Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Lesufi jaag vir Hanlie weg

‘Ek wou gekanselleer het, my dag het anders uitgedraai as wat ek gedink het,” groet Panyaza Lesufi saaklik, byna bot, in skril kontras met die Bollywood van sy helderpienk hemp.

Panyaza Lesufi, die omstrede Gautengse LUR vir onderwys, wat nou Afrikaans leer sodat mense hom nie meer verkeerd verstaan nie. Foto: Elizabeth Sejake

Terwyl hy reëlings tref met ’n amptenaar, kyk ek vlugtig in sy kantoor rond. ’n Reuse-TV oorheers die vertrek, met sitplekke in ’n halfmaan voor dit gerangskik. Daar is foto’s van Harry Gwala, ’n sertifikaat van Crystal Church, ’n collage foto’s van Winnie Mandela, ’n geraamde graadsertifikaat in sake-administrasie (hy het ’n meestersgraad van die Universiteit van KwaZulu-Natal). By ’n foto van Nelson Mandela is ’n aanhaling uit sy laaste toespraak as president, die versugting dat al Afrika se kinders mag speel in die son.

Terwyl die amptenaar uittrippel, kom die opdrag: Maak die deur toe en stel die lugversorging hoër, dit lyk asof dit gaan wárm word hierbinne. Almal lag, die atmosfeer skielik gemakliker.

Ek vra die LUR uit oor hoe hy, soos Arnold “I’ll-be-back” Schwarzenegger, binne 24 uur nadat hy as Gautengse LUR vir finansies aangestel is weer teruggeskuif is na die onderwys-portefeulje.

“Ek het nog nooit my loopbaan beheer nie,” sê hy. “Ek het sake-adminis­trasie gestudeer maar dit nooit beoefen nie.” Eintlik wou hy ’n perdejokkie gewees het. “Hulle het vir my gesê ek is te lank, maar dis oor die jokkies van daai tyd net wit was.”

Lesufi is 50 jaar gelede in Tembisa gebore ná sy ouers se gedwonge verskuiwing uit Edenvale.

Die grootste les wat die jong Panyaza by sy ouers geleer het, was geduld. En om nooit die potte op die stoof oop te maak nie. Die les was: Jy maak nie iets oop wat jy nie self toegemaak het nie, verduidelik hy met ’n effense glimlag.

Al “stout” wat hy as kind was, was met sy politieke aktivisme. “Ek is eintlik die gaafste mens, vriende bel my om hul probleme te help oplos. Ek het al baie mediasie in my lewe gedoen.”

Sy grootste droom? “Net om ’n gelukkige oupa te wees.”

Die idee is nie verkeerd nie, die mense is verkeerd.

Hoeveel kinders het hy? “Waarvan ek weet? Laat ons nie dáárheen gaan nie,” lag hy skielik vrolik, en dui aan hy wil eerder nie oor hulle praat nie, hy beskerm sy kinders, want hulle is al in die openbaar geteiken weens hul pa se sienings. Dis bekend dat een van sy kinders in ’n Afrikaanse skool was.

Sy vrou? In “besigheid”, knip hy kort. Hulle is al “redelik” lank getroud. “Ek is ’n gesinsman as ek tyd het, maar ek het nie tyd nie.”

Sy grondslag is “ongelukkig” in die Christendom. “Ongelukkig, want dit laat jou glo jou sieninge is verhewe bo dié van ander. Dis iets waarvan ek nie hou nie. Maar ek is ’n sterk Christen, ek is gedoop – en baie kerke is lief vir my, hulle nooi my uit om Sondae daar te praat, hulle bid vir my.”

Die LUR het onlangs die opskrifte gehaal toe hy met groot gebaar die Hoërskool Hendrik Verwoerd herdoop het tot die Hoërskool Rietondale. Hy het in Mei vanjaar aan Beeld verklaar hy haat Verwoerd met ’n passie, maar by die seremonie het hy gesê hy haat nie Verwoerd nie, hy wil net nie aanhoudend aan die verlede herinner word nie.

Ironies gebeur dit elke keer as hy na sy ID kyk, want hy is met ’n vreemde draai na dié vader van apartheid genoem.

“Met my geboorte het die dokters teruggekom van ’n herdenkingsdiens van Hendrik Verwoerd, en gesê hulle moet my Hendrik noem.” Toe sy ouers, wat nie kon lees of skryf nie, die vorm laat invul, het hulle gesê die kind se naam is Hendrik, maar die amptenaar het gehoor ‘Andrek’ en dit so geskryf.

