Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Hanlie Retief gesels met Ruan Pienaar
‘Dis my familie wat regtig saak maak’

Vrystaat-rugby op sy allerblinkste, wragtie. 40 brullende Harleys, ’n laaste paar naelbytminute, oranje euforie wat brander oor ’n stadion met 39 000 juigende Vrystaters.

Die Curriebeker het huis toe gekom.

Die Pienaars is nou weer Vrystaters. Hulle bly tans by Ruan se ouers tot hul meubels uit Ierland aangekom het. Saam met Ruan en Monique is Lemay (7), Jean-Luc (5) en die 20 maande oue Liam. Foto: Willem van der Berg

In die kleedkamer het Ruan Pienaar en sy pa, die Vrystaat-rugbylegende Gysie, die goue beker saam vasgehou met trane in hul oë, onthou die Cheetah-baas, Harold Verster.

“Daar was trane in báie oë . . .” voeg Verster by en jy verbeel jou ’n aangedaanheid in sý stem. “Dit was een van daai oomblikke wat mens vir altyd sal onthou.”

In 1976, agt jaar voor Ruan se geboorte, het Gysie óók daar in die kleedkamer gestaan met die Curriebeker, toe die Vrystaat dié legendariese toernooi die eerste keer gewen het.

Sover hy weet, is hulle die enigste pa en seun wat albei ’n Curriebeker én ’n Wêreldbeker (Gysie as agterlynafrigter) gewen het.

“Toe ons daai beker vashou, sjoe. Dis rêrig ’n mooi beker en die geskiedenis daarvan, al die groot rugbygeeste wat al dié trofee kon vashou . . . ek hou van sulke goeters. Ek hoop die Curriebeker sal vir nog honderd jaar aangaan en ewe spesiaal bly.”

Wat bietjie help, is dat ek en my vrou kon terugkom en net biétjie ondersteun.

Dit was ook maar híttete, lag hy, want die Wit Tornado wat in dié Curriebeker-reeks meestal eers in die tweede helfte begin woed het, het dinge in die eindstryd omgeswaai . . .

“Franco (Smith) het gesê as ons ’n tweede helfte gehad het soos die eerste helfte en gewen het met ’n stewige 50 punte, was dit nie ’n goeie eindstryd nie, want dan was dit te maklik. Nou kla almal oor ons swak tweede helfte, maar ’n eindstryd móét mos die mense op die punt van hul stoele hou.”

Ruan het soveel rustigheid en leierskap in die Cheetah-span se Currie­beker-aanslag gebring, sê Verster. “Hy was ’n reserwe in die eerste paar games, en toe hy die eerste keer op die veld gaan, het die skare soos een man opgestaan. En toe juig ons almal en skree: Ruan Pienaar is terug!”

Ná 88 toetse vir die Bokke, ses jaar by die Haaie (sy bestes, sê hy), sewe wonderlike jare by Ulster in Ierland ­en twee suksesvolle seisoene by Mont­pellier in Frankryk, waar die afrigter Vern Cotter hom die beste skrumskakel ter wêreld genoem het . . . het die verlore seun huis toe gekom.

Ruan Pienaar se ervaring en leierskap in die Curriebeker-toernooi was die X-faktor wat die Wit Tornado laat wen het, word gesê. Foto: Johan Pretorius

Hy speel weer op die veld waar hy as kannetjie elke week sy pa sien uitdraf en oefen het. Waar hy sý eerste balle rondgeskop het.

“Huis is lékker!”

En Ruan praat nie net van sy ma se Peppermint Crisp-terte wat sy suikertand streel ná Ulster se soda farls en Guinness nie.

“Ek is in 2004 hier weg, maar Bloem bly maar Bloem, net groot én klein genoeg, nommerpas. Dis ’n goeie groep outjies hier by die Cheetahs, hulle dreig om my oom te noem, maar ekke sal nou nie so baie daarvan hou nie,” grinnik Ruan baie, baie droog.

