Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Hanlie Retief gesels met prinses Charlene

As prinses Charlene ’n appeltjie in Monaco se Pienk Paleis wil skil, ’n regte-egte een, en sy wandel die tamaaie kombuis binne, draf vier sjefs nader om dit vir haar te doen.

“Los my uit! Ek wil hierdie appel op my eie sny! is gewoonlik my reaksie.”

Vir die eerste keer kon prinses Charlene van Monaco haar tweeling Suid-Afrika wys. Prinses Charlene, prins Albert en hul tweeling, Jacques en Gabriella, in die Natalse Middelland.

En dis nie net appels nie. Haar Deurlugtige Hoogheid kan haar nie draai nie, dan skarrel bediendes en butlers en kokke, want hier’s die prinses . . .

Sy lag só terwyl sy dit vertel, haar spykerhakskoene lig ’n aks van die Emperors Palace se fop-barokmat.

Prinses Charlene en prins Albert van Monaco was pas hier vir ’n kort vakansie om hul vierjarige tweeling, Jacques en Gabriella, vir hul eerste Afrika-safari te neem. Sodat hulle weet bokke is nie altyd herte nie, sê die prinses. “Hulle het ure omgespeel by hul nefies in Benoni!”

So, dis lekker om Suid-Afrika toe te kom en net te sê: baai, sien julle, ek het nou nodig om asem te haal.

Lank en skraal in ’n goue leunstoel, kort hare glad en effens deurmekaar, gesig skoongewas, gee prinses Charlene in ons onderhoud die een verbluffend reguit antwoord ná die ander.

Buite staan drie lyfwagte in te knap jeans. Die tweeling is nou net hier verby saam met ’n entourage gespanne oppassers.

By ons in die VIP-suite is haar broer Sean, sy vrou, Chantell, en Dawie Crous, die familie-prokureur/huisvriend wat diplomaties keer as Haar Hoogheid té reguit raak.

Hy’t sy hande vol. Want sy draai nie doekies om nie. Vra wie’s haar gunsteling-koning, hoor jy onder luide gelag: “Die koning van die Zoeloes!”

Wie sou kon dink dié swemmertjie gaan eendag ’n prinses wees?

Vra of die Pienk Paleis darem al soos huis voel, knip sy blitsvinnig:

“Nee.”

Net so.

“Ek is heeltyd aan diens. Jy word wakker met personeel om jou, en jy gaan slaap met personeel om jou.”

Al ooreenkoms tussen haar Olimpiese swemloopbaan en nou, is die isolasie, sê sy. Ure en ure in ’n swembad. “Silence blowing out air”. En die isolasie in die paleis.

Bekers en medaljes, ure en ure in ’n swembad. Charlene Wittstock het ’n hele rits wêreldkampioenskappe gewen.

“So, dis lekker om Suid-Afrika toe te kom en net te sê: baai, sien julle, ek het nou nodig om asem te haal.”

Voor haar troue in 2011 was die gerugte welig dat sy wou terughol Benoni toe omdat sy nie meer kans gesien het vir ’n lewe in die Pienk Paleis nie. Daar’s selfs beweer haar paspoort is ingetrek om te verhoed dat sy Monaco verlaat.

En toe kon die prinses boonop nie ophou huil op die troue nie . . .

“Dit was trane van spanning. Ek kon nie glo mense verkondig sulke nonsens nie. ’n Week voor die troue bel vriende my: Charl, kom jy terug? Is die troue af? En ek sê net: Wat gaan áán met julle?

“Die bron van die gerugte was boonop baie ná aan die paleis. Dit was aaklig.”

Dit was die tweeling se eerste safari in KwaZulu-Natal. Hier is hulle saam met hul nefie Raigen, die seun van Charlene se broer Sean.

Sy moes leer fyntrap tussen kansvatters en verraaiers.

Cloak and dagger, ja.”

En terwyl sy voor die wêreld se kameras staan en trou en fyntjies ween, troos die prins binnensmonds: Alles gaan oukei wees . . .

“En hy probeer agter sy hand praat, want die media lees ons lippe.”

Sy gee ’n sug.

“Om eerlik te wees, ek het nog nie weer na my troufoto’s gekyk nie. Ek was getraumatiseerd.”

Daar’s net een rede hoekom Charlene Wittstock in die Pienk Paleis gaan bly het, sê sy.

“Liefde.”

Sy het van die begin af geweet hierdie man gaan deel wees van haar lewe, sê sy.

