Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Hanlie Retief gesels met Mo­siuoa Lekota

In sy kruisvaart om Suid-Afrika se Grondwet te beskerm, het Mo­siuoa Patrick (Terror) Lekota vanjaar al meer klappe gekry as die jare wat die Grondwet oud is.

By ’n sydeur uit by Kovsies, toe EFF-ondersteuners Mosiuoa Lekota by ’n gronddebat in Julie wou pak oor hy grondonteiening sonder vergoeding en die wysiging van Art 25 van die Grondwet teenstaan.

Op die Kovsie-kampus moes veiligheidsmense hom by ’n sydeur laat uitglip toe woedende EFF-ondersteuners hom wou pak.

By die grondsittings in Mahikeng is hy stil gedreunsing as ’n sell-out en ’n skande.

In Marble Hall in Limpopo het hy en Julius Malema woedend vir mekaar vinger geswaai, en ’n stewige tante moes die Rooi Peuter vashou, anders het hy Lekota te lyf gegaan.

In die parlement word hy gereeld verneder en doodgeskree. Malema: “Jy is Robbeneiland toe as swart bewussyner en toe kom jy terug as ’n historiese fout.”

Maar die gort was behoorlik gaar toe Lekota laas Maandag saam met AfriForum se Kallie Kriel voor ’n yslike “Cope and AfriForum Take Hands”-plakkaat aankondig hulle span nou saam om ambassades te oorreed om druk op die regering te plaas om die wysiging van die Grondwet te keer.

Kan mense nie sién wat gebeur nie. Die tegniese resessie val allermins uit die lug.

Ernst Roets, uitvoerende adjunkhoof van AfriForum, se aggressiewe voorlegging aan die parlement se grondwetlike hersieningskomitee was ’n paar dae vroeër, en dit was ekstra stukrag vir die anti-Lekotas: “Sell-out” het uitgeswel tot “Uncle Tom” en “Judas Iskariot”.

Het #Lekota sy varkies verloor? Hy titanic nou vir Cope, is op sosiale media gesê. Dié briljante, beginselvaste man, hoe kan hy kragte saamspan met AfriForum, wat net so verdelend is soos Malema en Black First Land First? Swak skuif . . .

“Nee, man, ek het g’n my varkies verloor deur saam met AfriForum in die kooi te spring nie,” bulderlag Le­kota Donderdagoggend net ná sonop iewers op die N8 tussen Kimberley en Bloemfontein.

Sy plat-op-die-aarde-Vrystaat-Afrikaans het hy ingekry saam met mieliepap op die plaas in Senekal waar hy mens geword het, die kind van plaasarbeiders.

Cope en AfriForum span nou saam om die Grondwet te beskerm.

“In die stryd teen euwel kies mens nie jou vennote op grond van kleur nie. Jy kyk wie staan waar ten opsigte van jou saak. Mense uit alle gemeenskappe het saam met ons gestaan teen apartheid – Bram Fischer, Denis Goldberg, Joe Slovo, Beyers Naudé, Desmond Tutu.

“Toe ons Kodesa toe is, was die vraag: Wie staan saam vír onderhandelinge? Die mense wat vrede tussen almal van ons wou hê, was ons vennote. Só kon ons die onderhandelinge deurtrek.

“En toe het ons ’n Grondwet. Toe kon ons saam vorentoe.

“Vandág is die vraag: Wie staan agter die Grondwet? Die Ramaphosas en die Zumas wat die Grondwet wil ondermyn, is nié meer aan ons kant nie. Hulle is teen ons.

“Dis so eenvoudig soos dit.”

In die gevalle waar die Grondwet of demokrasie bedreig word, sê Lekota, tel AfriForum nie wapens op nie, nee, hulle volg die Grondwet, hulle gaan hof toe. Dís wat tel. Hulle sê die Grondwet moet gehoorsaam word. Dít maak daai mense aan ons kant.”

Oor die aantygings dat hy handevat met die “rassistiese” AfriForum steur hy hom net so min as aan die gekweel van Malema en die EFF.

Verskeie groepe het in die parlement teen wysigings van die Grondwet gepraat, hoekom skaar Cope hom nie eerder by húlle as by die omstrede AfriForum nie?

