Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Hanlie Retief gesels met Thabang Moroe
‘Ek sal pak vat, maar ek’s verraai’

Toe die raad van Krieket Suid-Afrika (KSA) Thabang Moroe Vrydagoggend geskors het, was dié beleërde uitvoerende hoof nog salig onder die indruk hy het die hef in die hand. Hy het pas voor die skorsing die raad laat weet hy neem vrywillig spesiale verlof sodat ’n kommissie van ondersoek aangestel kan word.

Thabang Moroe in Krieket Suid-Afrika (KSA) se nuwe hoofkantoor in Melrose Estate, Johannesburg. Dit was minute voordat hy gehoor het hy is geskors as uitvoerende hoof, hangende ’n forensiese ondersoek. Foto: Elizabeth Sejake

Minute voor die skorsing het Rapport ’n onderhoud met hom in sy kantoor by KSA gehad.

“Julle hoor dit eerste: Ek het met Chris Nenzani (die raadsvoorsitter) gepraat en gesê Krieket SA is groter as ek. Ek kan nie sê ek is lief vir krieket en KSA en nié nou opsy staan vir ’n ondersoek nie. Dis mý besluit, niemand anders s’n nie. Die raad sal dit waarskynlik vandag aankondig.”

’n Vriendelike, openhartige Moroe het nog gesê hy is positief dat hy as uitvoerende hoof sal aanbly, en dat hy ’n ondersoek verwelkom “sodat die waarheid uitkom” en hy nie meer alleen as sondebok voorgehou word “vir alles wat by KSA verkeerd is nie”.

Tydens die onderhoud is hy vinnig uitgeroep vir ’n dringende oproep waarin hy die skoknuus gekry het dat Standard Bank sy reuseborgskap gaan onttrek. Met sy terugkeer was Moroe skielik baie gespanne.

Dit was waarskynlik die laaste spyker in die doodskis, want toe ek minute later by KSA se hekke uitry, het die kommunikasiehoof, Thamie Mthembu, my gebel met die nuus dat KSA se raad Moroe pas geskors het.

’n Uur later bel Moroe my terug. Jy kon die ontsteltenis in sy stem hoor, al het hy gesê die skorsing verbaas hom nie in die minste nie. Hy wou nie daaroor uitbrei nie.

“Ek gaan my selfoon nou vir die res van die dag afskakel.”

Vroeër in die onderhoud het Moroe vertel van sy week uit die hel. “Ek voel misbruik. Wat die seerste maak, is die verraad. My vertrouelinge het my in die rug gesteek.”

Ek voel misbruik. Wat die seerste maak, is die verraad.

Dinge het Donderdag vir Moroe te veel geraak nadat hy verskeie doodsdreigemente ontvang het. Sy selnommer en e-posadres is kwaadwillig versprei.

Dit het die finale deurslag gegee vir sy besluit om spesiale verlof te neem.

Die dreigemente was só ontstellend, hy verkies om nie daaroor uit te brei nie. “Ek het gisteraand ’n slaappil gedrink nadat ek die hele week nie kon slaap nie. In die middel van die nag het my assistent en ’n vriend in die veiligheidsdienste oor my tuinmuur gespring en aan my venster kom klop. Hulle was bevrees vir my veiligheid en het my kom oppas. As dinge naderhand tot só ’n punt kom . . .

“Ek bly alleen, en ná al hierdie jare nog steeds in Meadowlands, Soweto. Ek het nie fênsie beskerming nie, nie lyfwagte nie, ek bestuur self my kar. Ek is blootgestel. Dis hoekom ek besluit het: Nou staan ek eers opsy.”

Die afgelope week het Moroe se hele wêreld finaal ingetuimel toe bykans die hele krieketgemeenskap teen hom gedraai het. Sewe provinsiale krieketrade eis sy bedanking, twee raadslede het bedank, en twee groot borge het onttrek.

Selfs Moroe se voorgangers, Ali Bacher, Haroon Lorgat en Norman Arendse het teen hom losgetrek.

Dit alles laat hom steeds nie twyfel aan sy eie vermoëns nie, antwoord Moroe. “Maar ’n mens kan net soveel vat, veral as jou vyande met vuil taktieke kom.”

