Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Hanlie Retief gesels met Stephen Koseff

Agt-en-dertig jaar gelede was ’n jong, Joodse rekenmeester van Benoni die tiende werknemer by Larry Nestadt, Errol Grolman en Ian Kantor se astrante finansiële beginbesigheid, Investec.

Met Stephen Koseff se uittrede as uitvoerende hoof van dié internasionaal erkende spesialisbank en batebestuurder, was daar 10 000 werknemers wêreldwyd onder hom wat meer as £150 miljard se kliëntegeld en £50 miljard se bates bestuur.

Sebra. Tropdier, wit en swart langs mekaar. Dis Investec. Stephen Koseff, pas uitgetrede uitvoerende hoof, staan in die voorportaal van dié internasionaal erkende spesialisbank en batebestuurder. Foto: Deon Raath

Hy het geen idee wat hom so suksesvol gemaak het nie, antwoord Koseff my vraag dié week voor ’n Miró-skildery in Investec se graniet-en-glaskasteel in die sakehart van Sandton.

Hy’t self nie juis ambisie nie, korswel Koseff kurkdroog, dalk was dit maar net sy sukseshonger vennote wat hom so gedruk het. Maar net in die volgende sin spring sy wedywergees orent:

“My hele lewe lank baklei ek teen die ouens oorkant die straat: Rand Merchant Bank. Hulle het met FirstRand saamgesmelt en hierdie groot bank geword; ons het onafhanklik gebly, maar stééds met hulle meegeding. En nou is Discovery Bank op pad om jou middagete te kom eet . . .”

Sê onderlangs: Laat hulle kom. Mededinging maak Investec net beter.

En die herrie oor Discovery Bank se bemagtigingsaanbod? Sou hy so iets gedoen het?

“Adrian (Gore) is ’n smart fella, elkeen doen dinge op sy eie manier. Investec was destyds eerste met ’n breë bemagtigingsinisiatief.”

Hy keer terug na my vraag. Sukses. Mmm. Hy weet mense sê hy’s ’n hardekoejawel-sakeman. Kwasterig?

“Nee, outentiek. As iets nie reg is nie, sê ek dit reguit. Maar ek dink nie ek is onredelik hard op mense nie.”

Koseff vervies hom vinnig vir analiste wat sê Investec het sedert die tweeledige Londen-Johannesburg-notering in 2002 teleurgestel, vergeleke met ander banke.

Suid-Afrikaners is gelukkig, ná alles, ’n maak-dit-werk-nasie. En met Ramaphosa het ons nou’n kans.

“Dit hang tog af waar jy begin. As ons al in 1990 uit die blokke was, sou ons hulle almal oorskadu het. Watter maatskappy uit ’n ontluikende mark – behalwe SAB – kon so ’n internasionaal-erkende globale platform bou?”

Hy dink ’n oomblik na.

“Maar soms is die analiste wel reg: soos hoekom het julle Kensington (’n Britse verbandleningsonderneming in Londen) bekom? Fout.”

En wat maak jy met so ’n fout?

“Jy fix dit!”

Dis die Benoni-gees, dalk, knik hy. Die gees wat hy en sy mede-oud-dorpenaar Charlize Theron deel. Vat jy die verkeerde pad, draai om. Partykeer vat dit ’n bietjie langer, maar kom kom jy daar uit.

“Maar heel eerste moet jy erken jy het ’n fout gemaak. Dis die heel belangrikste. En: Hoe gaan ek dit regstel?”

Dis presies wat hy nou in ons land sien.

“Ek dink in Suid-Afrika sien jy nou ’n erkenning van foute. Hierdie kommissies oor staatskaping wys net een ding: die erkenning van: eisj, wat het ons aangevang.”

Eisj. Nes Benoni dit sê.

“Nou moet ons staatskaping fix, die land fix, dís die uitdaging. Maar jy kan nie fix voordat jy nie erken en beken nie. Gaan lees die boek Start-up Nation (deur Dan Senor en Saul Singer) oor die tech-entrepreneurs in Israel, hoe hulle ná hoeveel probeerslae eers suksesvol is. As jy ’n kultuur het van blameer en van ‘as jy een keer probeer en misluk, is jy dood’, leer jy nooit.”

