Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Hanlie Retief gesels met Quinton Adams

Deur nou gangetjies tussen plakkershutte volg ons die gekap van ’n hamer. Stukke as warrel op terwyl ons verby swartverbrande sinkplate loop, onderdeur kragdrade wat slap hang.

Een van die nuwe plakkershutte wat Quinton Adams in Freedom Farm langs die Kaapstadse lughawe gebou het. Foto: Edrea du Toit

Deur Blowy, soos SST-seksie bekend staan, loop ons al hoe dieper die doolhof in tot by Khayelitsha se ground zero.

’n Week terug het daar 342 plakkershutte gestaan. Nou is dit kaalgebrande Kaapse Vlakte.

“Waar beginne ’n mens as jy net ás sien om jou . . .” skud Quinton Adams sy kop.

Mense staan verslae rond. Die sweet tap almal af, dis 40 °C en hulle wag vir die starter packs, die Kaapstadse metro se shack kits – sinkplate en houtplanke wat die mense self aanmekaar timmer vir ’n eenkamer-shack.

Thandokazi Guda-Kosani, ’n kennis van Quinton, het alles verloor. Sy staar ongelowig na die leë vierkant waar haar plakkershut was.

Ek bly maar opgewonde oor ’n venster wat kan oopmaak.

“Ek kon net ’n paar babadoeke gryp. Ons hoor dis ’n ou wat by ’n sjebien was en toe aan die slaap geraak het terwyl hy kosgemaak het. Hy kon wegkom, maar toe hy sien die hutte om hom brand, het hy teruggehardloop om in sy hut te gaan doodbrand.”

Nee, Thando, man, los die shack kit, ons bou vir jou ’n sterker hut, sê Quinton. Ons glimlag, want dis wat Quinton altyd doen, al eintlik vandat hy sewe jaar oud is. Quinton help.

Hy korrel die stuk grond met sy oog, h’m, lyk soos ’n vier by vier, ons sal nie groter as drie by drie kan bou nie, ai, maar darem met twee vensters. “Ons is Maandag hier . . . ek bring koeldrank ook.”

En voor hy homself kan keer, bied Quinton aan om sommer die buurman se hut ook klaar te bou. “Want hier moet ’n sementwal kom, anders oorstroom Thando met die volgende storm.”

Wie is hierdie man in die grys hemp en ou-omie-pet wat die tannies van Freedom Farm hul engel noem?

Later, oor koffie in Modderdamweg se McDonald’s, hoor ons sy storie. Ons sit by die kinderpartytjietafel. Die partytjietema vandag is ellende.

Sleutels van ’n nuwe huis! In die 30 jaar dat Rachel du Preez in Freedom Farm bly, was haar beddegoed en vloer vir die eerste keer droog. “My nuwe dak lek nie, en dis ook nie so warm in die somer nie.” By hulle is Quinton se regterhand, Warren Slee.

Weekdae is Quinton Adams ’n gewilde sielkundedosent by Maties. Hy is ’n wêreldkenner van bendegeweld en kinders in krisis. Sy kortfliek One Million Children Voices – die miljoen kinders in ons plakkerskampe – het internasionaal aandag getrek.

Quinton Adams is Suid-Afrika se armoedespesialis.

Maar dit eindig nie vir dié akademikus by dataprojektors en PowerPointnie. Naweke deurkruis hy townships in amapeles, oftewel cockroaches – klein taxi’s.

In Nyanga het hy probeer vasstel wat dié township die gewelddadigste in die land maak. Ook in Umlazi-township, Katanga in Port Elizabeth en in Diepsloot, Johannesburg, het hy die geweld-voetspoor gevolg.

“Ek doen etnografiese navorsing, ek is ín die plekke. Ek het my kêppietjie op, ek het my notaboek en ek ry in die taxi. Ek hoor, ek weet.”

Deesdae het Quinton ’n nuwe titel: shack-bouer.

