Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Hanlie Retief gesels met Naka Drotské

Tussen die suising van die respirator en die kliniese klanke van die waakeenheid – in twee weke van huiwer tussen lewe en dood – het die sanger Jo Black se woorde in Naka Drotské begin eggo: Bly hoop, deur die seer . . . Die genade kom in stukkies, dit val soos reën van bo . . .

Dit. En daardie haker van woorde, Steve Hofmeyr, se “Redgebed”: Ek het ’n klein gebed na ’n groot adres, ek het Jona 2 vers vier tot ses, ek het ’n redgebed, is dit al wat ek moet hê . . .

Naka Drotské en sy vrou, Marzanne. Ná die aanval op 29 November deur gewapende rowers op sy broer se kleinhoewe buite Pretoria het hy twee keer by die dood omgedraai, maar dié oud-Springbokhaker en Cheetah-afrigter kyk nou vorentoe. Foto: Conrad Bornman

Op die drempel van die dood, nadat sy familie al laat kom is om hom finaal te groet, het “Redgebed” en Black se “Een klein klippie” vir Naka die rede geword wat hom weer laat terugdraai het lewe toe.

“As ek eerlik moet wees, ek het eintlik maar gebid en gesê die Here moet my kom haal. ’n Ou kom net op ’n punt . . .”

Stram, stadig en oneindig verlig en dankbaar vertel Naka self sy storie in sy hospitaalbed in Bloemfontein se Mediclinic.

Hierdie stil ou stormram is deur ’n oorlog, kan jy hoor.

“Die eerste ruk in die waakeenheid was vir my verskriklik moeilik. Ek was opstandig en negatief.”

Vir Naka, wat nog nooit in sy lewe vir ’n oomblik kon stilsit nie – “drie minute TV kyk, vyf minute op die rekenaar, twee minute rondstap, daai soort ding” – het die hospitaalbed ’n tronksel geraak.

“Jy lê met ’n klomp pype, en jy voel só vas, so siek – en twee weke gly verby en jy kan nie praat nie, niemand verstaan jou nie.”

Ek kan mos nie vir die Here belowe as Hy my lewend hieruit kry, sal ek vir Hom ge­tuig, én met ’n hart vol haat hier lê nie.

Boonop, nadat hy gedink het hy was in Pretoria met die aanval en operasies dáár oor die ergste, was hy skielik terug in die waaksaal, dié keer in Bloemfontein, dié keer die eintlike ergste: hipovolemiese skok weens dermkanaalbloeding en ’n longinfeksie.

“Ek het 95% moed verloor.

“Marzanne, my vrou, het gesê as ek aanhou bly staar na die plafon, gaan ek dit nie maak nie. Sy was my steunpilaar. Ruk jouself reg, het sy aanhou sê, doen dit vir jou seuns.”

As hy oor sy seunskinders, Allen (15) en Tristan (11), praat, raak sy stem vasgewoel in emosie.

Hulle FaceTime hom elke dag uit Amerika, waar hulle by hul ma, Liske, vakansie hou.

“Die jongetjie is ’n groot ekstrovert en ’n klein grapjas. Toe hy my die eerste keer op sy selfoon sien, wou hy by Marzanne weet waar my nek heen is, hy soek sy pa met sy dik nek terug. Ons soek nie vir Pa met so ’n dun nekkie nie . . .”

Sy keel trek skoon toe as hy dink aan hoe Allen op die vliegtuig raakgelees het sy pa is aangeval. En doodstil daaroor gebly het, want hy wou nie sy boetie ontstel nie.

Soos Kerspresente het genade vir Naka in allerhande pakkies gekom. Twee liedjies, twee seunskinders se moedgee-FaceTimes, twee saalsusters . . .

“Yolandi Bekker en Nelmarie Petit, sout-van-die-aarde-nagsusters – hulle, eintlik almal daar, weet nie eens hoeveel hulle vir my beteken het nie,” rasper hy dit uit.

“Ek het vir Yolandi gevra hoe kom ’n mens hier uit. Toe sê sy vir my jy moet fight, Naka. Doen wat ons vir jou sê om te doen, glo en vertrou en jy sal hier uitstap.”

Ek het só amper in ’n rystoel beland. Die dokters het gesê ek sal nooit weer kan rugby speel nie, maar ná drie jaar kon ek weer.

In ’n WhatsApp vertel Yolandi hoe sy kon sien hoe depressief Naka was. “Ek het vir hom gesê ek gaan hom elke oggend kom groet en moed inpraat. So, élke oggend het ek vir hom gaan sê hy lyk beter en hy moet vasbyt vir sy vrou en kinders. En dat die Here nie iets oor sy pad sal bring as Hy geweet het hy sal dit nie kan hanteer nie.”

Die reaksie van oor die land heen op sy aanval was oorweldigend, vertel hy. Boodskappe en gebede het ingestroom.

Die ironie is dat Naka eintlik veronderstel was om die aanval op 29 November op sy broer se kleinhoewe in Kameeldrift mis te loop.

Hy het sy seuns tien oor sewe die aand op die O.R. Tambo-lughawe afgelaai vir die vlug Amerika toe. Omdat hulle minderjarig is, moes hy, soos vereis, wag totdat hulle nege-uur opstyg, ingeval die vlug gekanselleer word.

“Maar iets het my heeltyd gedruk om vroeër te ry.

“Ás ek eers nege-uur gery het, sou ek die aanval gemis het. Dit het so kwart oor agt gebeur.”

Sy broer-hulle het reeds geëet, en tien minute van die huis af het Naka vir Os du Randt gebel en gesê hy kan maar sy vleis op die kole sit.

