Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Hanlie Retief gesels met Richard Spoor
Geen brieke vir dié Spoor nie

‘Jissou, dis interessant, dis lékker. Waar’s iemand in Suid-Afrika al ooit aanspreeklik gehou vir ’n epidemie? Dat ’n epidemie ’n enkele gebeurtenis is met een oorsaak?

“Ons het ’n goeie kans, nee, ’n uitstekende kans, Tiger Brands kan dit nie ontken nie, dis ’n kolskoot. Bang bang.”

Naweke klim die menseregteprokureur in sy tweesitplek-sportvliegtuig en dan is hy iewers in die lug bo Witrivier, ver van groepsgedinge en litigasieprobleme.

So gesels Richard Spoor uit sy ou Subaru (160 000 km oppie klok) op pad huis toe, sy kop vuurwarm op die spoor van sy volgende groepsgeding: liste­riose-slagoffers vs. Tiger Brands.

Dié Witrivierse menseregteprokureur is die baanbreker van groepsgedinge in Suid-Afrika. Dertig jaar reeds baklei hy vir die regte van weerlose mense.

Oor ’n paar weke sal die magtige goudmynmaatskappye ná ’n skikking ’n geraamde R5 miljard uitbetaal in die silikose-groepsgeding, verreweg die grootste in die land se geskiedenis.

In Spoor se vorige mynsiekte-oorlog het hy R700 miljoen vir asbestose-lyers uit Gencor gewurg.

En hy? Hy ry sy ou Subaru, hy het seker al die 12de verband op sy huis. Sy tariewe is sakgeld teen dié van sy korporatiewe eweknieë. Net uit die silikose-saak kon hy miljoene gemaak het. Maar 30 jaar lank al ploeg Spoor elke bietjie wat hy maak, in sy volgende saak.

“Ja, maar ek kon my baie kinders – ons het vier – deur private skole én universiteit kry, dis darem ook nou nie só erg nie,” raak hy ongemaklik en praat oor sy volgende saak.

Ek dink as jy ’n corporate is, waddehel gee jy om? Jy sien nooit die mense nie, jy hanteer net koue litigasie.

“Ná silikose wag steenkool. Ons het ’n vennootskap met die Rooms-Katolieke Kerk, dié ding loop ook lekker.”

Richard Spoor het nie brieke nie. In elke sin hoor jy hoe hy hom opwerk.

Listeriose? “Stérk saak. Die ST6-vingerafdruk verbind alles: die Polokwane-fabriek, produkte, slagoffers.”

En dis ook g’n onmoontlik om te bewys dit kom van Enterprise nie . . .

“Ons moet dit net op ’n oorwig van waarskynlikhede bewys. As Tiger Brands nie hierdie epidemie veroorsaak het nie, wie dan?”

Dalk is dit in sy DNS. Vandat Spoor kan onthou, wou hy ’n menseregte­prokureur word.

Sy ouers het ná die Tweede Wêreldoorlog uit Nederland Suid-Afrika toe gekom. “Die Joodse gemeenskap het hulle oor my ouers ontferm. Ek is nou oud, maar dié oorlog en sy gevolge het ’n groot impak op my gehad. Ek haat fascisme.

“Vir my is Julius Malema en Eugène Terre’Blanche dieselfde – altwee eintlik ekstreem verregs.”

Richard Spoor het al verskeie slagoffers in industriële ongelukke verdedig. Hier is hy tydens die Paarl Print-brandsaak in 2009, waarin 13 mense dood is.

Sy pa, op sy dag die Oppenheimer-kinders se swemafrigter, is op ’n hartseer manier dood.

“Hy was al oud en sieklik. Hy en my ma het met die hond gaan stap, en toe probeer hy die ou vet labrador teen ’n ander man se honde verdedig. Die man val hom toe aan, skop hom en breek sy femur. My pa het net agteruitgegaan en is toe dood. Dit was verdomp aaklig.”

So gesels hy in kleurvolle detail terwyl hy en sy vrou, Georgie, al verby 30 jaar getroud, van Johannesburg terugry Witrivier toe.

“Georgie sit nou hier en cringe terwyl ek my lewensverhaal aan jou uitlap,” lag hy.

“En ja, dis ’n karfoon! Ná ’n paar benoude ure in ’n Kaapstadse polisiesel sal ek nooit weer op my selfoon praat terwyl ek ry nie.”

