om die land weer rigting te gee nie. Selfde ou idees, ou boodskappe.”

En dié wat wonder of die EFF ná 2019 met die ANC sal saamsmelt? Nope, sê die “bachelor in die rooi beret”.

“Die EFF sal nie met dié ANC saamwerk nie. Ons is nie Jesus by Lasarus se graf nie. Die ANC is dood. Die ANC is lánkal dood. Die ANC lê in ’n graf en verrot.”

Om by die ANC aan te sluit, is soos om afgodery aan te moedig, raak hy religieus opgewerk.

“Dalk besef dié wat Suid-Afrika probeer ontleed nie werklik wat lê in 2019 en wag nie,” kom dit net so effens neerbuigend, amper soos ’n 70’s-Nat-minister aan ’n Engelse joernalis.

Mmusi Maimane gaan natuurlik ook nie die pyp rook nie. “Hy moet hom nog as regmatige leier – ook teenoor homself – bewys. Jy ervaar ’n psigo-analitiese skisofrenie rondom hom. Dit raak nogal ’n probleem as hy tussen leiers is, jy weet, mans en vroue wat seker is van hul mandaat as leiers. En dis al wat ek daaroor wil sê.”

Heelwat later vertel hy van die interessante stukkie wat hy in Helen Zille se biografie raakgelees het – dat sy Joodse én Nazi-voorsate het.

As nie-Suid-Afrikaanse wit Afrikaner, kon Verwoerd die NP se geskiedenis nie vir homself opeis nie en dit het van hom ’n superrassis gemaak.

Dit laat hom spring na Verwoerd.

“As nie-Suid-Afrikaanse wit Afrikaner, kon Verwoerd die NP se geskiedenis nie vir homself opeis nie en dit het van hom ’n superrassis gemaak. Hy moes – meestal aan homself – bewys hy is ’n Afrikaner. Dit verduidelik sy toewyding aan die beleidsdetail van apartheid.”

Nou Helen, sê Ndlozi, is óók onder druk “om iets te bewys oor haar menswees”.

Die EFF het elke bedoeling om die 2019-verkiesing te wen, verklaar hy.

Met net 25 uit 400 setels in die parlement? Wat rook hy?

In ’n samelewing kom verandering óf geleidelik óf ontwrigtend, verduidelik die doktor van die party wat spesialiseer in ontwrigting.

“Ek glo die 2019-verkiesing gaan nié ’n geleidelike verandering wees nie.”

Drie maande terug het ’n ou Robbeneilander vir die EFF-leiers gesê: Gaan presies só voort, want as die massas uiteindelik kom, dan kom hulle álmal.

“Sou Oliver Tambo voor 16 Junie 1976 kon voorspel skoolkinders sal in derduisendes betoog? Julle wat die politiek so analiseer, sal ná Desember se ANC-leierskonferensie besef dís nie waarna julle moet kyk nie. Dit beteken absoluut niks.”

Die groot skuiwe in ons samelewing gaan van die jeug kom, nie van die vakbonde nie.

Die groot skuiwe in ons samelewing gaan van die jeug kom, nie van die vakbonde nie. Dis wat sy doktorale proefskrif oor die sielkundige verskuiwing onder die jeug in die Vaaldriehoek in die 1970’s en 1980’s hom gewys het.

Ná onafhanklikheid smoor bevrydingsorganisasies gewoonlik hul jeug en stuit vernuwing.

“Só is Malema se jeugliga onderdruk – eintlik ’n ganse nuwe geslag. Dis hoekom die ANC nie nou kan hernu nie.

“Hulle het die jeug geïgnoreer en daarom het jong mense geen raakpunte meer met die ANC nie.”

Wit mense is vir hom ’n geslote stelsel, almal van hulle, sê hy. “Hulle is onbetrokke, kleinserig vir kritiek en tree op vanuit ’n eksistensiële vrees om as kolonialiseerders gesien te word. Hulle kon nog nie dáároor kom nie.”

Simpatieke glimlaggie.

En nee, antwoord hy ’n vraag, uit húl oogpunt is daar geen verskil tussen Afrikaners en Engelse wit mense nie. Wit mense is wit mense. “Julle leef in ’n permanente vrees dat swart mense daarop uit is om julle te krý. As ons sê ons wil die land beter laat werk vir álmal, dink julle júlle is die teiken.

“Praat ons oor grondonteiening dink selfs wit mense wat nog nooit grond besit het nie dis ’n anti-wit uitspraak.”

Eintlik, sê Ndlozi, gee hy nie om of jy wit of swart is nie, ons moet saam planmaak om dié plek te laat werk.

En, vra ek hom, wat van Malema se anti-wit-uitsprake soos dat hy “ten minste nie nou” vra vir ’n slagting van wit mense nie?

Wat die CIC éintlik bedoel, spin Doctor Comrade, is dat die armoedetydbom kan bars, en wit mense – wat die meeste welvaart besit – gaan die seerste kry.

