Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Hanlie Retief gesels met Nic de Jager

Sondae twaalfuur was altyd maar net Sondae twaalfuur. Tafeldek, vuuraansteek vir die braai, die begin van die afloop van die naweek.

Nic se Goed word uit Nic de Jager se wye musiekversameling in sy meenthuis buite Stellenbosch opgeneem. By hom is Lexi, sy Jack Russel. Foto: Edrea du Toit

En toe gebeur Nic se goed.

Onverwags was Nic de Jager “sommerso daar . . . soos 'n Kleurlingkoor met Kersoggend”, soos Breyten dig.

Oor die land heen is daar ’n alternatiewe, retro, effe ondergrondse beweging wat deesdae om radio’s byeenbondel vir Nic se musiek en Nic se stories.

In ’n koerantrubriek beskryf Martie Retief-Meiring dié Nic-fenomeen as ’n terugkeer van die romantiek van die radio, gedryf deur die belewenis dat Nic net met jóú praat, “daardie gevoel dat jy, stoksielalleen voor die radio, in gesprek is met iemand agter al daardie knoppies”.

As jy dít vir jou kinders leer, is al hierdie ander goed nie van belang nie.

Sy herinner ons aan Douglas Fuchs, die bekende radiohoof, wat ná die koms van TV gesê het: Radio is beter, want die prentjies is mooier.

En nou, skryf Martie, as ons Sondae vir ete genooi word, sê die mense: kom gerus al twaalfuur, dan luister ons na Nic se prentjies en dan eet ons net ná een.

Hy het g’n idee hoekom die program so gewild is nie, sê Nic self.

“Ek sê altyd dis ’n derde kennis, ’n derde google en ’n derde b*llsh*t.”

Ons gesels by sy meenthuis in Jamestown, net buite Stellenbosch. Jy luister na daardie effe luierige fluweel-bariton met hier op 78 gewis minder krakies as ’n 78-plaat.

Jy luister.

“Dis wonderlik dat mense my program geniet, want ek is beswaard oor ’n wêreld wat al hoe oppervlakkiger raak. Die media gaan vir die sensasionele, want hulle probeer oorleef. En televisie suig jou siel uit jou uit. Maak jou lui. Ek hou van die misdaadkanaal, maar as jy sit en kyk, ontneem dit jou van alle moed om self iets kreatiefs te gaan doen.

Op stel van 1945, ’n TV-reeks geskryf deur Chris Barnard. Heel links is Marc Degenaar, die seun van die filosoof Johan Degenaar, agter die kamera is Johan van de Vyver en regs is Nic de Jager. Foto: Die Burger

“Wat ek probeer doen met die ou programmetjie is om oor goed te praat wat ék interessant vind en ’n effense agtergrond te gee. En te hoop ander vind dit ook interessant.

“Daar’s dié wat my laat weet: my ou man het niks van ‘klassikale’ musiek gehou nie, maar nou luister hy elke week. En dan’s daar natuurlik ook die enkeles wat sê: ag jirretog, wat maak jy op die radio . . .”

’n Sweem van ’n glimlag sê: As jy nie hiervan hou nie, gaan luister na iets anders.

Mense ken vir Nic as omroeper en regisseur – en die akteur wat ongeveer elke baddie in Afrikaanse flieks in die 80’s gespeel het. Hy was die opperste poepol in The Gods Must Be Crazy, onthou Leon Schuster.

Maar altyd die hunk in Springbok­radioverhale, onthou Leon van Nierop. “Een van sy beste hartebreker-reëls was: Hallo jy wat jý is . . .

“In Die geheim van Nantes het ons almal gevoel jissie, dis nie reg dat ons hunk die skurk speel nie,” sê Van Nie­rop.

Lexi, Nic se jackrussellhond, spring op my skoot. “Liefie! Jy maak haar vol hare!” betig haar baas haar.

Die musiek wat hy in Nic se goed speel, is als sy eie. Nic se goed.

