Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Hier word hoop gebou
Hanlie Retief gesels met Paul van Deventer
Ons stap Sol-Tech, Solidariteit se nuwe kampusgebou in Monumentpark, Pretoria, binne. Rooibakstene, beton en glas. Skoon, moderne argitektuur. Maar die toonbank in die voorportaal is van ou sinkplate...

Ons stap Sol-Tech, Solidariteit se nuwe kampusgebou in Monumentpark, Pretoria, binne. Rooibakstene, beton en glas. Skoon, moderne argitektuur. Maar die toonbank in die voorportaal is van ou sinkplate wat jou laat dink aan ’n plaasdam wat bietjie begin roes.

Paul van Deventer: “Ek het dié klip gesien terwyl hulle besig was om die fondasies uit te grawe. Bo-op kom nou ’n standbeeld oor die ambagswese.” Foto: Deon Raath

Die ontwerp omarm tradisionele Suid-Afrikaanse argitektuurstyle, verduidelik Paul van Deventer, Sol-Tech se besturende direkteur. Nuut en oud, een voet in die verlede, ander een stewig in die toekoms.

In die hysbak hoor ons ’n diep mansblikstem: “Tweede vloer, die deur maak oop.” Paul sien ons verbasing en lag breed in sy rooi baard wat sy ken soos ’n takkraaltjie omraam.

“Daar is net twee plekke in Suid-Afrika waar die hysbakke Afrikaans praat – hier en by AfriForum. Dis lekker, dit pas by ons.”

Die kampus is tien dae gelede in gebruik geneem, alles is nog splinternuut, dis ’n gekap en getimmer om die laaste goed klaar te maak, plastiek word afgetrek van nuwe banke.

Alles hier is drafstap, opgewondenheid.

Deur die groot vensters sien jy ’n paar ewe haastige meisies in die vierkant (“die Werf”) aanstryk met potte vol skoonma-se-tong.

Dertien jaar gelede het Sol-Tech weggespring met 64 outjies “in elektries” in ’n kleinerige vaal vertrek onder Solidariteit se raadsaal in Centurion. Flip Buys-hulle het gereeld kom vra: kan julle so ’n rukkie stop met die gekappery, ons het gou ’n direksievergadering.

“Ons noem hom Solly, die meganiese studente het hom gemaak vir ’n uitstalling. En hy is Covid-vriendelik...”

Baie van Solidariteit se aanvanklike lede was ambagslui, en toe Flip en Dirk Hermann vroeg in die 2000’s sien ambagskolleges duik in die hek, het hulle besluit om in te spring.

Ses maande nadat hulle die saadjie vir Sol-Tech gesaai het, het Paul sy bestuurswerk by Chep, ’n internasionale paletmaatskappy, “net so gelos” en by hulle aangesluit. “Om iets vir mense te doen en nie net geld te jaag nie.”

Hy het in ’n ambagshuis in Bloemfontein grootgeword. Sy pa was ’n houtwerkdosent by die destydse onderwyskollege. Twee swarthoutstoele wat sy pa gemaak het, staan nou in Paul se kantoor.

Gee vir my nou Lesufi se R431 m. en ek bou nóg ’n R300 m.-ambagskollege.

“Dit herinner my aan die trots van fyn ambag.”

Paul vertel terwyl die kampus gebou is, het hy al hoe benouder geword, want die verantwoordelik om hiervan ’n sukses te maak, het ál swaarder gelê.

“Maar nou het hierdie 13 jaar oue droom waar geword. Ons kontrakteurs moes vir drie maande ophou werk tydens die inperking, maar hulle het dit ingehaal én betyds én onder begroting klaargemaak.”

“Terwyl die kampus gebou is, was ek partykeer skoon benoud, dis so ’n groot verantwoordelikheid. Maar nou het hierdie 13-jaar-droom werklik geword.”

