Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Hanlie Retief gesels met Philip en Curren
‘Ons glo dit kan die land genees’

Verby skaapvoerkrale, verby die hipermoderne hidroponika-boerdery, vier opleidingskombuise waar baie leerlinge vir die heel eerste keer met ’n stoof werk, verby werkbanke met sweisskerms . . . stap ons deur die bloudruk van ’n reddingsplan vir ons stukkende jeug.

Van die leerlinge aan die Jakes Gerwel Tegniese Hoërskool is geskors uit ander skole. “Ons wou vir hierdie kinders met die ontwerp van die skool, die mooi kleredrag sê: hierdie voel soos ’n private skool met topleerlinge, en jy is een van hulle,” sê Philip Jonker (links). By hom is Curren Kühn. Foto: Edrea du Toit

“Die kinders is nog net agt maande in hierdie werkswinkel, maar hulle is reeds beter af as die meeste matrikulante,” wys Philip Jonker trots vir ons die netjiese sweiswerk.

“Met hierdie vaardighede – selfs nog sonder kwalifikasie – kan hierdie kinders tussen R5 000 en R10 000 ’n maand verdien. Dit beteken jy is dadelik middelklas, want 49% van Suid-Afrikaners verdien minder as R600 per maand.”

Drie jaar gelede was hier nog niks. Nou word die Jakes Gerwel Tegniese Hoërskool in die Bolandse dorp Bonnievale deur Debbie Schäfer, Wes-Kaapse LUR vir onderwys, “die wonderwerkskool” genoem.

Drie jaar gelede het ’n boer, ’n aktuaris, ’n ingenieur en ’n kleuterskoolhoof die wilde perd opgesaal om vir Bonnievale ’n Afrikaanse tegniese hoërskool te bou. Die behoefte was pynlik duidelik: 1 500 tieners het baklei vir 350 plekke in die plaaslike hoërskool.

“Ek en die ander drie het so op ’n afstand van mekaar geweet,” vertel Curren Kühn, wat met sy elektriese ingenieursgraad van Maties terug Bonnie­vale toe is, “want dit het op my hart gedruk om ’n verskil hier te probeer maak”.

’n Kwarteeu reeds word gepraat van die nuwe SA, en hier staan ons binne-in hom.

Toe Philip Jonker, vierdegeslag-wynmaker en chardonnay-ghoeroe van Weltevrede, een Sondag by Kühn se ouerhuis in Happy Valley opdaag, was Kühn maar louwarm, onthou hy met ’n glimlag. “Philip is bevriend met my ouers, wat geestelike leiers in die gemeenskap is. Kom luister wat Philip sê, het my ma nog getorring, maar toe Philip begin praat oor ’n skool van uitnemendheid, was ek maar skepties, hoor. My vibe was: Oukei, boet, ek hoor jou, maar maak jou reg vir R70 miljoen en tien jaar se gesukkel.”

Kühn glimlag vir Jonker hier langs hom op die skoolpaviljoen en sê: “Maar hierdie boer het nogal ’n manier om jou te mesmeraais met sy visie . . .”

Die aksieplan is begin nadat hulle in Januarie 2016 gehoor het hulle sal tien jaar lank moet wag vir ’n staatskool, maar as hulle self een bou, sal die staat 40% bydra.

Saam in die span was Wilhelm de Wet, aktuaris, en Augusta Brandt, ’n kleuterskoolhoof, maar eintlik die hele gemeenskap. “Te veel ander projekte in buurdorpe het gesink omdat die gemeenskap nie ingekoop het nie.”

’n Groep van 15 het aanvanklik die projek gelei. ’n Smartie-boks, soos Jonker sê. Xhosa. Sotho. Wit. Bruin. Man. Vrou. Jonk. Oud. Ryk. En nié so ryk nie. “Al wat ons saamgebind het, was Bonnievale se kinders. Al wat ons gedeel het, was geloof. Dit was soos om ’n stadsmuur te bou soos die Bybelverhaal van Nehemia. Die vraag aan elkeen was: wat leef in jou hart? En: wat het jy in jou hand? Wat kan jý doen?”