Kleinjare, onthou hy, was die atletiekbaan nog om die Vrystaatstadion en winters was die gras geel geryp. “Nie die fênsie gras wat jy nou kry nie. My eerste herinneringe is hoe ek kyk as my pa speel. Jou pa is mos maar altyd jou hero. Tot vandag toe. Ons twee praat voor elke wedstryd, hy gee raad, en ná die tyd ontleed ons die game.”

En die volgende geslag Pienaars?

“Ons sukkel om Jean-Luc (5) skoon te hou, hy gaan haal sy Cheetah-trui op ’n daaglikse basis uit die was. Hy sê hy wil nét rugby speel,” vertel Ruan. “En Liam (20 maande) is klaar balbehep.”

Gysie Pienaar en Ruan verlede Saterdag met die roemryke Curriebeker in die Vrystaatstadion se kleedkamer.

Ruan-hulle het destyds 100 m van die Laerskool Grey Kollege gebly en hy’t smiddae net vinnig iets gaan eet, dan’s hy terug op die sportveld vir rugby, krieket en hokkie, eintlik enigiets met ’n bal. Tot tennis, lag hy. “O ja, én atletiek. Ek het nie veel tyd gehad om stout te wees nie.”

As jy ’n jaar terug vir hierdie Vrystater gevra het waar lê sy toekoms, sou hy sonder ’n oomblik se twyfel gesê het: Belfast, Noord-Ierland.

Die Pienaars het só lief vir die Smarageiland geraak, hulle wou nooit weer weg nie. Hulle het ’n huis daar gekoop, hul dogter, Lemay (7), was gelukkig in haar laerskool, en dié talisman van Ravenhill, soos die rugbymal Iere Ruan gedoop het, was baie gewild.

“Klubregulasies het my verbied om langer daar te speel, en dit was maar ’n tranedal toe ons daar weg is Frankryk toe. Die laaste game vir Ulster was veral emosioneel, want ons was almal so happy daar en al drie ons kinders is daar gebore. Die Iere is vriendelike, gawe mense en hulle ken hul rugby.”

Ruan het die afgelope twee seisoene vir die ryk Franse klub Montpellier gespeel. Sy gesin se aanpassing in Frank­ryk was moeilik. Veral Lemay het gesukkel om met die skool en taal reg te kom.

“In my tweede seisoen is Monique en die kinders terug Belfast toe. So, ek was baie verveeld sonder my gesin, terwyl my vrou oorval was met kinder-duties.

“Maar jy kan beplan hoe jy wil, dan gebeur daar goeters wat alles omvergooi . . .”

“Jean-Luc sê hy wil nét rugby speel.” Foto: Willem van der Berg

Op ’n Vrydagmiddag in Februarie het Ruan se sussie, René O’Ehley, op pad van Stellenbosch af na haar huis in Bredasdorp, waar haar man en twee kinders op haar gewag het, tragies verongeluk.

“Ek het ’n paar dae voor haar dood met my sus gepraat. Ek moes ’n wedstryd die volgende dag speel en soos altyd het ek en my pa gesels, hy het my sterkte toegewens vir die game. Vyf minute later het hy weer gebel, en ek dog toe dis verskriklik vreemd, dalk het hy vergeet om iets te sê. En toe hoor ek iets klink nie lekker nie . . . en ja . . . toe het hy die nuus gebreek . . . en ja.

“Toe sit ek in Frankryk en my gesin in Ierland. Ek kon eers die volgende oggend vroeg soontoe vlieg en almal gaan kry voor ons kon terugvlieg hiernatoe. Dit was maar moeilik.

“Jy sien altyd die kruisies langs die pad en wonder wat het met die mense gebeur. Jy dink dit gaan nooit met jou gebeur nie, en nou het my sussie self ook so ene. Die seer sal nooit heeltemal weggaan nie.”

Vir die familievaste Ruan was dit nooit eens ’n kwessie nie, hy het sy rug gekeer op sy groot Franse kontrak én verdere rugby-moontlikhede oorsee, en permanent teruggekeer Suid-Afrika toe om sy pa en ma te ondersteun.