Lanklaas het die opening van ’n nuwe opleidingskampus soveel politieke vibrasies losgeskud. Dit het begin met ’n rubriek van Max du Preez waarin hy sê hy skuld Flip Buys-hulle ’n apologie oor sy kritiek op hul missie om selfversorgend te wees. Verlede week, toe die kollege open, twiet die oudredakteur Barney Mthombothi: “Solidarity have built a technical college for R300 m. Panyaza Lesufi and his cronies have blown R431m in THREE MONTHSmeant for sanitizing schools. Just mind boggling . . .”

Nog ’n glimlag breek in die gemmerbaard. “Gee vir my nou Lesufi se R431 m. en ek bou nóg ’n R300 m.-ambagskollege en die res gebruik ek vir studentelenings.”

Dis verblydend, sê hy, om ná jare se kritiek op #blacktwitter te hoor: hei, ons haal ons hoed vir julle af. Daar is dié wat sê hulle gaan Sol-Tech met bomme kom gooi, maar ewe veel kommentare antwoord: hoekom gaan julle nie so tekere oor ’n regering wat niks vir julle bou nie?

“Dit sê vir jong mense daar’s vir julle werk, ’n toekoms in Suid-Afrika."

Dit is goeie nuus, sê Paul, en agter hom in die masjinerielokaal sien jy jong latte met Sol-Tech-T-hemde en vingers vol ghries.

Hoop.

“Dit sê vir jong mense daar’s vir julle werk, ’n toekoms in Suid-Afrika. Dis nie nodig om te emigreer nie. As ons nie in ons land geglo het nie, sou ons nooit hierdie waagstuk geneem het nie.”

’n R300-m.-waagstuk, gefinansier deur Solidariteitslede met hul R10-skenkings, massa-bydraes wat sê: Ons bou, want ons wil bly.

Paul van Deventer in die Kraal, waar studente lekker saamkuier en sport kyk op ’n groot TV-skerm. Foto: Deon Raath

“Sol-Tech is ’n trots Afrikaanse opleidingsentrum vir enige student. En dis wat dit is. Daar is nie ’n stertjie aan nie. Daar’s nie ras op ons aansoekvorm nie. Ons stel nie belang watse ras jy is nie. Ons sal vir seker meer bruin en swart studente hier wil hê. Ons het nou ’n oorbruggingskursus vir dié wat sukkel met Afrikaans. Al wat ons wil doen, is om jou ’n ordentlike ambag te leer om só die tekort van 40 000 ambagsmanne in Suid-Afrika een vir een te laat krimp.”

En sou enige probleme tussen studente ontstaan, het Sol-Tech ’n professionele berader om dit te ontlont, voeg hy by.

Voornemende studente moet oor drie hekkies kom: ’n eenvoudige toelatingstoets (“jy moet die potensiaal hê om deur te kom, anders mors jy iemand anders se geld”), ’n stewige begrip van Afrikaans, en genoeg geld vir die R150 000-driejaarkursus. Daar is ook rentevrye of rentedraende lenings.

“Een student hier was ’n karwag, ’n ander een se ouers was karwagte."

Nog nooit in 13 jaar is ’n student weggewys wat hieraan voldoen het nie.

Een van Sol-Tech se swart studente het werk by ’n dieselwerktuigkundige gekry wat spesifiek ’n swart outjie gesoek het. Hy het hulle so beïndruk, hulle vra hom toe: Bring vyf van jou pelle ook. Toe hy daar aankom met vyf wit Sol-Tech-manne, sê sy werkgewers: Ons het gesê ons soek jou vriende. En hy antwoord: Hulle ís, ons bly saam in ’n huis.

“Een student hier was ’n karwag, ’n ander een se ouers was karwagte. Helpende Hand het hom deur matriek gehelp, ’n netjiese outjie met net een ordentlike T-hemp. Op ’n stadium het sy lektore vir ons kom sê hy is erg bleek, en toe kom ons agter hy kry nie genoeg kos nie. Maar hy is deur die kursus, het ’n goeie werk gekry en vinnig sy studieskuld afbetaal. En toe begin hy ’n beursfonds om ander jong mense te help.”

“Die masjinerie by Sol-Tech kos R55 miljoen. Sonder dié skenking van Solidariteit, met ledebydraes, daarsonder sou ons nooit die ambagkollege kon begin nie.”

