Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Hanlie Retief gesels met Saartjie Botha
Sy wys ons hoe ons is

’n Jaar of wat gelede vra ’n vriendin vir Saartjie Botha wat sy doen terwyl die Woordfees aan die gang is. Kyk sy shows, meng sy met die intellektueles en kunstenaars, of lê sy op haar bed met ’n migraine ná die geskarrel om als gereed te kry?

Toe sê Saartjie nee, sy sit in haar kantoor met ’n walkie-talkie en kyk dat dinge reg loop.

’n Woordfees en sy direkteur, die bekroonde, geliefde, briljante Saartjie Botha Foto: Edrea du Toit

En dis hoe ek dié feesdirekteur en bekroonde dramaturg laas week voor die Woordfees-enjinkamer, Erfurthuis, kry.

Walkie-talkie, losserige Woordfees-T-hemp, wilde bos hare, asof sy nou net van ’n bouterrein af kom.

Sy groet ingedagte, haar oë op ’n lang ry bejaarde feesgangers wat langs die straat wag. Die bussie is laat, die produksie begin oor 20 minute.

Halfpad die trappe op gee sy opdrag aan ’n kollega: Kry Ubers, hulle gaan laat wees, en reël dat die vertoning vyf minute laat begin.

Saartjie Botha is enig in haar soort. Die raakvatter wat ’n parkeerplek kan reël vir ’n selfvername gas wat ’n vloermoer gooi én ’n dramateks van ’n geploeter tot ’n pronkstuk kan regtimmer.

Sy is die regisseur. Haar produksie is die Woordfees.

“Ek voel nou nogal deurskynend omdat ek nie kreatiewe uitsette lewer nie. Maar op ’n manier voel hierdie feeswerk vir my belangriker. Ek het my kreatiwiteit verruil vir ’n ander soort kreatiwiteit.”

Haar instink as dramaturg vir wat werk en nié werk nie, sien jy in die manier hoe sy die fees organiseer. Sy skuif feesgangers rond na ruimtes in buurte waar hulle nog nooit was nie, plaas hulle in situasies wat onthuts.

“Iets wat gemik is op Cloetesville se gehoor laat jy in Jonkershoek afspeel, jy dwing mense om te begin beweeg.”

Dan gebeur dit dat ’n vrou in trane buite die Breughel-teater in Cloetesville vir Saartjie sê sy bly al 37 jaar in Stellenbosch en sy was nog nooit in Cloetesville nie.

Ons gee die Hoërskool Lückhoff donker gordyne en verhoogligte – en ’n vaal skoolsaal lyk skielik soos ’n teater.

“Een van my vriende vertel hulle ry met hul kinders na ’n show daar, en die seuntjie vra: Mamma, is dit ook Stellenbosch?

“As daai soort gesprek kan loskom . . . Hier gebeur opwindende en hartroerende goed.”

Een van haar “beste feesoomblikke” was eintlik ’n krisis, toe die FeesMustFall-kornuite twee jaar terug ’n regstreekse RSG-uitsending gekaap het.

“Toe hulle weg is, staan ons daar met groot oë, want die gehoor is oorwegend ouer, en ons weet nie hoe hulle gaan reageer nie. ’n Oom in sy sewentigs haak af en sê: Jis, dis nou opwindend.”

As sy wonder hoe ouer mense gaan reageer, gebruik sy haar ma as maatstaf. “Soveel dinge interesseer haar, maar in Bethlehem in die Vrystaat kan jy nie – soos hier – met ’n student gesels wat 60 jaar jonger is nie.

“Op Dag Een van die fees het ons ’n tee vir die oumense en dis vir my ’n absolute hoogtepunt.

“In die aanloop tot die fees is alles rof en vol adrenalien en dis trokke en tente en stof en dan kom jy hier en dis rosige witkopmense in pastelkleure.”

Die waarnemer in Saartjie neem oor: hoe jy nie oumense as ’n groep sien soos ’n klas skoolkinders wat weekliks in hul skoolbanke groei nie, maar hoe elke oumens op sy eie broos is, ’n lewe wat vinnig uitloop . . .

