Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Hanlie Retief gesels met opera-supersterslyper, Virginia Davids
Elsies se diva sonder drama

‘Gaan soek my op social media, julle gaan my nie kry nie, ek wil nie gekry wees nie, ek weier volstrek, ek is BBT, born before technology,” skater Virginia Davids guitig agter haar lessenaar, haar troon hier by die Universiteit van Kaapstad se musiekkollege, agter die Baxter-teater.

Die sopraan en sangdosent prof. Virginia Davids in die Baxter-teater. Foto: Edrea du Toit

Prof. Virginia Davids los die twiets en kuberklieks vir die operasangers wat deur haar hande is – húlle kry die staande toejuigings op wêreldverhoë.

O liewe aarde, vir Virginia het hy hope respek as sopraan, sê Nic de Jager. “En as pedagoog is sy verantwoordelik vir ’n ongelooflike hoeveelheid wonderlike studente wat nou wêreldsterre is.”

Haar kantoor is een van die mooiste werkplekke in die Kaap, met die Yamaha-vleuelklavier wat luier in die hoek, rakke vol oorspronklike bladmusiek en ’n ere-ry plakkate teen die muur: Pretty Yende, Musa Ngqungwana, Pumeza Matshikiza, stemme wat sy geslyp en vertroetel het.

Pretty Yende se jonger suster, Nombulelo, neem tans les by Virginia. “Sy het ’n heel ander stem as Pretty, ’n groter stem, ons sal sien hoe dinge ontwikkel.”

Ons bruin mense kon nie in die teaters kom nie. Scary movie.

Die prof se vingers is te min as sy tel hoeveel van haar studente tans óf by die Royal School of Music in Londen is óf in jongkunstenaars-programme oor Europa heen.

Nellie du Toit, nog ’n doyenne van opera, het in die apartheidsjare in die Universiteit Stellenbosch se senaat gaan baklei om die jong Virginia van Elsiesrivier in die leliewit musiekkonservatorium toe te laat.

Vanaand word Virginia by die Fiëstas vir haar lewensbydrae tot opera en musiek vereer, hierdie diva sonder drama, maar met ’n glimlag so groot soos haar persoonlikheid.

Mense onthou haar nog altyd as Aïda, maar Virginia se gunstelingrol was Tosca, “want sy is nie ’n wimp nie! Ek is so moeg om ’n wimp te speel! Aïda was ’n slawemeisie, Liu in Turandot was ’n diensmeisie, Don Carlo se Elisabetta is pieperig verby, Tosca spring van die muur af, in Menotti se opera The Consul steek die sopraan haar kop in ’n gasstoof.

Die wêreldbekende operasangers Pretty Yende en Musa Ngqungwana was albei studente van prof. Virginia Davids. As hulle in Suid-Afrika is, kom maak hulle altyd ’n draai vir ’n kuier by Mama V.

“Maar Tosca is vurig en jaloers. Tosca is ’n diva!”

Jy’t nou net vir Golda gemis, beduie sy na ’n CD en plakkaat wat Golda Schultz vir “Mama V” gebring het. “Sy was pas in die Met met Porgy and Bess, nou hóéveel gaan ek betaal om só ’n groot poster te frame,” spog-kla sy.

Hulle kom maak almal altyd ’n draai hier, die sterre, en dan is hulle maar weer net die prof se kinders.

“Ek moet aftree vanjaar, ek verjaar 6 Januarie, ses blerrie dae te laat, nou moet ek die hele jaar uitwerk. Ek gaan kruip en klou om hierdeur te kom.”

Sy wys na die rye bladmusiek. “Dis my fetisj, daar’s niks lekkerder as om oorsee in ’n bladmusiekwinkel te verdwaal nie. Hier’s duisende rande se opera-scores, dan kom die studente en soek dié score en dáái score, dan sê ek: skryf dit op julle mage en vee dit met ’n nat lappie af.”

Op haar lessenaar is houers met potlode met Eiffeltorings bo-op, La Scalas, rooi Londen-busse, Vikings. “Ek is baie cheap, hulle weet hulle hoef net vir my ’n potlood te bring.”

Virginia Davids het as sopraan internasionaal gesing, maar gekies om in Suid-Afrika te bly en talent te ontwikkel.

