Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Hanlie Retief gesels met Pierre Edwards

Die lang man staan by die skoolhek. Die kamera kiek. Sy hande is voor hom gevou en hy glimlag die ingeoefende glimlag van 40 jaar se duisende jaarbladfoto’s.

Dr. Pierre Edwards tree Vrydag 14 Desember uit as hoof van die Afrikaanse Hoër Seunskool. Hy het self daar skoolgegaan en was ook lank ’n geskiedenis- en wiskunde-onderwyser by Affies. Foto: Deon Raath

Dis Desemberstil op die Afrikaanse Hoër Seunskool se skoolterrein. Die sproeiers streep oor die lowergroen gras. Sydney, die tuinier, se snoeiskêr lê en wag op ’n gesnoeide sierboompie.

Hier, op hiérdie hoek van Lynnwoodweg en Kirknessstraat, Pretoria, is Pierre Edwards se alles, sy wêreld, beskryf prof. Fransjohan Pretorius dit in die huldebundel.

Affies. Ooskerk. Loftus.

Affies, waar Pierre in 1966 as standerd sesser lamknie aangemeld het, later onderwyser was, en nou aftree ná 26 jaar as skoolhoof.

Ooskerk, waar sy vrou, Aryna, hom in 1978 die eerste keer raakgesien het terwyl hy in die diakenbank sit en dut. En waar mnr. Ned Roesch se woorde in die konsistorie sy lewe bepaal het: Wil jy nie by Affies kom skoolhou nie?

“Ek het net daai roeping gevoel. Ek is ’n gelowige, ek het gevoel dis bestem.”

Hier gaan dit oor wat jý doen. Nie wie jou pa is of daai twak nie.

En oorkant: Loftus, waar hy in 89 wedstryde uitgedraf het vir Noord-Transvaal.

Prof. Fransjohan onthou die dag in 1978 toe dié seningrige heelagter die tamaaie Transvaalse senter Carel Fourie – die Franse het hom “Die Blonde Guillo­tine” gedoop – reg van voor geduik het. “Daar lê albei. Die Loftusskare kreun. Pierre staan ongeërg op, draf ligweg terug na sy posisie. Noodhulp dra ‘Die Blonde Guillotine’ met sy gebreekte bobeen van die veld af.”

“Alles, alles, op hierdie hoek,” glimlag Pierre. “Die Donderdag ná die Transvaal-wedstryd het ek Aryna ontmoet en twee dae later die wedstryd van my lewe hier op Loftus gespeel. Tukkies teen Maties. Ek het teen alle verwagtinge ’n drie gedruk en ’n paar keer oorgeskop toe Naas op die veld siek geraak het. Ons het gewen, en Maties was die maatstaf destyds.

“Drie weke later het ek smoorverlief vir Aryna gevra om te trou. En sy het gelukkig ja gesê . . . Alles het só mooi uitgewerk.”

En nou is dit Goodbye, Mr Chips vir hierdie merkwaardige, beskeie skoolhoof.

Aryna en Pierre Edwards op die stoep van hul huis in Waterkloof, Pretoria.

Pierre het daardie rare talent dat hy deur kinders gerespekteer word, maar nie deur hulle gevrees word nie, skryf prof. Irma Eloff, voorsitter van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns.

Die spore wat hy in ’n leeftyd by Affies gelaat het, is só dat mense die skool skaars kan voorstel sonder Pierre Edwards.

Hy het gesorg vir die atmosfeer in die skool, sê Judith Coetzee, sy sekretaresse vir 26 jaar.

Dis in detail soos die bord wat hy en Aryna jare terug by die sportpaviljoen laat oprig het: “Om deel te neem is goed, om te wen is beter, maar die beste is om dit te geniet.”

Dis in sportprogramme wat in die argief bewaar word – wat nie net deur wenners onderteken is nie, maar ook deur deelnemers wat ’n laaste plek behaal het.

In die saalperiode hoor die kinders: Daar is niks of niemand wat jou verhoed om ’n lewe van vreugde te lei nie.