“AfriForum het hulle beywer om met ons te gesels. Ek was ook by ander organisasies, die Afrikanerbond, die landbou-organisasies, groepe in die bruin, swart en Indiërgemeenskappe, die land vol. Ek praat met almal. Ek gaan nog Oos-Kaap toe. Ek bewéég.

“En ek is geduldig, ek het dertien en ’n half jaar op Robbeneiland gewag vir die Grondwet. Daar’s niemand wat my nou in die tronk kan gooi omdat – en saam met wie – ek die Grondwet verdedig nie.”

Sy eie partyleierskap was onthuts oor Lekota sonder hul wete met AfriForum dié ooreenkoms gesluit het. Willie Madisha het hom openlik daarvan gedistansieer.

“Ons uitvoerende komitee se vergadering is afgestel, dis hoekom ek hulle nie kon sê nie, want die voorbereidings met AfriForum was ongelukkig so ver dat ons dit nie langer kon uitstel nie. Ek is jammer daaroor, maar hulle verstaan nou dat AfriForum, ten spyte van ons verskille, ook werk om ons probleme vreedsaam binne die Grondwet op te los en dat die Grondwet verdedig moet word.”

Dis ook g’n so dat hy nou die land by die buitelandse ambassades wil gaan swartsmeer nie, sê Lekota.

“Ons wil net vir hulle sê: Julle het ons gehelp en ondersteun tydens apartheid, julle het druk op die ou regering geplaas. Doen nou dieselfde.”

“Ons het hard baklei vir die Grondwet. Dis nie om net sommerso weg te gooi nie. Die jong Terror Lekota het ’n onkreukbare struggle-rekord, maar deesdae word hy ’n sell-out genoem.

Éintlik is Lekota strategies, word nou gesê. Dalk vry hy na die VF Plus se ondersteuners en benut die DA-foutlyne as ’n heenkome vir ontgogelde DA-kiesers.

“Mense skuif dalk van Cope na die DA, of andersom. Daarmee het ek geen probleem nie, solank hulle net nie vir die ANC of EFF stem wat die Grondwet ondermyn nie.

“Kyk, ons en die DA en ander minderheidspartye is al so te sê koalisie-vennote, bewakers van die Grondwet. Daar is niks nuuts wat ek met hulle moet onderhandel nie.”

Hy het wel ’n vergadering met Bantu Holomisa aangevra.

“Ons wil by hóm hoor: Is hy steeds ’n voorstander van die Grondwet en van skoon regering? Dan sal ons weet of hy deel is van ons – of deel van die Ramaphosa-kamp wat die Grondwet wil verander, die hele land ontwrig en die ekonomie verswak.”

Kan mense nie sién wat hier gebeur nie, roep hy uit. Hierdie tegniese resessie val allermins uit die lug.

Oor die aantygings dat hy handevat met die “rassistiese” AfriForum steur hy hom net so min as aan die gekweel van Malema en die EFF.

“Hoe rassisties is AfriForum regtig? Hulle stem heeltemal met my saam as ek sê ons is almal in die eerste plek Suid-Afrikaners en eers daarna Basotho of amaZulu of Afrikaners.

“Moenie hierdie Afrikaner-ding voor Suid-Afrika plaas nie, sê ek vir hulle, want die Grondwet verseker eerstens aan Afrikaners ’n plek in hierdie land saam met ander, en tweedens beskerm dit hul taal, wat nie net wit Afrikaners s’n is nie, daar is ook swart en bruin mense met Afrikaans as moedertaal.

“Ek sê vir hulle: Dis nie júlle taal nie, julle kan dit nie net vir julself opeis nie, dis óns taal, Suid-Afrika s’n, en ons beywer ons om Afrikaans te beskerm. En AfriForum aanvaar dit so.”

Hy weet presies hoekom AfriForum so deurloop onder kritiek, sê Lekota.

“Want daar’s baie rassiste in die swart gemeenskap. Luister net hoe praat Malema oor die slagting van wit mense. Nou, as swart mense nié rassisties is nie, hoekom is hulle nie kwaad vir Malema as hý so praat nie?