As dié kantoor kon praat . . . rol haar oë.

“Een hardloop anderdag hier in en plak haar op die stoel, o prof, ek soek net ’n plek om te tjank, dis al veilige plek in die gebou. Klomp divas en divo’s . . . Ek sê vir hulle ek is nou moeg van julle spul dramas!”

Ná haar aftrede wil Virginia eintlik net sit en kyk hoe groei die gras in die Riviera, soos sy spottend van Riverton, haar buurt in Elsiesrivier, praat.

“Dis ’n stil stukkie van Elsies, elke dag Sondag, blissfully quiet. Ek bly al in die 40 jaar daar, en dis waar hulle my gaan uitdra. John, my man, wil partykeer trek, want hy’s moeg van al die gemors in die strate, maar ek sê ek het nie ’n identity crisis nie, dis part of my legacy, hier gaat ek bly.”

Haar loopbaan het in die vroeë 1990’s internasionaal vlamgevat. Met die Dalberg- en SAL-prys is sy oorsee om lesse vir Don Carlo by Cristina Deutekom te neem. Sy het in Wene en Londen gesing. “Toe besef ek: Ek het g’n begeerte om oorsee te bly nie.”

Virginia onthou hoe Nellie du Toit haar eenkeer, trane in die oë, ingewag het toe sy van die verhoog af kom.

“Sy sê, weet jy, jy kon ’n wêreldloopbaan gehad het. My antwoord: Ek het presies gedoen wat jý gedoen het, ek het my gesin gekies, geluk.”

Haar man, John, pianis en akademikus, was die anker vir hul twee kinders. “Ek moes baie reis, ek het gespot ek gaan net huis toe om onderklere te was.”

Sy het gespesialiseer in Verdi- en Puccini-rolle. “Daardie jare was daar nie understudies nie, jy moes jouself oppas want as jy siek raak, word die opera gekanselleer. Ek word kwaad vir die onverantwoordelike blêddie kindertjies, want hulle voel vere vir vocal hygiene en looking after the instrument.

“Pretty Yende herinner my altyd aan my woorde: Wees versigtig waarvoor jy wens, jy krý dit dalk. In die apartheidsdae het ek gewens vir net een hoofrol. Toe sing ek later die rolle waarvoor almal hul oogtande sou gee. Maar die druk was ongelooflik. Anderdag nog skrik ek wakker, trek los met ’n noot, en dog: Ag, hoekom maak jy jou stem warm, Virginia, jy hoef nie vanaand te gaan sing nie! Dis ingedril.”

Om haar “nerwes”, soos sy dit noem, te kalmeer, het sy altyd net voor sy opstap die bladmusiek weer deurgegaan.

“Ná die eerste paar note vlieg jy. In Aïda het John Eager die hoëpriester gesing, en elke keer as hy met sy lang gewaad die trappe afkom, flash hy vir my sodat ek kan ontspan.”

Flops was daar nooit, Virginia was alombekend vir haar professionaliteit. “Ja, jy met jou perfect pitch,” het hulle haar altyd genoem.

Maar partykeer het die lagbuie meegeding met die sang. Soos toe polistireenrotse in Nabucco op haar kop neergestort het. “Sulke rotse sou die sopraan vermorsel, maar ek staan toe maar op en sing die hoë note,” skater sy.

Sy moes haar operapad oopbaklei, “want as jy nie wit was nie, kon jy nie opera sing nie. Die operageselskap was wit, die Nico Malan-teater was wit, die gehoor was wit. Die dag toe ek by Stellenbosch-Universiteit inskryf, sê hulle: Wat kom doen jy hier? Die UWK (Universiteit van Wes-Kaapland) is mos daar vir julle mense. By die UWK was daar nie eens ’n sangdosent nie. Ek het nog nooit so baie gehuil soos daai dag nie.

“Mense sê dikwels my loopbaan het laat begin, maar dis nonsens. My konserte was in die kerke en burgersentrums, want ons bruin mense kon nie in die teaters kom nie. Scary movie.

“Professioneel het ek en ou Sidwell Hartman die harde bene gekou, maar dié wat ons voorafgegaan het, moes die land verlaat om loopbane te hê. Al daardie wonderlike stemme.”