Soos Koos Bekker tong-in-die-kies verwys het na Naspers se entrepreneuriese aanslag: Hulle gooi spaghetti na die plafon en kyk wat sit vas?

“Presiés. Ek kan onthou toe Koos Bekker-hulle begin het, het ek gewonder wat vang hierdie mense aan, hulle was kliënte van ons, maar jíssie . . .

“En ewe skielik róck Tencent, meer werd as Naspers se hele markkapitalisasie.

“Jy probeer en probeer en soms tref jy iets.”

Soms kan jy sien mense is bestem vir mislukking, sê Koseff. Hulle probeer, maar hulle hét dit nie. Maar dikwels as iemand nét op die punt is om dit te maak, stamp iemand hom van die bus af. Maar die volgende keer maak hy dit dalk met iets totaal anders.

Wat noem ’n mens dit?

Hy lig 'n wenkbrou oor dié simpel vraag.

Resilience. Natuurlik.

Veerkragtigheid.

En bied nog ’n woord, uit nog ’n boek aan, dié keer oor kindersielkunde: grit.

Leer dit vir jou kinders. Durf. Volharding. Opstaan ná mislukking. Soos ’n baba wat val-val leer loop.

Fedsure Health en Kensington was warmpatatte wat Investec nooit moes gekoop het nie, weet hy nou.

“Dit het ons geleer om veerkragtig te wees, glo my. In baie maatskappye word mense afgedank as hulle foute maak. By Investec neem ons gesamentlik besluite, en as dinge verkeerd loop, werk ons saam om dit op te los.

“As jy mense afdank, verloor jy die lesse wat jy kon geleer het. As jy daardie wysheid verloor, gaan ’n maatskappy dieselfde foute oor en oor maak.”

Koseff het dalk nou die leisels oorgegee aan twee mede-uitvoerende hoofde by Investec, Hendrik du Toit (Investec Batebestuur) en Fani Titi (Investec Bank), maar as voorsitter van die taakgroep wat Investec se ontbondeling hanteer, bly sy moue opgerol.

En dis presies hoe hy dit wil hê.

Hy kan hom nie indink om nié soggens ’n vergadering of kantoor te hê waarna hy kan gaan nie.

In sy loopbaan het hy Botha, De Klerk, Mandela, Mbeki en Zuma gesien kom en gaan. En dankie tog vir Rama­phosa, die regte leier vir nou . . .

“Navigerend tussen al die faksies in sy party deur, maar ten minste weet hy wat moet gebeur. ’n Jaar gelede kon ons enige kant toe gegaan het.”

Ewe verlig is Koseff dat Ramaphosa nooit weer die woord witmonopoliekapitaal wil hoor nie.

“Dis ook goed hy praat van grondhervorming en nie van grondonteiening nie, maar hy moet nou die jop gedoen kry. Dis jammer hy is gekaap deur die (populistiese) narratief.

“Nou wil buitelanders nie belê nie, want as hulle jou grond kan gryp, is jou fabriek volgende.”

Ten minste is daar meer sekerheid in die mynboubedryf, sê Koseff.

“Die Mynbouhandves is beter, al is dit steeds nie perfek nie.”

Die doring in die vlees, egter, is staatsondernemings.

“Min. Mboweni het gevra hoekom het ons die SAL nodig. Toe word hy aangeval. Maar dinge kán nie langer so aangaan nie. Ek sou Eskom ontbondel en die grootste energiemaatskappye in die wêreld kry om hier te kom belê.”

En hoekom wag tot ná volgende jaar se verkiesing vir ’n minder beleërde Ramaphosa?

“Baie kan verkeerd gaan tussen nou en die verkiesing. Ons kan nie nog ’n jaar bekostig met ’n 0,7%-groeikoers nie.”

Suid-Afrikaners is gelukkig, ná alles, ’n maak-dit-werk-nasie.

“As die regering meer sakevriendelik word, gaan ons ’n dramatiese skuif in die volgende twee, drie jaar sien.”

