Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Hanlie Retief gesels met Mevrou Y

‘Desember 2012 was my Kersfees in die hel.”

Oor ’n beker melkkoffie in Mugg & Bean sit ’n donkerkopvrou in haar vroeë 30’s, en vertel van haar maand in die lêplek van Krugersdorp se vriende-en-familie-reeksmoordgroep.

Meesterbrein: Cecilia Steyn. Foto’s: Felix Dlangamandla en Deon Raath

Cosannahof 1. Cecilia Steyn, die baasbrein, se woonstel.

Tussen 2012 en 2016 is die moorde op 11 mense in dié woonstel beplan. En daarna met toue en messe en vuurwapens wreedaardig uitgevoer.

Vir die eerste keer, eksklusief, maak hierdie eertydse vriendin van die moordbende haar hart oop oor haar tyd saam met hulle.

Sy was in ’n getuiebeskermingsprogram en staan bloot bekend as Mevrou Y.

Nie ’n dag gaan verby sonder wrang spyt oor daardie deel van haar lewe nie.

“Dit het amper tien jaar van my lewe gesteel. Ek het my huwelik verloor, ek moes my werk daar los, my lewe daar los, my familie . . .”

Sy het my laat glo haar siel kan haar liggaam verlaat, sy lees my gedagtes. Jy voel nooit veilig nie.

Haar beste vriendin, een van Cecilia se 11 slagoffers, is vermoor omdat sy blootgestel was aan die dampkring van Cosannahof 1.

Intussen is Cosannahof 1 opgeruim. Marinda Steyn, Cecilia se luitenant en vertroueling, en Marinda se seun Le Roux is reeds skuldig bevind en dien tronkstraf uit. Marcelle, Marinda se dogter, word tans verhoor saam met Cecilia en Zak Valentine.

Ná drie jaar alleen op ’n vreemde plek in getuiebeskerming het Mevrou Y in Oktober teen die driestuks getuig.

Dit het haar daardie afgryslike Kerstyd weer opnuut laat beleef.

“Ons het die ergste, donkerste gruwelflieks gekyk, afgewissel met die Ware Misdaad-kanaal. Cecilia het Kersfeeskos vir ons gemaak en my Kersgeskenk aan haar was drie messe.

“Wat anders . . . vir haar versameling van 500 messe en pangas.”

Sy het by Cecilia ingetrek om die moordbende se vermoedens te besweer dat sy hulle wil verlaat.

“Ek het vir my lewe gevrees. My vriendin was reeds vermoor. Toe Zak Valentine se vrou, Mikeila, ook vermoor is toe sy uit die groep wou vlug, het ek geweet ek is volgende.

“Toe trek ek maar daar in en maak asof alles nog piekfyn is.”

Sjarmant. Berekend. Zak Valentyn.

Dit was ’n bisarre situasie: Cecilia se polisiekonstabel-man wat in sy aftye in die sitkamer PlayStation speel. Die gruwelbende wat gruwelflieks in Cecilia se slaapkamer kyk terwyl Cecilia se vyfjarige dogtertjie met die klankbaan saamsing.

“Teen die tyd dat jy besef dis totaal waansinnig, is dit te laat. Ek was soos ’n zombie.”

Mevrou Y en haar man het Cecilia Steyn by die Christenbediening Over­comers Through Christ (OTC) ontmoet, waar hulle haar kursus “Know Your Enemy” gevolg het. Cecilia het haar onmiddellik geteiken.

“Ek het nogal moeilik grootgeword, gesukkel om sin te maak uit my lewe. Cecilia het dit raakgesien en my vertroue gewen. Sy het antwoorde gehad op al my vrae.

“Maar dan begin sy jou manipuleer. Só erg, ek het nie meer geweet wie ek is nie.

“Tien maande later het my man uit ons huis getrek. Ek het nie geweet hoe om hom te keer nie, want ek het self nie geweet wat met my aangaan nie. Toe skei ons ná meer as vyf gelukkige jare saam.

“Boonop het ek van my familie vervreem. Ek was totaal en al in Cecilia se mag.”