Drie jaar gelede was die Jakes Gerwel Tegniese Hoërskool op Bonnievale nog net ’n droom. Nou word dit beskou as ’n oplossing vir Suid-Afrika se onderwyskrisis.

Die argitek het gratis ontwerp, kontrakteurs het “14 groot geel masjiene” gratis gegee vir aansienlike grondverskuiwings, ’n halfmiljoenrand se diesel is geborg.

Kühn: “Die hersonering en plan is binne ’n ongehoorde drie maande goedgekeur, skaars ’n week voor ons in Junie 2017 sou begin bou. Ek het besef: iets anders dryf hierdie projek.”

Die Bonnievalers het Saterdae saam kom klippe optel op die sportveld. Dit was so ’n lekker piekniekatmosfeer, onthou Jonker en Kühn.

Jonker: “Ons was nie gewoond om dinge saam te doen nie. In die verlede sou ons mekaar net beleefd groet, maar nou gee ons mekaar ’n druk as ons mekaar in die dorp raakloop.”

Kühn sal nooit die eerste atletiekdag in Februarie 2018 vergeet nie. “Die paviljoen was tot barstens toe gepak, ek kon die opgewondenheid op elkeen se gesig sien. Dit was ’n ongelooflike prentjie, want agt maande vroeër was hier letterlik niks.”

Nou eers besef hulle werklik hoe groot en diep die behoefte was vir ’n goeie Afrikaanse tegniese skool, sê Jonker.

“Ses uit elke tien kinders in Suid-Afrika val uit op pad matriek toe. Daai ses moet eet, oorleef, hulle word desperate entrepreneurs wat bedel by verkeersligte, swanger raak vir Sassa-toelae, of hulle hou die polisie besig. Dis 60% van alle kinders in Suid-Afrika. As jy dit besef, is ons misdaad eintlik ongelooflik laag.”

Dis middagete. Die kinders sit in rye op die paviljoen, borde op die skoot. ’n Groepie stap giggelend verby en Jonker glimlag. “Ons het só gesukkel om een van daai meisietjies by die skool te kry. Sy het regtig moeilike omstandighede. En nou is sy elke dag hier en sy doen goed.

“Een outjie kan skaars die letters van sy naam in volgorde kry, maar in die konstruksieklas is hy verreweg die vaardigste. In ’n gewone akademiese skool sou hy ál minder werd gevoel het, en dan uiteindelik uitval. Hier leer hulle as jy uitnemend is in iéts in die lewe, gaan jy gaan nie honger ly nie.”

Maandagoggende gaan haal hulle die kinders wat nie opgedaag het ná die naweek nie. “Partykeer is daar ’n goeie rede, soos ’n skoolbroek vol bloed, dalk het die ouers baklei, of die skoolklere is verkoop. Ons glo: los die 99 om die een te gaan soek, ons wil nie een kind verloor nie.

“Dis ’n zero-uitvalskool. Dit help nie ons stuur iemand weg en dan is hy net anderkant die draad nie.”

Van die kinders kom van skole waar hulle geskors is, nadat hulle reeds ’n jaar of twee by die huis gesit het.

“Hulle’t lankal belangstelling verloor in die abstrakte goed wat die juffrou probeer verduidelik. Hulle daag uit, hulle toets, maar soos ons skoolhoof, Albert Mocke, sê: ons is die ‘tennisnet’ wat die balle ontvang maar nie terugstuur nie. Ons herhaal: ons glo in jou, tot hulle dit self begin glo. Alles in die skool, van hul klere tot die geboue se afwerkings sê vir hierdie kinders: hierdie voel na ’n private skool met topkinders en jy is een van hulle.”

Met 15% tienerswangerskappe in die omgewing, is net minder as 2% van die meisies in die skool swanger.

Hulle het gedink dis moeilik om ’n skool te bou, en toe kom hulle agter dis báie moeiliker om ’n skool te bedryf, sê hulle byna gelyktydig.