Madiba was maak-dit-werk met sakeleiers, glimlag hy. Koseff is een keer uit die bloute ontbied na die presidentswoning in Houghton. Daar het Madiba en Peggy-Sue Khumalo, die destydse Mej. Suid-Afrika, hom ingewag.

“Sy opdrag? Betaal haar oorsese studie. Ek dag, oukei, dis een jaar se uitgawe, ons sal betaal. Sy het uiteindelik haar meestersgraad in ekonomie aan die Manchester-Universiteit behaal en 15, 16 jaar vir ons gewerk.”

As Koseff nou jonk was, sou hy geëmi­greer het?

“Nee. Met Ramaphosa het ons nou ’n kans. In Eerstewêreldlande werk als, maar dis kompeterend, moeilik om jou plek in die son te kry. Hier, daarenteen, is soveel moontlikhede.”

Op 67 staan hy soggens steeds opgewonde op, want hier is soveel om te doen – hope sakegeleenthede, maar ook geleenthede om minderbevoorregtes te help en te bemagtig. “Wat ’n ongelooflike kombinasie!”

’n Deel van die probleem met kapitalisme is as ’n maatskappy se aandeelhouers sy enigste belangegroep is, sê hy. Dit sluit gemeenskappe uit, wat óók ’n belangegroep is.

“ ’n Maatskappy mag nie teer op die samelewing nie, hy is deel van die samelewing. Dís deels die rede hoekom kapitalisme nou bedreig word. Die sakewêreld het ’n veel groter vermoë as die regering om maatskaplike kwessies te takel.”

Die strydbyl tussen die sakesektor en regering is ná Nenegate begrawe met die CEO Initiative. “Dit help om lewe in die ekonomie te blaas.

“Maar daar’s ook die ander kant: die onregverdige aanslae op die sakesektor, van radikale ekonomiese transformasie tot by witmonopoliekapitaal. Dit veroorsaak dat die sakebedryf nie meer beskou word as ’n kernbate nie.”

Een van die punte wat die Chinese beleggingsreus Jack Ma by die afgelope beleggingsberaad uitgelig het as noodsaaklik vir ekonomiese groei, was om die land se entrepreneurs soos helde te behandel, herinner hy.

Hy vertel van ’n groot Amerikaanse versekeringsmaatskappy wat hul Afrika-hoofkantoor in Suid-Afrika wou hê, maar met sy eie uitvoerende hoof. Hy is ’n visum geweier. Hul hoofkantoor is nou in Ghana.

“Hoeveel werksgeleenthede verloor ons só?”

Wat was vir Stephen Koseff die heel moeilikste in sy lewe?

Hy probeer dink, maar kom by niks uit nie. “Ek het ’n maklike lewe gehad. Gelukkige grootwordjare.”

Op Benoni High was sy bynaam Fussy oor sy vreeslike puntenerigheid. Dis oor sy ma hom so bederf het, sê hy. Sy het vir hom en sy twee broers drie verskillende borde kos smiddae voorberei, omdat hulle so vol fiemies was.

Toe hy by Investec begin het, het die stigter, Ian Kantor, almal verbied om hom so te noem.

Ian Kantor het die Stephen in die Fussy raakgesien. Die potensiaal.

“Saam met Bernard, sy broer – ’n georganiseerde soort ou, ek is meer tegnies – het ons meer as drie dekades goed saamgewerk.”

Benoni, waar sy dogter Mandi saam met Charlize Theron balletklasse geneem het, is nie net steeds in sy aksent nie, dit is in die manier hoe hy na mense kyk.

“ ’n Fênsie private skool sou my nie kon bied wat Benoni High het nie: Om mense uit alle vlakke te leer ken en te waardeer.”

Hy is al 41 jaar met Sheryl getroud – sy kon met haar kwasterige man uithou, knik hy laggend.

“Sy is tough, nè. Sy sê vir my: Hei, dink jy jy is belangrik? Sit jou hand in water. Trek dit uit, en die water is weer presies soos dit was voordat jy jou hand ingesteek het.

“Dís hoe belangrik jy is.

“Ek is Stephen van Benoni.”

Meer oor:  Stephen Koseff  |  Bankwese  |  Investec  |  Ekonomie  |  Rand Merchant Bank
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.