Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Hanlie Retief gesels met Megan Werner
Charlie Bravo – droom bly staan

‘Op die Likoma-eiland in Malawi is daar ’n groot hangmat met ’n lekker matras in. My pa het dit altyd ge-love om daarin te lê. Heelmiddag het ons daar vir my pa-hulle gewag. En die ouens worrie en ek sê vir hulle, chill, my pa het meer as 10 000 vliegure, hulle sal fine wees.

Megan Werner, die 17-jarige stigter van U-Dream Global, wat met ’n vliegtuig gebou deur tieners van Kaapstad na Kaïro gevlieg het. Haar pa, Des, en sy mede-vlieënier, Werner Froneman, is op 3 Augustus in Tanzanië dood toe hul ondersteuningsvliegtuig neergestort het. Foto: Deon Raath

“Naderhand begin die son sak en ons roep hulle op die handradio, seker ’n uur lank. En daar’s niks, net statics.

“Toe gaan lê ek in daardie hangmat en ek begin huil want ek het geweet iets is nie reg nie, ek kon dit in my hart voel.”

In ’n eerste, eksklusiewe onderhoud ná haar pa se dood vertel die 17-jarige Megan Werner, stigter van die U-Dream Global-inisiatief, van die ure rondom haar pa, Des, en sy medevlieënier, Werner Froneman, se laaste, rampspoedige vlug. Hulle was in die ondersteuningsvliegtuig wat op 3 Augustus in Tanzanië neergestort het.

Charlie Bravo’s noem vlieëniers daardie yslike cumulonimbus-wolkformasies. Megan Werner het ’n Charlie Bravo van ’n droom gehad, die droom om saam met ’n groep tieners ’n vliegtuig te bou en van die Kaap tot in Kaïro te vlieg om vir ander jong mense in Afrikalande te sê: hei, droom groot.

En toe doen hulle dit.

“Toe ons op die Kaïro-lughawe land, het my pa my ingewag met die styfste drukkie in die wêreld. Ons het dit gemaak! het hy uitgeroep. Toe kyk hy my só en sê: Sien, ek hou my woord, ek kom my beloftes na. Ek het jou gesê ons gaan Kaïro toe!”

Op pad terug het die droom in ’n vliegtuigwrak geëindig.

Ons wou ander tieners inspireer, maar eintlik was dit ons wat die inspirasie gekry het.

Langs haar ma, Belinda, op die sitkamerbank op hul kleinhoewe naby die Lanseria-lughawe, voel Megan jonger as die selfversekerde matriekmeisie in ’n vlieguniform op BBC-onderhoude.

Eintlik voel sy vanoggend net soos ’n skoolkind wat nip oor haar rekordeksamen, jou skamerig groet met ’n hallo-tannie-drukkie en, met wange wat vlam, sukkel om die trane oor haar pa se dood terug te sluk.

“Jissie, tannie, een van die opstelkeuses in ons vraestel vanoggend was: tussen jou geboortesertifikaat en doodsertifikaat is daar foto’s en herinneringe. Ek het die vraestel tussen trane deur geskryf.”

Die huis is vol ruikers, troosblomme vir Des se drie “gals”, soos hy Belinda, Megan en ousus Cindy altyd genoem het. By hulle kuier die 18-jarige Hendrik Coetzer van Heidelberg wat deel van die vliegspan was. Hy was een van die 1 000 aansoekers vir die U-Dream-span, waarvan uiteindelik 20 vir die bouspan en vyf vir die vliegspan gekies is.

Almal se nerwe was op vir hierdie tieners wat vingeralleen oor Soedan gevlieg het terwyl ’n oorlog daar onder woed, en daarna vier uur lank in Egipte aangehou is en byna in ’n tronksel beland het. Megan en haar medevlieënier, Driaan van den Heever (18), moes dié tien uur lange vlug met ekstra brandstofkanne op die agtersitplek doen omdat toestemming om oor Kenia se lugruim te vlieg, geweier is.

