Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Hanlie Retief gesels met Piet Botha
Piet se tyd is min – ‘so let’s party’

And the highway rolls for­ever, die gigs, die riffs, die licks, die grinterige generaal van rock & roll.

Diksnare en silwer hare, bekfluitjie en pyp.

Piet Botha, die Hammer van die rockgroep Jack Hammer, ’n legende in die rockwêreld. Pankreaskanker is onlangs by hom gediagnoseer. Hier is hy in Soul Cafe, sy vriendin se restaurant in die Strand. Hy het op 14 Februarie, na ’n Valentyns-gig hier, agtergekom “iets ernstigs is fout”. Foto: Edrea du Toit

“Hierdie ou kombi se naam is The Big 6. Dit was Jack Hammer se bussie vir baie jare,” staan die ou swerwer en swaai sy arm soos ’n vlerk oor die plakkers agterop en sê sy’s ’n beauty, maar sy is nou al oud en jy onthou sy line uit Middernagtrein: nog bietjie langer, nog bietjie verder, miskien sal jy eendag jou pad huis toe kry . . .

Woensdag het Die middernagtrein ’n Ghoema vir beste rock-album gekry.

“Nogal weird, maar cool, ek het dit nooit verwag nie, dis ’n eer en dankie, maar ek was mos nog nooit een vir dié goed, die awards, nie.”

Want vir die Hammer gaan dit nog altyd, rêrig altyd, oor net een ding: die band.

Hy lig sy hand, vingers lig soos vere. “Kyk . . . oei, daai kitare, tromme, daai amplifiers. Die wêreld kan vergaan, dis al wat vir ons tel. Nou-nog. Jy loop net uit tyd uit. Of uit energie. Dis die probleem.”

Ek het altyd gedog eendag sal my chops my inhaal, ek het net nie gedink so gou nie.

En dis band en equipment in The Big 6 en daar gaan hulle. Duisende myle, duisende gigs, ’n paar gearboxes en ’n paar gaskets . . . en ken jy die road, vra Piet sy famous line.

“En as die Hammer dít vir jou vra, is jy in die k*k,” grinnik Lanie van der Walt – en ja kyk, dáái’s jou intro vir ’n serious ride, grinnik Jake Gunn tussen trekke Pall Mall Blue op The Road, ’n dokumentêr oor Piet Botha se rock & roll-lewe wat byt soos ’n eerste tequila op jou tong. Dit word later vanjaar uitgereik.

Dié dokumentêr is ’n dankie-sê van ’n groep vriende, meestal ’n geslag jonger as hy, vir wie Piet en sy songs “hoop en rigting” gegee het in die 1990’s toe hulle dit nodig gehad het.

As hulle vertel van daardie eerste gig saam met Piet, onthou Johno en Beano, Lanie en al die ander Jack Hammers deur die jare dit soos ’n mens onthou waar jy was met aardskuddende gebeure soos 9/11.

“Ek was toe al in my veertigs, hulle was in hul vroeë twintigs,” sê Piet. “En nou speel hulle mý onder ’n bos in. Ons is ’n groot rock & roll family. Partykeer baklei die youngsters as hulle te veel gesuip het, dan blaf ek net so twee keer.”

Piet en sy dogters, Robynne (voor), Jessica (links) en Piya, in die tuin op die Magaliesburghoewe.

Pretoria-Noord was Piet se rock-koninkryk, en Jack Hammer die bloubloed. Soos Anton Goosen sê: Piet en die Akkedisse is seker die naaste aan living the rock & roll lifestyle, die Keith Richards-ding.

Ons sit in sy dogter Jessica se 19-iets-vissershuisie in die Strand wat sy en die rocker Conrad Jamneck huur. Hunter S. Thompson-boeke op ’n rakkie by die voordeur, turkoois kombuiskaste, musiek, witwyn – en jáá simpel, terg Piet haar, kry liewer die glase vol.

“My kindertjies. Jessica, Robynne en Piya. Hulle is great, ek weet nie wat ek sonder hulle sou doen nie.