Dit was veral pynlik toe Bacher hom in die media onder die bus gegooi het deur te sê hy moet dit “ernstig oorweeg” om te bedank.

Moroe ken Bacher sedert sy laerskooldae, toe Bacher by Moroe se townshipskool ontwikkelingskrieket afgerig het.

“Bacher was ’n mentor vir my. Die afgelope twee jaar het ek gereeld na sy huis gegaan vir raad. Hy en ander mentors het my baie agter die skerms gehelp. Ek het hulle van dag een af in my vertroue geneem. Daar is geen manier hoe jy as uitvoerende hoof hierdie skip alleen kan stuur nie.

“Bacher het my gister gebel, en ek het hom gevra: Beteken dit ek moet my gereed maak vir ’n aanslag van jou af? Toe antwoord hy: ‘Jy weet ek hou van jou, staan sterk.’ Toe lees ek in die koerante hy sê ek moet bedank.”

Hy lig sy skouers op. “Dis hoe ons as mense is. As dinge donker raak om jou, hardloop selfs dié wat na aan jou was, skielik vir skuiling. Dan staan jy alleen.”

Haroon Lorgat, by wie Moroe oorgeneem het, het die situasie by KSA ewe dramaties vergelyk met die Tsjernobil-kerntragedie.

“Hy is geregtig op sy mening, maar ek stem nie met hom saam nie. Ek is nou twee jaar in die pos, en al ammunisie wat hulle teen my kan hê, is die Mzansi-superliga, met sy R200 miljoen-verlies. Ek wil nie name noem nie, maar sedert 2014, met die ingekorte Indiese toere, die hofgevegte en die T20 Global League, het KSA maklik ’n miljard in daardie tyd verloor. Maar niemand praat dáároor nie.”

Moroe het dié gemors ná Lorgat se omstrede vertrek geërf.

“Van die eerste dag af het dit vir my gevoel ek staan in die middel van ’n storm. By KSA het ek baie wolwe in skaapklere met ope arms aanvaar. Ek het geweet hulle is wolwe, maar ek gehoop hulle verander. Ek was naïef.”

Darem één raadslid, Jack Madiseng (voorsitter van Gauteng-krieket en die Lions), het vir Moroe begin kolf.

In ’n sterk bewoorde e-pos aan Nenzani en sy adjudant, Beresford Williams, het Madiseng gesê dis onregverdig dat net Moroe die “klappe en houe” moet vat, die raad moet ook pa staan vir die gemors by KSA.

“Hy is reg, ek kry nou al die klappe. Dit was eintlik ’n vertroulike, interne dokument wat aan die media uitgelek het. Maar dit druk die vinger op die seerplekke.”

Moroe het in Augustus die KSA-strukture – met oënskynlike goedkeuring van die raad – verander om bykans totale mag te verkry. Met groot mag kom groot aanspreeklikheid?

Hy knik. “Dis 100% waar. Maar uitvoerende hoofde van groot organisasies word altyd gesien as met te veel mag, of magte, en ek kon geen integrale besluite neem sonder die raad se goedkeuring nie.”

Hoekom hét hy dan die struktuur verander? “Ek het dit juis gedoen sodat die raad iemand aanspreeklik kan hou as dinge verkeerd gaan. Die rede hiervoor was ons vrot vertoning by die Wêreldbeker. Omtrent vyf mense het toe direk aan die raad gerapporteer, en jy kan mos nie die hele bestuur afdank nie.”

En nou sneuwel Moroe in sy eie nuwe struktuur.

Dis vir hom ironies dat sy vyande nou sê hy was ’n mag op sy eie. Wat die krieketpubliek nié weet nie, is hoe hard hy probeer het om die Proteas se afrigterskap te finaliseer, hoor jy.

Mediakonferensies om dit aan te kondig moes herhaaldelik uitgestel word, want die raad het hom nooit die groen lig gegee nie. As dit van hóm afgehang het, sê Moroe, het hy reeds in September die spandirekteur aangekondig. “Dan het dit ons genoeg tyd gegee voor die Engelse toer.”

Hy is nou spyt dat hy nie fermer opgetree het nie, sê Moroe. “Ek het naïewelik aangeneem dat ons die probleme gaandeweg sou kon oplos. Ek was te toegeeflik.”