Moeisaam, effens uitasem, vertel Naka, en hy onthou alles in detail: Die skok toe hy omdraai en die vier aanvallers sien, die traangas, die rewolwers, die leier se groot wit oë in sy klapmus.

“En hoe ek die besluit geneem het om hulle te storm . . .

“Alles gebeur so vinnig, ’n ou weet nie wat is die regte ding om te doen nie. Ek het met my rug na die deur gesit toe Os of Tinus (sy broer) skielik skree: Nee! Nee!”

So, hierdie ou têkkelkoning wat veel eerder stilstuipe kry as om oor diép dinge te praat, gaan sy storie vir mense vertel.

As die aanvallers se houding anders was, as hulle nie dadelik traangas gespuit het nie, sou hy met hulle probeer onderhandel het, pluis hy dit vir die soveelste keer vir homself uit.

“Die leier was in die middel. Dit was seker maar instink, maar ek het in daai splitsekonde gedink hulle gaan ons anyway doodmaak, ek kan netsowel ’n fight opsit. Toe storm ek hom en probeer die ander twee saamtrek. Die een op wie ek geval het, skiet my toe deur die maag en die ander een deur my elmboog – ek het seker met my arm probeer keer. Die derde ou het gelukkig mis geskiet.

“My broer kon toe die paniekknoppie druk, en toe die alarm afgaan, het hulle weggehardloop.”

Naka is die huis in en het die veiligheidshekke agter hom gesluit.

Eers toe Os in die kamer vra of iemand raakgeskiet is, het Naka die wond in sy maag gevoel. In daai sta­dium het hy nog nie eens geweet van die koeël deur sy elmboog nie.

“Toe begin ek swak voel, en ek dink my woorde was: Kry my vinnig by die hospitaal . . .”

Terwyl Os met hom hospitaal toe gejaag het, het Naka gedink hy gaan sterf.

“ ’n Ou ken nie dié soort goed nie, jy sien dit maar net gewoonlik in flieks, hoe jy te veel bloed verloor en doodgaan. Ek het . . . gedink aan . . . my twee seuntjies . . . aan Marzanne . . . hoe lief ek hulle het . . .” raak hy emosioneel.

Hy het heeltyd met sy hand probeer druk op die maagwond om die bloeding te keer, min wetende dat sy arm ook vrylik gebloei het. “So, dis eintlik nog meer van ’n wonderwerk, dis absoluut die Here se genade.”

En die Kameeldrift-pad is pikdonker en Os jaag en hy ry die Fortuner se voorwiele flenters teen die middelmannetjie en Naka raak al hoe swakker, dis bloed en chaos en Os spring uit en probeer karre voorkeer.

Die eerste kar het verbygery, onthou Naka. Toe stop die tweede kar.

“Os kon nie ook inpas nie,” grinnik hy effens, “dit was een van hierdie klein karretjies.”

Hy het sy lewe aan daardie samaritane te danke: Ntatheni Mudau en Pretty Nedoboni. “Sjoe, hulle het moed gehad. Ék sou skrikkerig wees om te stop, veral as ’n groot ou soos Os voor my inspring en skree: My vriend is geskiet! ’n Ou sal dink dis ’n hijack op sy eie.”

Vir ’n paar oomblikke droog sy woorde op. Moeg en hees vertel hy dan hoe hy elke keer van voor af emosioneel raak as die dokters en sy mense hom vertel hóé amper hy dood was.

“Dit tap maar baie emosies uit jou. Hier binne-in my is daar nou hierdie absolute dankbaarheid. Dit kan nie net geluk wees nie, dit moet genade wees. Die Here het my ’n tweede kans gegee.

“Eintlik ’n dérde kans . . . Ek was 12 toe ek my nek gebreek het. Plaaskind, lekker wild, het ek in ’n rivier geduik wat te vlak was. Ek het twee nekwerwels gebreek en toe loop ek nog twee, drie kilometer huis toe met ’n oop wond aan my kop.

“Ek het só amper in ’n rystoel beland. Die dokters het gesê ek sal nooit weer kan rugby speel nie, maar ná drie jaar kon ek weer.”

Op dié hospitaalbed, 35 jaar later, het Naka eers besef watter kans hy destyds gekry het, en hoe ondankbaar hy was deur dit net te aanvaar as sómmer, nooit dankie te sê daarvoor nie. En gedoriewaar, dít gaan nou verander.

“ ’n Ou verloor maar perspektief as dit heeltyd goed gaan. Ek was nog altyd ’n Christen, maar nie soos ’n ou moet wees nie. My verhouding met die Here het nou baie verdiep.” Dis hoekom hy sy aanvallers kon vergewe.

“Ek kan mos nie vir die Here belowe as Hy my lewend hieruit kry, sal ek vir Hom getuig, én met ’n hart vol haat hier lê nie.”

So, hierdie ou têkkelkoning wat veel eerder stilstuipe kry as om oor diép dinge te praat, gaan sy storie vir mense vertel.

Hy gee ’n verleë laggie. “Ek, so ’n introvert, sou wraggies in my wildste drome nooit kon dink ek sal kans sien vir so iets nie! Maar ek gaan. Want ek het ’n tweede kans gekry.”

En ná agt operasies, ná 16 dae in die waakeenheid, is daar uiteindelik ’n skrefie van ’n kans dat Naka môre huis toe kan gaan.

Sjoei. Hy is amper te bang om daaraan te dink.

Sy seuns kom óók môre terug. Dan, hopelik, is hulle almal weer veilig by hul huis teen ’n Bloemfonteinse klipkoppie, met die Vrystaat om hom, en die wonde aan hom wat eendag net letsels gaan wees.

Genade kóm toe in stukkies. Soos reën van bo.

Meer oor:  Naka Drotské  |  Rooftog  |  Rugbyspeler  |  Aanval
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.