Soggens vieruur het Des en Megan Werner vliegveld toe gegaan vir ’n paar sirkelroetes voor skool, sodat Megan haar vlieglisensie kon kry. Sy het haar lisensie twee dae voor hul vliegavontuur na Kaïro gekry. Foto: Verskaf

Boonop moes hulle dit sonder bystand doen, want daar was probleme met Des-hulle se vliegtuig.

“Toe ons die aand op Abu Simbel land, wou sulke lang Arabiere met wit kopdoeke ons toesluit. Ek was doodbang. Hulle het ons eers teen middernag laat gaan, en toe moes ons nog twee uur vlieg tot in Aswan.”

Belinda het nie vir ’n oomblik oor Des-hulle se veiligheid getwyfel nie. Des, wat in 2013 ’n verbyvlug oor Ellispark gedoen het met die Bok-toets teen die All Blacks, was bekend in die bedryf as ’n koelkop in krisisse. Ander vlieëniers wou altyd saam met hom in die nabootsers vlieg, want hulle het geweet langs Des vlot dinge altyd.

En toe, ironies, tref die tragedie hulle van dáárdie kant af, van 'n vliegtuig deur ingenieurs gebou, nie tieners nie.

Megan: “Dis die seerste seer. My eerste herinneringe is saam met my pa in die kajuit. Maar ek weier dat ons droom nou deur ons ergste tragedie ingesluk word. Dis die laaste ding wat my pa sou wou gehad het. Ná die rekord-eksamen gaan ek, Driaan en dalk Hendrik terug Likoma toe om die vliegtuig te gaan haal. Ons wil hom self terugvlieg, ons sending self voltooi.

“Nou moet ons doen wat ek altyd van die verhoë af verkondig: As jy platgeslaan word, as jy voel jy kan nie meer nie, juis dán moet jy aanhou. Ons droom is steeds so geldig soos dit was, inteendeel, nou lê die grootste uitdaging voor.”

Megan is ’n entrepreneur gebore, vertel haar ma. “Haar gr. 1-juffrou het vir my gesê Megan gaan eendag ’n fenomenale entrepreneur wees, want sy’t die kinders se somme vir hulle gedoen in ruil dat hulle haar inkleur- en uitknipwerk doen.”

In 2013 het Des Werner die verbyvlug oor Ellispark-stadion gedoen tydens ’n Boktoets teen Nieu-Seeland. Hier is Belinda en Des saam met Megan en ousus Cindy. Foto: Verskaf

Op 13 het sy ’n inspirasieboek vir tieners geskryf en Robert Kiyosaki, die skrywer van Rich Dad Poor Dad, oorreed om die voorwoord te skryf. Die boek het goed verkoop, dis in Russies vertaal, en toe word dit dáár ’n topverkoper, en Megan was op haar maand lange boektoer in Rusland op al wat ’n radio- en TV-stasie.

Toe sy die ultra-wilde ingewing kry om saam met 20 tieners ’n vliegtuig te bou en daarmee oor Afrika te vlieg, het haar ouers geweet dit gaan nie net by droom bly nie. Nie met Megan nie.

Net ná haar pa se ongeluk het Megan besef sy moet dadelik weer gaan vlieg om haar vrese te besweer. “Die oomblik toe ek opstyg, het my hart vol geraak. My hart voel heeltyd so leeg nou, behalwe as ek vlieg. Ek wil volgende jaar my kommersiële lisensie kry.”

In die gang hang ’n foto van Megan op haar pa se skoot in die kajuit, oorfone op haar kop. Sy was ses. Hulle twee het beplan om dié foto weer te neem, weer op sy skoot, in haar uniform met die twee strepies op die skouers, vertel sy hartseer.

Soggens vieruur het pa en dogter opgestaan om sirkelroetes te oefen voordat hy haar by die skool gaan aflaai. Op haar 15de verjaardag het sy die eerste keer die hele vlug behartig, met hom langs haar. Op 28 Maart vanjaar was haar eerste solovlug, en net twee dae voor die Afrika-avontuur het sy haar privaat vlieglisensie gekry.

