Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Hanlie Retief gesels met Salim Abdool Karim
Prof. ‘Slim’ bring kennis en hoop

Sedert die koronakrisis in Amerika noem hulle pres. Donald Trump se voorste raadgewer, dr. Anthony Fauci, “Amerika se huisdokter”.

Twee professore, twee epidemioloë. Quarraisha Abdool Karim is ’n topwetenskaplike, wyd gerespekteer vir haar navorsing oor MIV/vigs.

Maandagaand, in ’n kalm, beredeneerde, twee uur lange kennisontploffing, het prof. Salim Abdool Karim ons dr. Fauci geword deur ons uiteindelik te help sin maak van die angs oor korona.

In ons onderhoud Donderdag gooi prof. Karim woes wal tussen vinnige toebroodjiehappe agter sy lessenaar in Durban en sê dis onvanpas om hom selfs in dieselfde asem as Fauci te noem.

“Hy is my rolmodel, ’n wêreldleier in hierdie veld. Ons is goeie vriende. Ek en Quarraisha (sy vrou, self ’n gerespekteerde epidemioloog) besoek hom gereeld. En wat die arme dr. Fauci nie moet opvreet van Trump nie,” gee hy ’n uitgerekte fluit. “Nee, aarde!”

Sjarmant mag Karim wees, maar “Slim” was al die prof se bynaam op hoërskool toe sy Afrikaans-onderwyser vir hom gesê het: Mannetjie, moenie vir jou slim hou nie!

“Dié bynaam is effens ironies, want in daardie dae was ek nogal oorgewig,” skerts hy.

Hy was slim, nie slim nie.

Wanneer die oomblik aanbreek, moet jy opstaan, aantree . . .

As kind was Isaac Newton sy held, en 32 jaar gelede het hy glo vir sy vrou gesê eendag wil hy ’n Fellow van die Royal Society word, want dan tel jou ander titels nie, al wat jy agter jou naam hoef te skryf, is FRS.

Toe gebeur dit vir hom 30 jaar later vir sy baanbrekerswerk met virusse en MIV/vigs. Toe kon hy sy naam in dieselfde boek teken as Einstein en Hawking.

“Ek het ’n foto van sir Isaac Newton se handtekening in die boek afgeneem. Ek het ure en ure gelees oor sy navorsing en ontdekkings, en dit met my wetenskap-onderwyser, Cas Seedat, bespreek. Hý het ons geïnspireer om nuuskierige ontdekkers van die wêreld te word.”

Hy beklee professorate by drie Amerikaanse Ivy League-universiteite: Columbia, Cornell en Harvard. Maar nooit vir ’n oomblik het Salim Abdool Karim ’n voltydse loopbaan oorsee oorweeg nie.

“Ek is diep lojaal aan ons land.”

Vir meer as 32 jaar deel hy en Quarraisha ’n lewe met virusse.

“Sy doen haar navorsing, ek myne, maar die hoë-impakwerk doen ons saam. Ons geniet dit om saam te werk, wat kan ek meer sê,” grinnik hy. “Ons deel tot ’n sekretaresse.”

Praat dié twee geleerde Durbaniete ooit oor enigiets anders as virusse?

“As ons by die huis kom, pak ons die virusse vir ’n rukkie weg, maar hulle kruip die heeltyd uit!”

Prof. Salim Abdool Karim. Foto: Verskaf

Op 19 Desember, toe die vreemde respiratoriese siekte hom as rooivlag-kennisgewing in prof. Karim se inboks aanmeld, was die prof aanvanklik min gepla, want die Chinese kon ears (ernstige akute respiratoriese sindroom) destyds doeltreffend beheer.

“Maar alles het in Januarie verander. Ek was stomgeslaan toe ek sien wat in Italië gebeur.”

Sy kollegas in New York het hom vertel hoe die pasiënte tot buite die hospitaaldeure lê, geen beddens of ventilators nie. “Die mense gaan net dood.”

Toe die eerste geval in Suid-Afrika aanmeld, het Karim en sy span by Caprisa (die sentrum vir die vigsnavorsingsprogram in Suid-Afrika) hul MIV-werk eenkant toe geskuif. Covid-19 regeer sedertdien hul laboratorium.

Vir hom, wat reeds as derdejaarstudent sy eerste navorsingsartikel gepubliseer het, wat ’n uitgesproke aktivis was teen Mbeki se vigs-ontkenning, wat elke nag net vier uur slaap, wie se tweede werkdag saans 20:30 begin . . . Vir hóm span hierdie über-virus nou die kroon, die korona, op ’n loopbaan. Dis nou Salim Abdool Karim se oomblik.