“En hulle love music. Eendag hoor ek nog Spice Girls, en die volgende week Bob Marley, thank you Lord!” swaai sy hand. “En toe ek eers Jimi Hendrix hoor . . . my work was done.”

Hy steek sy pyp aan. Rustig. Rock steady. Hare ’n waterval oor die skouers langs die ruigte van sy baard. Kyk deur die venster, “Hei, die wind waai nie.”

Jessica glimlag: “Wil jy gaan surf?”

Piet: “Say never no more.”

Jessica: “Ons joke altyd, hy kom met die boogie board onder die arm en sê: ek gaan nou surf! In sy kop is hy ’n groot surfer.”

Pa en dogter kyk vir mekaar oor die tafel en altwee lyk skielik bietjie getimmer, want die afgelope weke was rof.

Pankreaskanker is by Piet gediagnoseer.

Ná ’n Valentyns-gig by sy vriendin se restaurant in die Strand het Piet skielik siek geraak. “Ek het geweet hier is moeilikheid, maar ek het ook gedog dis oukei, dis seker net ietsie. Toe is ek maar hospitaal toe.”

Twee dae. Lae hemoglobientelling. Baie laag. Sewe pinte bloed. ’n Maand later, weer siek, weer hospitaal toe.

Jessica vertel hoe hy haar eers elfuur die oggend gebel het om hom hospitaal toe te neem, “want hy het só sleg gevoel, hy was bang hy gaan dood langs my in die kar”.

En toe is dit die surreëele ritueel van toetse en skanderings en gastroskopie. Verlede Vrydag het hulle gehoor dis die gevaarlike pankreaskanker: adenokarsinoom. En dit het versprei.

Piet: “Ek het altyd gedog eendag sal my chops my inhaal, ek het net nie gedink dit gaan so gou wees nie. Wat sal ’n ou nie gee vir nog vyf jaar of tien jaar nie.

“Maar kom ons kyk wat gebeur. Mens moenie hospitaal toe gaan nie, want daar vind hulle uit jy ly boonop aan 300 ander siektes,” skop die rocker-weerbarstigheid vas. Die “kloue van die mediese bedryf” laat hom dink aan die song “Hotel California” – you can check out any time, but you can never leave.

“So. Gaan loop langs die see, jy sal ten minste beter voel. Jy weet jou tyd is min, maar jeepers, at least enjoy it. Nee. Let’s have a party.”

Ja. Wéér Strab toe, Meimaand, komaan, na Piet se legendariese musiekfees in Mosambiek, een van die uitvloeisels van hierdie rock-familie. “Ons stukkie hemel op aarde, waar Piet op sy gelukkigste is,” sê sy dogter Robynne.

Dan kom Piet weer terug met nét die klere aan sy lyf, dis elke jaar se ding want die res gee hy alles weg, lag Jake Gunn. “Hy is die vrygewigste mens wat ek ken.”

Dis net in die nagte nou wanneer hy “pyngoete en so” nodig het, sê Piet. “Dis bietjie van ’n double whammy met dié dat ek my rug gebreek het (in 2017) toe ek van 'n verhoog in Margate geval het. Nou sit ek met die skroewe en goed.”’

Hy lig sy hemp op en wys die letsels. Grinnik. “Elke keer as ek ’n jong chick optel, sê ek vir haar daai was toe die ou my geskiet het in Rustenburg en daai was in Pofadder, en daai was ’n messteek . . . Whatever you do stay out of Potchefstroom!”

Ná sy val moes hy drie maande lank stillê, wat hom iets laat besef het van wat sy ma, Helena, deurgemaak het nadat sy geval en permanent verlam was.

Daai jare, snags twee-uur, ná gigs, het hy net betyds by die huis gekom om haar om te draai. “Dan sit ons en chat en sy rook ’n siegret, en as ons weer sien, is dit vieruur, vyfuur.

“My ma het drama op Stellenbosch gestudeer tot sy die verkeerde man raakgeloop het,” korswel hy. Pik Botha . . .

“Mmm. Sy het nooit klaargemaak nie, want sy het swanger geraak. Maar daai jare het mense nie daaroor gepraat nie. Nee, sy was nie swanger met my nie – I am scot-free on this one. For once it wasn’t me!