Dis seker maar laasjaar se groot storm se skuld, lag hy, want toe Quinton agterna sien hoe bedremmeld Freedom Farm se mense daar langs die Kaapse lughawe rondstaan, het hy besluit dié keer moet sy “ek bid vir julle” ’n paar planke, spykers en sinkplate bykry.

Toe begin hy die vrotste shacks afbreek en nuwes bou.

’n Jaar en 13 plakkershutte later – een met séwe vensters – is Quinton Adams nou Freedom Farm se shack-bouer.

E.tv het hom in September benoem as sy Suid-Afrikaanse Held.

“Maar,” glimlag hy, “my hart se punt, my vrou, Sharonne, en ons tienerdogters, Cyndi-Lane en Amy, sê héél eerste is ek hul hero.”

Quinton sê hy weet nie mooi hoekom nie, maar hy kan dit nie handle as mense swaarkry nie.

“Terwyl ek besig was met die eerste shack, het ek skielik besef dis eintlik eenvoudig, ’n mens hoef nie groot dinge te doen nie, jy kan klein dingetjies groot doen.

“Ons dink ons weet wat armoede is, tot jy uitvind hóé ongenaakbaar en wreed dit is. Dit verander jou vir altyd.”

Hoe?

“Jy staan soggens op en daar’s niks om te eet nie . . . ná twee ure kom die hoofpyn. Eenuur . . . drieuur . . . en dan kom sesuur en jy het nog net ’n bietjie water gedrink.

“Wat doen dit aan jou? Jy verloor jou waardigheid, jy ontmens, jy raak ’n niks. Jy bly saam met 11 mense in ’n shack, jy deel ’n bed met drie, vier ander. Kinders en grootmense deurmekaar. Haglike omstandighede word jou normaal. Jy’t waarskynlik nie eens ’n ID-dokument nie, so jy bestaan nie.”

Vroeër het hy ons “sy” hutte in Freedom Farm gaan wys. Die sinkplate blink nog nuut.

“Kyk, hier’s ’n venster, en hier’s een en hier’s nog een,” wys hy opgewonde terwyl ons om ’n hut stap.

Om te sê Quinton het ’n ding met vensters, is sag gestel.

Elke keer as hy daarvan praat, swaai hy sy arm asof hy ’n venster oopmaak.

Want in die dik mufreuk van ’n toe plakkershut lê alles van armoede opgesluit.

“Weet jy wat is reuksin-uitputting? Dis as jy naderhand só gewoond raak aan al die stanke jy ruik dit nie meer nie. Daai ouens wat in die asblikke krap en ou vleis eet? Hulle kan nie ruik dis vrot nie.

“As jy die matras in ’n shack oplig, is dit grasgroen van skimmel. Jy kan net daar lê as jy klaar ontmens is. Die rotte baljaar snags en byt die kindertjies se oortjies en toontjies. Ek het eenkeer gesien hoe hulle ’n hond begrawe wat deur rotte doodgebyt is.”

Terwyl ons gesels, 20 km weg, is Tito Mboweni besig met sy begrotingsrede.

Quinton wens hy kan vir hom sê: Tito, trickle it down! Dit wat jy daarbo besluit, moet uitkom by die mense hier onder in Freedom Farm.

Navorsing wys tot 60% van alle proteste kom uit informele nedersettings. Hulle veg nie vir onderwys of salarisverhogings nie, hulle veg vir ’n toilet, ’n sinkhokkie, sanitasie, kos.

Dis mense op die fondament van Mas­low se piramide, mense met niks om te verloor nie.

“Hulle lê. Hulle is boos. Die laagste punt van menswees is as jy niks meer voel vir niemand nie. ’n Deel van ons samelewing word gedruk tot op daardie punt.”

Quinton weet goed wie die rede vir sy sawwe hart is. Sy ma. Haar hart en hand was oop vir ander.

“Sy het gesterf op 36. Ek was sewe jaar oud. Sy het op die stoel gesit en toe val sy net om. En toe ek haar weer sien, moes ek haar soen om totsiens te sê vir altyd . . .