Jonker: “Laasjaar was baie moeilik. Tot September het ons daagliks gevoel ons gaan hierdie stryd verloor.

“Maar toe kom die kantelpunt. Uiteindelik kon ons sien hoe dinge begin verander met ons mentorprogramme wat fokus op karakterbou.”

Die hoop wapens wat verlede jaar by die kinders afgevat is, groei nie meer nie . . .

Heel aan die begin is vir elke kind gevra wat hy of sy eendag wil word. Geen kind het ’n antwoord gehad nie. Nóú moet jy hulle hoor, lag Kühn.

“Gister vra ek ’n leerling wat grafiese tekeninge as vak neem of hy ’n sweiser of ingenieur wil word . . . skielik besef hy hy’t keuses en geleenthede.”

Die grootste probleem is die gebrek aan pa’s as rolmodelle, sê Jonker. Baie pa’s is net daar as die baba gemaak word en nooit weer nie. ’n Antie of ouma maak die baba groot. “Dis als mooi, maar in ’n stadium sien jy die kind raak eintlik op straat tussen maats groot. Die kind word so half wees tussen sy eie mense, en as hy rebelleer en stout raak, is dit skielik nie my kind nie, dis joune. En só word hierdie kinders se eiewaarde afgetakel.”

Hulle word dikwels gevra of ’n laerskool nie beter sou wees nie. “Maar dié leerlinge is die ouers van die volgende geslag. Die siklus word nou gebreek.”

Ons kyk oor die sportveld wat eindig in ’n wingerd, sonder ’n heining tussenin. Mense het heeltyd vir Jonker gevra wanneer kom die heining, die kinders gaan die druiwe opeet. Sy antwoord? Hulle gaan die kinders leer om nie die druiwe te eet nie. En wat van die boeties en sussies en ander skole op sportdae? “Met die eerste sportdag het die trosse shiraz ryk en donker gehang, maar niemand het dit gepluk nie, want ons kinders het nie.

“ ’n Heining hou mense uit. Dis juis wat ons nie hier doen nie.”

Om R100 miljoen te kry vir ’n nuwe skool is om 10 miljoen legkaartstukke te pak. “Wilhelm het sonder om moeg te word in sy kar geklim en mense gaan sien. Ons kon maar ons aanvanklike lysie van moontlike donateurs in die asblik gooi, terwyl mense van wie ons dit nooit verwag het nie, ons gehelp het.”

Hulle het nie ’n sent geleen nie, nooit mense laat betaal nie, en nooit Lotto-geld of donasies met bymotiewe aanvaar nie.

“Selfs in tye van totale desperaatheid het ons bydraes weggewys. Ons moes die seëning van die projek beskerm deur onafhanklik en nougeset te kyk na waar die geld vandaan kom.”

’n Soortgelyke skool word tans vir ’n Wes-Kaapse kusdorp beplan, en ’n handvol gemeenskappe het Jonker-hulle genader vir dié bloudruk. “Ons glo dit kan Suid Afrika uit sy wortels genees.”

Kühn: “My mond hang oop as iemand negatief praat oor Suid-Afrika, want ek weet hier is die oplossing. ’n Kwarteeu reeds word daar gepraat van die nuwe Suid-Afrika, en hier staan ons letterlik binne-in hom.

“Ek was ’n pasgetroude jong ingenieur, en dié projek het my lewe verander. Nooit sal iemand meer kan twyfel aan die grootheid van God nie.”

Bo ons, teen die kop, lê Mountain View se huisies en afkyk op die skool.

Dink net, sê Jonker, die gemeenskap word soggens wakker, en kyk af op hoop. “As jy klein is, weet jy dis jou deur na jou toekoms. Bonnievale se statistieke het nou name en gesigte. Elkeen is nou my seun en dogter, jou seun en jou dogter.

“Die Nehemia-muur van Suid-Afrika moet herbou word.”

Wat het jy in jou hart? Wat het jy in jou hand?

Meer oor:  Bonnievale
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.