“Wil jy sien hoeveel plate ek het? Ons trek nou al by program 211. Maar ek moet erken: as ek te lui is om na ’n spesifieke stuk musiek te soek, laai ek dit vir R7,99 per snit by Presto Classical af.”

So kom hy elke nou en dan op iets ánders af en dit open nuwe moontlikhede en dan begin hy die program daarrondom bou.

Vinnige rolle, vinnige karre. In sy Alfa Romeo Spider in die 1970’s. Foto: Rapport

“Ek is wel maar versigtig vir temas, dis die uitvlug vir onkreatiewes. Gits, ek praat myself nou in die moeilikheid in. Ek is bang mense dink ek predik van ’n hoogte af, en dis die laaste ding wat ek wil doen.”

Keer hy homself.

Soms, as hy die program klaar het, dink hy: dit was nie sleg nie. Ander kere: nee, dit was nou uit wans uit.

“Soos jy weet – by enige vorm van kreatiwiteit is twyfel die meeloper. Dis mos net as jy 19 is dat jy dink elke woord wat jy sê, is ’n ewige waarheid.

“Laat ek dit nou maar reguit sê: ek het van kindsbeen af ’n swak selfbeeld gehad. En ek het dit nou nog. Dis mos wat die Calvinisme aan jou doen, daardie drag sonde waarmee jy die wêreld inkom en heeltyd aan herinner word. Dis die verskriklikste ding om aan ’n kind te doen. Al wat jy vir hom moet sê, is: jy’s dalk nie die beste op aarde nie, maar jy kan maar vertroue in jouself hê.”

En dan was sy pa en sy broer boonop albei rektore van die Paul Roos Gimnasium. Bloubloed-familie in bloubloed-Stellenbosch.

“Ek het altyd gedink ek is nie vaagweg my pa se statuur nie. Ek het grootgeword in die skadu van sy gewaande volmaaktheid. Eers op 16 het ek besef hy kan ’n fout maak. Ek het gevoel ek was nie wat hy wou hê ek moes wees nie.

“Dit vat op die ou end 75 jaar om daarvan verlos te raak. Dis nóú eers dat ek nie meer omgee wat mense van my dink nie.

“Toe ek jonger was, was ek, uh, soms arrogant om vir daardie gebrek te kompenseer. Ek dank die Here ek is nie meer nie. Ek is nou rustig met myself, ek aanvaar myself.”

Hy is ’n 1940-baba. Die klankbaan van sy lewe begin met oorlog. Woorde soos Tobroek en Mussolini. Vera Lynn se stem. “The Laughing Policeman” van Charles Penrose, Donna Summer, later. Dit was die treffersparade van sy grootwordjare.

Om ons in sy meenthuis is boeke en skilderye en interessante versamelgoed – die distillering ná ’n leeftyd in groot huise.

Op ’n geruite tafeldoek in die kombuis is ’n De Jager-stillewe: 'n houtskinkbord met 'n bottel wyn, 'n mandjie brood, blou-en-wit melkbeker, wit porselein-botterbak, konfyt. En ’n orgidee wat blom.

Sy eerste, grootste huis was in Quellerina in Johannesburg, gekoop in die goue era van die SAUK, met die gimnasium en sauna wat hy self gebou het. Groot planne, groot partytjies, grootste motorfiets, die eerste vryskut by die SAUK, die Kaapse liberaal met die wars humorsin wat nog altyd sy eie pad loop.

Van laerskool af wou hy ’n argitek word. Maar by Tukkies se argitektuurskool het hy in sy finale jare met ’n dosent koppe gestamp en dit het hom sy selfvertroue gekos én sy lus vir argitektuur. Kort daarna stap hy in Seepunt verby die SAUK-gebou. Uit die bloute loop hy in en vra vir ’n omroeperstoets. “En toe sê hulle jy begin volgende week in Johannesburg.”

Van toe af is Nic se stem sy instrument, sy gereedskapskis, sy kasregister.

