Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Hanlie Retief gesels met Nicky

Waarskuwing: Die onderhoud bevat grafiese beskrywings van seksuele geweld.

Van die lughawe af, op die grootpad uit die Baai, draai ons regs af na Nicky-hulle se plaas. En toe sy die draai so vat met haar kombi, raak Nicky vir die eerste keer emosioneel.

In die slaapkamer, by die groot skuifdeur wat Nicky se aanvaller stukkend geskiet het. Hulle het sedertdien oral diefwering opgesit. Foto: Edrea du Toit

“Kyk hoe mooi,” wys sy na die berge wat in donker voue in die verte lê. “Ons plaas is presies waar die berge begin. Twintig jaar gelede het ek die eerste keer smoorverlief hier ingery en geweet ek gaan eendag met hierdie man trou. As ek nou na daai berge kyk, wil my hart breek.

“Dis ’n moeilike ding vir my om julle plaas toe te neem, ek was die afgelope maande nog net twee keer daar. Ek gooi op as ek daar kom, ek kry hartkloppings, my arms raak lam.

“Ons paradys het hel geword.”

23 Maart 2018 was ’n gewone Vrydagaand op die plaas. Die kinders was terug van die koshuise, maats sou oorslaap, maar het besluit om eers die volgende dag ná ’n hokkiewedstryd te kom. “Goddank. My man was vir die eerste keer in tien jaar nie ’n naweek by ons nie, hy het gaan jag. Daar was ’n heerlike naweekgevoel in die huis. Ek het op my bed gaan lê om Grey’s Anatomy te kyk en toe begin die skote klap en my kind skree, die ergste skree wat ek nog gehoor het. En toe begin ons soos wilde diere wegvlug.”

Die wreedheid van die aanval op Nicky en haar drie kinders, en hierdie plaasvrou se koelkop dapperheid om hulle te beskerm, het wêreldwyd opslae gemaak.

Sy koeëls, dink ek, het opgeraak. Dis hoekom ons nog leef.

Nicky is geskiet en twee keer verkrag, een keer voor haar 13-jarige dogter. Die aanvaller het haar tienerseun probeer dwing om sy ma te verkrag, hy het haar dogter byna verkrag, gedreig om haar seun se voete af te skiet. Tydens haar getuienis het die hoftikster só ontsteld geraak die hof moes ’n ruk verdaag.

Nicky en haar kinders het ná die aanval nooit weer op die plaas geslaap nie. Sy en die kinders bly nou in die Baai. Haar man is in die week op die plaas en kom naweke vir hulle kuier. Om sy tyd só te kan verdeel, moes hy sy ander plaas verkoop, en hulle oorweeg nou om dié plaas ook te verkoop en dalk oorsee ’n nuwe begin te maak.

Die aanvaller is verlede week lewenslank tronk toe gestuur.

Op pad in die kombi gesels sy eenstryk, ’n warm, lewenslustige donkerkopvrou wat vir ons toebroodjies ingepak het en nou haar hart uitpak.

“Ek het 15 kg opgetel ná die aanval, alles sit hier om my middel. Dit het baie te doen met jou vroulikheid, my liggaam voel vir my vreemd.”

Die antiretrovirale middels wat sy drie maande lank moes neem, het haar hondsiek gemaak. “Diarree, 18 keer ’n dag. En dan word elke MIV-toets en pilletjie naderhand jou kruk, jy’s amper spyt as jy klaar is daarmee, want dit bring bietjie orde in die deurmekaargeit in jou kop.

“Ek was bang vir die hofsaak, want ek was voorheen nog nooit in ’n hof nie. Maar nié bang vir my aanvaller nie, ek het my heeltemal van hom afgeskakel, selfs van die feit dat hy ’n mens is.

Nicky en haar gesin, kort voor hulle op 23 Maart 2018 op hul plaas naby Hankey in die Oos-Kaap aangeval is.

