Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Hanlie Retief gesels met Naka se mense

‘Ek sien nog hoe Naka die bal so vasvat voor sy borskas, skrumpet op die kop, dan word hy so ’n bondeltjie en storm die opponente onderstebo,” vertel Harold Verster, die Cheetahs se besturende direkteur wat Naka al van sy Grey-Kollege-dae af ken.

Naka het daarop aangedring om Nthatheni Mudau en Pretty Nedoboni (weerskante van hom), twee konstruksiewerkers wat met hom hospitaal toe gejaag en só sy lewe gered het, persoonlik te bedank. Hier is hulle voor die Netcare Montana-hospitaal in Pretoria toe Naka ontslaan is.

“Sy têkkelwerk was van die beste, jy weet. En hy is natuurlik ’n haker, en ’n haker is ’n toughie, jy weet . . .”

Op 29 November, toe vier rowers in balaklawas voor hom staan, het Naka gedoen wat hy doen: hy het getackle – vir sy lewe, vir sy mense se lewens. Soos altyd het hy nie ’n oomblik gehuiwer nie.

Dis presiés die Naka wat hy ken, sê die skeidsregter Jaco Peyper. “Stormram. Pak die bul by die horings. Hy’t daai aanvallers bo-oor die tafel geduik tot in die Weber-braai.”

Dit het sy mense kans gegee om die huis te sluit, sê Verster. Maar toe vlieg die aanvallers op en skiet hom.

In Bloemfontein, kom jy gou agter, is almal wat iets te doen het met rugby vriende met Naka. Hy is so ’n bietjie van ’n Vrystaat-legende op én af van die veld.

In Bloem, kom jy gou agter, is almal wat iets te doen het met rugby vriende met Naka.

Mense van oor die hele wêreld bel vir Verster om te hoor hoe dit met Naka gaan. ’n WhatsApp-groep hou mekaar op hoogte oor hul vriend wat in Bloem se Mediclinic lê en veg om sy lewe. By die hospitaal het sy familie kringetjie getrek om Naka.

“Dié skok is vir ons amper erger as die eerste, toe hy geskiet is. Ons het net begin rustig raak oor hom, ons het gedink hy is oor die ergste,” sê Hawies Fourie wat destyds Naka se hulpafrigter by die Cheetahs was.

Marzanne, Naka se vrou, los haar “Yster”, soos sy hom op haar WhatsApp-profiel noem, nie vir ’n oomblik alleen nie. Toe sy van die aanval hoor, het sy in haar kar gespring en alleen deurgejaag Pretoria toe.

“En glo my, as jy tienuur die aand deurjaag van Bloemfontein af en jy weet nie hoe, waar en hoe ernstig jou man beseer is nie, gaan ’n miljoen gedagtes deur jou kop. Ek het letterlik die hele pad gebid.

Haar Yster, noem Marzanne Drotské haar man. Sy sê die trauma het hulle net nog nader aan mekaar gebring.

“Ek het teen ’n vreeslike spoed gejaag, want ek wou net in Pretoria by my man kom. Ek het gebid dat die liewe Vader my veilig tot daar sal vat, en dat Naka asseblief net moet leef, maar as dit nie sy wil is dat my man moet leef nie, ek net by hom kan wees as hy gaan.

“In daardie ure dink jy aan al die kere wat ’n mens so onnodig baklei of kwaad is vir mekaar. Skielik besef ’n mens net dat jy nou bid vir ’n tweede kans, om al daai onnodige krapperigheid net te kan laat verdwyn. Dat jy enigiets sal doen solank hy net lewe.”

Sy vertel hoe sy besef het sy sal emosioneel beheer moet oorneem, voor hom en die kinders sterk wees.

Toe Naka so vinnig herstel ná die twee operasies in Pretoria, het Mar­zanne nog gedink sy kan hom die langnaweek Jeffreysbaai toe vat om aan te sterk. Hy was sterk genoeg dat sy hom op 6 Desember stil-stil in die kar kon laai en huis toe ry.

“ ’n Haker is ’n toughie, jy weet . . .” Naka Drotské in die Wêreldbeker-halfeindronde teen Australië in 1999 op Twickenham. Foto: Getty

“Ek het nie eens vir die familie gesê nie. Maar dit was ’n bietjie chaos gewees, dié lang rit. Dr. Johan van Beljon by Montana-hospitaal was ongelooflik. Hy is 24 uur per dag vir my daar om te bel of te WhatsApp as ek onseker is oor enigiets,” het sy kort daarna gesê.

Laas naweek het dit nog goed gegaan met Naka, maar hy was steeds moeg en deurmekaar. “My man is so dierbaar, hy het tot verskoning gevra as hy agterkom hy praat deurmekaar.”

Maar teen Dinsdag het dit ál slegter met Naka begin gaan. Sy is op moedverloor se vlakte, het Marzanne ge-WhatsApp.

Sy het die middag gereël dat ’n internis en ’n berader Naka by hul huis kom sien. “Hy het meestal net geslaap en gesukkel om te praat.”

Marzanne was bekommerd dat die emosionele trauma ’n impak op Naka begin hê. Die berader het glo besef Naka reageer nie toepaslik as sy met hom praat nie. Sy het toe haar man, 'n huisdokter, gebel wat op sy beurt die spesialis-chirurg Geofré Heyns gekontak het.