Op hoërskool in Sasolburg (“ ’n dorp gedomineer deur Sasol en die NG Kerk-dominee”) het die fliek Inherit the Wind hom finaal oortuig om regte te studeer.

“Dis ’n ware storie oor ’n Amerikaanse prokureur, Clarence Darrow, wat ’n onderwyser verdedig het nadat hy evolusie op skool behandel het. Pretty impressive stuff.”

Niks van dié skoolseun-inspirasie is weg nie.

“ ’n Groot deel van my loopbaan was net koppestamp. Soos Sasol en ek. Ek meen, ek het grootgeword in Sasol se dorp, en my hele volwasse lewe al stamp ek koppe met Sasol se regsmense. Schalk Burger SC, Pieter Conradie, keer op keer.

“In die begin was dit vyandig, en ek was ’n ongeskikte, aggressiewe, mislike mens. Maar ná 25 jaar is daar wedersydse respek.

“Ek het verander, deur die jare. Ek probeer selfs meer politiek-korrek wees, haha. Alles is nie meer net reg of verkeerd nie. Dis probleme wat ons moet oplos.”

Is hy nie teen dié tyd totaal sinies nie?

“Nee. Jy weet, jy kan op ’n afstand na ’n tragedie kyk en dit kan jou koud laat. Maar as jy praat met die mense . . .” Hy huiwer ’n oomblik.

“Soos die ma vanoggend. Sy was besig om haar mediese rekening te betaal, haar kind is in die waakeenheid, haar kraamverlof amper verby, dis weer 12-uur-skofte by ’n oproepsentrum, sy huil oor die foon . . . Jeez, dis bad stuff.

“Op ’n menslike vlak is dit amper ondraaglik. Jy moet letterlik ’n tree terug gee. Daar is ’n enorme klomp swaarkry in ons land. En jô, ek is gelukkig, dis deel van my leefwêreld, ek word heeltyd herinner aan hoekom ek doen wat ek doen. Dit gaan oor ménse, oor rêrige swaarkry en lyding. Dit gaan oor geregtigheid.

“Ek dink as jy ’n corporate is, waddehel gee jy om? Jy sien nooit die mense nie, jy hanteer net koue litigasie.”

Dit slaan hom dronk dat, in ’n land met soveel maatskaplike onregte, daar so min menseregteprokureurs is.

“Die mense wie se regte op die mees blatante, kru maniere geskend word, is die armstes. Hul grond, hul gesondheid, hul werk.”

As student aan die Universiteit van Kaapstad het Spoor “deurmekaar geraak met die verkeerde mense”, lag hy, en toe word hy linkser as die linkses. “Ek en ouens soos Johnny de Lange (’n vorige adjunkminister van justisie) het maar min gedink van die Stalinistiese SAKP en ANC. Ons was Trotskisties. Ons het gedink ons is anders, ons het gedink ons werk aan ’n revolusie of iets.”

Hy het die “twyfelagtige onderskeiding” behaal om uit die UDF se stigtingsvergadering gegooi te word. “Daar is niks wat ’n linkse minder van hou as dié wat nog linkser is nie.”

Nooit gemaklik in die hoofstroom nie, was Spoor sy lewe deur ’n buitestander. “Maar dit het my aangespoor om anders te dink, dinge anders aan te pak.”

Tot 1994 was hy intens betrokke by politieke strafregsake. Net daaroor sou hy ’n boek kon skryf, soos die keer tydens die noodtoestand toe hy met ’n “f*ck you” deur ’n padblokkade gejaag het. “Ek het gedink hulle gaan my doodskiet.”

En die klein, soet oorwinning toe hy ’n ou op death row verdedig het oor hy geweier het om sy hare te sny.

“Ek het by Pretoria-Sentraal (nou die Kgosi Mampuru II-gevangenis) uitgestorm toe hulle weier dat ek my kliënt alleen, sonder ? bewaarder, kon sien. My aansoek was skaars by die hooggeregshof, toe kapituleer die staat – sonder slag of stoot. Dit was eintlik onbelangrik, maar vir my het dit ontsettend baie beteken.”

Hy het al alles gesien, kniediep in die smerige buik van ons land.

“Ja, nogal rêrige ugly sh*t, dis waar.

“Ek het baie werk in Schweizer-Reneke gedoen. Nou, Schweizer-Reneke was ’n rowwe, rowwe plek.