“Een van die tannies het vir my gesê op 85 sien jy ook nie meer kleur raak nie, want dan wil jy net praat oor jou kinders, oor wat jy gaan eet en hoe jy voel oor die dood.”

Geluk, soos ’n feestee, kom in porsies van oomblikke.

Haar kollega steek kop by die deur in en rapporteer: Die bussie wás toe betyds.

Soos heeltyd nog, lyk Saartjie onversteurd.

“Dis ’n Vrystaatse genetiese ingesteldheid om kalm te bly. Dit vermors net energie om gespanne te raak. En buitendien gaan baie goed nog vanaand gebeur. Dit gaan oor kontrole. En kalmte.”

Op haar lessenaar is die nota wat sy op haar deur plak: Moenie steur voor tienuur.

Hanlie Retief

Op die rak teen haar kantoormuur staan Willem Anker se Buys en Ena Jansen se Soos familie regop langs woordeboeke. Bo die rak hang Antonia Steyn se ikoniese foto van Antjie Krog. Stil. Sterk. Vrystaat-sandsteen.

“Dis mooi vir my. Dis in die oë. Sy is ’n interessante kombinasie van emosie met intellek.”

Saartjie het drie jaar terug dié byenes van ’n werk aanvaar, “want ons kunstebedryf was op ’n verslae, verloopte plek met ’n bakhand-mentaliteit en ’n gevoel van waardeloosheid”.

Maar pak jy dit anders aan, sê sy, ontsluit dit nuwe dinge. Dan word kuns sosiale impak, dit word transformasie, dit verwater grense.

Met elke fees hoor sy ’n nuwe gonswoord. Laas jaar: “Uitgehonger”. Oral waar sy geloop het: “Dankie tog, ons is so uitgehonger vir . . .”

“Vanjaar is dit ‘luister’. Ek hoor: Verstaan ek jou reg? Help my om reg te hoor . . . Daar is ’n bewustheid van die ander stem.”

Aan die een kant beleef sy ’n post-Zuma-feesgees. Sy hoor mense lag. En dié ligtheid het ’n regstreekse invloed op produksies. Die gehore is ontvankliker. Laas Maandag het hulle ’n rekord-kaartjieverkope gehad.

Maar terwyl sy rondstap tussen die feesgangers, deurskynende Saartjie in die teater van die strate, beleef sy ook ’n ongemak by die mense.

“Jy hoor ernstige gesprekke en mense drink miskien ’n glas wyn te veel en dan baklei hulle. Konfrontasie met politiek, godsdiens, seksualiteit, al die ou taboes. En hulle huil, daar is ontlading.”

Altyd aan die inkyk van buite af, wys sy vir ons hoe ons is.

Sy sien onvergenoegde kyke tussen ma en dogter. Onseker ouers, kinders sonder respek, want hul ouers het g’n tyd of raad vir hulle nie.

Wat haar die edge gee, is die feit dat sy – met haar Saartjie-kombinasie van intellek, kreatiwiteit en oopkop wees – haarself glad nie ernstig opneem nie, sê haar vriendin.

“Dis hoekom sy mense en dinge en konsepte regtig hoor en sien.”

Soos bruin identiteit.

“Dié jaar, interessant, was dit ’n onderwerp in baie van die produksie-aansoeke. Ek dink die TV-seep Suidooster speel ’n groot rol. Skielik is daar rolmodelle en celebrities en identiteit. Sonder populêre kultuur sal ons nie kunstefeeste kan hê nie. Daar is deurvloei nodig.

“Ons gee die Hoërskool Lückhoff in Idasvallei donker gordyne en verhoogligte – en ’n vaal skoolsaal lyk skielik soos ’n teater met groot name soos Dawid Minnaar en Elize Cawood. Skielik is Pop le Roux, die wit apartheidsfiguur-ikoon in Verspeelde lente, in hul skoolsaal.

“ ‘Ons Idasvalleiers hardloop nou saam met die groot honde,’ het ’n vrou vir my gesê.”