Maar eintlik vlieg sy al 18 jaar, skerts Belinda. “Toe ek swanger was het ek my privaat lisensie gekry. Met my vliegtoets was ek so ver swanger, ek kon nie die stuurstang heeltemal terugtrek nie.”

Die Werners is deur en deur ’n vlieggesin. Belinda bedryf hul vliegskool op die kleinhoewe.

Megan onthou nog haar laaste woorde aan haar pa, die middag voor sy dood. “Wees veilig, ek is lief vir jou.”

Hendrik: “En vir die eerste keer op die trip het oom Des ons almal ’n druk kom gee en gesê, baai, sterkte, sien julle anderkant. Dit was nogal opvallend.”

Die volgende oggend, net voor Des-hulle opgestyg het, het hulle vir Megan-hulle laat weet alles is reg met hul vliegtuig. Minute later is hulle dood.

Belinda: “Iemand het my daardie aand gekontak en gesê hulle het op sosiale media gehoor van ’n ongeluk met twee Suid-Afrikaners wat dood is, en waar’s Des? Dis hoe ek daarvan gehoor het.”

Megan het tot twee-uur die oggend in daardie hangmat op die eiland gelê. “Ek het The Script se liedjie ‘If You Could See Me Now’ oor en oor geluister.

“Driaan het daai nag gedroom hy kry my pa in ExecuJet se voorportaal en vra hom half kwaad: Hoekom kom jy nie net terug nie?

“Toe sê my pa, net so rustig soos altyd, hy is baie beter waar hy nou is en hoe trots hy is op sy drie gals, want hulle is sterk, hulle sal hierdeur kom. Ons was sy hele lewe.”

Eintlik wou Megan op daardie eiland bly, alleen, om alles te verwerk.

“Ek het soveel wat-as-vrae gehad. Maar ek besef daar is 'n groter plan vir ons almal, ons moet net vertrou. Ek is toe op ’n kommersiële vlug huis toe.”

Die Tanzaniese ondersoek is steeds aan die gang. “Dis jammer niemand van ons eie Burgerlugvaart ag dit nodig om te gaan ondersoek instel nie,” sê Belinda. “Die eienaar van The Air­plane Factory het vir ons vertel wanneer daar so iets fout gaan, speel vaardigheid en ervaring ’n groot rol, maar daar is ook ’n klein bietjie geluk betrokke. Die geluk was net nie aan hulle kant nie.”

Haar oë skiet vol trane. “Hierdie is . . . ’n vreeslike swaar ding.”

Hanlie Retief

Hulle wou ander tieners gaan inspireer, maar eintlik was dit hulle wat die inspirasie gekry het, sê Hendrik. “Plus, ons het hope pret gehad. Ek sal nooit al die tips en tricks vergeet wat oom Des my geleer het nie. Hy was net so lief vir tjoklits as ek, en toe leer hy my om dit koel te hou in die lug-opening,” vertel hy aangedaan. “Ek sal nooit weer sjokolade eet sonder om aan hom te dink nie.”

Megan: “Bo Uganda lê ek nog so lekker en slaap toe kom dit kliphard oor die geselsradio: ‘Tango foxtrot! You are being intercepted! Rock your wings if you’ve got beer money!’ Toe’s dit die ouens in die ander vliegtuig!”

Om die enigste meisie tussen vyf mansmense te wees, was ook nie altyd maklik nie. “Ek het ’n infeksie gekry van die immervuil badkamers. En daaroor kan jy nie met mans praat nie, toe bly ek stil en naderhand moes ek hospitaal toe.”

Mans het die vreemdste sin vir humor, skater sy dit uit. “En as ek sê dis nie eens snaaks nie, hoekom lag julle, dan lag hulle hulself kruppel!”

Om dood te gaan soos haar pa . . .

“As iemand hom geskiet het, sou ons dit nie kon hanteer nie. Hy is dood terwyl hy dit gedoen het waarvoor hy lief was. Vinnig, soos hy altyd gesê het hy wil doodgaan.

“As ons tieners se vliegtuig sou val, sou my pa nie met homself kon saamleef nie. Soos my ma sê, dit klink verskriklik, maar hy sou dit veel eerder so wou gehad het.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.