“Ek kom daar, dan’s my kliënte gevang en gedonner vir openbare geweld. Dan sit hulle daar in ’n bewende hopie, omring deur die polisie en doringdraad.

“En dan kruisondervra jy die senior polisieman in die hof en jy wys vir hom geen respek nie, geen genade nie. En vir die eerste keer in hul lewe sien hierdie mense hoe iemand vir hulle terugbaklei. En waar hulle kromskouer die hof ingekom het, stap hulle regop daar uit, hul selfrespek terug.

“Dis ’n rêrige goeie gevoel. En ek het dit baie kere gevoel. En nie net tydens apartheid nie, nog steeds!”

Onlangs, toe staan Spoor by ’n groep vroue in Limpopo terwyl stootskrapers hul landerye omstoot.

“Anglo het die Mogalakwena-myn daar begin. Die minister van grondsake het die grond vrygestel, die chief het die mense se grond weggegee.

“As prokureur word jy op ’n manier hul stem. Jy kan praat, jy ken die wet, jy kan daardie verskriklik ongelyke speelveld probeer gelyk maak.”

En dis wat Spoor doen, vertel ’n advokaat. Jy kan nie bang wees as jy groot korporatiewe maatskappye met mag en geld en die beste advokate aanvat nie.

“Dis so ’n Dawid-Goliat-ding en Dawid moet balls hê. Hoërisiko-litigasie.”

Dis vir Spoor belangrik om op die platteland te bly, want dit bring hom nader aan grondvlak-uitdagings.

Soos grondhervorming.

Hy tree byna daagliks op vir mense en gemeenskappe met grondeise, dien in gemeenskapsgrondverenigings en trusts.

Dit lê hom na aan die hart.

“Grondhervorming is baie moeilik. Tegnies moeilik, nie in terme van ideologie nie, om dit te laat wérk. Dit vra goeie regering. En dis net daar waar die bal op die grond val. Hoekom ons al 20 jaar ’n gemors van grondhervorming maak. Daar is geen samehangende beleid nie.”

’n Regering moet presies weet wat hy wil bereik, sê hy. Is dit om arm mense hul waardigheid terug te gee? Swart kommersiële boere te skep? Grondrestitusie of geld vir gemeenskappe?

“As jy alles net gaan saamklits, sit jy met ’n gemors. Goeie bestuur waarborg nie sukses nie, maar swak bestuur waarborg mislukking.

Grondonteiening sonder vergoeding is ’n ernstige aanval op ons grondwetlike demokrasie, sê hy.

“Ons hoor nou heeltyd ons moenie oorreageer nie, daar is voorwaardes ingewerk, kom ons kyk hoe dinge ontwikkel. Nee. Laat ons eerlik wees: dis regtig ’n baie slegte idee.

“En dit gaan nie gebeur nie. Ons is ’n grondwetlike staat met ’n funksionerende demokrasie. Hoe de hel skrap mens ’n wet en sê die regering hoef nie billik en regverdig op te tree nie?

“Dit ondermyn die kernbeginsels van ons demokrasie: geregtigheid en billikheid. Absurde nonsens.”

Ons onderhoud eindig met Richard en Georgie in Machadodorp, twee derdes op pad huis toe. Vir 240 km het ons gesels.

“Hier buite dreig pers donderwolke oor die Hoëveld, mens kan sien dis laatsomer, die gras raak goud.”

Hy hou heeltyd die wolke dop, sê hy, want naweke vlieg hy.

Lyk nie of hoërisiko-litigasievlugte in die hof genoeg is vir dié man nie. Naweke vlieg hy als wat vlerke het – paragliders, mikroligtevliegtuie, sy nuwe geel tweesitplek.

Georgie het net een woord om haar man te beskryf: maverick.

En giggel as hy vertel hy’t eers verby 50 agtergekom hy mag maar partykeer smiddae vieruur gaan bergfiets ry. “Balans in my lewe, uiteindelik!”

En dan, vir die volgende vyf kilo’s, wroeg Richard Spoor oor dié verslapping in fokus.

Want wéét ek hoeveel fabriekswerkers het akute gehoorverlies? Nou dáái is ’n groepsgeding . . .

Meer oor:  Richard Spoor  |  Prokureur  |  Aktivis  |  Menseregte  |  Tiger Brands
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.