“Terwyl hy my verkrag het, het ek net aan my man gedink en niks gevoel nie, ek het myself losgemaak daarvan. Hy het my ’n tongsoen probeer gee, heeltyd aangehou praatjies maak, asof hy my man wou wees en hom só wou seermaak. Dit was amper ’n buiteliggaamlike, nabydoodse ervaring. Ek het toe al omtrent ’n uur gebloei nadat hy my geskiet het.”

Kort voor die aanval is foto’s van Nicky en haar gesin op die plaas geneem. Sy wys op haar selfoon: Instagram-oomblikke op die ruim Victoriaanse plaasstoep langs die roostuin, hierdie opstal waarin haar skoonpa gebore is, van drie geslagte Afrikaanse sitrusboere. Haar skoonouers het nou afgetree op die dorp, en hulle is stukkend. Hulle mis die kleinkinders wat nou ver in die Baai bly.

Al langs die rivier ry ons die afgeleë kloof binne. Soos ons ry, waai die bure. Die plaasgemeenskap is ná geslagte saam ’n hegte familie.

Hul plaas is die laaste. Die aanvaller het verby al die plase geloop om by hulle uit te kom.

Sy wys haar man se netjiese sitrusboorde, die waterkuil waar die kinders geswem het. “Hoeveel duisende kere het ons nie met ons fietse hier op en af gery nie. Elke keer as ek hier ingery gekom het, was ek opgewonde. Maar daai nag toe ek hier wegry, het ek in my hart geweet dis alles verby.

“Nou is my tuin oorgroei. My man lewe met ’n bank, ’n klein tafeltjie, bokse en ’n TV. Hy bly in ’n leë dop. Dis ’n dooie huis, daar’s nie meer lewe nie, daar is niks sonder ons nie.

“My man is die saggeaardste mens. Die plaas is sy lewe. Jy kry mos nie boerdery uit ’n boer nie. Hy is goed vir sy werkers, hy betaal tot die skoolgeld vir die kinders van pakkers wat enkelouers is.

“Die aanvaller het in 2016 ’n seisoen hier gewerk. Hy het met die aanval voorgegee hy is een van ons permanente werkers, en dat ons hom geld skuld, wat nonsens is.

“Dit was ’n goed voorbereide storie, so asof hy voorgesê is. Die aanval is lank vooruit beplan, wat my laat wonder: Was ons die settlers wat dié keer gekill moes word?”

Hanlie Retief

By die opstal wag haar man ons in. Die twee gee mekaar ’n klapsoen. “Kom ek gaan wys jou die koeëlgate,” sê hy en ons stap die huis in. Ons voetstappe eggo hol deur die leë vertrekke.

Die eerste skoot deur die buitedeur het haar seun se kop met 2 cm gemis. Nog een is deur haar boude terwyl sy haar twee jongste kinders in die kamer gedruk het. Toe probeer hy die kamerdeur afbreek, en sy wys hoe sy met haar rug teen die deur gedruk het. “Ek weet sowaar nie hoe die koeëls deur die deur my gemis het nie.”

Daar is koeëls dwarsdeur die klerekas. Dit het haar dogter, wat daar weggekruip het, rakelings gemis.

Vir ses maande het sy snags terugflitse gekry van die oomblik toe die aanvaller die glas-skuifdeur stukkend geskiet en met sy balaklawa ingestorm het. “Dit speel af in my kop, die glasdeur wat aan skerwe spat, hy wat sy pistool teen my jongste se kop druk en in Afrikaans skree: Roep daai grote, ek gaan nou hierdie kleintjie vrekskiet.”

Sy onthou elke detail van die aanval, hul donkerpers hande, te styf vasgebind met bloudraad, hoe hy haar kortbroek, nadat hy haar verkrag het, aangetrek het. “Verkeerdom, toe sit die twee koeëlgate met al die bloed voor.”

Toe hy haar dogter langs haar op die bed neergooi om haar te verkrag, het Nicky hom verwoed begin skop. “Hy het ons die genade gegee om haar nie te verkrag nie, maar toe straf hy haar in elk geval deur my voor haar te verkrag. Toe sy haar kop wegdraai, het hy haar gesig teruggepluk en gesê: Kýk!

