Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Hanlie Retief gesels met Mosiuoa Lekota
Hier kom terror, sê Lekota

Ek kry hom in Goodwood. Op sy gewone plek. Reg in die middel van Mugg & Bean in die N1-Stad-winkelsentrum.

By die tafeltjie langsaan sit 'n gryskop-tannie in 'n los bloes. Hulle is aan die kwetter. Sy is ook 'n regular.

Mosiuoa Lekota is geen liggewig-naprater nie. Die Grondwet van die land is sy bybel. Foto: Edrea du Toit

Wydsbeen sit hy op sy stoel.

Die lig blink op sy kaalkop.

Kort snor, amper militêr, sout-en-peper op die bolip. Oë wakker.

By hom lê 'n boekie in bruin leer, saggevat soos ’n oumensbybel. In goue letters: Die Grondwet van Suid-Afrika.

Sý bybel.

Filterkoffie, dubbelwarm, bestel hy in Vrystaat-Afrikaans.

“Kan ek net vir jou hallo sê,” staan 'n man nader. “Jy is my favourite ou, jy het hulle mooi daar in die parlement gesê wie se land is wie sê en wiese goete hulle wil vat.”

Laasweek tydens die staatsrede­-debat het Mosiuoa Lekota, dubbelwarm soos sy koffie, die terror teruggesit in Lekota.

As jy grond sonder vergoeding vat vir “ons mense”, wié is “ons mense”?

En wie is nié “ons mense” nie? wou hy by die president weet.

Hy is drie minute lank uitgejou en uitgelag deur die ANC en EFF.

“Ek gee nie om nie. Wat gesê moes word, moes gesê word.”

Wat jy vir jouself wil hê, moet jy vir ander gun. As jy nie wil hê iemand moet jou neus breek nie, wat maak jou vuis dan in sy gesig?

Hiérdie grondwet, lig hy die boekie op en swaai hom rond vir Mugg & ­Bean om te sien, “Cyril het dié help skrywe. En dan praat hy sulke bog!

“Ek het hom daar ín die parlement dié boekie gewys, en gevra: Is dit hierdie grondwet waaraan jy trou gesweer het minder as ’n week terug?”

Hy blaai tot by artikel 26: Behuising. Lees hardop daaruit. Dis onderstreep, met “NB” in die kantlyn.

“Sien jy! Hierin is al die magte om grondongelykhede reg te maak. Dis hoekom ek vir Ramaphosa sê: ‘Die mentaliteit van apartheid het jou gegryp. Tydens apartheid is gepraat van blankes en nie-blankes. Nou praat jy van swartes en nie-swartes. Wat is die verskil?’ ”

Die agtergrondfoto op Lekota se foon is 'n bruin bees in 'n Vrystaatse somerveld.

En net daar, met dié foto, knoop die ironie.

Die man wat in die parlement so gehoon is as 'n “betaalde fascis van die Nasionale Party” – dié man se pad met grond, met struggle, loop 'n leeftyd, loop diep.

“Sit terug en haal diep asem, Bra Terror. Moenie dat hierdie swape jou onderkry nie,” het 'n ontstelde Max du Preez in 'n rubriek oor hierdie “waardige man met sy trotse strugglegeskiedenis” geskryf.

Weet dié luide jong gladdebekke, die Ndlozi’s en Shivambos van die EFF, dat die man wat hulle probeer verneder het, Swart Bewussyn van Steve Biko self geleer het? Dat hy 'n stigterslid was van die UDF, gehelp het om Ramaphosa vir die struggle te werf?

Dat hy in amper 20 Robbeneiland-jare saam met “die óú manne”, Mandela, Sisulu en Kathrada-hulle, die plofbare skaakspel van grondonteiening en vergoeding in lang geselse deurgetrap het?

Die dag ná die staatsrededebat het die president gesê hy gaan grond ont­eien sonder vergoeding, “want iemand van Distrik Ses het vir hom gesê hy het nog nie sy huis teruggekry nie”.