“Dit het my hele lewe omgeswaai. Dit was vernietigend. En van toe af was ek vasberade om die lewens van ander kinders wat seerkry, wat ly, te verbeter.”

Hy was gelukkig, want sy pa, ’n skoolhoof, en sy pa se tweede vrou het hom toegevou in liefde. “Maar my ma se verlies was vernietigend.

“Ek was agt, toe deel ek al paaseiertjies uit vir kinders wat nie het nie. Op 17, toe reël ek ’n begrafnis van ’n kind wie se keel afgesny is. Ek weet nie of ek counselling gedoen het, of wát nie, maar ek het ’n pad gestap met die ma.”

En sý ma . . . wat sou sy vir hom hieroor gesê het?

“Dis Donderdag haar verjaardag. Ek en sy verjaar op dieselfde dag. Ja . . .” Skielik kom trane in sy oë en spoel die woorde weg.

Quinton is van Heidelberg in die Suid-Kaap UWK toe, nie net om sielkunde te studeer nie, maar om dit te lewe.

Ná die moord op Anene Booysen in 2013 het hy in opdrag van die minister van gemeenskapsontwikkeling navorsing in Bredasdorp gaan doen.

Hy was geskok oor hoeveel kinders snags sonder toesig in die strate rondloop.

In sy verslag het hy voorspel nog kinders gaan vermoor word. Sedertdien is drie kinders daar vermoor.

Die opleidingsprogram wat hy toe ontwikkel het (Dissipline begin by die huis), word nou in sewe provinsies gebruik.

“Die wêreld waarin ons leef, faal kinders wat geskaad is. En ’n onbehandelde getraumatiseerde kind word ’n tydbom.”

’n Professor-vriend in Chicago herinner Quinton altyd daaraan dat as ’n getraumatiseerde seun nie voor die ouderdom van 12 terapie kry nie, die wêreld teen hom beskerm moet word.

Die armoedekultuur in Suid-Afrika is anders as in die res van die wêreld, want dit gaan gepaard met gewelddadige misdaad. “Hulle steel nie net jou TV nie, hulle brand jou met ’n strykyster en sny jou keel af.”

As voorligting-onderwyser destyds in Belhar, het hy alles gesien wat nié met ’n kind moet gebeur nie.

“Bendelede en dwelmbase betaal die mammas vir hul dogters. En dan’s ek die skoolvoorligter en hierdie kind het ’n seksueel oordraagbare siekte. En ons wérk om daai kind uit te kry. Party kry jy uit, ander verloor jy.”

Vir ’n paar oomblikke kyk hy ons aan. “Ek verstaan . . . die donker kant van ’n mens se siel.”

Die woorde hang soos verlepte ballonne bo McDonald’s se partytjietafel.

Quinton is al so lank betrokke by Freedom Farm, van die mense met wie hy nou saamwerk het hy leer ken as kinders.

Hy sal nooit vergeet toe hulle ’n speelpark daar gebou het en dit gevoel het asof duisende kinders opdaag vir die inwyding nie.

’n Speelpark, 13 plakkershutte, maar in een winderige nag in Blowy verswelg ’n brand 342 hutte . . .

Oorweldig die moedeloosheid hom partykeer?

Hy dink lank, sê dan niks.

Eers later, toe ons groet, kom die antwoord uit die bloute.

“Omdat ek shacks begin bou het, is daar nou 18 mense oor die land heen met hul eie shack-bouprojekte. Skielik sê mense as hierdie ou dit kan doen met só min, kan ons ook.”

Met sy rug teen die plakkershut staan Quinton in die bietjie koelte van ’n sinkplaat wat hy self vasgekap het. En jy sien hy kyk weer na die venster en begin lag, so ’n bietjie, vir homself.

“Ek bly maar opgewonde oor ’n venster wat kan oopmaak . . .”

En weer swaai sy arm, asof hy die wêreld oopmaak.

Meer oor:  Khayelitsha  |  Brande  |  Plakkershutte
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.