Daar word alom gesê Moroe, wat op 35 uitvoerende hoof geword het, was nie opgewasse vir dié uitdagende pos nie. Sy gesig trek sinies. “Interessant dat hulle nou tot dié gevolgtrekking kom. Hoekom het hulle gedink ek was opgewasse genoeg toe hulle my aangestel het?”

Oor die “olifant in die hoek van die vertrek” wil hy vir eers nie praat nie.

Is dit oor die gerugte dat ’n bom dreig om by die Wes-Kaapse krieketadministrasie te bars? Sy lippe is gezip. Mét ’n glimlag.

Moroe was een van die suksesverhale van die uitwys en ontwikkeling van jong kriekettalent in die townships. Hy onthou met ’n warm glimlag die “lang man” Bacher wat krieketklinieke by sy laerskool aangebied het.

“Ons het niks van krieket geweet nie, maar daar was Chicken Licken ná die oefeninge,” glimlag hy. “En toe raak ek so lief vir hierdie sport.”

Hy is uit honderde spelers gekies vir die Soweto-klub en het later met ’n krieketbeurs aan die King Edward VII School gematrikuleer.

Terwyl hy ingenieurswese gestudeer het, het Moroe in 2008 by krieketadministrasie betrokke geraak. Hy het eers die Dobsonville-klub bestuur (“meestal uit my eie sak”) en later voorsitter van die Black African Cricket Clubs geword.

In 2011 het dié gemoedelike, joviale man waarnemende president van die Gautengse Krieketraad geword. In 2016 was hy op 33 ondervoorsitter van KSA se raad, ’n jaar later waarnemende uitvoerende hoof van KSA, en toe permanent aangestel.

Oor een ding is hy veral spyt: “My kommunikasie met die media en krieketpubliek moes beter gewees het. Dit was ’n fout om die akkreditasie van vyf sportjoernaliste verlede naweek te onttrek. Ek kan dit op geen manier regverdig nie, en aanvaar volle verantwoordelikheid daarvoor.

“Ek het in ’n radio-onderhoud gekla dat die joernaliste nie die regte feite vir hul stories by KSA kry nie. Maar dit help nie om vir die media te sê hulle verdraai dinge as óns nie beskikbaar is om die feite te verskaf nie. So, ek vat die pak.”

Hanlie Retief

Die vloed kritiek wat Moroe en KSA hieroor gekry het, het al die planne finaal omvergegooi, knik hy.

“Dit was ’n oomblik van swakheid aan my kant waarvoor ’n groot klomp mense gewag het. Ek het dadelik besef dit gaan teen my gebruik word.”

Hy sê hy het al baie foute in sy lewe gemaak, maar hy was darem nog nooit bang om jammer te sê nie.

En nou kóm hulle vir hom.

Oor die skorsings van Corrie van Zyl, Clive Eksteen en Naasei Appiah: “Ek weet Saca (die spelersvereniging) sê nou mý naam staan op die kontrak, maar wys my watter uitvoerende hoof kan sê hy is honderd persent seker al die kontrakte wat hy geteken het, word wél deur sy amptenare so uitgevoer en betalings gedoen?”

Oor die beweerde kredietkaartmisbruik by KSA: “Dis ék wat dit aan Iqbal Khan (wat pas as raadslid bedank het) gerapporteer het. Dis my besluit om ’n ondersoek te begin. As die raad wil hê ek moet tydens my verlof daaroor kom getuig, sal ek beslis.”

En die gerugte dat veral drank gekoop is met die kredietkaarte?

“Dis moontlik. Laasjaar met die jaareind­geleentheid het ons om koste te besnoei self die drank aangekoop. Een van die bestuurders het sy KSA-kredietkaart by Makro gebruik.”

Ja, só sneeubal dinge, sê hy. Die slagordes teen hom is fyn beplan.

“Everything is designed.”

Wat ook al gebeur, sê Moroe, hy weet hy is as mens sterk genoeg om daardeur te kom.

’n Bietjie van sy vroeëre gemoedelikheid slaan weer deur.

“Gisternag, toe ek my vriend en KSA-assistent so staan en bekyk, het die besef gekom, en daarmee saam vrede: Ek het vriende en familie, en selfs in krieketgeledere ’n paar mense wat die waarheid ken. Maar ek voel verraai. Seer. Ek is net ’n mens.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.