Die wêreld is teen jong mense wat ambagslui wil word, sê Paul. Hy is bly die president het daarna in sy staatsrede verwys. “Vroeër jare het ’n werkgewer jou as appy aangestel en kollege toe gestuur. Dit gebeur nie meer nie. Boonop sukkel studente uit die TVET-kolleges (tegniese en beroepsgerigte kolleges) om werk te kry, want die gehalte van opleiding is ’n reuseprobleem.”

Om ’n kollege te laat akkrediteer en te registreer moet jy deur hoepels spring, maar dis wel moontlik as jou geduld lank is, sê Paul.

“Ons het nog nooit gesukkel met her-akkreditasies of politieke teenstand gekry van ’n regulatoriese liggaam nie. Ons het goeie verhoudings met dié liggame, van hulle het al gesê ons is ’n voorbeeld vir Suid-Afrika.”

"Ons wil graag die lesse wat ons hier geleer het, met ander deel.”

Sol-Tech het Lonmin-myn en Nelson Mandelabaai-metropool se opleidingsentrums gaan bystaan. “Die destydse ANC-burgemeester het ons gevra. Ons was vir dae daar, het verslae geskryf, als, maar ongelukkig het daar dadels van gekom. Maar ons wil graag die lesse wat ons hier geleer het, met ander deel.”

Daar is 400 maatskappye wat indiensopleiding vir Sol-Tech-studente gee. En dis die ding: as ’n opleidingskollege ’n slegte reputasie het, kry sy studente nie werk nie, want werkgewers soek nie onproduktiewe studente wat masjiene breek en boonop ’n salaris daarvoor kry nie.

“Van ons studente wat in April 2021 klaarmaak, is 96% reeds teen Desember 2020 in diens geneem. Wanneer ons studente finaal kwalifiseer, word 56% onmiddellik aangestel by die plek waar hulle praktiese opleiding gekry het en 21% begin hul eie ondernemings. Dié wil ons nog verder oplei in bestuursvaardighede,” sleur sy opgewondenheid jou mee. “Ek het ’n hele visie, ek wens julle kon hééldag hier kuier!”

17 April 2018, toe Sol-Tech uiteindelik die regte gekry om te kan bou ná hulle ’n hooggeregshofsaak teen die lugmag gewen het. Van links: Paul van Deventer (Sol-Tech se besturende direkteur) Flip Buys (voorsitter van Solidariteit) Tjaart van der Westhuizen (besturende direkteur van Solidariteit se beleggingsmaatskappy), Dirk Hermann (bestuurshoof van Solidariteit), Francois van Vuuren (direkteur van Kanton-eiendomme), Appie Pienaar (finansiële hoof van Solidariteit), Henk Schalekamp (besturende direkteur van Kanton) en Steve Schott (president van Solidariteit) Foto: Verskaf

Hulle word oorval met versoeke om ’n Sol-Tech-kampus in die Wes-Kaap te begin. “Ons kan dit ongelukkig nie nou bekostig nie. Ongeveer 40% van ons studente kom van buite Gauteng, die koshuise wat ons nou vir R120 miljoen aanbou, maak dit vir hulle moontlik om hier te studeer.”

Daar is slim gewerk om geld bymekaar te maak vir die kampus. R10’e uit die ledegeld, mense wat spontaan bygedra het . . .

“Ons ontwikkel nou ’n model waar gewone mense kan bydra tot geboue en ontwikkelings soos dié, én ’n opbrengs daaruit kan kry.”

Die Kraal se kuierkroeg se naam is die Windpomp, die braaiplek die Spilpunt.

Op ’n toer deur die kampus wys Paul waar ’n groot TV-skerm opgerig word sodat die manne in die Werf kan rugby kyk. Lang tafels word in die kafeteria, die Kraal, staangemaak, nes dié wat Paul in München se Hofbräuhaus gesien het. “Aan so ’n lang tafel begin vreemdes spontaan saamkuier, dis wat ons hier wil hê.”

En dáár kom ’n Aga-stoof . . .