Hy haal die Afrikaanse Hoër Meisieskool se oudhoof, Agnes Holtzhausen, aan: “Êrens verborge vir die menslike oog, is die hart van die skool. Dit bestaan uit tradisies en die lewens en toegewyde werk van leerlinge en personeel dag na gewone dag.”

Jy sien hom op ’n 1980-foto agter in sy geskiedenisklas, wit hempsmoue opgerol. In sy klas het altyd ’n onheilspellende stilte gehang, en as jy verby die Lang Man se klas loop, loop jy flink, onthou ’n oudleerling.

Pierre Edwards het in 89 wedstryde vir Noord-Transvaal uitgedraf.

Hulle het hom as onderwyser ou Plastic van die TV-kinderreeks Redding Internasionaal genoem, want op die rugbyveld het hy onbreekbaar gelyk.

Soggens het hy op die Affie-werf ingewroem in sy Triumph met die seuns wat hom aangaap terwyl hy sy lang lyf uit die plat kar rangeer.

“Daarna was dit my vrou se ou Morris in die sukkeljare toe ons op een onderwys-salaris twee kinders moes grootkry. Jinne, en nou ry ek ’n 20-jarige Honda,” glimlag hy.

Een van sy beste herinneringe: “Op pad terug van Buffelsbaai – die kinders nog klein – was dit knerswarm op daardie sieldodende reguit pad tussen Willowmore en Aberdeen. By ’n plaasdam hou ons stil en ons spring in. Nou nog, elke keer as ons daar verbyry, onthou ons ons heel lekkerste swem, toe ons oor die draad geklim en poedelnakend in die dam gespring het.”

En dan kom breek Teveel die stroom herinneringe. Dis Edwards se mollige spanjoelhond wat elke dag saamkom skool toe, wat ’n koekie kom bedel. Om die uur neem hy sy oubaas vir ’n inspeksie van die skoolterrein.

Pierre was geskiedenis- en wiskunde-onderwyser van 1979 tot 1991 en toe word hy op 38 skoolhoof.

Dit was net toe model C-skole begin is, wat groter onafhanklikheid vir skole gebring het.

Hy is deur die storms van uitkomsgebaseerde onderwys, wat teen 2006 as ’n skrikwekkende flop by skoolvensters uitgesmyt is.

Sedert 2009, toe alle skole Engels van gr. 1 af begin gee het, en alle vakke van gr. 4 af in Engels, was Afrikaanse skole soos Affies die rare uitsondering.

Pierre Edwards het dit reggekry om van dié stormagtige jare Affies se gloriejare te maak.

“Gaan kyk jaar ná jaar die uitslae – die skole wat die onderwyswa deur die drif trek, is die Afrikaanse skole. Almal erken dit, 80% van die skole in ons land is wanfunksioneel. As dit verby is met die Afrikaanse skool, is dit verby met die onderwys.

“Mense is onder die wanindruk dat jy jou kind in ’n Engelse skool moet sit. Dis eenvoudig gek, want dis wêreldwyd oor en oor bewys: Moedertaalonderrig is die beste. Juis dít het die Afrikaners uit armoede gelig.”

Hy sê dikwels vir sy personeel: Geen politikus of amptenaar kan jou weerhou om ’n goeie onderwyser te wees nie. “Min. Angie Motshekga het ’n paar jaar terug gesê: Gaan kyk na die Afrikaanse skole, na die werksetiek van ons onderwysers.”

Vir sy opvolger, in hierdie mynveld waarin Afrikaanse skole hul bevind, het hy ’n Engelse uitdrukking: charity begins at home.

Laat onderwys werk, hiér, wys hy om hom. Dis waar jy die verskil maak. Klaskamer. Kinders. Opvoeding.

“Een van die goed waarop ek gehamer het, is dat ons ’n volkskool is. Ons is allesbehalwe ’n eliteskool, ons gr. 8’s kom uit meer as ’n honderd verskillende laerskole. Dis wat ons anderster maak.