Sy het met ’n “vloekskoot” begin sing. “Ek het my sussie begelei vir haar oudisie by die Eoan-groep. Aan die einde van die aand vra hulle: nog iemand? My pa stoot my vorentoe en daar word ek op 14 die Eoan-groep se jongste lid.”

Sy en haar sussie het soggens sing-sing skool toe gestap. “Twee klein meisietjies . . . In sub A (gr. 1) toe sing ek al ’n duet saam met haar op die verhoog, lekker voorbarig!

“My pa het ons nege kinders rondgery konserte toe, my ma het ons smiddae ingewag by die huis, ’n goeie huisvrou. Ek het nie vriendinne nie, ek het my klomp sussies.”

Virginia word dikwels gevra wat haar suksesresep is. “Niks snaaks nie, ek werk met die primal instrument. As ek almal dieselfde laat klink, wat help dit? Dis wat jou spesiaal maak, waarvoor mense baie geld betaal, jou unieke stem.

“Baie van ons swart stemme het spesifieke teksture wat baie gesog is. Pumeza sê: Ek is van Afrika. In die jong kunstenaarsprogram by La Scala het Pretty Yende gesê die groot ego’s wat haar afrig sê: Sing só en só, toe besluit sy sy bly by dít wat sy hier onder Tafelberg geleer het, anders gaan sy haar stem verloor.

“Gee my ’n stem wat eerlik en opwindend is, nie ’n tegniese show nie. Callas was een van ons grootstes, maar jinne, as ek my oë toemaak, dan dink ek Maria, jy het ’n les nodig!”

Leontyne Price het die allermooiste stem, sê Virginia. “Diepte en passie en siél. My gunsteling is ‘Pace, pace, mio Dio’ uit La forza del destino. My oudstudente laat weet altyd: Prof, ons sing jou aria.”

Sy onthou die grênd operas in Bloemfontein se Sand du Plessis-teater, met 500 mense op die enorme verhoog vir Aïda – én ’n kameel én leeus én Rosie die olifant.

“Die koor van Botshabelo het hulle so vergaap aan die leeus, hulle het vergeet om op die verhoog te stap. Ek sing ‘Mio padre!’ en toe kom daar geen padrenie.

“Met die Nyltoneel, terwyl die viole tjieng-tjieng, begin die kameel kliphard bulk en die gehoor breek hulle en ek moet hierdie verskriklike aria sing oor my vaderland, ‘O patria mia’ . . . terrible! Toe voer hulle maar die kameel suikerklontjies om stil te bly.

“Ná die opera, toe hulle die diere terugvat dieretuin toe, kom ’n ou verbygery en skrik so vir Rosie, hy gooi sy bakkie net daar om. Volgende word die kameel teruggestap dieretuin toe, en dis net ná die demokrasie en die ouens wat uit die pubs kom, mor: Hulle steel nie net ons land nie, hulle steel onse diere ook, en daar smyt die polisie die man in die vangwa en maak die kameel aan ’n paal voor die teater vas.

“Almal behalwe die polieste en die drinkers het geweet die dieretuin is in die opera!”

Partykeer sit Virginia op haar troon en luister na haar studente en haar oë raak vol trane, want ’n stem bly vir haar so ’n wonderlike instrument.

“Wat jy binne voel, kom uit in jou stem. As jy ontstig is, hoor mens dit. Ek sukkel die meeste met die verrry Engelse en érge Afrikaanse studente. Daar is soveel inhibisies. Hier’s een outjie, so ’n goeie Afrikanerseun uit ’n godsdienstige huis, die spanning trek aan sy kake, Afrikanerkind vasgeknoop in ordentlikheid.

“ ’n Ma het daar gesit,” wys sy stoel toe, “met die dilemma, UK of Maties? Sy wou graag hê haar kind moet haar Afrikanerkultuur behou. Ek het daarna vir die Afrikaanse studente gevra of hulle voel hul kultuur word hier ingehok. Hulle het nie geweet waarvan ek praat nie.

“En die Engelse is so correct and prop­er: Prof, should I keep my mouth like this or like that? Dan sê ek neither.

“Ek soek die instrument waarmee jy gebore is. Ek skep dit nie, ek vorm maar net dit wat die Goeie Vader vir jou gegee het.

“En dis genoeg.”

Meer oor:  Musiek  |  Opera
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.