Lekota het dié man met wie Rama­phosa op sy oggendwandeling deur ­Athlone gesels het, probeer opspoor.

Hy skud sy kop.

“Ek het vasgestel baie van die mense wat in Distrik Ses gebly het, het gehuur. Die huise was nie hul eiendom nie.”

Lekota raak moerig. Jirre, Ramaphosa wil nou beleid maak oor een man se storie. “Dis goedkoop politiek. Dis misleidend. Dis onverantwoordelik.”

Mosiuoa Lekota is as’t ware gebore in ? grondkwessie.

Sy pa en ma, 'n kombuisbediende op ’n plaas naby Senekal, moes die talentvolle klein Mosiuoa van die plaas “wegsteel” om skool te gaan, want in daardie feodale dae moes jy op die plaas werk as jy daar gebore is.

Plaaseiendom, soos die John Deeres in die skuur.

Op hoërskool in Kroonstad was sy hande Saterdae om ? spitvurk in ’n wit woonbuurt-tuin aan die regte kant van die rivier. Fullardstraat 34, onthou hy nog presies.

Toe hy jare later sy eie lappie Vrystaatse aarde kon koop, was sy hart vol.

Lekota bly 'n oomblik stil. 'n Man van die tafel oorkant gebruik sy kans: “Jou bynaam is mos Terror, nè?”

Lekota: “Ja, van my sokkerdae, ek was ’n doelskieter.”

Man, verleërig: “O . . . oukei. Nie terroris nie? Maar ek sal vir jou stem as president. Kom kuier, laat weet as jy lus is vir jag,” sê Lekota se nuwe vriend. En hulle gesels land en sand oor beeste en gemsbokke en jag en kyk mekaar se selfoonfoto’s.

“Ek ry nou my negende Argus, maar winters is te koud vir fietsry, dan jag ek,” pruttel hy aan terwyl hulle selfoonnommers uitruil.

Dan praat ons weer wet en grond.

“Mense sê nou ek verraai swart mense. Ndlozi (EFF) het my gevra: Vir wat was ek dan op Robbeneiland?

“Ek was daar, want ek wou gelykheid hê tussen swart en wit. Ek het dit gehaat dat wittes verhewe was bo ons. Net so min wil ek hê dat ons verhewe moet wees bo die wittes.

“Wat jy vir jouself wil hê, moet jy vir ander gun. As jy nie wil hê iemand moet jou neus breek nie, wat maak jou vuis dan in sy gesig?”

Ons móét regmaak wat die geskiedenis skeefgetrek het, sê hy, maar op 'n regverdige manier vir almal.

Hy vat my en die tannie op 'n geskiedenistoer, datums en wette op sy vingerpunte.

“Om te sê Jan van Riebeeck het hier gekom om ons land te steel, sjeeu, dis so ’n onnosel ding om te sê.

“Mbuyiseni (Ndlozi) is ’n kleintjie, man, hy moet nog gaan leer van ons land se geskiedenis.

“Die Hugenote wat uit Frankryk weggehol het oor hulle vervolg is vir hul geloof? Hoekom moet ons hul nasate onteien? Hulle het die land tog help ontwikkel? Hulle het eeue lank al nie meer burgerskap van daai lande nie, hulle is Suid-Afrikaners. As jy hulle nou uitgooi, waarnatoe gaan hulle? Suid-Afrika is al land wat hulle ken.

“So, ek probeer vir Ramaphosa sê: jy kan nie so 'n ingewikkelde saak as eenvoudig probeer afmaak nie. Jy gaan moeilikheid veroorsaak, jy gaan mense se lewens verwoes.”

Dis nie moontlik om die geskiedenis akkuraat te ontrafel nie.