Slimkop: Marcelle Steyn.

Die fokus van Cecilia se dampkring het geleidelik van OTC na Cosannahof verskuif. Op Cecilia se spektrum was goed en boos, Christus en Satan, maklik omruilbaar.

En toe doen Mevrou Y die een ding wat haar steeds in die nag laat wakker lê: Sy stel haar vriendin Natacha Burger aan die groep bekend.

Toe die groep skeur, was Mevrou Y deel van Cecilia se faksie. En Natacha nié. Toe teiken Cecilia haar en laat haar wreed vermoor.

Die week voor haar dood moes Mevrou Y Natacha se adres vir Cecilia-hulle gee. “Ek besef hier’s moeilikheid, maar ek het nooit aan moord gedink nie.

“Ek het niks daaromtrent gedoen nie, maar as jy nie in daardie situasie was nie, sal jy nie verstaan nie. Sy was in absolute beheer. Dit klink nou vreeslik stupid, maar sy het my laat glo haar siel kan haar liggaam verlaat, sy lees my gedagtes. Jy voel nooit veilig nie.

“Toe ek hoor Nat is vermoor, was dit asof ek vir die eerste keer wakker skrik.

“Ek het vir Cecilia huilend gevra: Is ek volgende? Sy sê toe nee, sy het vir die Sataniste gesê ek is buite perke. Ek het besef wat sy eintlik sê is ‘hou jou mond, dan bly jy lewe’. Ek was in ’n strik. “Kort daarna is die pastoor vermoor, en toe Mikeila.”

Die wurger: Le Roux Steyn.

Vreesbevange, het Mevrou Y die groep begin vermy. Maar toe, vir die eerste keer, raak sy strategies. Omdat Cecilia nooit direk betrokke was by die moorde nie, “sodat vingers nie na haar kan wys nie” het sy besef die veiligste plek was . . . onder Cecilia se dak.

“Daar sou hulle niks aan my kon doen nie. Toe trek ek die Desembervakansie daar in.”

In Cosannahof 1 het sy die ander lede van die groep beter leer ken. Zak Valentine, die “sjarmante, suksesvolle man wat ys aan ’n Eskimo sou kon verkoop” en Cecilia aanbid het. Hy het dikwels daar aangekom met pakke geld vir Cecilia.

En Marinda? Hoe beland ’n geskeide ma van twee jong kinders, ’n hoërskool-onnie wat Engels gee, in so iemand se kloue? Sy sug. “Jinne . . . sy het Cecilia so verafgod, sy het selfs haar kinders vir haar opgeoffer.

“Voor Marinda haar merkwerk na Cecilia se woonstel sou bring, het sy dit eers gaan ‘skoonbid’, want die kinders se goggos (demone) sit daaraan vas.

“Sy was die kluts lekker kwyt. Selfs smoorverlief op ’n ou wat sy nooit ontmoet het nie. Cecilia het vir ons almal fake kêrels gefabriseer, kwansuis hunks in die Satankerk wat wou wegbreek om met ons te trou. Dié SMS-verhoudings het jare aangegaan, smeulend met foto’s wat Cecilia van die internet afgetrek het.

“Toe Cecilia eendag vir Marinda sê haar kêrel is dood in ’n vliegongeluk, het daai vrou dae lank aaneen bitterlik geween.”

Sy weet dit klink nou bisar, herhaal sy, byna skaam. “Almal se lewens het absoluut om Cecilia gedraai. Sy was die poppemeester.

“Marcelle het dae lank skool misgeloop om haar op te pas, want ons is wysgemaak die Sataniste gaan Cecilia kom wegraap as sy alleen is.

“Marcellie was verskriklik oulik, met so ’n nervous energie. Sy het altyd probeer alles reg doen en uit die moeilikheid bly. As ek daar kom, moes ek eers met haar games speel. Die arme kind moes elke nag langs Cecilia op ’n enkelbedjie slaap.”

En steeds het sy ses onderskeidings in matriek gekry.

Le Roux, haar broer wat die meeste van die moorde gepleeg het, was eintlik maar net ’n stout tiener.