Toe hy hom die nag by ongevalle ondersoek, was Naka se toestand reeds kritiek, vertel Heyns. “Naka was só uitgebloei dat hy in hipovolemiese skok gegaan het. Terwyl jy met hom praat, het hy sy bewussyn verloor. As ’n mens baie bloed verloor, verloor jy jou bloeddruk en jou bewussyn, en dan kan jy nie jou lugweg beskerm nie.

“Dis hoekom ons hom teater toe geneem het om hom te resussiteer en te evalueer, want ons het geweet ons sal alles tot ons beskikking moet hê sou iets verder verkeerd loop.”

Vrydag is ’n trageostomiebuis vir Naka ingesit.

“Hy word ten volle geventileer en is nog onder verdowing in dié stadium. Sy bloeding het spontaan gestop en sy parameters word al beter,” het Heyns Vrydag gesê.

Saterdag het Marizanne vir vriende per WhatsApp laat weet hulle begin Naka nou wakker maak uit sy verdowing.

“Sy seuns het vir hom ’n voicenote gestuur, en toe het die trane sommer begin loop. Hy is bietjie geïrriteerd omdat hy nie kan praat nie . . . maar dinge lyk goed.”

Mense vra nou of Naka nie te gou ontslaan is uit die Montana-hospitaal in Pretoria nie.

“Naka is eintlik ’n uitstekende voorbeeld van hoe iemand op die beste manier deur al die fases hanteer is – van die twee Samaritane wat hom in die goue uur ná trauma in die hospitaal gekry het, tot die personeel wat hom daar uitstekend behandel het.

“Van die bespoedigde-herstel-chirurgie (FTRS), van daardie berader wat wakker genoeg was om te besef dis nie ’n sielkundige probleem dié nie, tot hy nou verder vir sy komplikasies behandel word.”

Met FTRS, verduidelik Heyns, word ’n pasiënt behandel, so gou moontlik gestabiliseer en dan ontslaan.

“In Engeland kry jy selfs ’n kolonoperasie in die oggend en die middag word jy ontslaan, op voorwaarde dat jy in kontak bly met jou dokter. Hoe gouer jy jou normale gang begin gaan en begin beweeg, hoe gouer herstel jy.

“Dit het uitstekend gegaan met Naka, in ag geneem dat hy op die 29ste geskiet is. Ek het hom as ’n komplikasie eers op 11 Desember gesien. Dis wanneer komplikasies intree: onmiddellik, of in die eerste of tweede week daarna.”

Heyns het Saterdag gesê hy is tevrede met Naka se herstel. “Dit gaan elke dag beter. Ek voorspel die herstelproses gaan vinniger wees as wat ek aanvanklik gedink het.”

Net Marzanne en Naka se naaste mense word by hom toegelaat. Haar fokus is nou 100% op hom en sy kommunikeer in hierdie stadium nie na buite nie.

Os du Randt, wat in die aanval eerste deur die rowers geteiken is en onder pepersproei deurgeloop het, ondersteun ook heeltyd sy boesemvriend en sakevennoot in die hospitaal. Dié twee is soos Dawid en Jonatan, sê Verster. “Hulle kom ’n lang pad saam, jy sien hulle amper nooit weg van mekaar nie, onafskeidbaar soos broers.”

Marzanne sê Naka sal vir seker net ’n positiewe boodskap uit hierdie aaklige voorval wil oordra. “Hy is nie iemand wat 'n wrok sal koester teen misdadigers nie. ’n Joernalis het my gevra of ek kwaad is vir die aanvallers. Ek het nog nie eens gedínk aan hulle nie. Ek kan nie nou my energie mors om aan negatiewe goed te dink nie.

“Naka is nie die tipe wat sal uitvaar oor alles wat sleg is in die land en hoekom niemand iets daaraan doen nie.

“Dit was swart mense wat gestop het toe Os se Fortuner se bande gebars het teen die middelmannetjie. En as ons nou moet eerlik wees met mekaar, wie van ons sal stop as ons swart mense in die nag in die middel van die pad sien met een van hulle boonop bebloed?”

Sy en Naka het ’n keuse hoe hulle hierdeur gaan kom, sê Marzanne. “Met die Here se krag en genade sal ons dit ’n positiewe een maak.

“Ons het altwee ’n rowwe jaar agter die rug met groot nuwe uitdagings. Maar dan gebeur só iets en al die ander dinge lyk na niks! Sinneloos. ’n Mens verloor so vinnig perspektief in ons gejaagde lewe, en so iets ruk mens net weer terug tot die werklikheid.

“Hierdie tyd, wat veronderstel was om die slegste van my lewe te wees, het my net weer laat besef in watter wonderlike land ons woon, met die wonderlikste mense.”

Verster onthou hoe Naka in 2007, nadat die Cheetahs ’n klomp wedstryde in ’n ry verloor het, besluit het hulle gaan die grootste comeback ooit maak.

“Ons het op ons trui geskryf: The Greatest Comeback, en toe moes ons al die oorblywende wedstryde wen. Ons het. En die Curriebeker.

“Aan Naka is daar geen fieterjasies en nonsens nie, hy is net ’n gewone, goeie, Vrystaatse rugbyman. As daar een ou is wat hierdeur sal trek, is dit hy. Hy is ’n toughie, hy is ’n vegter, daai ou.”

Meer oor:  Naka Drotske  |  Rooftog  |  Aanvalle  |  Rugbyspeler
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.