Wie weet regtig wie het wie se grond gesteel? “Maar van 1913 af wéét ons. Al die titelaktes is in die aktekantoor. Dis maklik om vas te stel wie was die vorige eienaars. En hoekom gee die ANC nie nou titelaktes vir al die mense in hul townshiphuise nie?”

Lekota is op pad na koning Goodwill Zwelethini om vir hom te sê: Jou grond is joune, kry die ANC om jou te help om die grond te benút.

Wat skeefgeloop het met grondhervorming die afgelope 20 jaar is nie die Grondwet se skuld nie, dis swak regeringsbestuur.

Hy glimlag oor almal nou Ramaphosa die messias maak wat ons uit die ­Zuma-woestyn lei.

“Dis nog wittebrood, pasgetroudes baklei nie op wittebrood nie. Maar sodra die harde werklikheid inskop . . . Ooo, daar gaan moeilikheid wees. Ek weet nie waar dit ons almal gaan los nie.”

Terror Lekota was moontlik die eerste slagoffer van ANC-korrupsie.

Hy was Vrystaatse premier in die vroeë 1990’s. Ace Magashule was sy LUR vir ekonomiese ontwikkeling.

“Ek hou nie daarvan om oor hom te praat nie. Ek sê dit net kortliks: Ek het hom gevang dat hy openbare geld steel en skop hom toe uit. Hulle stuur toe vir Zuma om my te kom soebat om hom terug te vat.

“Toe ek weier, konfronteer Zuma my: Waar kry ek die reg om dié man uit te skop, ek moet eers die ANC vra. Toe sê ek vir hom, monna, die Grondwet gee my die reg.”

Dis hoekom Lekota gepos is as premier. “Op Zuma se aanbeveling. En dit was dit.” Dit ontstel hom steeds.

“Zuma het altyd gesê die ANC is verhewe bo die Grondwet. Miskien glo ­Cyril dit ook, ek weet nie.”

Hy lig sy wenkbroue.

Is die ANC redbaar?

“Ek het opgegee met die ANC. Dis nie meer die ANC nie, dis die PAC.”

Nie die ANC wat in die 1950’s met die Vryheidsmanifes gesê het Suid-Afrika behoort aan almal wat hier bly, wit en swart, nie. Maar die PAC, wat weggebreek het omdat hulle glo Afrika is vir die Afrikane.

Hy val rustig weg aan sy ontbyt. Sy bestelling aan die kelnerin Angie was, soos altyd, gesellig, grappig en presies.

Nes hy is.

Strepiespek, geen ander spek nie. Ruim porsie uie, rou. Spinasie, drie minute in kookwater. ’n Bietjie groenrissie. Roereier, “soos die ou dames dit gemaak het, jy moet die wit en die geel nog kan sien”.

Ná Mbeki het Lekota Cope gestig omdat hy nie kans gesien het om onder Zuma te dien nie.

'n Ruk lank was Cope die Nuwe Hoop. Nou het Cope net drie lede in die parlement. Die Lekota-humeur, ’n rede vir die jarelange leierstwis met Mbhazima Shilowa wat die party verlam het, is op amper 70 getemper.

Maar dié kortgebakerde patriot is myle weg van moeg.

“Ek dink altyd terug aan my maters wat hul lewens gegee het vir demokrasie. Hulle het hul kant van die ooreenkoms gehou. Hoe kan ek nié?”

Hartseer kom in sy oë.

Die tannie langsaan staan strammerig op en kom gee hom ’n druk.

“Veilig gaan, my vriend.” Sy swaai 'n bejaarde vingertjie. “En . . . gedra jouself!”

Hy “tsk” onderlangs, gee haar nog ’n stywer druk, en ons almal hier in Mugg & Bean lag vir dié twee se reënboog-goedvoel-oomblik, so onverwags op ’n gewone Donderdagoggend in Goodwood.

Meer oor:  Cyril Ramaphosa  |  Mosiuoa Lekota  |  Grondwet  |  Staatsrede  |  Cope  |  Grondonteiening
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.