“Hy’s soms nie in Cecilia se kamer toegelaat nie, oor goggos (demone) van te veel pornografie kyk. En dan probeer hy alles om aanvaar te word. Selfs moord.”

Le Roux het teen sy suster en ma gedraai en staatsgetuie geword.

“Nie Marcelle of Le Roux het dié lewe gekies nie, hul ma het dit vir hulle gekies.”

Ná daardie Desember het Mevrou Y besluit sy gaan nooit weer terug na Cecilia nie. Ongeag wat. Sy kon nie meer nie.

Sy het van adres verander en probeer wegkruip.

Vier maande later het Cecilia haar opgespoor en haar via ’n vriend, wat ook ingesuig was deur Cosannahof, ontbied.

Maar dié vriend het intussen self begin koue voete kry, angstig dat hy ook ’n volgende teiken sou word.

“Op pad sê hy: Bly by my, ek sal jou beskerm, ons drink vinnig koffie en ry.

“By die koffieplek sê Cecilia vir my vriend: Gaan sny jou hare. Jy sê nie nee vir Cecilia nie. Hy probeer my saamvat, maar hulle dring aan: Gaan, ons drink net gou koffie. Hy was skaars weg, toe los hulle hul vol bekers koffie en vat my woonstel toe.

“Daar het Marcelle dadelik vir my koffie gaan maak. Voor ek nog kon drink, bars my vriend daar in en sê sy ouma het geval, ons moet dadelik gaan. Hy was wit in sy gesig.

“Ek is vandag nog seker daar was slaapmiddels in daardie koffie, nes hulle die ander eers bedwelm het voor die moorde.”

Haar vriend, is sy oortuig, het haar lewe gered. Hulle is na die polisie toe, en albei is in beskermingsprogramme geplaas.

Die eerste drie maande het Mevrou Y in vrees gewag vir iets om te gebeur – vir die alleswetende Cecilia om in ’n astrale projeksie daar te land en haar dood te steek.

“Toe niks gebeur nie, het ek vir die eerste keer besef dis alles net ’n klomp bollie.”

Dit was ’n lang alleentyd. Veral Kerstye en haar verjaardae was erg. Sy het aanvanklik nie besef dit sou jare duur nie.

“In my donkerte het ek toe besluit om die tyd te laat tel. Ek het weer begin werk en my matriek en ’n rybewys gekry.”

Sy het die moordbende vir die eerste keer weer in Oktober in die hof gesien.

“Toe hulle met die trappe opstap, was ek skoon lighoofdig, ek wou net weghardloop. Maar weet jy, hulle het my glad nie soveel geïntimideer as wat ek verwag het nie. Ek het hulle so gekyk en gedink: How the mighty have fallen.

“Skielik het hulle almal so kléin gelyk.”

Na haar getuienis het sy uitgestap en begin huil. Die sluise het oopgegaan, vir die eerste keer. “Maar ek het nie voor hulle gehuil nie,” glimlag sy, amper trots.

“Om vir die regter te kon vertel wat met Nat gebeur het – dit was ’n afsluiting, en ek het gevoel dat ek weer kan aanbeweeg.”

Natacha was haar ouers se enigste kind, vertel sy, en vir die eerste keer in die onderhoud wys sy emosie.

“Ek is nou verloof, ek gaan trou, ek swot vir ’n onderwysgraad. Dit laat my skuldig voel, want dis alles van haar ontneem. Ek . . . het die mens Natacha op ’n skinkbord vir Cecilia gegee. Dis iets wat ek nooit kan verander nie, wat ek nooit kan ontdoen nie.

“Ek hoop hierdie hofsaak bring minstens vir haar ouers vrede. Al bring dit haar nie terug nie, weet hulle darem nou dat die moordenaars daarvoor gaan boet.”

Híérdie Kersfees gaan sy en haar verloofde by sy familie deurbring. Daar gaan ’n lang Kerstafel wees, ’n boom, geskenke. Liefde.

“ ’n Regte egte familie-Kersfees. Uiteindelik.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.