“Deur my loopbaan het my sussie se ondersteuning baie vir my beteken. René was self deur soveel in haar lewe, sy het skoliose gehad, met ’n groot rugoperasie toe sy maar net vyf was. Maar niks het my sussie gekeer nie, sy het netbal gespeel en gedraf mét ’n pen in haar rug, sport by die skool afgerig. Vir ons almal was sy ’n ongelooflike voorbeeld.

“Dit voel nog so onwerklik as ek deur my ouerhuis stap en haar foto’s sien. Dis moeilik vir ons almal, maar veral vir my ma . . . sy en René het sewe, agt keer ’n dag gepraat.

“Wat bietjie help, is dat ek en my vrou kon terugkom en net biétjie ondersteun. Hopelik help die kleinkinders om die aandag van die sleg af te trek. Hopelik kan ons as ’n familie mooi deur als kom.”

Ja, antwoord hy, finansieel sou dit veel beter gewees het oorsee, “maar op die ou end tel familie bó al daai goeters. Ek is dankbaar dat ’n posisie in die Vrystaat oopgegaan het, al voel ek sleg dat Tian Meyer na vleuel moes skuif.”

Ruan was nooit een van die jollers in die destydse Bok-spanne nie, en mense wat hom ken, sê almal hy is ’n familiemens. “Ek wil net vir my gesin ’n gelukkige huis probeer gee soos die een waarin ek grootgeword het.”

En soos Ruan verkies om in die agtergrond te wees, só is sy pa, Gysie. Gysie se rol as agterlynafrigter in die 1995-Wêreldbekerspan word nog altyd onderskat, word gesê, juis oor hy sy ding onder die radar doen, nie voor TV-kameras nie. “Ek en my pa is baie dieselfde, ons hou nie van die limelight nie, ons is stil, teruggetrokke mense. Partykeer wens ek my pa kry meer krediet vir sy afrigting, maar ek is trots dat hy deel was van daai groep en dis vir hom ook baie spesiaal.”

Toe Allister Coetzee Ruan in 2016 genader het om weer vir die Bokke te speel, het Ruan gesê ná al die kritiek wat hy moes verduur ná 2015 se Wêreldbekertoernooi, hy hom nie vir die Bokke beskikbaar wil stel nie.

Hanlie Retief

Kritiek. Dis ’n plettervat wat ’n jong speler kan knak.

“As jy jonk is, is dit vir jou belangrik dat mense mooi dinge oor jou sê, maar soos mens ouer raak, besef jy wat mense oor jou sê, beteken eintlik niks. Ek dink wel baie van die kritiek op my was onregverdig. Mense weet nie altyd wat agter die skerms aangaan nie, wat die plan was nie, die strategie. Dis maklik om in ’n ateljee te sit en kritiek uit te deel, om in ’n koerant te veroordeel. Ek het genoeg daarvan in Suid-Afrika gehad. Dit was die heel ergste toe ek vir die Bokke gespeel het.

“By die Sharks het ek ’n great tyd onder John Plumtree en Dick Muir gehad. Hulle het rugby lékker gemaak, en my die vryheid gegee om te speel soos ek dit geniet.”

Ook Rassie Erasmus het Ruan ’n paar maande terug gevra of hy vir die Bokke in vanjaar se Wêreldbeker-toernooi wil speel. “Ek het vir Rassie gesê daar’s outjies soos Faf de Klerk en Cobus Reinach wat dit verdien om Wêreldbeker toe te gaan. Dit was nie die laaste vier jaar my doel om Japan toe te gaan nie, my gesin is nou prioriteit, so dis onregverdig teenoor dié jong spelers.”

En as daar beserings is, en Suid-Afrika roep vir Ruan Pienaar op na die gevegsfront op die samoerai-eiland?

Jy hoor sommer hoe spring die lus in sy stem. “Ek sal dit oorweeg. Kom ons kyk wat gebeur as iets gebeur.”

Volsirkel. Terug in die buurte waar hy grootgeword het, op die velde waar hy gebrei is tot ’n speler vir sy land – die sirkel is voltooi. In die wasgoedmandjie lê die volgende geslag Pienaars se vuilgespeelde Cheetah-trui.

Meer oor:  Ruan Pienaar  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.