“Toe ons nog baie jonk was, was ons ’n tight family, seker oor ons oorsee was meeste van die tyd. Ek onthou my dad kon nogal ’n ding uitsort. Hy was altyd net lojaal aan ons. Die ouens het vir hom gesê: Jissie hierdie kind van jou, bands, takhaar, maar hy het hom nie daaraan gesteur nie.

“Ek dink hy wou graag soos ons wees. Hy was in die verkeerde job. Miskien juis nie. Maar hy was ’n free spirit. Hy het altyd gedigte agterop sigaretboksies geskryf.”

Sy seun s'n gaan saam met kitaar deur ’n klankversterker, wat ’n geslag se angs en woede vasvang: Toe ons weer kyk het ’n AK jou fucked-up geskiet – Goeienag Generaal.

Dit het alles by die radio begin.

Klein Piet wat aan die knop draai tot by ’n mooi song. Toe al. “Jy soek net daai song. Daai een song.”

In Den Haag, tien jaar oud, loop hy die stad plat op soek na seven singles en bring boksevol terug Suid-Afrika toe.

In Pretoria-Noord, laerskoollaaities, hy en sy pêlle in ernstige weeklikse “meetings” om in gewyde stilte plate te luister.

“Dink jou in: ’n paar bobbejane in Pretoria-Noord en hierso kom hierdie ding. Led Zeppelin. Dark Side of the Moon . . .” lig sy arms, “finish en klaar.

“Toe weet ek: nou het die game gechange.”

Garagepaarties, garagebands, wild, rebels. Later die gigs, die pad.

“Elke aand op ’n ander dorp. Roekeloos. Love it when things fall spectacularly apart . . . Dis die rock & roll-idioom en nou moet jy so wees. En dis eintlik maar soos meeste ander goed bietjie van ’n joke. ’n Joke wat terugslaan op jou. Mmm.

“Maar dis great, want jy hoef nooit vir ’n baas te werk nie. Jy leer om met baie min geld klaar te kom. En dis nie moeilik nie, as jy nou nie hoef te worry oor smart goed, materiële goed nie.

“Goed wat vir ons saakmaak, ander ouens verstaan dit nie eens nie. Keys wat change en so.”

En jy kry hulle, die rockers soos jy, op plekke soos die laundromat van ’n blok woonstelle in Los Angeles.

“ ’n Ou met ’n ZZ Top-kêps staan langs my. Ek sê hell it’s one of my favorite bands, en net daar word ons vriende. Billy Bob Thornton, pas uit Texas, ’n drummer in ’n band wat akteur wil word. En saans sit hy daar en leer Shakespeare. What an actor. Net jammer daai een pop (Angelina Jolie) het hom vernietig.”

En nou het die pad Piet hier gebring, tot by hierdie kankerding.

“Man, dit het so vinnig gekom, ek probeer dit nog uitfigure. Al die goed wat jy nog wou doen . . .”

Jessica: Wat wou jy nog doen? Ons kan nog. Behalwe die joint saam met Neil (Young) en Willie (Nelson), lag sy.

Sy glimlag kom lê rebels tussen ons.

“As ek net nog ’n paar goeie gigs kan doen. Dis net die gig. Niks anders nie.

“Dit het my altyd gefassineer. Dis soos wanneer ouens ’n moerse diamant het, net vir hulleself. En elke aand gaan sit en kyk hulle na die diamant. Dis ons band.”

Alles wat ons doen, sing Piet, doen ons maar net om die hemel te proe.

Later bel Jessica. Toe ek vra hoe dit met haar gaan, sê sy hulle’s tussen lag en huil en ongeloof. “Oupa Pik het twee keer kanker gebeat maar dis nie ’n pankreas nie. Ek het nie gedink dis kanker wat Piet sal vat nie. Die wêreld gaan ’n goeie man verloor.” Haar stem is vol trane.

“Maar tot dan, hoe sê Piet? Watch this space, tot dán is dit rock & roll, die gigs en die highway . . .”

Meer oor:  Piet Botha  |  Pik Botha  |  Ghoema  |  Jack Hammer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.