“Ons het gekliek. Hy is die allerliefste, dierbaarste, wonderlikste man. En só het ek ook geweet ons gaan altyd daar wees om mekaar by te staan.

“Soos ek, het hy ook ’n moeilike jong lewe gehad – sy ma op ’n jong ouderdom verloor, en hy moes die koninklike pligte oorneem toe sy pa sterf. Daarmee saam was die druk van trou en kinders produseer.”

Dit was die sprokie van die Europese prins en die waternimf van Afrika.

Maar prins Albert moes geweet het hy’s in vir ’n ding, daai dag op die paviljoen in Monaco toe die kameras heeltyd op hom gefokus het terwyl hy nie sy oë kon afhou van hierdie Benoni-blits se rugslagtegniek nie.

Agt jaar later begaan sy nog steeds protokol-flaters, vertel sy met ’n grinnik.

“Soos om koninklikes verkeerd aan te spreek . . .” haar oë rol, “en ek kniebuig gereeld vir dié wat ek nie moet nie, of vergeet daarvan as ek moet. My roknaat hét al oopgeskeur en ek hét al ’n oorbel in my bloes verloor tydens ’n kniebuig.”

En die prins? Wat van hom frustreer haar?

“Goeie genade!” Sy gooi haar kop agteroor. “Watter vrou is nie van tyd tot tyd gefrustreerd met haar man nie!

“Dis soos in: Ek het jou gesê dit gaan gebeur! Maar wanneer het jy dit vir my gesê? Kan jy nie onthóú nie? Wel, miskien was ek daai tyd bésig . . .!” klap sy haar hande vrolik teen mekaar.

“Heel normaal . . . !”

Die Prinses Charlene van Monaco-stigting het ewe spontaan begin.

“Albert het gevra mense moet skenkings maak aan ons stigtings, eerder as trougeskenke gee. Maar ek het nie ’n stigting nie, noem ek aan hom. Hy sê: Nou begin dan een! Wát? Oukei fine, dan begin ek ’n stigting . . .”

Iets met water, het sy gedink. En iets met kinders.

“Ek weet ek is bevoorreg, ek het ’n brein en energie en as ek nie geswem het nie, sou ek sendingwerk wou doen. Ek wil mense help. En nou het ek ’n ongelooflike platform om dit wel te kan doen.”

Die hóé het gekom nadat sy en prins Albert in 2012 by sy dokter in Frankryk gaan kuier het. Die dokter het twee dogtertjies van Madagaskar aangeneem.

“Die tweejarige het haar handjies uitgesteek na die swembad, en ek het vir die dokter gesê: Asseblief, kry ’n veiligheidsnet. Dit gebeur só vinnig, dié kleintjies sink tot op die bodem en jy gaan niks vir hulle kan doen nie. Hy het nog gesê ja, ja, ja.

“Dit het my vreeslik gepla, al die pad terug huis toe. Ek vir Albert gesê: Bring haar paleis toe, ek sal haar waterveilig maak.

“ ’n Maand later kom die oproep: sy het verdrink.”

Sy byt die woorde af, van vooraf ontsteld.

“Ek was amper meer kwaad as hartseer. En toe is dit die begrafnis, en dis so ’n klein kissie, ek was nog nóóit op ’n tweejarige kindjie se begrafnis nie.

“Die middag moes ek ’n 100-jarige se verjaardag gaan vier. En ek begin baklei met God, waar is die regverdigheid hierin? Hoe bipolêr was mý dag – in die oggend huil ek, in die middag moet ek partytjie hou.”

Dit was die saadjie vir die Prinses Charlene-stigting. Waterveiligheid.

Haar tweeling swem elke dag minstens ’n uur lank. “Of twee, of drie! Hulle kon swem voor hulle kon loop.”

Dis presies wat Lynette Wittstock, prinses Charlene se ma, met haar gedoen het.

“My ma was ’n duiker met ’n droom om Olimpiese Spele toe te gaan, maar met die politieke sanksies kon sy nooit. Eendag, nadat ek Greg Louganis gesien duik het, het ek vir haar gesê: Ma, ek sal vir jou Olimpiese Spele toe gaan.”

Sy glimlag.

“Wel, ek maak altyd klaar wat ek begin het. Toe ek jare later by die Olimpiese stadion instap, het ek geweet: taak voltooi. Vir my ma.”

Sy het gedurende die Zimbabwiese oorlog in Bulawayo grootgeword.