“Die nuwe armoedestatistieke is eintlik swárt statistieke.”

En wit statistieke – dat wit mense teen 2030 net 1,8% van die bevolking sal wees – skeel hom weinig. En ek sien hoe skuif ek net onder die renoster op die rooilys.

“In 1994 was daar ook sulke statistieke. Die wit mense wat loop, kom altyd terug, die lewe is nie elders beter nie.”

Eintlik, sê Ndlozi, gee hy nie om of jy wit of swart is nie, ons moet saam planmaak om dié plek te laat werk.

“Ons wil nie hê dit moet gewelddadig word nie, ons planne is grondwetlik en demokraties. Dis hoekom ons korrupsie met dieselfde passie beveg as wat ons grondonteiening eis.”

Wit mense wat so bewe oor grondonteiening – het hulle vergeet Afrikaner-nasionalisme was die aanvanklike dryfveer vir ’n volkstaat, weg van Britse beheer?

Alle grond moet uiteindelik aan die demokratiese staat behoort.
Mbuyiseni Ndlozi

“Wat is die kern van ’n volkstaat? ’n Land wat ons ons éie kan noem.”

So.

“Alle grond moet uiteindelik aan die demokratiese staat behoort. Mense kan dit bloot huur.”

En buitelanders? Niks vir hulle nie. Kyk hoe koop die Chinese groot happe Afrika, kyk hoe koop buitelanders suikerrietplase in KwaZulu-Natal – om vakánsieoorde te bou, sê hy gebelg.

Dis allerbelangrik dat die behoefte aan grond vir basiese behuising in stedelike gebiede aangepak word. “Dit gaan nie regkom sonder grondonteiening nie. Ons moet die grond afvat.

“Daai boer wat al 50 jaar lank niks doen met sy plaas nie – ons sal dit vat en vir hom ’n stuk los. Ons gee dit nie vir ’n EFF-kommissaris nie, ménse gaan daarop bly, of dis vir ’n kliniek of kragstasie.”

Dit was ’n polisieklopjag wat Mbuyiseni Quintin Ndlozi in die politiek laat beland het. Hy was agt jaar oud. Die polisie het sy oom een nag gewelddadig kom wegvat. “Ek was nog kind wat probeer sin maak uit die lewe, en die lewe het nog probeer sin maak uit mý. Dit was traumaties.”

Die Wits-prof. Eric Worby by wie Ndlozi sy PhD gedoen het, sê so energiek en passievol as wat Ndlozi oor sy akademie is, so verbind is hy tot maatskaplike transformasie.

“Mbuyiseni het my geleer hoe vervleg politiek is met maatskaplike vraagstukke. Hy is ’n buitengewone jong man, ernstig én vol humor, met ’n liefde vir die lewe en samelewing.”

En die eerste lid in sy familie met ’n universiteitsgraad. Toe hy sy ma met die nuus bel, het sy begin huil. “En drie oproepe daarna kon sy steeds nie ophou huil nie.”

In sy hoërskooljare was hy ’n jeugprediker. Dit verklaar seker sy gladde bek, grinnik hy.

Mbuyiseni beteken “bring hom terug”. “My ma se broer was ’n moeilikheidmaker in die townships en hy’t partykeer maande lank weggeraak. Die laaste keer het hy nie teruggekom nie. Met my geboorte het my ma die tyding gekry van sy dood. En dis die storie agter my naam.”

In sy hoërskooljare was hy ’n jeugprediker. Dit verklaar seker sy gladde bek, grinnik hy.

“Ek het grootgeword in die kerk, en ek is steeds gelowig. Ek kry my spiri­tuele lewenslesse uit die Talmoed, die Bybel en die Tao Te Ching.”

En hoekom? “Want jy moet drink uit die beker van ander, só raak jy wyser.”

Stout glimlag. “Hopelik . . .”

Net een kyk na Ndlozi se boekrak vertel alles van hom, sê Worby. “Politiek, sosiologie, filosofie, wêreld- en Afrika-literatuur . . . Hy hoort in die akademie.”

Ndlozi knik. “Ek is nie ’n politikus nie, ek is ’n student. Maar dié wat ons toekoms beheer, is besig om dit op te vreet. Dís hoekom ek hier is, my pad is nou politiek.”

En wat ’n pad.

Malema se Instagram-foto’s van Floyd Shivambu se Paasnaweek-troue wys die EFF’ers op hul blinkste, blingste beste. Idols van die townships. Die lewe glansend soos ’n krismiskalkoen.

In sy blou bazin-hemp sing Doctor Bae Azania, en hy kán sing, en almal dans saam en dis net liefde en revolusie hier in Afrika.

Meer oor:  Mbuyeseni Ndlozi  |  Piet Croucamp  |  Eff  |  Doktorsgraad
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.