“Ons was 20 jaar gelede reeds voorbereid op ’n pandemie, ons het geweet dit gaan kom, maar níks kon ons voorberei hierop nie.

“Wanneer die oomblik aanbreek, moet jy opstaan, aantree, en jou plig doen.”

In die huidige internasionale virus-orkes slaan die rockster-wetenskaplikes die kitaar. Grootbek-politici en ekonome is nou net groupies en jillende meelopers.

Beleef ons die opkoms van die kenners? Troef die wetenskaplikes nou die ekonome in Suid-Afrika?

“A!” Hy geniet die vraag.

“Ek hoop nie so nie. Ek het pas met die president se ekonomiese advies­komitee vergader. Dit was op hul inisiatief, wat my beïndruk het.

“Hierdie probleem kan jy nie met die gesondheidsbedryf alleen oplos nie, ook nie net met die ekonomie nie, jy moet alles in oorweging neem.”

En as hy en sy span van 44 wetenskaplikes nie saamstem met die rigting wat die regering inslaan met Covid-19 nie?

“Ek het nog altyd ’n onafhanklike siel gehad. Ek koester dit. Ek is nie hier om na hul pype te dans nie, maar om inligting te gee, voorstelle te doen. Hulle hoef nie alles te aanvaar nie, maar as hulle nié, wil ek die redes hoor.”

Al die advieskomitee se voorstelle, “en daar was baie”, is sover deur die regering aanvaar.

Hanlie Retief

Karim is verras oor wat ons land binne drie inperkingsweke gereed kon kry vir wanneer die Covid-19-golf ons uiteindelik erg tref en teen waarskynlik middel September ’n hoogtepunt bereik.

“Reguit gesê, ek dink ons het die voordele van die inperking reeds benut. Ek glo nie ons gaan veel meer baat vind uit die inperking nie.”

Sonder inperking sou die volle impak ons getref het soos in Amerika en Brittanje.

“Die skade aan ons land sou enorm gewees het. Ek kyk na New York, Engeland en Italië, dit vernietig daardie stede en lande.

“As ons in dieselfde situasie beland het, sou dit my geweldig ontstel het as ek geweet het ons kon iets daaraan gedoen het, maar ons het nie. Dit sou nie net ons psige vernietig het nie, maar ook die ekonomie.”

En wanneer die virus ons tref ná die inperking, wag ’n baie moeilike tyd.

“Dit is onvermydelik.” Duisende sal sterf.

Die woord “bereavement” as aanhef vir fase 7 in sy voorlegging het rillings teen rûe laat afhardloop. ’n Nasie in rou.

“Og,” sug hy en vertel hy wou aanvanklik foto’s in sy voorlegging gebruik van stootskrapers wat rye en rye houtkiste op Staten-eiland toegooi. Hy het die foto’s toe maar liewer nie gebruik nie.

Is dit ons voorland?

“Ek hoop nie so nie. Ons doen hopelik genoeg om die verspreiding van die virus te verlangsaam, soos in Suid-Korea of Singapoer. Ons wag nie in die hospitale vir die virus nie, want dan is dit te laat. Ons toets mense van deur tot deur.”

Maar stééds heeltemal te min.

“Ons moet mik vir 10 000 toetse ’n dag, eerder as die huidige 10 000 ’n week. Ons moes ook twee weke vroeër begin toets het.”

Vroeër die week het hy gesê as daar meer as 90 nuwe gevalle per dag is, moet die inperking voortgaan. Hy verduidelik verder: As daar tussen 45 en 90 nuwe gevalle per dag is, moet ons begin kyk na geteikende gemeenskapstoetse waar jy alle mense met ’n droë hoes, seer keel of koors toets. As meer as een per 1 000 van hulle positief toets, moet ons dit ook oorweeg om die inperking te verleng.

“Maar die probleem is, ons het nie die inligting nie. Ek het (vroeër) gedink ons het daardie inligting, maar die probleem nou is dat ons nie eintlik weet hoeveel toetse van die gemeenskapsgesondheidswerkers positief is nie. Die verskillende uitslae het deurmekaar geraak.

Hy verduidelik wat gebeur het: “As mense verwys word na ’n kliniek of hospitaal vir ’n toets, weet ons nie of die persoon self daarheen gegaan het, of simptomaties verwys is, of deur ’n gemeenskapswerker verwys is nie. Waar ons wel die inligting versamel het, was dit nie akkuraat nie.

“So ek sal met ’n nuwe stel kriteria vorendag moet kom.”

Dis belangrik dat die inperking so versigtig as moontlik uitgefaseer word. Sy raad aan die regering was om ná inperking nie hoë- en lae-risiko-mense saam te laat rondbeweeg nie.