Gistraant op Saartjie se feesverhoog was dit jong mense, die musiek electro, die gonswoord “kits”.

Instant. Hulle is nou honger, hulle moet nóú eet. Nou vaak, nóú slaap.”

En Saartjie leer electro is nie rave, rock of house nie. Liriek en melodie tel nie.

Die jong mense wil net dans.

“Dis ’n vorm van uitdrukking. Taal het ons gefaal, nou dans ons.

“Ons was nogal vervelig toe ek jonk was.”

Bloemfontein, vir haar. In ’n pampoenrok by die Oranje Meisieskool. In haar pa se administrateurshuis op die koppie. Die skrander, effens rebelse kind van Louis en Louisa Botha.

“Die politieke ontwaking in die laat 80’s, vroeë 90’s was ook maar ’n vuishou in die maag vir ons. Ons sukkel steeds om ons balans te vind.

“En ek vind vandag se jong mense kan nie luister nie; as iets hulle nie boei nie, skakel hulle af en speel op hul fone.

“Teater, omdat dit nie digitaliseerbaar is nie, is ’n manier om jong mense se aandag te kry.”

En die grootmense ontvanklik vir kopskuiwe.

“Lank gelede, met ’n politieke stuk oor geheue, was daar goeie resensies en skielik was dit tjok en blok op die Woordfees bespreek. En Stellenbosch se literati en glitterati sit daar, en die stuk werk glad nie.

“En ek dink net dis terrible, die arme akteurs, dit voel of hulle teen ’n muur vas speel. Die gehoor was glad nie ontvanklik nie.

“Pieter-Dirk Uys vertel altyd van sy pa wat vir hom gevra het: Hoekom druk jy jou vinger in my oog? Kielie my eers agter my oor.

“My stuk was te vinger-in-die-oog. Jy kan nie mense aanjaag nie. Mense is waar hulle is.”

En sy? Waar is sy?

“Ek is in ’n plek van leer. Ek is verstom oor wat aan die gebeur is in Suid-Afrika. Ek het my begin verlekker in hoe verkeerd politieke analiste voorspel.

“Die insig wat jy het in ’n bestel is skielik verkeerd, en niemand is reg nie, nie die wit of swart kommentators nie. Ek is ook op daai plek. Maar wat ek nog wel kan meet, is emosionele deurloop, en: Ons is op ’n beter plek.”

En sy?

“Ek is . . .” lag sy. Die waarnemer wil nie waargeneem word nie.

“Die wêreld het my maar net gevat en dis waar ek geland het.”

’n Anker is grond. “Ek moet grond en gras en klippe en die aarde voel. Snaaks, droogte in die Vrystaat is anders. Dis eerlik droog daar, hier is dit so half skamerig droog.”

Dieselfde gemoedelike Vrystaatse aardsheid wat hulle van haar pa onthou, herken mense in Saartjie.

“Hy is al soveel jare dood en ek is spyt oor die gesprekke wat nooit gebeur het nie.”

Haar ma het relatief jonk in haar lewe makulêre degenerasie gekry en is feitlik blind. “Sy was ’n dinamiese, haastige mens haar lewe lank en nou moet sy wag.”

Saartjie skryf soggens van halfvier af. Sy slaap min, want ál haar slaap het sy klaargeslaap tot sy in st. 4 was.

“Ek was toe al so lank soos nou, en ek kon my oë nie oopgehou het nie. Seweuur saans was ek vas aan die slaap. En toe het ek opgehou groei en opgehou slaap.”

Eendag nog, gaan sy ’n roman skryf. “Iemand het vir my ’n storie gegee en ek moet nog net besluit wie moet dit vertel.” Só meld al haar kreatiewe prosesse aan.

Woorde is haar implemente, maar dis beelde wat haar gryp. Kyke in mense se oë, ’n weerloosheid, ’n oopheid.

Die pretensielose skugterheid wat na haar terugkyk in die spieël.

“Mens moet ontledend dink oor die wêreld waar jy bly. Dis al manier hoe ek kan sin maak daaruit.”

Meer oor:  Hanlie Retief  |  Dramaturg  |  Woordfees
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.