“Ons het eendag hier gesit en gesê: een ding kort, die reuk van pruttende koffie op ’n Aga. Maandagoggende kan studente koffie en nat beskuit daar gaan haal.”

Paul van Deventer en dr. Philip Minnaar het die wêreld vol gereis om opleidingskolleges te besoek. Hier is hulle in Duitsland, wat bekend vir top-ambagswerk. Foto: Verskaf.

Die Kraal se kuierkroeg se naam is die Windpomp, die braaiplek die Spilpunt. Ja, lag hy, en vir dissiplinêre probleme onder dié besige klomp manne het hulle ’n ambag-oplossing: Die oortreder moet polonie saag. Binne 60 minute moet hy met één lem ’n dik stuk staal deursaag.

“Jy saag polonie net een keer, want hy klap jou – jy’s papnat gesweet, jou arm wil afval en die ander studente lag vir jou.”

Paul het die wêreld vol gereis om ’n bloudruk vir Sol-Tech te kry. Amerika, België, Noord-Italië, Duitsland, bekend vir hul top-ambagslui.

“In Duitsland begin jy al jou ambag in gr. 10, maatskappye neem deel en die staat betaal."

“In Duitsland begin jy al jou ambag in gr. 10, maatskappye neem deel en die staat betaal. Ons agterstand lê by ons skoolstelsel. Maar Sol-Tech se opleiding is werklik op internasionale standaard.”

Die ruimte in die Kraal word bedags as ’n selfgerigte leerarea gebruik. “Dis ’n eerste vir Suid-Afrika, ’n omgekeerde klaskamermodel waar studente deur middel van video’s op TV-skerms hulle voorberei vir hul praktiese opleiding later die dag. Daarna skryf hulle ’n toets op hul selfone.

“Twee jaar gelede het ek en (dr.) Philip Minnaar, ons operasionele hoof, in Texas gesien hoe 600 studente só saam studeer in ’n area so groot soos ’n voetbalveld.”

Sol-Tech se 10-jarige viering. Van links Flip Buys, Dirk Hermann, Paul van Deventer en Philip Minnaar. Foto: Verskaf

Hy gaan wys ons ’n groot klip wat uit die fondasie opgegrawe is. Bo-op kom ’n voetstuk van drie sandsteenklippe uit die Voortrekkermonument se terrein (“daar’s nog beitelmerke aan”) vir ’n standbeeld vir ambagsmanne.

“Erfenis. Afrikanererfenis, maar absoluut ook Suid-Afrikaanse erfenis.”

Dis dag tien en ons kan al sweis, sê ’n groep nuwelinge toe ons by “Algemene Sweis” gaan stilstaan. Boogsweis, gassweis, silwersoldeer, dis ’n entoesiastiese gesweisery in groen hande.

Luvuyo Charles, een van die enkele swart studente, kom staan vir die tweede keer vandag nader vir ’n media-onderhoud.

Eli Coccosulis, byna klaar met sy kursus, staan nader. Sy pa is Grieks, ma Portugees, en hulle het Ficksburg se bakkery. Hy swaai al van kleinsaf spanners en slaan hamers want as iets breek, is tegnici ver.

“Van die eerste dag af was dit net wow, dis my plek dié. Maak nie saak hoe erg jy sukkel nie, die lektore sal by jou staan tot jy dit toemaaktyd regkry.”

Luvuyo Charles, een van die enkele swart studente, kom staan vir die tweede keer vandag nader vir ’n media-onderhoud. Ja, hy doen dit baie, hy is seker maar die token darkie, grinnik hy, sweishelm in die hand. “Almal vra my heeltyd of ek regkom tussen die Boere, maar dis lekker hier en ek weet ek gaan werk kry.”

“Ék het met ’n helikopter oorgevlieg om te sien hoe lyk ons 13 jaar oue droom uit die lug.”

Ons staan en kyk vir die studente. Mens wil amper nie ophou kyk nie.

Paul van Deventer lyk verby tevrede.

Dis lekker as jy hoop kan vassweis in ’n tyd wanneer almal afbreek, ’n virus die land op sy knieë het.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.