Daar was die regstreekse uitsendings van simfoniekonserte in die Johannesburgse stadsaal (“as die dirigent opkom en skielik eers sy neus blaas, moet jy aanhou praat én sorg jy’s uit die oomblik as hulle begin speel”), die regstreekse radiodramas (“dís wat uitsaai is vir my, en jy konsentreer só jy maak nie sommer ’n fout nie”) tot seeppoeier-advertensies (“jy skree so hard as jy kan Ou! Mou!”)

Van 1966 tot 1974 was hy by die Afrikaanse Diens, die vlagskip. “En as jy dáár was, het jy babaskoue geopen, ja-ja, jy was ’n ou sterretjie. Onverdiend, want jy doen net ’n werk waar jy gehoor word.”

Hy het by daardie era se legendes geleer. “Jy leer deur na te boots. Vir my was dit hoofsaaklik Daniël Kirstein, met sy siniese sin vir humor waarby ek goed aangepas het.”

Eers ná ’n jaar laat hulle jou los op ’n nuusbulletin, elfuur op ’n Sondagaand wanneer niemand luister nie, onthou hy. “Jy leer presisie. Tien sekondes voor tien oor een in die middag moet jy klaar wees vir die senderskeiding na streeknuus. Dis ’n saak van trots. Jy fluff nie.”

Hy vryf Lexi se kop, sê liefderik, “ek is skoon simpel oor hierdie hond,” en kyk my aan. “Wil jy rêrig dié goed hoor? Dis net ’n ou oom se teruggryp na die verlede.”

Irriteer dit nie die wit waks uit hom uit as hy hoor hoe jong nuuslesers foute maak nie?

“Ek dink net ek sou dit nie so gedoen het nie. As mense nie verstaan wat hulle lees nie, gebeur dit. Maar dinge verander, en dis ook maar net my mening.

“Ek het altyd geglo ’n flater goed hanteer is beter as geen flater nie. Soos Beethoven gesê het, liewer ’n blou nootjie in ’n klavierkonsert as ’n siellose vertolking.”

Die SAUK-base se “goeie dosis nasionalistiese vroomheid” het Nic uiteindelik daar weggedryf. “Dit was die dae toe minirokkies geblameer is vir die droogte.”

Radio- en TV-advertensies het sy brood en botter geword, later fotografie.

“Mense sê altyd mooi stem, maar dit gaan nie net daaroor nie. Jy moet ’n teks kan optel en iemand daarin laat glo.”

En nou is Nic de Jager die legende na wie ’n nuwe geslag omroepers opsien.

“Nee wat, ek is net, soos Herman Lategan sê, ’n reborn has-been.”

Deel van sy hergeboorte was om “dogma van my rug af te werp. Kerkdogma. Die mens-uitgedinkte goed waarmee ons grootgemaak is. Verstokte dogma.”

Stilte.

Asem.

“Laat ek ’n sinvolle antwoord probeer gee . . . Vir ons kinders moet ons eerder leer: Doen alles wat jou hart vir jou sê, mits jy nie jou naaste benadeel nie. Of dit nou gaan oor voorhuwelikse seks, of watter seksuele voorkeur ook al – as jou hart vir jou sê dis reg en jy benadeel niemand, is dit reg.

“As jy dít vir jou kinders leer, is al hierdie ander goed nie van belang nie.”

Hy gaan wys my die ateljee in sy huis, waar Nic se goed gebeur. Ons luister na sy advertensies vir Die Son – ’n meesterklas in stembeheer en humor. Ons luister na musiek.

Die allerlaaste wat hy wil hoor, voor die groot swartword, is Richard Strauss se laaste van sy vier liedere, “Im Abend­rot”. “Dis oor twee mense aan die einde van hul lewenspad. Die een sê: ek is tevrede, ek het nou genoeg gelewe en hoor jy die lewerikke daarbo? O hierdie wye ruime stilte, is dit miskien die dood . . . Dis vir my nogal redelik heilig.”

En hierdie fors, wars, beleë man se oë raak vol trane.

Kyk op. Glimlag. “Moet net nie sê ek het in my bakgemaakte hande gesnik dat die glase rinkel nie . . .”

Meer oor:  Omroeper
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.