Andrek “Panyaza” Lesufi.

“Ek is lief vir sokker, en Panyaza is my sokkernaam, my bynaam.” Om genoem te wees na Hendrik Verwoerd is vir hom ’n reuse-motivering.

“Alles wat ek doen, moet die teenoorgestelde wees as wat Verwoerd gedoen het.” Sy missie, het hy al getwiet, is om alles wat sy naamgenoot aan ons onderrigstelsel gedoen het, ongedaan te maak.

Die Hoërskool Hendrik Verwoerd het egter vier jaar gelede reeds self begin met die proses om hul naam te verander; Lesufi se departement het tot nou gesloer om dit deur te voer, stel ek dit aan hom.

“Nie noodwendig nie. Ek het ’n omsendbrief na skole gestuur en gesê wie ook al name wat totaal onaanvaarbaar is, verander wil hê, moet met idees kom. Hulle het.”

Hy sê hy het dit nooit probeer afdwing nie en weet die besluit lê by die ouerbeheerliggaam. “Dis hoekom ek vir hulle geskryf het. Laasweek het ek omtrent 19 versoeke van skole gekry wat hul naam wil verander. Dit bly die skole se keuse.”

Ná sy mees onlangse relletjie met Solidariteit het die LUR laas Maandag getwiet hy neem nou Afrikaans-lesse sodat daar minder misverstande kan wees tussen hom en sy medeburgers.

Ja, sê hy met ’n glimlag, hy het Afrikaanse vriende, en word baie na Afrikaanse byeenkomste genooi. “Maar partykeer skinder mense oor jou, so jy moet verstaan wat hulle sê.”

Ken jou vyand?

“Nee, nie noodwendig nie, hulle is nie die vyand nie. Afrikaans is ’n baie belangrike taal. Ek is lief vir alle tale. Ek het net gevoel die belange van die Afrikanergemeenskap en idees sal beter gekommunikeer word as ek die taal kan praat.”

Sy geliefkoosde Afrikaanse uitdrukking is “verskoon my asseblief” want, lag hy, “elke keer as ek begin praat, sê ek, verskoon my asseblief, my Afrikaans is nie goed nie.”

Hy hou ook baie van die woord “skinder”. “Want as Afrikaanse mense my sien, praat hulle agter my rug. Ek kan hulle hoor.”

Hoe voel hy daaroor?

Skouerophaal.

“Ek kom uit die weerstandsbeweging, die apartheidspolisie het my gevang toe ek 16, 17 was.” Dit was ’n ander tyd, ’n ander land, beduie hy.

“Die Mandela en nuwe Suid-Afrika wat mense vandag liefhet, is dieselfde Mandela en Suid-Afrika wat mense destyds gehaat het.”

Hy is in hegtenis geneem nadat hy ’n klasboikot teen apartheidsonderwys by sy hoërskool in Tembisa gelei het.

“Ná my vrylating het my ouers gevoel, hei, jy bring vir ons probleme, want die polisie het hulle ’n lewe gelei. Toe word ek weggestuur KwaZulu-Natal toe, waar dinge net vererger het.”

Sy pa het as tuinier gewerk en sy ma was ’n bestaansboer. “Dis hoe ons oorleef het, eintlik, my ma het groente geplant op elke oop stukkie grond in die omgewing. Sy het my altyd gevra om wortels en beet te plant, want sy het gesê ek het goeie hande – dit wat ek plant, groei. Noudat sy nie meer hier is nie, koester ek dié herinnering.

“Op ses het ek polio gekry. My ma het my elke week by die skool kom haal en na die kliniek geneem. Ons het soveel tyd saam deurgebring en dit het my en my ma baie na aan mekaar gebring. My ma se inbors het myne geword.”

Hy was die afgelope week weer in omstredenheid gedompel oor sy kritiek op Solidariteit se nuwe Afrikaanse opleidingskollege.

By ’n foto van die sooispitplegtigheid, wat vier mans met hardehoede en grawe gewys het, twiet hy: “Ek haat rassisme wanneer ek dit sien! ’n Rasgebaseerde instelling in ’n nierassige samelewing sal nie slaag nie. Moet ons asseblief nie aan apartheid herinner nie.”