“My eerste herinnering is hoe ek in ons tuin boomklim. Ek onthou veral my ma, want my pa was weke aaneen weg om in die oorlog te veg. Dit moes angswekkend vir haar gewees het, sy het my in die kas weggesteek terwyl rebelle deur ons tuin hardloop.

“So, ek onthou vrees, maar terselfdertyd ook sorgeloosheid. Dit was nogal moeilik om skool toe te gaan en skielik is twee maatjies weg, want die gesin is op hul plaas vermoor.”

Die Wittstocks se huis is deur die rebelle afgebrand. Ná ’n jaar in ’n hotel het hulle Suid-Afrika toe geïmmigreer.

“My pa het vir ons gesê: Maak vrede, ons gaan nie terug nie. My broers was ses en sewe jaar oud. Al my vriende, die Sondagmiddae op plase waar ons krieket gespeel het . . . die lewe wat ek geken het, was verby.”

Swem het haar leer vasbyt. Eers in die ou 50 m-swembad in Barrowstraat, Bulawayo, en later by Ellispark. “Winteroggende vyfuur, twee ure lank, té bang om aan die swembadrand te vat, want dis gevries.”

Deesdae is die Mediterreense See haar speelplek. “Ek is lief vir watersport, ons het waterfietsry Monaco toe gebring. Ek kan selfs deur drie landsgrense roei, Frankryk, Monaco en Italië.”

As sy die paleisgange afstap, stap sy in die spore van die vorige blonde prinses. Grace Kelly. Ook ’n buitestander, dié Hollywood-aktrise.

“Eerlikwaar, ek dink nie prinses Grace het ’n maklike tyd gehad nie. Dit was boonop die konserwatiewe na-oorlogsdae,” sê prinses Charlene.

Hoe hanteer sý die rigiede protokol en lewenstyl van Europese koningshuise?

Sy lig haar ken. “Ek skep my eie.”

Dis lankal nie meer post-oorlog nie, sê sy dan. “Dis tyd vir vorentoe beweeg. Ons leef in ’n era van Whats­Apps, inligting op jou vingerpunte. So . . . ek skep my eie protokol rondom my en my kinders.”

Irriteer die verstoktheid van die koninklikes haar?

Skielik is daar ’n stilte. Almal kyk op.

“Irriterend? Dis frustrerend!”

In Desember, byvoorbeeld, het sy vir prins Jacques en prinses Gabriella se vierde verjaardag ’n Superhero-partytjie in die paleis gehou. ’n Behoorlike een, met Spider-Man wat teen die paleismuur uitklouter.

“Met die volle ondersteuning van my man. Hy het gesê: Blaas lewe in hierdie vertrekke.”

Sy klap haar vingers. “My woorde aan hom was: Ek het verf, muurpapier en sement nodig, ek sal dit self doen.”

Toe prins Albert haar vra hoekom sy die eeue oue, statige ornamente wegskuif, “sê ek vir hom, maar Albert, kleuters gaan hier rondhol!”

“Ek weier om saam te stagneer. Ek moet ruimte skep vir my tweeling.”

Die één ding wat prinses Charlene wou hê haar kinders moet op hul eerste besoek aan Suid-Afrika beleef?

“Vryheid. Diere vry in die natuur, mense wat tevrede is met min. Jy hoef nie alles te hê om gelukkig te wees nie. Die gelukkigste mense wat ek die afgelope paar dae ontmoet het, oorleef beurtkrag. Hulle beraam eenvoudig planne: Oukei, bring die kerse. Suid-Afrikaners gooi nie tou op nie.”

Sy is vasbeslote om Suid-Afrika te bevorder. En sy maak werk daarvan, soos sy spontaan twee jong modeontwerpers, Natasha Jaune en Carina Louw, Monaco toe te laat vlieg om vir haar klere te ontwerp.

Jy sien haar as stylikoon in Armani en Versace op rooi tapyte, jy sien haar rits op haar waterfiets oor die turkoois see, Instagram-kiekies van haar kinders se eerste skooldag, maar net ’n gewone broeihen-ma. Jy sien haar in haar boetie se kombuis in Benoni, besig met ’n slaai vir ’n braai.

Haar Deurlugtige Hoogheid is haar eie plat-op-die-aarde-protokol.

As ’n mens in ’n prinsdom jouself wil bly, is daar net een reël, sê sy: “Moet nooit vergeet waarvandaan jy kom nie.”

Dan maak sy haar oë toe en onthou haar klimboom in Bulawayo, die Natalse Middelland waarvoor sy lief is, haar mense, en ja, beurtkrag in Benoni. Huis.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.