“Want dan was al ons goeie werk verniet.

“As die virus gaan versprei, sal dit in die twee grootste stede wees. Ons moet die busse, treine, taxi’s en Ubers so veilig moontlik probeer maak, soos handsaniteerders vir die op- en die afklim.”

Eintlik wou hy ’n ingenieur geword het. Toe die eerste Apple-rekenaar in Durban se Game aankom, was Slim daar.

“Ek kom uit ’n baie arm gesin. Op my derde dag as ingenieurstudent het die Universiteit van KwaZulu-Natal se mediese skool my laat weet hulle het ’n beurs vir my. En toe geniet ek medies só.”

In sy tweede jaar was Slim só verveeld, hy’t hom sommer ingeskryf vir ’n tweede graad, rekenaarwetenskap by Unisa. En van toe af skryf hy sy programme by die universiteit se hoofraamrekenaar.

“In my derde jaar medies het Steve Jobs my lewe verander, want toe kry ek my eerste rekenaar.” Hy begin lag, opnuut in sy noppies. “Ek het hom aangesit, die groen skerm met die flitsende strepie in die boonste linkerhoek. En toe begin ek my program skryf. Hope pret.”

Die virusse – masels, Hep B, polio – onder sy mikroskoop was ’n ewe interessante bende.

’n Nagraadse beurs Columbia-Universiteit toe het die deur vir hom oopgestoot. “MIV het Amerika toe pas getref. Dit het my voete onder my uitgeslaan.”

Sy vakgebied het hom alles geleer van nougesetheid, sê hy en in sy stem hoor jy ontsag vir die wetenskap. “Die diép verstaan van kennis, die seker maak jou navorsing staan nie op wankelrige bene nie.”

’n Entstof gaan nie betyds kom vir Suid-Afrika nie. “Ons kry dit waarskynlik eers oor twee jaar. Dit gaan ons help wanneer die virus ’n tweede keer kom.” Hy is optimisties oor ’n entstof. “Een van die ongewone dinge van die koronavirus is dat daar bykans geen verskil is tussen die stamme nie.”

Wat ons nog nie weet nie, is of die antiliggame ’n herinfeksie keer. “Maar jy kry nie weer die Covid-siekte nie. Dit het ons Chinese kollegas ons geleer.”

Dis vir hom heerlik om nou weer saam met sy ou universiteitsmaat, minister Zweli Mkhize, te werk.

“Die vorige gesondheidsminister, dr. Aaron Motsoaledi, was in my klas, Zweli Mkhize ’n jaar voor my. Almal saam betrokke in die anti-apartheidstruggle. Ons het ’n hoë agting vir die Mkhizes, ons kuier gereeld saam.”

Sy trompop botsings met oudpres. Mbeki oor vigs was die laagtepunt van sy lewe.

“In my memoires sal ek dit só beskryf. Ek het gesien hoe mense sterf, vriende. Minister Manto Tshabalala-Msimang en die president kon net nie aanvaar dat ons nevirapine vir babas moet gee nie.”

Dis ook hoekom, as hy dit kan keer, ’n virus nooit weer verwoesting sal saai op ons bodem nie.

“Absoluut nie.”

Hy skud kop oor Trump se opskorting van finansiële hulp aan die Wêreldgesondheidsorganisasie.

“Ek het geen kritiek op die direkteur-generaal, Tedros (Adhanom Ghebreyesus), nie. In Trump se wêreld is hy altyd reg.”

En China se verdagte korona-statistieke? “A! Ek het eers ook gewonder.” ’n Sleutelpersoon daar is sy goeie vriend dr. Zunyou Wu. “Almal gebruik sy Covid-navorsing. Dr. Wu sal niks onder die mat invee nie.”

In dié vreemde inperkingstyd was daar ’n onverwagse geskenk vir Karim.

Hul kinders het huis toe gekom. Safura, wat in gesondheidsreg spesialiseer, Aisha, ’n gesondheidsjoernalis, en Wasim, wat rekenaarwetenskap studeer.

“Hy is al een van ons vyf wat reeds ’n wetenskapartikel oor die koronavirus in ’n joernaal gepubliseer gekry het!”

Jy sien Salim Abdool Karim agter sy lessenaar, bokbaard grys soos sy geruite hemp, baadjie ’n raps te los oor die skouers. Oë wat wakkerspring as hy van ’n vraag hou.

Ons land se nuwe huisdokter. Voorskrif afgelewer.

Meer oor:  Anthony Fauci  |  Salim Abdool Karim  |  Covid-19  |  Koronavirus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.