“Ek dink dis hoekom die regter hom 25 jaar gegee het, die manier hoe hy dit gedoen het was verby wreed.”

Vier uur lank het hy hulle gemartel, en gedreig om hulle te vermoor. “Sy koeëls, dink ek, het opgeraak. Dis hoekom ons nog leef.”

In die gang voor die kamer waar hy grootgeword het, vertel Nicky se man sonder woede, sonder bitterheid, hoe die aanval hom laat besef het wat regtig belangrik is. “Ek leef vir my vrou en kinders, ek leef nie vir ’n plaas nie, nie eens ’n erfplaas nie.”

Die seuns gaan nie kom boer nie. Die naelstring met hierdie spogplaas met sy nartjies en lemoene wat die wêreld vol uitgevoer word, is geknip.

In die kombuis gaan gee Nicky vir Toto ’n koebaaidruk. Sy werk al haar lewe lank vir die familie. Die trane loop. Jy kan nou terugkom, hy’s in die tronk, fluister Toto in haar oor.

Met die terugry vertel Nicky hoe sy die aanvaller oorreed het om saam met haar dorp toe te ry en geld te trek by die kitsbank, en hom só weg te kry van haar kinders.

“Jy kan nie glo hoe rasioneel jy dink in só ’n situasie nie. Sy pistool was teen my kop, hy het gesê hy gaan ons daarna almal vrekskiet, en ek het geweet: nooit, al moet ek in ’n boom vasry, ek het my sitplekgordel aan, jy nie, en as ek dan nou doodgaan, is dit fine, dan’s die kinders veilig.”

Dit was surreëel, haar laaste minute in die kar saam met hom. Sy vertel hoe sy geskrik het toe hy weer terug is by die kombivenster, en hy haar so ewe gerus stel: ‘Toemaar, dis net ek’. Hoe hulle in die kombi vir middernag wag, dan kan hy weer R4 000 trek. Hoe sy voel hoe haar liggaam in skok gaan, hoe sy nie kan ophou bewe nie. Hoe hy haar weer wou verkrag, en sy vir hom die plas bloed wys en sê sy sal doodgaan as sy die veiligheidsgordel losmaak. En hoe hy uiteindelik uitklim met die sakke gesteelde goed, haar doodluiters groet met 'n bye! en die deur toemaak en sy die kombi in rat sit en ry.

“Ek dink die rede hoekom hy my laat gaan het, was omdat ek in sy kop gekom het. By die buurplaas was die ligte aan, en al my kinders was daar, veilig. En die kleintjie gooi op, die voorkant van sy pajamatjies was vol van my bloed, sy hempie met ’n kaart van Afrika, hoe ironies is dit, Cyril Ramaphosa, hoor jy dit, meneer President?”

Sy kon die aand ná die aanval nie slaap nie, sy wou nie wakker word in ’n wêreld waar dit gebeur het nie. “Ek sê toe vir my man jy gaan nooit weer aan my wil vat nie. Hy huil en sê: Jy is my vrou, wat ook al jy het, sal ek saam met jou hê.”

Nicky en die kinders praat nie eintlik meer oor die aanval nie. Daar was berading, daar was tyd, sy het ’n nuwe, warm huis vir hulle gemaak. Woorde is nie meer nodig nie. Hulle weet waardeur hulle is. Hulle wil nou vorentoe. “Voor die aanval was ek ’n gelukkige mens. Ek kies om steeds gelukkig te wees.”

Net die jongste was sedertdien weer op die plaas. “Hy was die dag vir ’n lang ruk skoonveld, my man het amper ’n oorval gekry.”

Haar stem begin bewe. “Toe kom hy later daar aan met sy fietsie en sê hy het net vir oulaas al sy gunstelingplekkies gaan groet.”

Soggens, in haar voorstedelike huur-erf, gaan staan Nicky kaalvoet op die grasperk, net om te voel sy is nog op hierdie aarde, sy het dit oorleef.

Meer oor:  Hankey  |  Plaasaanval  |  Verkragting
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.