Ek vra: As Afrikaanse mense ’n Afrikaanse onderwysinstelling begin, hoekom reken hy dis omdat hulle terugverlang na apartheid?

“Daar is niks verkeerd daarmee om Afrikaanse instellings te begin nie. Wat verkeerd is, is om dit te misbruik. As jy ’n taal misbruik vir jou eie selfsugtige belange, is dit baie, baie verkeerd.”

Hoe is dit “misbruik” as jy ’n Afrikaanse onderwysinstelling begin?

“Die mense wat daardie instelling stig, het geen geskiedenis van nierassigheid nie, almal van hulle.

“Hulle het ’n geskiedenis van Steve Hofmeyr, die verdediging van die apartheidsvlag, van ondersteuning van Orania, om net wit mense in (hof)sake te verteenwoordig . . .

“ . . . As jy ’n nierassige instelling bekend stel, nooi jy almal, dan nie? Gaan kyk (op die foto), daar is net wit mense. Hoe is dit nierassig?” lag hy verontwaardig.

Die instelling is nie in onskuld gebore nie, sê hy. “As dit onskuldig was, sou ek dit verstaan het. Dis nadat die hof goedgekeur het dat Unisa en die Vrystaat-universiteit alle tale toelaat. Toe was mense kwaad en het besluit om hul eie universiteit te begin.”

Wat is verkeerd daarmee as ’n Afrikaanse gemeenskap besluit om ’n private universiteit te stig om in Afrikaans te kan studeer? “Alles is verkeerd daarmee. Die mense wat dit wil hê, wou nog nooit ’n inklusiewe Suid-Afrika gehad het nie.”

Die idee is nie verkeerd nie, die mense is verkeerd, benadruk hy.

Beskuldig hy AfriForum van rassisme?

“Ek sê nie hulle is rassisties nie, ek sal nooit sonder bewyse iemand ’n rassis noem nie. Maar ons het ’n geskiedenis wat stamgebondenheid bevorder het, rassepolitiek, waar ’n taal gebruik is om ander tale te onderdruk en afgedwing is op ander, wat selfs gelei het tot die sterftes van studente in 1976. As jy so ’n instelling wil begin, moet jy baie versigtig wees.”

Maar hoekom Afrikaans teiken, as ’n taal?

“Ek teiken nie Afrikaans nie, ek beskerm Afrikaans.”

Hoe beskerm hy die taal as hy dinge sê soos dit gaan sy verstand te bowe dat mense nog Afrikaans onderrig, want daar is nie meer Afrikaanse universiteite nie.

En: As jy op Afrikaanse onderrig aandring, kelder jy die kinders?

“Ek het dit nié gesê nie. Mense het dit verkeerd geïnterpreteer. Gaan lees my brief wat ek vir Beeld gestuur het. Dis hoekom ek myself Afrikaans leer.” Hy lag gefrustreerd.

“Ek sal nooit Afrikaans aanval nie, nooit nie. Ek sal alle tale beskerm. Hoekom sal ek nou Afrikaans leer as ek dit wil aanval?

“Joernaliste skryf wat hulle wil, en jy ook, ek kan sien jy gaan dit ook doen op grond van die vrae wat jy vra. En dis hoekom ek nie onderhoude wil doen met mense soos jy nie.

“Julle haal my aan op iets wat ek nié gesê het nie. En dis hoe hierdie gemeenskap dit doen, om selektief dinge te kies wat hulle pas oor my, nie wat ek sê nie. Dis baie jammer.”

Hoekom wil hy plekke soos Sol-Tech toemaak? “Dis nie wat ek gesê het nie, ek het gesê hulle sal nie slaag nie.”

Maar hulle slaag wel, al jare lank, as nierassige instellings wat mense vaardighede leer en daardeur werk skep?

“Dis wat tydens apartheid gesê is,” raak hy warm om die kraag, “dat apartheid goed is vir ons, want dit skep werk vir ons.”

Hy sê Afrikaanse mense misverstaan hom, maar dis vir hulle duidelik dat hy hul taal teiken . . .

“Nee, nee! Jý verstaan nie!” Hy staan op en klap my digitale opnemer ’n ent oor sy lessenaar. “Kom ons staak hierdie onderhoud, ek het nie tyd hiervoor nie.” Hy storm by die kantoor uit.

“Asanda, vra hierdie mense om my kantoor te verlaat . . .”

Meer oor:  Panyaza Le­Sufi  |  Afrikaans
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.