“En hoekom vat die regering hom nie hof toe as hy sulke stellings maak nie?”

Hy sug.

“Daar was ’n tyd toe ons gedink het vryheid gaan nie in ons leeftyd kom nie, dat die Grondwet wat ons nou het, eeue ver is. En toe kom dit, tot ons verbasing, veel gouer as wat ons verwag het.”

En nou is ons verlos van apartheid, benadruk hy. En nóú moet ons ophou om mekaar te beskuldig oor die foute van die verlede.

“Versoening is om te aanvaar dat foute en vergrype gebeur het, maar dat ons ons beywer vir goeie maniere, goeie gesindhede in Suid-Afrika, ’n atmosfeer waarin ons land hernu en herbou kan word.”

Hy’s min gepla oor die tradisionele Cope-kiesers wat nie juis cope met sy flirtasie met AfriForum nie – en dalk reguit EFF toe gejaag word.

“Eintlik gaan ons méér stemme kry. Swart gemeenskappe sê heeltyd vir my hulle is moeg vir die gevegte van die verlede, hulle soek vrede en ’n toekoms in ’n land waar almal saamwerk en infrastruktuur bou. Ons wil nie weer teruggaan na ’n verlede waar die regering mense onderdruk nie.”

Hy het slegs dele van Ernst Roets se voorlegging in die parlement gehoor. “Ek dink hy het ’n fout gemaak. Hy was nie veronderstel om ander partye aan te val nie, maar om te sê hoekom AfriForum die Grondwet wil behou soos dit is. Los die EFF, los die ANC, praat oor die Grondwet, gee jou redes.”

Roets het veral kritiek gekry oor sy stelling dat die grootste historiese wanbegrip van ons tyd is dat wit mense grond gesteel het.

“Lank voor ons by art. 25 van die Grondwet kom, is daar al ’n klomp goed uitgeklaar: Suid-Afrika is ’n soewereine demokratiese staat waar almal van ons landsburgers gelyke regte en voorregte het.”

Hy praat so vurig, hy praat homself in ’n hoesbui in.

“ ’n Mens moet aanvaar die eerste wit mense wat hier aangekom het, was op pad Ooste toe om speserye te gaan haal. Hulle het nie beplan om grond te kom steel nie.”

En die 1913-wet oor swart grondgebiede en 1950 se Groepsgebiedewette?

“Ja, maar kyk hier, art. 25 sê duidelik die regering het ’n plig om stappe te doen om verkeerde dinge van die verlede reg te stel. Hulle kan maklik die grond wat in die vorige bestel van swart mense afgeneem is, identifiseer, want dis by die aktekantoor geregistreer. Die titelaktes is daar.

“Wit mense het ook nie die grond as geskenke gekry nie. Ná ons uitgestoot is, moes hulle die grond by die regering koop. Ons kan vasstel dié en dié stuk grond is by die grootouers van Lekota afgevat.

“Art. 26 gee jou die reg om op enige plek te gaan bly. Die regering moet dus sorg dat grond vir behuising beskikbaar is, al is dit nodig om te onteien.

“Dis alles daar in die Grondwet. Dis die ANC-regering wat aan die slaap was en hopeloos te min gedoen het.

“Ek wil baie duidelik sê: Daar is g’n manier dat ons die onreg van die verlede moet herstel deur nuwe onregte te pleeg nie.”

Soos Nelson Mandela is Lekota in die ou dae ’n terroris genoem.

“Vandag sê Malema en sy maats Mandela is ’n sell-out want hy wou wit mense aanvaar as mede-Suid-Afrikaners. Hulle noem my dit ook. Ek is in goeie geselskap.”

’n Oomblik in die parlement, vasgevang op YouTube: Mosiuoa Lekota, opgepof soos ’n vies hoenderhaan, wat doodgeskree word. Buthelezi wat strammerig orent kom en vra dat die huis vir Lekota ’n kans gee, hy kan die agbare lid nie hoor nie. Cyril Ramaphosa, doodstil in sy bank, met ’n enigmatiese, veelseggende glimlag.

Meer oor:  Grondbeleid  |  Cope  |  Afriforum  |  Eff  |  Grondwet
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.