“Ons het hoeveel kinders hier wat nie ’n sent skoolgeld betaal nie. Hier gaan dit oor wat jý doen. Nie wie jou pa is of daai twak nie.”

Affies is die een skool wat nog nooit ’n kind “gekoop” het met ’n sportbeurs nie. Pierre Edwards noem dit kinderprostitusie.

“Hoe kyk jy ’n ouer wat knor om skoolgeld te betaal in die oë as jy een of ander rugbyspeler borg wat skoolgeld in elk geval kan bekostig?”

Ouers kom by Affies en sê: Dié en dié hoërskool bied ons kind dít en dít aan, wat bied julle? “Dan antwoord ek nee, hier betaal jy om skool te gaan. En ons verskans dit nie met borge en allerhande maniertjies nie.”

In loco parentis – “Ons is verantwoordelik vir hierdie seuns. Dit beteken ’n gebalanseerde opvoeding. Snaaks genoeg dink mense altyd ons is sportbetotteld by Affies. Ons is nie.”

Affies is ’n koorskool, het verbaasde ouers al gehoor by die skool se opedag. Soos prof. Ignatius Gous opmerk: “Ek het baie dinge by ’n opedag verwag, maar nie hiérdie woorde nie . . .”

Veertig jaar reeds, ken hy die hart van ’n seun. “En deur al hierdie jare het seuns bitter min verander. Hulle het sekuriteit en ideale nodig.

“Die kinders van vandag is eintlik fantasties. Ongeag. Want watse voorbeeld stel die samelewing vir hulle?

“Ek kan Zuma dit nie vergewe nie, watse voorbeeld was hy vir my kinders in hierdie skool?”

Toe Pierre nog klasgegee het, en die seuns was die dag nie lus vir werk nie, het hulle twee goed gebruik wat altyd sy knoppie gedruk het: evolusie en WP vs. Noord-Transvaal, en dan was dit ’n stryery, onthou hy.

Die lekkerste onderwerp waaroor hy klasgegee het, was maar altyd die Republikeinse geskiedenis, die ou Boere-republieke.

Oor geskiedenisstaaltjies kan hy jou ’n dag lank besig hou.

“Min mense weet die Apiesrivier . . .”

“As jy met Tom Jenkins opry, is daar ’n deur aan die linkerkant, en 50 m verder ’n oorspronklike blokhuis . . .” Sy gesig lewe.

Maar vra hom uit oor homself, en hy verloor sommer belangstelling.

In sy kantoor is rakke vol boeke met titels soos Dunkirk, De La Rey tot South Africa’s Brave New World tot Snow and Steel. Modelskepe wat hy self gebou het.

Eenkant staan ’n leë boks. Ná die onderhoud begin die groot inpak, die opruim van ? leeftyd.

Dis nou tyd vir sy tweede doktoraal in geskiedenis, wéér oor Delagoabaai waarvoor hy al agt jaar lank Juliemaande sy neus in argiewe in Londen en Lissabon druk. Bergfietsry saam met Aryna, maar sy moet liewer die Epic volgende jaar alleen gaan ry, lag hy.

Hoe moet die geskiedenis hierdie geskiedenisman onthou?

Wat hy nié sê nie: Affies se voedingskema, Affies se Kombuis, waarmee hulle elke dag eerste pouse ’n gebalanseerde bord kos vir die kinders van die Laerskool Genl. Nicolaas Smit gee. Dis sy nalatenskap. As hy daaroor praat, skiet sy oë vol trane en hy vertel hoe die kinders op Vrydae en Maandae meer eet, want die naweke is honger.

Wat hy wel sê: “Ek hoop Affies onthou my vir die liefdes in my lewe: vrou, kinders, skool, onderwys. Dis ’n ongelooflike beroep.”

Vrydag gaan hy vir oulaas deur Redelinghuyspoort ry, die Affieswerf groet.

“Dis tyd.”

Soos ’n potloodstreep in ’n skooloefeningboek. Mooi netjies op die dun blou lyntjie.

Meer oor:  Skoolhoof  |  Afrikaanse Hoër Seunskool  |  Affies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.